Boekemakranka kuier met Marion Erskine
Boekemakranka kuier met Marion Erskine, skrywer van Oos en Afro-Dizzy-Act.
Dankie, Marion, dat jy ingestem het om met Boekemakranka te gesels, ons is bevoorreg.
Die voorreg is myne.
Eerstens, baie geluk met jou naam so tussen die 'grotes' te sien op Boekemakranka se Top 100 Afrikaanse Leeslys
vir 2009. Dis lekker om bietjie die orde op hierdie manier te versteur! Wat was jou reaksie om jou naam daar te sien?
Genugtig. Ek dink ek was meer geskok as enige een van julle. Ek's maar eintlik 'n baie beskeie outjie en sien myself glad nie saam met groot name soos
Dalene Matthee nie. net die lys te haal was opsigself vir my 'n reuse eer en het wonders vir my selfbeeld gedoen.
Hierdie vraag moes jy seker al oor en oor beantwoord, maar ek móét vra, in watter mate is OOS outobiografies?
Moet glad nie bekommer nie. Ja, ek het dit 'n paar keer al gehoor. Selfs genooi na 'n nuwejaarspartytjie en ek's gevra om my 'Peggy' saam te bring. OOS is nie outobiografies nie. Natuurlik het ek van my eerste indrukke van Taiwan ingeskryf in Louis in, maar ek en hy verskil eintlik soos dag en nag. Hy was juis nie 'n maklike karakter om te skryf nie. Louis dink te veel, hy 'ponder' oor dinge soos die Engelsman sal sê. Ek lewe meer dag vir dag en dink eintlik in 'n mate ek het meer van my persoonlikheid in Theuns ingeskryf, die grapmaker en ou wat die lewe vat soos hy kom. Ek moet bieg... die seuntjie, Daniel, was regtig in my lewe en ek was ongelooflik lief vir daardie kind. En die blommetjie storie is ook waar.
Marion is heeltemal te normaal in 'n sin. Ek dink hy sou die leser net verveel het. Boonop wou ek nie te veel van myself verklap nie. My moeder het altyd gesê dat
huis dinge by die huis moet bly en ek sien nogal die nut daarin. Ek dra nie my hart op my mou nie.
Vergewe my as ek persoonlik is, maar jy skryf so oortuigend, dat dit voel die omstandighede rondom jou pa, Hendrik en Lizaan het werklik so gebeur?
Dit het glad nie met my gebeur nie en selfs ook nie met iemand na aan my nie. My pa is wel oorlede aan kanker en ek kon identifiseer met daardie gaping wat Louis ervaar sonder 'n pa. Ek is maar te dankbaar as al hierdie dinge oortuigend genoeg vertel is. Ek hoop dit beteken ek's 'n oortuigende skrywer.
Die vriende, is hulle gebaseer op werklike mense, en herken daardie vriende hulleself in jou boek? En was daar ʼn
Peggy in jou lewe?
In my eerste week het ek 'n Anelle ontmoet in . Sy was presies die hardegat tipe meisie as wat ek in die boek beskryf. Maar ek het vinniger as Louis agtergekom dat 'n ui net soveel lae het en kon gou agterkom sy't eintlik 'n hart van goud. Alles wat met die boek se Anelle gebeur is fiksie, maar sy was
die enigste een wat gebaseer was op 'n regte mens. Jy sien, karakters in boeke is 'n moeilike ding. Jy wil juis nie jou vriende in 'n storie inskryf nie, want
jy gaan van die slegte eienskappe moet uithaal ook, en dit op die einde van die dag kwaai vriende maak. Ek het nooit 'n Peggy geken nie,
maar ek sou weet indien ek haar ontmoet het.
Was die boek doelbewus informatief? Ek het lanklaas soveel geleer van die kultuur van ʼn land terwyl ek hierdie
storie lees wat ek nie neersit nie. En die betelneute laat my gril! Spoeg hulle dit weer uit as hulle dit gekou het?
