Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!

zie's Blog

Female, 65, eastern cape coast

ex remedial teacher, pensioner, guesthouse owner at seaside town, readaholic, lover of small children.

http://www.dawnview.com/
Member For: 5 months, 2 weeks
Posts: 19
Top Post By zie (most thumbs up):

No posts received thumbs up, next time you see a good one, give some respect and thumb it up.

Recent Posts by zie:

Re: Konsalik

November 4, 2009 by zie

Konsalik was van my gunsteling leesstof  lank gelede toe ek op skool was. Tot my verbasing ontdek ek toe so `n ruk gelede dat my dogter, wat self nou al `n ma is, Konsalik se boeke ontdek het en vakansietye, as sy tyd het vir ontspan, verslind. Die gevolg is dat ek nou kranig help versamel en  al wat `n tweedehandse boekwinkel in my omgewing deursnuffel vir Konsalik. So het ek al  `n hele paar vir haar opgespoor. 
Hiermee ook my dank aan mense wie tweedehandse boekwinkels bedryf. Om `n lankgesoekte boek in so `n winkel te ontdek is die lekkerste lekker. 
As nagedagte: Elke keer as ek die woord lekker gebruik, dink ek aan my afrikaanse onderwyser wat die gebruik van lekker baie streng afgekeur het en ons altyd aangemoedig het om `n ander beter woord te gebruik. Het hy dit dalk op sy beurt weer by sy engelse onderwyser geleer wat in ons tyd, en nou praat ek van baie lank gelede, weer die woord "nice" met `n rooi streep en `n vraagteken aangeval het.
Ek stem saam met jou dat `n Deon Meyer dalk die sleutel kan wees om leeslus by jong mense aan te wakker. Ek kan net dink dat `n Deon Meyer in my skooldae miskien beter sou vaar as C.M.vd Heever, wie `n uitmuntende skrywer is, maar ongelukkig nie vir lewenslustige jong skoliere nie.   
Ek hou van die idee dat jy skrywers se hele reekse versamel. Ek is nou besig om Karel Schoeman boeke te versamel. Geniet jou lees! Dis op die ou end een van die min tydverdrywe wat `n mens onder enige omstandighede kan be-oefen. Selfs in blindheid is daar oudioboeke. Hy wie lees, kan nooit eensaam of alleen wees nie.    

cultivaria

October 27, 2009 by zie

Die ordentlikste dorpsfees ooit! Let wel die woord ordentlik. Geen sonbril-, drafskoen-, of silwerjuwelestalletjies in strate. Geen souserige warmbrakke, geen rou sosaties, geen smeltende roomyse, geen vuil papiere op sypaadjies, geen dronk boepens mans met crocs of plakkies, geen T hemde met vieslike gooi mielies spreuke! Die atmosfeer in `n fyn dorp  met fyn mense, klassieke geboue, mooi natuur en heerlike eetplekke het `n nasmaak van die goeie in die lewe gelaat.Dis mos nou fyn, classy noem die engelse dit!!!
Al die vertonings was topgehalte. Hoogtepunte:
Dankie Matthys, jy het gesing soos nog nooit tevore. Miskien het jou longe sterker geword van al die rehabilitasie, maar jy het die hele gehoor betower met jou nuwe forse sang, hoewel steeds jou fluweelagtigheid behoue, bied jy vriendelik en sonder `n sweem van selfbejammering al jou nuwe vertolkings aan en mense koop DVD`s  soos soetkoek en biltong. Geluk met jou nuwe moed gebore uit teespoed.
Nathaniel, jy het my betower en verras! Kan een mens so baie nuwe vertonings uitdink en steeds gehore boei? Ek wens ek kan jou elke vertoning bywoon. Jammer vir my mede landgenote wat nie weet dat laatkom `n onding is nie en dan nog heelvoor kom sit! Volgende keer moet jy doodeenvoudig die deure laat sluit.    
Balah Broers, julle mooi persoonlikhede straal vanuit  julle lieflike sang. Sulke sangtalent mag nooit verwaarloos word nie. My wens is dat julle nooit ophou sing nie en dat julle sang nog die hele land se mense sal bereik. Wat is mooier as die voorreg om julle lewend te kan beleef.
Coenie, jy het darem `n allemintige stem en klaviertalent!
Al die ander, soos bv kosdemonstrasies, kunsuitstallings en vele meer bygewoon, het `n dwingende begeerte laat ontstaan om volgende jaar alles te bespreek wat aangebied word, wat   natuurlik bankrotskap tot gevolg kan he. 
Net `n wenk: Die erfenistoer was `n flop, om dit nou prontuit te stel. Jammer dat ek dit moet kritiseer, maar die aanbieding het nie die dorp se geboue en geskiedkundige waarde gestand gedoen nie. Om in `n voortspoedende bus te sit en na vlietende verwysings van geboue te luister wat niemand  mooi weet waar nie, was baie onbevredigend. Aan die aanbieder, "jou regterkant is nie my, die passasier se regterkant nie".
Aan die organiseerders: Baie dankie vir `n puik, goed georganiseerde fees!        

