By se Bedkassieboek. Saamgestel deur Andriette Stofberg. Tafelberg, (sagteband).
Wanneer ’n closet-joernalis/verslaggewer soos ek ’n boek soos By se Bedkassieboek onder oë kry, vergeet ek van selfbeheersing, want ’n mens kan die boek nie neersit nie. Soos mense die Bybel saans lees voordat hulle slaap, het ek dié boek gelees en my telkens betrap dat ek nie hou by my selfopgelegde rantsoenering van twee of drie stories per aand nie.
Van Media24 se voorste joernaliste, rubriekskrywers en voorste meningsvormers se beste werk, wat tydens 2007 en 2008 in By gepubliseer is, word hierin saamgevat. Daar is ook enkele nuut geskepte bydraes spesiaal vir die bundel.
By is die pitkos-bylae wat elke Saterdag in Beeld, Volksblad en Die Burger verskyn. Die onderwerpe wat bespreek en aangeraak word, is so wyd so die Heer se genade.
Marida Fitzpatrick se ervaring op ’n Mej. Wêreld-dinee sal jou laat bulder van die lag, terwyl Pieter-Dirk Uys se Vrouedag-bydrae oor sy ma, Helga Bassel, die trane vryelik oor my wange laat vloei het. Andriette Stofberg, nasionale redakteur van By, het haarself oortref met die keuse van by draes vir die bundel.
Daar is te veel om te noem – Willemien Brümmer se ervaring in die Pollsmoor-tronk, Erns Grundlingh wat met sy laaste geld ’n kort besoek aan Londen bring om ’n Leonard Cohen-konsert by te woon, en Deon Maas se aweregse humor oor voertuie en hul eienaars sal jou emosie laat opvlam, op welke wyse ook al. Pik Botha, Max du Preez en Kirby van der Merwe se bydraes is eweneens briljant. Gaan koop die boek en slaap ’n aand of twee in die spaarkamer.
Jou bedlampie, trane en lagbuie gaan nie jou wederhalf beïndruk nie. Dis 192 bladsye se louter plesier.
(Pieter Steyn in die By)
Bestel By se Bedkassieboek HIER
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member