Willie Burger skryf vandag in die By 'n stuk, wat nogal komies sou was, as dit nie so tragies was nie.
“Lees net gou die eerste paragraaf hardop.”
Ek hou die student se bekrapte opdrag na haar toe uit. My onderstrepings en
opmerkings in die kantlyn is vir haar half onverstaanbaar. Dalk is my handskrif
net onleesbaar.
Maar hééltemal onverstaanbaar vir haar is die punt wat ek aan die werkstuk
toegeken het.
Op die buiteblad van haar werkstuk is ’n foto van die skrywer en ’n kleurafdruk van die stofomslag van die roman wat sy moes bespreek. Die hele opdrag is met ’n laserdrukker gedruk. Die woorde is netjies geblok. Bo-aan elke bladsy met ’n gelyke nommer is die opdragtitel en bladsynommer in ’n ander lettertipe. Bo-aan die bladsye met ongelyke nommers is haar naam en studentenommer. Die twaalf bladsye skep die indruk van ’n luukse boek.
“Ek het nog nóóit so swak gedoen nie.” Sy kyk nie na my nie. “Ek het ’n onderskeiding vir Afrikaans gekry!” Sy kyk daar oorkant na die Westdene-koppies. Haar stem bewe toe sy die opdrag met ’n reguit arm na my toe uithou, asof my krapmerke op die duursame, ligpienk papier haar mooi opdrag heeltemal besoedel het.
Die groot, haastige “30%”, onmiskenbaar in my eie handskrif, maak my ’n oomblik lank benoud. Sê nou ek het ’n fout gemaak? ’n Mens sien so baie opdragte na en dalk was my oordeel verkeerd? Die taak is immers so netjies. Noudat ek haar hier voor my sien en die opdrag aan ’n mens van vlees en bloed en trane koppel, lyk die “30%” baie kras. Sy sit altyd voor in die klas en neem entoesiasties aan besprekings deel. Dalk was dit al laat in die nag en ek was dalk oorhaastig?
Ek ontwyk haar betraande blik en my oë gly oor die eerste paragraaf van haar opstel. Die eerste sin is werkwoordloos. Die tweede sin bevat twee keer die woord “egter”, sonder dat daar van enige teenstellings sprake is. Die derde sin begin met “Dit”, maar daar is geen aanduiding waarna daardie “dit” verwys nie.
Teen die middel van die tweede bladsy van haar opdrag het ek opgehou om elke
sin te probeer korrigeer. Ek het ook nie meer pyltjies met vraagtekens tussen
die sinne gemaak om aan te dui dat daar nie ’n logiese verband tussen die sinne
is nie.
Verlig dat my oordeel my nie in die steek gelaat het nie, gee ek die opdrag terug met die versoek dat sy dit hardop moet lees. Dit is ’n beproefde metode. Ek gebruik dit al sedert ek in die vroeë 1990’s begin klasgee het: Die student lees sy of haar woorde hardop. Die eerste sin word gewoonlik met baie selfvertroue en in ’n taamlik luide stemtoon aangepak. Maar wanneer die studente hul eie sinne so hardop hoor, kom hulle agter dat die sinne nie sin maak nie, dat die tweede sin nie logies op die eerste een volg nie, dat die derde sin nie ’n sin is nie...
Gewoonlik raak die stem sagter en die gesig rooier. Die woorde kom al hoe onsekerder uit en teen die helfte van die volgende sin bly die student meestal verleë stil, mompel ’n verskoning en vlug so vinnig moontlik uit die kantoor.
Maar hierdie student léés. Woord vir woord. By die eerste punt kyk sy op, ’n vraagteken op haar gesig.
“Lees verder,” moedig ek haar aan. Dis nie asof ek my verlekker in haar verleentheid wat spoedig sal toeslaan nie, maar ek weet sy sal binnekort besef dat sy glad niks sinvols kwytgeraak het nie, dat daar nie twee grammatikale sinne op mekaar volg nie. Ná die eerste paragraaf kyk sy weer op. Beskuldigend.
Sy het gekom om te hoor waarom haar punt so swak is en nou laat ek haar lees? Ek slaan my oë op na die Westdene-koppies... Ons die skuld voor uitkomsgebaseerde onderwys (UGO) se deur lê.
Dit wil voorkom asof daar in die skoolkurrikulum van kinders slegs verwag word om ’n klompie feite neer te skryf, sonder konteks, sonder logiese argumentering. Of dat hulle idees oor sogenaamde relevante vraagstukke moet lug en hul gevoelens daaroor met mekaar moet deel, sonder dat aan die vorm, aan die taal waarin dit uitgedruk word, aandag gegee word. Ons ook die skuld gee aan die invloed van televisie en internet en selfone, dat daar nie meer van kinders verwag word om te lees nie. Dalk is daar nog baie ander redes.
Dan begin ek heel voor. “Wat is ’n sin?” vra ek. Ná ’n halfuur lyk dit vir my asof sy begin snap hoe ’n sin werk. Ons het verskeie bladsye vol sinne geskryf. Sy begin dit regkry om die onderwerp, die gesegde en die voorwerp te identifiseer. Sy begin insien hoedat ’n mens seker maak dat een sin op ’n vorige een volg.
Nou keer ek terug na haar opstel. “Verstaan jy nou wat ek hier vir jou geskryf het?”
Haar frons is terug: “Ek sien van die sinne,” sê sy. “Hulle is miskien nie heeltemal nie. Maar my púnt?”
Haar oë skiet weer vol trane. “Wat is verkeerd met wat ek bedoel het?”
Net uit nuuskierigheid, roep ek my 14jarige nader.
"Wat is 'n sin?"
"Hmm. Soos in sonde of woorde?"
"'n Sin wat jy maak as jy praat."
"O! Dit is 'n onderwerp waaroor jy praat. Maar daar moet altyd 'n gesegde en 'n voorwerp ook wees om werklik sin te kan maak."
Ek haal dankbaar diep asem. Want, eintlik is dit so vanselfsprekend, dat ek dink ons vergeet soms om hierdie basiese reels aan ons kinders te verduidelik.