Re: Die naaimasjien en andere.

September 19, 2009 by zie

Dankie Maankind vir die stukkie oor jou leeskring ervaring. Ek het so`n deja vu gevoel gekry toe dit gelees het, maar ek moet se ek dink my aanbieding van A B se boek was ook `n waterskeiding by ons. Dit gaan al baie gemakliker en ek geniet dit in elk geval om saam met mense te kuier wat ook van lees hou. Ons maak beurte by lede se huise, wat vir my nogal `n ander lekkerte is, want dit voel soos kuier maar met `n gemeenskaplike belangstelling as pluspunt.
Groete
Zie

Re: Die naaimasjien en andere.

September 19, 2009 by zie

Ek kan nie se dat ek dit nie geniet het nie maar ek het die essensie van die hare losmaak daarin gemis. Ek is ook nie baie lief vir kort stories nie, alhoewel daar tog `n hoofkarakter is. Al het ek sekere voorkeure lees ek wyd en laat ek nie toe dat dit my keuses inperk nie. Dat dit minder goed was as wat ek verwag het is `n korrekte aanname. Andre Brink het die boek hoog aangeprys maar , klink dit my, asgv van die goeie taalgebruik, in ander woorde meer akademies beoordeel. Ek waardeer dit dat AB nooit rerig iemand se skrywes slegmaak nie. Het jy die boek gelees?
Groete  

Re: Die naaimasjien en andere.

September 18, 2009 by zie

Ek sien baie uit na die uitstappie. My suster en ek gaan ook die Heritage toer meemaak. Sien uit om jou te ontmoet. Groete van `n ewe koud en nat Paradys.

Re: Resensies en Boeke

September 18, 2009 by zie

Dankie vir `n ware en rare insig in die leeswereld van `n kind. Die waarde van die leeswereld kan nooit oorskat word nie maar.....
Elk kind weet waarvan hy/sy hou om te lees en moet daartoe toegelaat word. My kleindogter lees boeke op boeke, soms dink ek, meer as ek, wat `n leesslaaf is. Maar... ek kan haar nie Saartjie boeke laat lees nie, dit interesseer haar doodeenvoudig nie. Ek kon haar ook nie sover kry om te dink dat Katryntjie boeke oulik is nie. Ek neem haar dus nou na boekwinkels waar sy kan gaan sit en sonder haas die boeke kan deurgaan en boeke van haar keuse kan uitsoek. Soms kan `n kind se leeslus verdwyn as vir hom/haar besluit of gekies word. In die kinderafdelings van goeie boekwinkels is daar gelukkig nog nie ongewenste leestof nie.
Laat my toe om vir jou te vertel van `n onlangse ervaring met einste kleinkind se besondere ervaring van `n uitsonderlike boek. Haar genieting van die boek het my so be-indruk en ge-inspireer( koppelteken in afwesigheid van deelteken fasiliteit) dat ek die boek ook gelees het en as volwassene gedink het: "As elke grootmens tog maar net hierdie boek wil lees! Wat `n onvergeetlike leeservaring!"
Die boek ter sprake is " The Roald Dahl Treasury " `n Woordjie van advies. As jy dink dat jy alreeds R D ervaar het deur van sy boeke te lees , moet jouself nie misgis nie, lees asseblief hierdie versameling! Is daar nie dalkies iemand wie lus het om hierdie werk te vertaal nie?
Gelukkig het ek baie tyd en geduld met my kleinkinders en so het hierdie kleindogter my een vakansie geselskap gehou deur vir my uit genoemde boek voor te lees. Kan jy jou die plesier indink wat dit haar verskaf het dat ek die voorlesings saam met haar geniet het! Soms het ek net stil gaan sit en na haar geluister, soms het ek gekook en na haar geluister. Soms het ek gebad en soms in die tuin gewerk.
Ek wil met jou saamstem dat elke mens se lewe `n storie is en aanvullend daarby glo ek dat hierdie spesiale kind se lewe `n storie is. As ek gelukkig genoeg was om `n skryftalent te kon he, sou ek haar lewetjie wou verhaal. 
Luister net hierna:

Where art though, Mother Christmas?
I only wish I knew
Why Father should get all the praise 
And no-one mentions you.

