Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
26 views

Paul C. Venter Boekbekendstelling in Bloemfontein

Page 1
posts 1–3 of 3
superstar - founder
993 posts

Paul C. Venter Boekbekendstelling in Bloemfontein

Attachment: paulventer.bmp (758.0KB)

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
regular - member
90 posts

Dankie, ek sal graag die boek wil kry!  Laas jaar was daar 'n vervolgverhaal as opvolg van die Arende-reekse in die Landbouweekblad.  Ek het 'n stukkie op my blog daaroor geskryf, o.a. oor hoe ek dink hy aan die titel Arende gekom het, gaan lees gerus daar.

Ek wonder hoe die vervolgverhaal in verband staan met die nuwe boek, of die boek daarop volg, of het die skrywer die verhaal twee onafhanklike vertakkings laat maak?

Ek moet erken ek het toe nooi meer as die eerste paar aflewerings gelees nie, ek is besig om die ou LBW's agter mekaar te sit...


Gil van Arende

Illustrasie Izak Vollgraaf. LBW 20/06/2008

Paul C Venter

Paul C. Venter en sy vrou Dalene, LBW 13/06/2008

superstar - founder
993 posts


Ronel Nel skryf in 'n artikel in die By vandag oor Die rebellie van Sloet Steenkamp as volg:

Sloet-hulle is terug. Dié keer nie op die televisieskerm nie, maar in ’n boek. Ronel Nel het gesels met Paul C. Venter, bobaas-storieverteller van onder meer TV-reekse soos Konings en Arende.Paul C. Venter het pas ná ’n paar jaar se stilte ’n nuwe roman die lig laat sien. 

Die rebellie van Sloet Steenkamp word beskryf as “die nuwe Arende” – dit is die vierde in die Arende-reeks en die eerste wat hy as boek publiseer.Dit is ook sy eerste boek in 26 jaar – hy het destyds die roman gelos omdat hy vyf dogters moes grootmaak en omdat “televisie beter betaal het”.

By het hom ’n bietjie gepols oor waarmee hy homself die afgelope paar jaar besig gehou het, sy liefde vir stories vertel, die verskil tussen televisie en die roman, en waarheen hy homself nou rig. Sy manier met stories skemer sommer reg deur in ’n onderhoud. Een klein vragie kan ’n hele verhaal tot gevolg hê ...

Hy vertel: “Ná my laaste twee TV-reekse as skrywer, vervaardiger en regisseur (Een skoenlapper en It Rained Last Night) kon ek nie weer kontrakte by die uitsaaiers kry nie. Daaroor wil ek my liewer nie uitlaat nie, want ’n mens kom te maklik as ’n bitterbek oor.“Ek het toe ’n ruk lank as hoofskrywer vir sepies soos Generations en Villa Rosa gewerk, maar ek glo die vervaardigers van daardie sepies sal met my saamstem dat dit nie regtig my genre is nie.“Ek hou van ’n begin, middel en einde – ’n sepie is ’n hond wat sy eie stert jaag en nie mag vang nie, want dan is die sepie mos verby. Ek sien nie daarop neer nie, glad nie, ek bewonder mense wat so lank met een ding kan volhou.“

Ewenwel. Ek en my vrou, Dalene (Dalene Kotze, lank hoof van kinderprogramme by Afrikaanse TV), het ná my kortstondige avonture in sepieland aanvaar die skrif is aan die muur en besluit om af te tree.“Ek het wel nog rolprentdraaiboeke gedoen, onder meer een vir Charlize Theron, maar dis nooit verfilm nie.“Ander films is in wording, maar ek is te bygelowig om oor die goed te praat voor hulle klaar geskiet is.“Film is ’n bedonnerde me dium, daar is hopeloos te veel vingers in die pie, enigiets kan op die nippertjie verkeerd gaan en dan gebeur die movie glad nie.”

