Irma Joubert se jongste roman, Anderkant Pontenilo, het onlangs verskyn. Kirby van der Merwe het met haar gesels in die By.
Waaroor gaan Anderkant Pontenilo?
My boek, ’n liefdesverhaal, speel af teen die agtergrond van die Tweede Wêreldoorlog, met ’n Italiaanse krygsgevangene wat op ’n plaas in die Bosveld beland. Die klem val op die karakters eerder as die oorlog self.Die roman het twee verhaallyne. Die Suid-Afrikaanse deel speel af teen die Afrikanerkultuur en -politiek van die jare 1938-1946, met die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument, die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog net daarna, die skeuring in Afrikaner-geledere en die oorlog in die Noorde (eindelik El Alamein).Die tweede lyn begin in Italië met die opkoms van Mussolini, die uitbreek van die oorlog en die vertrek van die soldate na die Suide (eindelik El Alamein) – waar die twee storielyne ontmoet.En natuurlik, met ’n aantreklike Italianer op die plaas (al is hy nou ook deel van die “Roomse Gevaar”), watter Boeremeisie met warm bloed in haar are sal haar hart in toom kan hou?
Waar is jy gebore en getoë?
Ek is ’n Bosvelder (nie ’n Blou Bul nie!), gebore en skoolgegaan op Nylstroom, het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer, het 33?jaar lank in KwaZulu-Natal gewoon (was ’n Shark) en woon tans in Bloemfontein (is nou ’n Cheetah).
Wat is jou idee van volmaakte geluk?
’n Heerlike vakansie saam met almal wat ek liefhet. Ek is al 39?jaar met Jan getroud. Ons het drie volwasse seuns, ’n pleegdogter en ’n kleindogter, al die mense vir wie ek lief is. Ek is op my gelukkigste in my eie huis saam met my hele familie.Soppy maar waar.
Wat jaag jou die skrik op die lyf?
As ons Trivial Pursuit speel en ek land op ’n geel geskiedenisblok, begin ek onmiddellik sweet. Want die kinders sê: “O, nou gaan Ma seker die antwoord ken” – wat ek veronderstel is om te doen, aangesien ek ’n geskiedenis-juffrou was. Maar dan spring Roosevelt op die Britse troon, en die tsaar wat vermoor is, bly naamloos, en die skip wat in 1912 ligte-aan gesink het, word die Britannica.
By watter figuur in die geskiedenis vind jy die grootste aanklank?
Met geeneen nie. Die geskiedenis het bewys hulle was maar ’n dom klomp. Ek kon seker gesê het Emily Hobhouse, maar ek is régtig nie baie goed met siektes en mense wat doodgaan en sulke goed nie. Dan eerder David Livingstone.
Indien jy die langpad vat, waarheen?
Met ’n 4x4 boendoes toe – hoe boendoeër, hoe beter. Ek dink tog ek is ietwat van ’n ontdekkingsreisiger. Ek sou graag een toer in die middel-1800’s deur Afrika wou doen en, soos Livingstone, die Victoria-waterval ontdek.
Lieg jy ooit?
Nee, nóóit! Miskien al ’n keer of wat, miskien ...
Watter woord of sêding gebruik jy dalk te veel?
Fenomenaal. Ek is geneig om oorentoesiasties te raak, en dan oordryf ek so ’n bietjie.
Watter kuns sal jy wil aanleer?
Ek kom uit ’n familie wat nogal onmusikaal is, en dis uiters dominante gene. Tog sou ek graag in ’n groot koor, soos die “Halleluja”-koor uit die Messias van Handel, wou sing. Of dalk sou ek die tjello in ’n simfonie-orkes wou speel.
As wat wil jy in jou tweede lewe terugkom?
Net as ek self, maar langer en maerder en ’n bietjie slimmer. En miskien met ’n sangtalent en baie meer kuns in my. Maar dan moet my man nog net so lief wees vir my, anders bly ek sommer net ek.
Wat beskou jy as die allerdiepste gat van ellende?
As iemand ophou lag. Nie eensaamheid nie, maar sielsongelukkigheid, só erg dat lag verdor.?Waar wil jy graag woon?Enige plek waar my man woon, maar verkieslik nie in die Saharawoestyn nie. Dis glo bietjie droog daar.
Wat is jou beste kenmerk?
My entoesiasme, dis wat mense sê. Die lewe is vir my wonderlik, en daar is so baie dinge wat ’n mens nog kan doen en ontdek op soveel terreine. Daar is amper nie tyd om te slaap nie.
Watter eienskap waardeer jy die meeste in ’n man?
Standvastigheid, eerlikheid. Ek is getroud met ’n rotsvaste man, ’n anker wat my geaard hou. Dis wat ek soek in ’n man. En die feit dat hy dan nog lief is vir my, wat ’n bonus!
En in ’n vrou?
Liefdevolle vroulikheid, maar sy moet bekwaam wees ook. En natuurlik kan pret hê!
Wat van jou vriende stel jy die hoogste op prys?
Dat hulle lojaal bly, selfs al raak ek weke lank “skrywerig”. En dat hulle saam met my lag.
Wie is jou gunsteling-skrywers?
Die heel eerste skrywers aan wie ek op laerskool verslaaf geraak het, was Enid Blyton, en toe Konsalik, maar ek het intussen aanbeweeg. My rolmodel vir skryfwerk is Dalene Matthee. Ek kan haar boeke oor en oor lees agter die ongelooflike taal aan. Ek hou ook van Marita van der Vyver, Deon Meyer – daar’s te veel om op te noem.
Watter beroep sou jy die graagste beoefen?
Ek was 35 jaar lank Afrikaans- en geskiedenis-juffrou vir die senior klasse. Selfs al kon ek van voor af kies, sou ek niks anders as dit wou doen nie.
Waarmee hou jy jou nou besig?
Ons het ná 35 jaar in Durban in Bloemfontein kom aftree. Ek burger nog in, kry my huis reg (nie die tuin nie – Jan is die tuinier), probeer fiks bly en skryf en skryf en skryf.
Waaraan skryf jy?
Anderkant Pontenilo is die eerste van ’n trilogie. Ek is tans besig met die tweede boek, wat afspeel van net ná die Tweede Wêreldoorlog in die apartheidsjare in. Baie intriges!
Bestel Anderkant Pontenilo HIER van Kalahari
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member