I`ll bet you buy the presents       
And wrap them large and small
While all the time that rotten swine
Pretends he`s done it all.
 
So hail to Mother Christmas
Who shoulders all the work!
And down with Father Christmas,
That unmitigated jerk!
 
Groete
Eleanor

Die naaimasjien en andere.

September 18, 2009 by zie

Vandag het ek net `n klompie vrae:
Kan iemand vir my se of die naaimasjien in boekvorm beskikbaar is?
Ons het so pas " Die dag toe ek my hare losgemaak het" by ons leeskring bespreek. Kan iemand my se waarom die boek so baie hoog aangeskrewe is?
Kan ek hoor of Marie Heese se boek oor haar ma - Audrey Blignault - dieselfde hoogtes bereik het as Blywende vreugde?
Kan ek van `n paar lede van leeskringe hoor hoe hulle hul besprekings hanteer?

Groete van iemand wat nou op pad Kaapstad toe is om die Kultivaria fees te gaan bywoon. Kan nie wag om te sien of dit aan my verwagtings voldoen nie. Moeg vir feeste waar mense loop en papiere op die sypaadjies mors, waar luidrugtige musiek die spilpunt van die fees is, waar dranktente die geliefkoosde bymekaarkomplek is, waar ouerwordende mans en vrouens met plakkies en boobtubes aan hul verlustig aan tamatiesouserige eetgoed en waar blink sonbrille, T hemde met suggestiewe skrywes op en silwerkettings by die jaartse verkoop word. Dis seker ook lekker maar ai, die selfde ou selfde kan later ook maar nie meer nie! Ek se maar net en vra maar net!

Al is die Kaap nat en koud sien ek nogtans uit na my kuier daar.

Paradys groete
Zie 

Re: Die boek obsessie

June 10, 2009 by zie

Boeke om te lees:
 1. Poisonwood Bible van Barbara Kingsolver en " You will learn to know that Africa will never change"
 2. Susters van Eva van Daleen Matthee.
Ek kan baie engelse boeke aanbeveelas jy belangstel.
Groete
Zie


Re: Die boek obsessie

June 10, 2009 by zie

Ek het Triomf ook omtrent twee jaar in my boekrak gehad eer ek dit gelees het en een mooi dag toe ek niks gehad het om te lees nie, dit begin en..........kon dit nie neersit nie. Dis ontstellend tot siekwordens toe, asook tragies maar waar, en hoewel ondenkbaar dat so iets plaasvind was die storie tog boeiend, soms selfs humoristies. Lees die onderhoud met Annelie Botes in Rapport Boeke oor haar nuwe boek waarmee sy besig is.  

Miskien moet ons nie so eerlik wees nie....!

June 10, 2009 by zie

Hoe het ons wat in die 60 is van seks uitgevind... en het ons regtig skade opgedoen? Die kinders sal wel iets te lese of te hore kom.......of kom vra! : 
 
The little girl runs to her grandmother where she stays in the afternoons and asks; " Granny what do you call it when two people sleep in the same bedroom, one on top of the other?"
Granny somewhat taken aback thinks and decides to tell the truth as is advised these days: " It`s called sexual intercourse, my child"
Litlle girl home from school the following day : " Granny , why did you lie to me? It`s called a bunk bed, and oh, Johny`s mother wants to see you! "
 
Ek het irma Joubert se nuutste boek bestel en kan nie wag om dit te lees nie. Het iemand miskien al "Anderkant Pontinello" gelees?
 Ek het die voorlesing van "Tussen stasies" baie geniet en eweneens so met die suiderkruis boek wat tans voorgelees word.
Ek moet se Susan Beyers is `n besonder goeie voorleser. Haar stemgebruik in karakteruitbeelding is heerlik om na te luister.  