Ná hul aftrede het hulle Engeland toe getrek – “om nader aan ’n dogter en kleinseun te wees, maar ook sodat ek daar kon probeer skryf” – en eers naby Whitby, Yorkshire aan die Noordsee gewoon. ’n Piepklein village op die rand van die Yorkshire Dales. “Skilderagtig mooi, maar hier het ons ’n verskriklike infestasie van sogenaamde scaby mites beleef – dis nie ’n grap nie, glo my, jy word dodelik siek – en moes letterlik die huis met feitlik alles daarin net so los en vlug. Die mikroskopiese monstertjies kruip in alles in – veral materiaal en papier – en lê dan miljoene eiers daar.“

Ons het in die Lake District eers weer tot onsself gekom en later ’n huis aan die buitewyke van Scarborough gekry. Hier het ons heel lekker – en aanvanklik gesond – gewoon ...”In Engeland het hy in Engels begin skryf, maar agtergekom dat jy nêrens sonder ’n agent kom nie – en dat agentskappe nie juis in nuwe skrywers belangstel nie.“Chat sites van jong, ongepubliseerde novelists op die internet vertel die volle tragiese verhaal: Die Engelse uitgewersbedryf is deur fat cat-agente geskaak (ná Harry Potter en sulke ongelooflike suksesse) en in ’n closed shop omskep.“

Toe probeer ek maar weer TV en was besig om vir die BBC iets te ontwikkel, toe Dalene se kanker weer terugkom. Dit was soort van die laaste strooi. Ná omtrent ’n jaar is ons toe terug Suid-Afrika toe.“Omdat die BBC persoonlike kontak met skrywers verkies (hulle hou van vergaderings!), moes ek daardie oop deur ongelukkig maar laat toegaan ...

”Paul en Dalene moes terugkom op soek na ’n goeie onkoloog en kliniek. “Ek het dr. Neil Cronje van die Medi-Clinic in Bloemfontein ge-Google en ná ’n heupvervanging het hy Dalene begin behandel, en hy behandel haar steeds – nou net meer as twee jaar. Sy ly aan skeletale kanker. “Ons wou nie weer in ’n stad woon nie en wou ook ’n huis kontant koop. 

So het ons toe hierdie gerestoureerde huisie reg op die rand van die Karoo op Hanover ontdek.“Dis ’n warm, menslike plek ... nee, korreksie, ek jok, dis ’n aaklige, afgryslike plek, bly weg, moenie hier kom koop nie, asseblief, anders gebeur hier dalk wat op Paternoster gebeur het nadat my oorlede ou maat Pieter Pieterse die plek in sy skryfwerk besing het: Goodbye magic, goodbye peace and quiet ...”

Terwyl Paul in Engeland was, het hy vir hom ’n webwerf laat skep om so skryfwerk te probeer kry. Expats in Oz, Nieu-Seeland en Kanada het hom deur die webwerf opgespoor en onverwags veral met vrae oor Arende begin peper.

Hy het gou agtergekom dat roofkopieë van die drie Arende-reekse heerlik in daardie wêrelde rondkuier. “Van die vrae het my vir die eerste keer in sestien of sewentien jaar weer aan die karakters laat dink en uiteindelik toe die idee vir ’n vierde Arende gegee – dié keer natuurlik slegs in boekvorm. Dis waar die boek vandaan kom.“Dit begin waar die derde Arende-televisiereeks opgehou het – in Duitswes, waarheen Sloet en sy mense padgegee het omdat hulle nie ná die Anglo-Boereoorlog onder die Engelse vlag wou leef nie.“

Nou breek die Eerste Wêreldoorlog uit en Sloet-hulle is weer in die middel van ’n groot gemors. Engeland vra die Unie om Duitswes binne te val, en in Duitswes besluit die Namas ’n bakleiery tussen die wittes is vir hulle ’n gaping om hul grond te probeer terugkry. Sloet en sy mense word gedwing om weer kant te kies. Baie aksie, maar ook baie oor die mense.”

