Murray la Vita kuier by Eben Venter in vandag se By.
Eben Venter se huis in Prins Albert kyk uit op die voetheuwels van die Swartberge. ’n Langwerpige swart klip met ’n spits punt – die mense noem dit ’n “biltong” – lê op die wit tuinmuur.Dit is ’n Vrydagmiddag. Op ’n lae stoeptafel is ’n rooi Moleskine-boek, Toast Coetzer se romanNaweek, ’n eksemplaar van The Guardian Weekly en ’n leë wit koppie en piering.Die skrywer het waarskynlik daar in die koelte gesit en tee drink en lees, en toe opgestaan om ons by die groot hek van draad en pyp (’n tipiese plaashek) te ontvang.
Ons groet en klim dan saam met hom in sy bakkie. Frieda en Bessie, sy “townshiphonde”, sit agterop. Daar gaan nou tot buite die dorp gery word. Dit is ’n namiddag-ritueel om in die veld met die honde te gaan stap.
Wanneer ons by sy vriend, die kunstenaar Philip Badenhorst wat in Antwerpen woon, se huis verbyry, sê hy Philip se groot droom is dat hulle almal eendag hier in Prins Albert moet oudword.“Ek hou baie van die gedagte, maar my partner, Gerard (Dunlop), verkies dit om in Australië te woon. Hy is baie lief vir die land en hy het ’n baie goeie werk daar.”
Hy was ’n tuinier en landskapargitek, maar nou is hy ’n “werks konsultant vir mense wat leef met gestremdheid”.“Hy pas baie goed daar in, terwyl dit vir hom moeilik is hier... die hele soort van nalatenskap van apartheid. En hy kan nie Afrikaans praat nie.”
Die aand in sy sitkamer sal ons praat oor die dubbele eensaamheid daarvan om in Australië te bly – hy voer ’n nomadiese bestaan tussen Suid-Afrika en Australië – én ’n lewensmaat te hê wat nie die taal verstaan waarin jy jou boeke skryf nie.Nadat ons ’n ent die veld in gery het, hou hy stil. Ons klim uit en stap in die rigting van die Gamkarivier. Eben sê nes Gerard is ook hý intens bewus van die armoede wat ’n mens hier in die Karoo aantref.“
Jy is altyd baie kwaai gekonfronteer met die arm mense in hierdie dorp, want jy leef naby hulle.“Ek het ook so ’n deeltjie daarvan ingeskryf in die boek (Santa Gamka). Waar ek in daai supermarktou staan, kom iemand agter jou en hy koop ’n sakkie meel en suiker en ’n brood. En dan hoor ek hoe praat hulle: Die meel het nou opgegaan en die kookolie het opgegaan – dit het alles opgegaan. Maar jý koop feta en... jy weet... ek sal nooit daarvan kan ontslae raak nie.“
Dit is ’n tipe van ’n wit skuld, of wat jy dit ook al wil noem. Of miskien is dit my Christelike opvoeding.”Hy wou ’n dominee word en het aanvanklik teologie aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys bestudeer voordat hy na filosofie oorgeslaan en uiteindelik ’n meestersgraad oor die “latere, melancholiese filosofie van Max Horkheimer” gedoen het.“
Ek sal nooit van daai bewussyn ontslae kan raak nie. As ek in Australië aankom en so afklim in Sydney, dan is dit vir my ’n soort van ’n verlígting byna. Dan dink ek: kan ek net vir ’n rukkie ontsláé raak van al hierdie bagasie in Suid-Afrika en mense wat áltyd oor politiek... dit is onvermydelik. Ek kan onthou as kind op my oupa-hulle se plaas. Ons het altyd Sondae daar gaan kuier. Dan sit ons so op die stoep. Solank as ek kan onthou, as kind, het mense in my familie oor politiek gepraat en oor die situasie in die land.”Hy onthou hoe mense dáái tyd al gesê het hulle weet nie wat van hierdie land gaan word nie. En mense sê dit nou steeds.“
Weet jy wat? Ek dink dit gaan nooit verander nie. Dit is eintlik ook op ’n manier vir my die fassinasie. Dit is hierdie land van wonders en wonde. Breyten het dit vreeslik mooi gesê: Dis ’n psigologiese hel in ’n fisieke paradys.”