Boekeblad bylaes

June 9, 2009 by zie

Ek het die boekeblad bylae in Rapport baie goed gevind. Omdat ek nie tydskrifte koop nie en dus nie die Huisgenoot se bylaag gelees het, kan ek nie `n opinie uitspreek nie. Tydskrifte is te duur vir die kort tydjie wat `n mens spandeer om dit deur te lees. Ek noem tydskrifte advertensieblaaie.

Nooit is `n lang lang tyd

June 3, 2009 by zie

Net ter inligting: My vorige skrywe handel oor ' Om na `n wit plafon te staar '.
Ja ek het lanklaas geblok, maar ons verf huis en buiten dat dit soos trek is, is my neus binne rou van die reuk van verf. Ek het ook weer begin tennis speel na `n lang en ernstige siekte, en was my ledemate maar taamlik styf en seer.
Ons hier by die Fynbos leeskring het verlede maand bogenoemde boek bespreek. Baie hard probeer om die skryfster by ons te kry, sy woon maar sowat 30km van ons , maar nie geslaag nie. Die boek het verskillende reaksies uitgelok van baie geniet tot nee, dit was 'rubbish'. Veral van die wie 'Dis ek Anna' gelees het en dit baie geniet het. Ek het egter nie Anna gelees nie , wou nie, want ek het `n slegte ervaring oor `n soortgelyke geval beleef waar ek `n pleegkind in my sorg gehad het. Die bespreekte boek het ek egter op `n manier geniet as ligte vakansie leesstof. So het ons maar almal ons geheime en worstelings wat op die ou end tog nie so ernstig is as wat ons dit op daardie oomblik ervaar nie, en nie naastenby soos die pyn van Anna nie. Ons volgende boek is 'Die Agterhuis' van Anne Franck. Ek sal terug rapporteer, maar wil se dat ek die engelse weergawe baie geniet het asook die fliek wat ek in my jong dae saam met my ma gaan sien het. Soos baie, kom ek agter, het ek ook so twee of drie boeke op my bedkassie wat ek so om die beurt lees. Die een is Beyers Naude se ' My land van hoop' en die ander is Leon Rousseau 'Die groot avontuur '. Albei boeke is besonder interessant maar so vol feite dat dit `n mens se kop so vol maak dat `n mens nie te lank kan aanhou nie. Ek kan egter beide boeke hoog plaas op my ' aanbeveel lys ' Omdat ek, en baie nader mense vandag, so baie wonder oor evolusie, waardeer ek die nugtere kyk na teoriee en sienings soos in ' Die groot avontuur ' Dis vir my nes politiek, iets waaroor `n mens nie te hetig moet raak nie weens die sensitiewe aard van hoe die godsdienstige en die wetenskplike dit poog te verduidelik. In `n ligter luim: Ek dink as hulle langer daaroor debateer gaan hulle nog op die ou end almal by dieselfde punt uitkom soos Rooikappie en die wolf, een met die lang pad en die ander met die kort pad. Miskien sluk die een nog die ander in ook. Die derde boek sal ek later bespreek maar vireers is my asem fluit fluit uit en sluit ek af met `n amen, ek heb gesegd.    

Re: Boek takel Afrikaanse media

June 3, 2009 by zie

Ek wik en weeg om die boek te koop omdat soveel verskillende opinies verskyn. Geeneen deel dieselfde sentimente nie, amper soos in die politiek vandag. Ek dink amper dat as `n dosyn mense vandag vir of teen regstellende aksie moet stem, sal 12 verskillende gedagtes die stemmery laat misluk. Miskien moet ek die boek eers in my hande hou eer ek besluit. Ek het egter na `n onderhoud met Jaco Kirsten geluister en die idee gekry dat hy se wat baie mense dink en voel, maar nooit in die openbaar sal waag nie. Miskien nie eens om die eetkamertafel saam met vriende nie, want vriende kan nie eens meer vriendelik en gemoedelik verskil nie. Dit kan dalk net vriendskappe skade aandoen. Daar was `n kort tydjie in ons geskiedenis, so effens voor '94 dat mense baie goed geslaag het om verskillende opinies in geselskappe te uiter sonder vriende- of familietwiste maar deesdae ervaar ek dat onderwerpe soos godsdiens en politiek weereens, soos in die 'ou dae', baie warm kan raak en mense kan vervreem soos uit eie ondervinding en waarneming. Die grootste waarheid egter vandag is dat iets eers met jou moet gebeur voordat jy 'n opinie moet waag. Hierdie stelling maak ek weereens uit ondervinding en waarneming. Ek dink tog, na die onderhoud, dat ek die boek sal geniet vir die waarhede wat gespreek word.   