Die titel laat ’n mens aan Chris Barnard se Die rebellie van Lafras Verwey dink – en Paul erken dit. “Ek maak ’n diep buiging in sy rigting. Daar is ’n wonderlike, wonderlike ritme in Chris se titel. Ek het ’n rits ander titels vir my boek oorweeg juis omdat Chris s’n so ’n ontsaglike skaduwee gooi. Op die ou end het ek besluit bogger dit, die titel pas en klink aansienlik beter as Arende 4, so, why fight it?“

Dit was vir my moeilik om weer ‘beskrywend’ te skryf; die draaiboek gaan om dialoog en dit maak nie saak hoe kort jy die handeling beskryf nie. Hoe korter, hoe beter. In ’n boek moet jy die handeling natuurlik uitbrei en so goed moontlik skryf. In dié opsig is ’n boek moeiliker as ’n draaiboek.“In ’n ander opsig is dit makliker om ’n boek te skryf: dis net tussen jou en jou uitgewer. Wanneer jy ’n draaiboek skryf, moet jy ’n horde gode dien – die liewe ou suits – en elkeen het ’n eiertjie oor die draaiboek te lê.“

Die mense met die geld is die ergste; hulle het gewoonlik (ek veralgemeen ’n bietjie) nie ’n clue wanneer dit by storie en karakters kom nie, maar steek hul tjekboeke oral in en dan moet jy soos ’n dier baklei om die oorspronklike idee te probeer beskerm.“

Jy word naderhand soos ’n dier, ek oordryf nie – en dan, ironies, word jy ‘a difficult writer’ genoem. Dis eintlik ’n wonderwerk dat daar wel soms goeie films gemaak word. It’s a mystery, soos ’n karakter in die heerlike fliek Shakespeare in Love sê.”Oor wat die sterkste element in ’n boek moet wees, twyfel hy nie.“

Karakters is vir my die belangrikste, altyd. Karakters maak ’n storie. ’n Storie kan nie goeie karakters maak nie. Dink ’n plot ten volle uit en druk karakters daarin en hulle bly pionne op ’n skaakbord.“

Dis een van my probleme met sepies; jy moet noodwendig die storylines eerste uitwerk, en ek glo dis een van die redes waarom die karakters nie altyd heeltemal waar word nie. Begin met karakters en kyk waarheen wil hulle gaan – as hulle ronde, volwaardige karakters is, sal hulle wel self dinge begin doen – en dan het jy op die ou end ’n storie wat waar voel met mense wat waar is.”

Op die oomblik werk hy aan sy derde boek in ’n ry – die eerste twee, Die rebellie van Sloet Steenkamp en In die mond van die wolf, word deur Lapa uitgegee – en dit het vanselfsprekend geword dat hy nou die roman bo die draaiboek verkies.“

Vroeër vanjaar het ek egter ’n paar maande van romanskryf afgevat om ’n Engelse filmdraaiboek te doen en toe was dit weer wonderlik om hoofsaaklik met dialoog te werk. Dis moeilik om te kies. Wel, my bankbestuurder sal natuurlik die draaiboek kies omdat ek meer daarmee verdien ...”

Ná die boek waaraan hy tans werk (werkstitel: Die geval van die sadistiese swembad) wil hy weer ’n Engelse roman probeer.“Ek dink ek is nou oor die skok (en verlies aan selfbeeld) wat ek in Engeland met die toe deure van agente ervaar het. Ek moet natuurlik versigtig wees met voorspellings, want ek begin nou lank in die tand raak.”

Paul was van kleins af ’n storieverteller. “Toe ek op die ouderdom van sewentien kortverhale aan tydskrifte soos Personality begin verkoop het, was my pa se reaksie: ‘Jy doen dit van kleins af verniet en nou word jy so wragtag betaal om te lieg!’?”Dalene se siekte regeer hul lewe en hy erken dat hy nie kans kry om elke dag te skryf nie.“Ek probeer. Gewoonlik baie vroeg in die oggend wanneer sy nog slaap. Ek het nie ’n ander werk nie. Wel, my oudste dogter het toe sy klein was vir ’n besoeker gesê: ‘My pa werk nie, hy tik.’ Dis steeds so en sal seker maar so bly tot ek omkap.”