Om ons is die uitgestrekte Karoovlakte. Hy wys nou en dan ’n plant uit: bababoudjies, lammerlat. Ons praat oor hoe die tekstuur van ’n gemeenskap in taal tot uiting kom.“Dit is wat my aangetrek het na Prins Albert, en dit is nou al so te sê tot niet deur die gentrifikasie in hierdie dorp. Dit is ’n tweesnydende swaard. Want aan die een kant het dit natuurlik enorme ekonomiese ontwikkeling gebring. Maar daardie mense wat dáái woorde ge-coin het en die pragtige dialek van daai mense wat in die laat sestigerjare uit Gamkaskloof, uit Die Hel uit... hulle het byna almal Prins Albert toe getrek. Daar is baie min van daardie mense oor.“
Die inkommers, van wie ek ook een is, maar verál die Engelse inkommers, kan nie daardie dialek verstaan nie. Hulle kan ook nie hóór dat dit ’n anderse Afrikaans is as wat ék byvoorbeeld praat nie.”
Santa Gamka is die verhaal van Lucky Marais, ’n rentboy. In die flapteks verneem ons: “Die Karoo het te warm geword vir Lucky Marais. Nóg sy gevatheid, nóg sy lekker lyf gaan hom red. Hierdie boorling van die Karoodorp Santa Gamka se geluk is uitgedien. Net sewe minute en als is verby. Dat opsluiting in ’n pottebakkersoond nou sy laaste aardse avontuur moet wees!”
Eben sê: “Ek het probeer om myself te herskep met hierdie roman ná Horrelpoot. Ek het probeer om iets heeltemal anders te doen. Vir my is dit hierdie jong man wat homself inisieer of wat deur ’n sameloop van omstandighede geïnisieer word in sy seksualiteit en sy grootwordproses en wat probeer om op sy eie voete te staan en wat hierdie absolute renons en vréés het om te verval in die armoede waarmee hy grootgeword het. So ek sien dit byna as ’n bildungsroman.”
Hy fluit vir Bessie en Frieda wat iets onsigbaars jaag.“Van my lesers het so gemurmureer oor Horrelpoot. Hulle het gesê dis somber. Dit wás natuurlik. En toe het ek gedink ek wil iets in ’n ietwat ligter trant skryf. Ek wou iets heeltemal anders skryf. Ek wou hééltemal ’n ander stem, ’n ander sfeer, skep.“
Die skrywer se bedoeling is natuurlik dikwels heel anders as wat die leser dit nou sal lees. “Ek het daardie heel laaste sin baiekeer oorgeskryf, jy weet. Vir my neem hy (Lucky) daar op die einde daardie besluit om sy lewe as rentboy te laat staan en dan is daar... héél aan die einde in die laaste sinne het ek probeer dit aandui dat hy nou... hy’s nou ’n man... hy staan nou op sy eie voete. Hy is volkome selfverseker, wat eintlik iets is waarna hy nog altyd gestrewe het. Dat hy op daai oomblik ’n tipe van ’n volwassenheid bereik het.”
Hoe laat dit hom voel as lesers sy boeke heeltemal anders verstaan as hý?“Dis natuurlik die vryheid van die leser, en dis eintlik vir my ook baie interessant om te sien wat mense van jou goed maak. Met Horrelpoot het dit my nogal angstig gemaak – hoe mense dit gaan begryp en interpreteer. Maar nie met dié boek nie. Hulle kan maak daarmee wat hulle wil.”
Hy het “ontsettend hard” gewerk om Lucky se “stem” reg te kry.“Ek het óór en óór geskryf, en ek het dit hééltemal grondig hersien en dan wéér en wéér tot ek naderhand gevoel het dís die stem wat ek aan hierdie outjie gaan gee. En ek dink daai stem werk.“
Ek het vir jare hier my eie woordeboek op my rekenaar gehou. Ek het dit genoem my Prins Albert-woordeboek. En ek het dít natuurlik gebruik. Jy weet as ek in die supermark-tou staan en orals... by die garage... orals, het ek altyd geluister hoe praat mense. Jy weet, die uitdrukkings en die woorde. Want die mense hier in die Groot-Karoo praat ’n ander Afrikaans as ék en ook ’n ander Afrikaans as die bruin mense in die Kaap. “
En hulle gebruik báie min Engels, byna niks nie, behalwe vir produkte. En wat ook soms interessant is: Hulle gebruik soms hierdie argaïese Afrikaanse woorde wat ons nie meer gebruik nie.”Twee patryse vlieg links van ons op.“Ek het heeltyd gedink aan Holden Caulfield se stem in Catcher in the Rye. Dis wat daardie boek gemaak het, daai stém van Holden Caulfield. Hy het dit so perfék reggekry dat jy daai stem nog hoor jare later... jy het die storie al vergeet.”