Re: Die Karoo Kookboek - Rose Willis

April 30, 2009 by zie

Terwyl die kosboeke nou ter sprake is, wil ek ook graag my nuutste aankoop met julle deel. Ek moet ook bieg dat ek kosboeke koop om te lees en nie slegs vir die resepte nie. `n Amperse outydse, huislike gevoel word geskep in hierdie boek en om net na die fotos` alleen te kyk is alreeds `n plesier. Soos die neiging met kosboeke in die laaste tyd is daar ook mooi bekrywings en fotos`  van Karoo landskapstonele. `n Mens wie nie verlang na die heel en tradionele lewe in hierdie boek uitgebeeld nie, kan gerus `n reis deur hierdie boek neem. Glas en staal en sement en toeters en N1  paaie kan `n mens heeltemal stroop van menswees. Blaai deur hierdie boek en sien hoe jy jou motor pak, of miskein selfs jou hele leefwyse opgee, en met ver paaie na ware geluk heen trek.Groete














-zie

Sir Laurens vd Post - "It overflows with nostalgia for the source from where life itself had come"

Die Karoo Kookboek - Rose Willis

April 30, 2009 by zie

Terwyl die kosboeke nou ter sprake is, wil ek ook graag my nuutste aankoop met julle deel. Ek moet ook bieg dat ek kosboeke koop om te lees en nie slegs vir die resepte nie. `n Amperse outydse, huislike gevoel word geskep in hierdie boek en om net na die fotos` alleen te kyk is alreeds `n plesier. Soos die neiging met kosboeke in die laaste tyd is daar ook mooi bekrywings en fotos`  van Karoo landskapstonele. `n Mens wie nie verlang na die heel en tradionele lewe in hierdie boek uitgebeeld nie, kan gerus `n reis deur hierdie boek neem. Glas en staal en sement en toeters en N1  paaie kan `n mens heeltemal stroop van menswees. Blaai deur hierdie boek en sien hoe jy jou motor pak, of miskein selfs jou hele leefwyse opgee, en met ver paaie na ware geluk heen trek.
Groete
Eleanor

Re: `n Blywende vreugde briewe van Audrey Blignault

April 29, 2009 by zie

Ja, Andre Brink het tereg opgemerk dat hy net een vrou geken het wat leliker taal kon gebruik as Ingrid Jonker, en dit was A B. Haar liefde vir wyn, en baie daarvan het my ook opgeval as ietwat vreemder as die beeld wat ons van haar gehad het. Maar alles ten spyt, dink ek sy was in wese `n dame. Ons het maar almal ons menslikhede. 

Daleen Mathee

April 29, 2009 by zie

Gehoor oor die radio: Daleen Mathee is ons mees geliefde Skrywer in Afrikaans. Nou wonder ek op watter statistiek word hierdie stelling gegrond? Is daar sulke beskikbare inligting en indien wel is daar dan `n ranglys? Ek hou van Daleen Mathee se boeke, dus kritiseer of betwyfel ek geensins die stelling nie, maar dat daar baie geliefde skrywers is wat wyd gelees word, is nie te betwyfel nie. Dit sou seker maklik wees om op verkope sulke aannames te maak , maar of dit noodwendig die geliefdheid weerspieel, kan nie sommer aangeneem word nie. Goeie bemarking verkoop baie boeke wat soms nie eens gelees word nie, soos baie lees-liefhebbers al erken het. Voorgeskrewe boeke in skole sal ook boekverkope verhoog. So kom ek tot die gevolgtrekking, reg of verkeerd, dat verkope niksseggend is en dat daar `n ander wyse moet wees om  'mees geliefde" te bepaal. Lig hierdie onkundige asseblief in !   