Maar wat lees hy self?“Wie lees ek? Sjoe! Dis soos om my oor musiek te vra. Álles. Ek gaan deur fases. Ek sal stokou vriende oorlees (sover hierdie jaar John Steinbeck, W. Somerset Maugham, Herman Charles Bosman, Mark Twain, Oscar Wilde, Truman Capote), dan ’n rits spanningsverhale (Michael Connelly en Robert Crais is my gunstelinge in die murder- mystery genre ).“

Dan kry ek weer ’n letterkundige aanval en probeer alles lees wat nuut op daai rakke staan, veral wat in Afrikaans aangaan. Dan is ek skielik weer dik vir fiksie en lees ’n ruk lank slegs feitelike boeke en biografieë ... So, bly dit wissel. Ek geniet ook die grafiese roman. Van die goed is snert, maar daar is ook meesterstukke. In my tienerjare het ek graag comics geteken.“Wie’t gesê: ‘My taste is more catholic than the pope’?“

Een tragedie: die gedig het my verloor. O, ek sal nog deur die Senior Verseboek en Uys Krige blaai, maar nuwe digbundels trek my nie. Ek probeer, maar dit werk net nie. Ek en Dalene het al hieroor gepraat, ek vermoed ek het saam met die ouderdom ’n lelike sinisme ontwikkel wat nie lekker saam met gedigte gaan nie. Ek wil amper sê gedigte behoort vir my aan ’n jonger, sagter tyd in my lewe. I mourn the loss.“

Film bly egter ’n groot heerlikheid in my lewe. Ons het al in Engeland besluit om televisie op te gee, besit glad nie ’n stel nie, kyk net DVD’s op ’n groot skerm. Die DVD is veral vir my ’n wonderlike uitvindsel omdat ’n mens die ou klassieke movies (en operas en musicals wat ’n mens nie op die verhoog kon sien nie) in ’n puik toestand kan ervaar.”Wie is of was sy grootste invloede? “

Ek dink dis ’n vraag wat ’n mens eintlik aan ’n jong skrywer moet stel. Myne was sekerlik Hemingway en Steinbeck en Bosman en Afrikaanse skrywers soos Jan Rabie se kort goed toe ek jonk was – en o hel, ja, Dickens se Tale of Two Cities toe ek so veertien was, en Uys Krige se vertaling van Twelfth Night het my amper ’n nag lank wakker gehou, Shakespeare in Afrikaans, magic!“

En later troon Suid-Amerikaanse werke, soos One Hundred Years of Solitude, en Truman Capote se In Cold Blood soos berge in my geheue. Maar gaandeweg raak jy so verwikkel in jou eie skryfwerk dat jy eenvoudig te besig is om iemand anders te volg of na te boots, en só ontwikkel jy dan maar jou eie manier van storie vertel.“

In die draaiboekveld het Paddy Chayevsky, William Goldman en John Huston ’n groot indruk op my gemaak – deels omdat ek gelukkig van hul draaiboeke onder oë kon kry – iets wat destyds nie maklik was nie, die gepubliseerde draaiboek was nog nie so ‘in’ nie.“Op die verhoog het soveel werke – van Amerikaanse, Britse én Suid-Afrikaanse skrywers – my verbeelding ’n klap teen die kop gegee dat ek nie al die titels en name kan opnoem nie.”Sal hy nie dalk sy hand waag aan ’n verhoogstuk nie?“

Ek wens ek kan ’n goeie toneelstuk skryf, maar ek was te lank met kamera deurmekaar, wil kort-kort iewers heen ‘sny’ ...“Om ’n idee te kry, moet ek gaan loop. Ek glo nie ek het al ooit in my lewe ’n idee gekry terwyl ek gesit of gelê het nie. Ek moet aan die loop wees, besig om te kyk. 

 “Ek is baie visueel – obviously – en dit gebeur gereeld dat iets of iemand wat ek sien my prikkel en dan ’n idee vir ’n karakter of storie word.”

’n Uittreksel uit Die rebellie van Sloet Steenkamp verskyn Maandag in Boeke-Beeld . 


Bestel Die rebellie van Sloet Steenkamp HIER van Kalahari

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
Page 1
posts 1–3 of 3

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now