Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
86 views

Verbrande Paradys - vrae vir leeskringe

Page 1
posts 1–7 of 7
regular - member
90 posts

Hierdie onderwerp is bedoel vir mense wat klaar die boek gelees het!  Wees gewaarsku, aangesien lede hier enige aspek kan bespreek sal dit die storie weggee.

Die 7 vrae verskyn agter in die boek en ek het gedink aangesien ons 'n leeskring is, kan ons dit dalk hier probeer bespreek.  Hier is die vrae:

 1. Die dood is die hooftema in hierdie roman. Hoe word die trauma van dood deur Sybrand Venter hanteer?  Tot watter insig het u oor die dood gekom na die lees van die verhaal?

2. Die omgewing waarin die verhaal afspeel, bepaal in 'n groot mate die lotgevalle van die karakters.  Is dit 'n aanvaarbare stelling?

3. Bewaring van die natuur is ook 'n sentrale tema in die verhaal.  Watter antwoorde bied die verhaal ten opsigte van die mens se verantwoordelikheid teenoor die natuur?

4. Hoe word die verganklikheid van die mens in die verhaal uitgebeeld?  Gebruik die motto's voor in die boek as verwysing.

5 Bespreek die ooreenkomste tussen Emma en die koepel.

6. Bespreek Henro as karakter met 'n lae sosiale IK en hoe dit die gang van die verhaal beïnvloed.

7. Wat is die doel van Andries Spogter in die roman?

regular - member
90 posts

Moe-nou-nie hier staan en lees as jy nog nie Verbrande Paradys klaar gelees het nie!

Voor ek nou die storie heel vergeet, hier is my gedagtes:

1.  Die dood:  Dit lyk asof Sybrand dit taamlik met ontkenning probeer hanteer en daarvan wegvlug.  Bv. die onbeheersde gedrag van sy broer, wat tog maar alles 'n gevolg van sy pa se dood is, ignoreer hy - hy behoort tog onmiddelik opgetree het teen Davel wat lenings aan sy minderjarige broer opdring, tog laat hy dit eenvoudig begaan.  Ek kan nie regtig sê dat ek tot enige nuwe insigte oor die dood gekom het nie, miskien is ek te oud daarvoor.  As dit meer van toepassing is op jonger lesers, dink ek die insigte sou wees: die dood is onafwendbaar, kom soms onverwags en sonder rede.

.2. Omgewing waarin die verhaal afspeel:  Dis 'n aanvaarbare stelling, want vir een groep is die behoud van die grond alles, terwyl vir die ander groep alles draai om hoeveel geld hulle uit die grond kan kry.

3. Bewaring van die natuur: Dat daar miskien 'n kompromie aangegaan kan word tussen bewaring en ontwikkeling, in die vorm van ekotoerisme.

4. Verganklikheid van die mens uitgebeeld: Dit word so uitgebeeld dat dit wat vir die groter mensdom bewaar moet word, en dus die groter mensdom self, belangriker is as enige individu.

5 Ooreenkomste tussen Emma en die koepel:  Albei word geoffer.

6. Henro met lae sosiale IK: Sy weglopery en verkwistery is miskien die laaste strooi vir sy ma na haar man se dood en lei dalk eintlik tot haar selfmoord.

7. Doel van Andries Spogter: Hy dien soort van as 'n gewete vir die Venter-seuns.  Mens se eerste instink is om grond te wil "gryp" vir jouself, maar hulle moet leer om te deel - dat die erfenis vir die groter mensdom bedoel is.

Hemel, is ek nou bly ek het liewer in 'n wetenskaplike rigting gestudeer - kan die Prof. nou vir jou onmoontlike vrae vra!  Nou wil ek graag ander opinies ook hoor.

rookie - member
8 posts

Ek is jammer maar ek het nie van hierdie boek gehou nie. Dit was bietjie temerig. Ek was later verveeld met veral die ma se situasie en hoe sy dinge hanteer het. Dit was asof die skrywer nie heeltemal geweet het wat hy vir haar beplan het nie, en toe sit hy haar sommer heeldag in die kamer. Hoop nie iemand neem my kwalik nie. Dankie

novice - member
50 posts

Sonjia, ek het ook nog nie die boek gelees nie, maar ek glo jy het sekerlik 'n reg op jou opinie!

__________________
En die dag het gekom dat die waagstuk om styf in 'n knop te bly meer pynlik was as die waagstuk om te blom - Anais Nin
regular - member
90 posts

Ek verstaan wat jy sê Sonjia,  in my beskrywing van die boek het ek ook nogal heelwat kritiek gelewer en gesê dat Hans du Plessis se Griekwapsalms ens maar vir my sy beste werk bly.  Toevallig het dit ook net so gebeur dat ek die boek omtrent net na 30 Nagte gelees het en daar was net nie 'n vergelyking nie!  Veral nou na 'n bietjie tyd verbygegaan het is dit duidelik watter boek die grootste indruk gemaak het.

rookie - member
8 posts

Ja nee, 30 Nagte in Amsterdam kom by geen, en ek bedoel, GEEN ander boek in Afrikaans nie. Wat 'n groot voorreg om sulke kreatiewe werke in ons moedertaal te hê. Ek raak skoon liries as ek aan Ettienne en iemand soos Marlene van Niekerk dink. Ek huil glad. Nie noodwendig oor die "storie" nie, maar oor die manier waarop hulle woorde kan gebruik. Ek dink hulle gebruik woorde net soos Picasso 'n kwas en verf gebruik het, indien nie beter nie.
Baie dankie vir jou terugvoering. Dis lekker om te weet dat ek heeltemal eerlik kan wees oor 'n boek, sonder enige pretensies, en steeds 'n vriendelike antwoord kry.

superstar - founder
993 posts

Sonjia, dis mos nou hoe dit hier op Boekemakranka werk. Ons almal lees verskillende boeke, en het verskillende opinies daaroor. En dan gesels ons lustig saam daaroor. 

Vertel asseblief wat jy lees (en dit geld vir almal) by die afdeling Lees Nou.

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
Page 1
posts 1–7 of 7

Reply to: ‘Verbrande Paradys - vrae vir leeskringe’

Membership Required

You must be a member to post in this Forum

join now