Stadigaan het hierdie Lucky vir Eben lewendig geword. “Dit is ’n storie wat hier gegroei het, wat hier grootgeword het. Dit is nie iets wat ek... Kyk,Horrelpoot is die storielyn van Heart of Darkness. Dit was meer ’n serebrale skepping, met minder karakterontwikkeling. Dit was meer ’n ideeroman, terwyl hierdie ’n storie is wat uit hierdie bodem kom.”
Neem maar net in ag dat Lucky sy storie vertel vanuit ’n pottebakkersoond waarin hy gestop is om dood te braai, en jy besef Santa Gamka is ook ’n verhaal wat geput het uit ’n diep en ryk verbeelding. Eben lag ondeund en vertel: Dit is ’n soort van ’n riller wat ek en Gerard... ons het ’n hele riller opgemaak van iemand wat die sondebok in die pottebakkersoond steek en dan gaan daar niks van hom oorbly nie. Dis so ’n foolproof manier om van iemand ontslae te raak. En toe het ek die besonderhede gekontroleer met my pottebakkersvriend Hylton Nel, wat in Calitzdorp woon.”
Van Eben het ’n mens die indruk dat hy groot empatie het met die karakters wat hy skep en dat húlle op hul beurt empatie by die leser ontlok.“Ja. Ek probeer dit doen.” ’n Student het hom onlangs gevra of hy enigsins ’n verantwoordelikheid teenoor die leser voel. “Ek het toe vir haar gesê ek voel meer verantwoordelik teenoor die karakters en dat ek die karákter op ’n manier as ’n volle mens uitbeeld al is daar miskien bose trekke.”
Deur te luister en waar ter neem het hy die mise-en-scène geskep. “Ek het in daai opsigte minder op my verbeelding staatgemaak. En daai tipe dinge hou ek in my joernale by vir baie jare al. Nog voor die gentrifikasie van Prins Albert het ek al hier begin werk in my skrywerskwarantyn en my sabbaticals. En van tóé af het ek al aantekeninge begin maak oor mense en insidente... die landskap... die dorp. En áltyd die dialoog en die dialek. Ek het dit áltyd bygehou. En dit was vir my so interessánt gewees. Veral komende van Australië. Dan hoor jy dit só vars. En dit is vir my ábsoluut boeiend.”
Is dit tot sy voordeel as skrywer om buite die land te bly? vra iemand hom onlangs. “Ja, dit is. Jy kom terug met daai vars perspektief. Daai geopende oor.” Ons sien ’n voël wat aanvanklik soos ’n duif lyk, maar eintlik ’n valk is. Eben sê: “Nou word die lig al hoe sagter.” Wanneer hy in Australië is, mis hy hierdie plek waar mense stadig met fietse in die breë straat langs watervore ry. “Dit is vir my absoluut waar ek vandaan kom. Ek kan dit nie... My lewe... my hart is op ’n manier hier. Maar dis vir my ook lieflik daar anderkant en ek hou baie daarvan. Ek sal my eintlik nooit kan losmaak nie en ek wil ook nie. Ek voel my baie verstrengel met Suid-Afrika en alles...”
In die aand sien ons in sy huis die olieverf-seelandskap uit sy kindertyd; sy Voortrekkerbelt wat daar op die boekrak in die studeerkamer naby Proust lê; sy pa se swart radio; die wolsorteertafel wat aan sy oorlede broer behoort het.Tussen al hierdie dinge staan Eben Venter. ’n Fyn, mooi letsel (amper net ’n strepie) is in die lamplig op sy linkerwang sigbaar. Met sy pinkie streel hy oor die foto van die plaas waar hy grootgeword het. Hy sê: “Ek ken elkeen van daai koppies.”
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member