Re: `n Blywende vreugde briewe van Audrey Blignault

April 28, 2009 by zie

Ek moes onlangs die boek van AB se briewe aan ons leesklub voorstel en het met effense huiwering die boek gekoop aangesien haar boeke in my ma se boekrak my nooit eintlik aangetrek het nie, sekerlik omdat ek as jong meisie in heeltemal ander soort leesstof belang gehad het. Dit is dan ook hierdie verwysing nl , "ja ek ken haar boeke vanuit my ma se boekrak" waarmee `n mens begroet word as `n mens van A B praat. Maar wat `n openbaring en aangename leeservaring was die boek toe uiteindelik. Die briewe het `n ander sy van A B openbaar wat sekerlik nie bekend is aan die meeste lesers van haar essays nie. Uit die inhoud van A B se briewe kom `n mens tot die besef dat sy baie groter was as haar boeke. Haar kennis van skrywers en boeke van eie en ander kulture oor alle wereldgrense heen, is eindeloos omvangryk. Sy het gehore in alle uithoeke van die wereld met haar kennis van en aanhalings uit hul eie letterkundige skrywes bekoor en beindruk. Die cliche waarmee sy beskryf word nl dat sy die mense aan die lees gehou het, doen nie naastenby gestand aan die oorgawe en omvang van haar leesywer en kennis nie en inspireer sy so vriende, leeskringe, en selfs skrywers met haar geweldige kennis van boeke. Die briewe vorm `n biografie van A B se lewe en die omvangrykheid van `n vrou van A B se formaat was onmoontlik om in een middag aan vriendinne te kon bekend stel. Lees die boek, geniet die briewe en leer `n supervrou ken soos geen moderne feminis van vandag haar dit kan nadoen nie. Sy was voorwaar `n liefdevolle ma, lojale eggenote, briefskrywer, skrywer en beroepsvrou (omroeper, joernalis en ambassadeur) wat met oorgawe haar talent ook uitgeleef het, en o ja, voordat dit te goed klink om waar te wees - sy het haar swakhede ook gehad en nie geskroom om haarself as ydel en bedruk te beskryf nie. Die boek bevat ook mooi fotos` van vriende en familie en `n naamverwysing agter in van al die name in haar briewe.  My dank aan die samestellers van die briewe waarsonder `n mens nooit die ware A B sou leer ken het nie.  Groete

-zie

`n Blywende vreugde briewe van Audrey Blignault

April 28, 2009 by zie

Ek moes onlangs die boek van AB se briewe aan ons leesklub voorstel en het met effense huiwering die boek gekoop aangesien haar boeke in my ma se boekrak my nooit eintlik aangetrek het nie, sekerlik omdat ek as jong meisie in heeltemal ander soort leesstof belang gehad het. Dit is dan ook hierdie verwysing nl , "ja ek ken haar boeke vanuit my ma se boekrak" waarmee `n mens begroet word as `n mens van A B praat. Maar wat `n openbaring en aangename leeservaring was die boek toe uiteindelik. Die briewe het `n ander sy van A B openbaar wat sekerlik nie bekend is aan die meeste lesers van haar essays nie. Uit die inhoud van A B se briewe kom `n mens tot die besef dat sy baie groter was as haar boeke. Haar kennis van skrywers en boeke van eie ander kulture oor alle wereldgrense heen, is eindeloos omvangryk. Sy het gehore in alle uithoeke van die wereld met haar kennis van en aanhalings uit hul eie letterkundige skrywes bekoor en beindruk. Die cliche waarmee sy beskryf word nl dat sy die mense aan die lees gehou het, doen nie naastenby gestand aan die oorgawe en omvang van haar leesywer en kennis nie en inspireer sy so vriende, leeskringe, en selfs skrywers met haar geweldige kennis van boeke. Die briewe vorm `n biografie van A B se lewe en die omvangrykheid van `n vrou van A B se formaat was onmoontlik om in een middag aan vriendinne te kon bekend stel. Lees die boek, geniet die briewe en leer `n supervrou ken soos geen moderne feminis van vandag haar dit kan nadoen nie. Sy was voorwaar `n liefdevolle ma, lojale eggenote, briefskrywer, skrywer en beroepsvrou (omroeper, joernalis en ambassadeur) wat met oorgawe haar talent ook uitgeleef het, en o ja, voordat dit te goed klink om waar te wees - sy het haar swakhede ook gehad en nie geskroom om haarself as ydel en bedruk te beskryf nie. Die boek bevat ook mooi fotos` van vriende en familie en `n naamverwysing agter in van al die name in haar briewe.    
Groete