Ja, dit was. Voor ek OOS geskryf het, het ek gereeld briewe huis toe gestuur na my maats en familie oor my lewe in die Verre Ooste. 'n Prof (die een wie ek bedank voor in) het een van die briewe aangestuur na 'n uitgewer en gevra wat die sal wees om 'n boek saam te stel met al my briewe oor die vreemde kultuur. Die uitgewer het laat weet dat alhoewel dit
interessant is, ek nie 'n groot leserskring sal bereik met so tipe boek nie. Hy't wel aangeraai ek moet 'n storie skryf, met oortuigende karakters en die
inligting so inwerk. Ek wou nooit vir OOS soos 'n Wikipedia laat klink het nie, maar ek wou op die beste moontlike manier
presies beskryf hoe anders dit is as wat ons Suid-Afrikaners aan gewoond is. En ongelukkig is die betelneute so waar as
kom en hulle spoeg dit graag eers in 'n koppie uit - veral in taxis. As die koppie vol is, word dit leeggemaak of in 'n drom of by die venster uit! Ek's
doodernstig! Ek ruik dit nou nog as ek daaraan dink. Genoeg om van siek te word.
Die e-posse aan die Huisgenoot – Het jy dit werklik aan die Huisgenoot gestuur, of wat is die storie daaragter?
Glad nie. Ek het dit goed gedink om die informasie wat verskaf word oor Taiwan so in te werk sodat Louis dit nie vir die leser vertel nie, maar dat die
leser 'insit' en saam die Huisgenoot lees. Op hierdie manier het ek gehoop om dit minder soos 'n brosjure te laat klink. Maak dit sin?
Watter vraag het jy gehoop ek vra vir jou, wat ek nagelaat het om te vra? Antwoord daardie vraag asseblief.
Hierdie is meer 'n antwoord op 'n vraag wat ek 'n paar keer gekry het. Elke hoofstuk het Chinese karakters as versiering. Elke sin in elke hoofstuk is gebaseer op 'n outydse Chinese gesegde en dit het te make met die tema van elke hoofstuk. Vir 'n vertaling van die gesegdes julle gaan kyk by: http://oosboek.blogspot.com
Nog 'n interessante feit. Op 'n stadium praat Peggy net Manderyns en die leser weet nie wat aangaan nie. Indien jy die boek na jou naaste Chinese winkeltjie gevat het, sou hulle dit vir julle kon vertaal. Peggy se woorde is 'n vroeë aanduiding vat wat met Louis aan die gang is op die einde van die
boek. Groot leidraad, maar ek het aspris die Manderyns nie vertaal nie.
Jou eerste boek is Afro-dizzy-act. Vertel ons meer daarvan, en hoe is dit ontvang daar in ?
Ek't vir OOS 'n jaar voor Afro-Dizzy-Act begin skryf. 'n Kreatiewe vriend van my het eendag met my gesit en praat oor sy droom. Hy kon mooi teken en wou publiseer. Ek het dieselfde droom gedeel. Ons twee het koppe bymekaar gesit en dis hoe gebore is. Ek wou 'n koffietafel leesboek saamstel wat allerhande snaakse informasie bevat oor hoe ek as 'n buitelander ervaar. Die boek is uitgegee in Manderyns en Engels en is met oop arms ontvang. Ek het binne twee maande so 4,000 kopieë verkoop en moes deur drie radio-onderhoude IN Manderyns sit. Ek praat wel Chinees, maar nou nie onderhoud woordeskat nie. Afro-Dizzy-Act is ook gekies as een van die top 100 boeke in in 2007, 'n reuse eer vir my.
Waarmee is jy nou besig?
Ek mag nie te veel oor my nuwe boek deel op die stadium nie, maar dit was een van die grootste dinge wat ek nog aangepak het in my lewe. Ek het 'n
normale romantiese komedie geskryf en die uitgewers het een vereiste gehad - die boek moet as Chick Lit uitgegee word. Een probleem? Ek's 'n man! Ha-ha.
So, ja... die boek gaan die rekord haal as die eerste Chick Lit boek geskryf deur 'n man in Afrikaans. Kom ons hoop van harte dat die dames dit sal
goedkeur. Ek het ongelooflik baie moeite gedoen om julle girls te verstaan en die uitdaging het my heeltemal uit my gemaksone uit gehaal. Dit is vrek snaaks
en ek verseker 'n paar keer se hardop lag. Soos die Engelsman sê: Watch this space!
Baie dankie, Marion!
(Marion, of Marries soos hy hier bekend is, sal graag enige vrae beantwoord)
Bestel OOS HIER van Kalahari
Sjoe, ek kan nie wag om die Chick Lit te lees nie. Laat weet ons asseblief indien hy op die rakke is. Hom wil ek nie mis nie.
Sonjia, ek maak so. Ek hoop van harte julle geniet die lees so baie soos ek die skryf daarvan geniet het.
Ek kan ook nie wag nie!