Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
28 views

Kirby van der Merwe in gesprek met Johannes Prins

Page 1
posts 1–1 of 1
superstar - founder
993 posts



Kirby van der Merwe in gesprek met Johannes Prins in die By, oor sy debuutbundel, Een Hart.


Jy is oorspronklik van Stellenbosch? In Pretoria gebore terwyl my pa huisvader was van die manskoshuis Taaibos. My ma moes keer want my pa was baie lus om my Johannes David Taaibos Prins te doop...Hoofsaaklik in die Boland grootgeword, met ’n Kaapse draai in Bellville. Die laaste tien jaar in Johannesburg – dis mý burg dié.

Waaroor gaan die bundel? Oor die onvermydelikheid en onvoorspelbaarheid van die hart: verlies, liefde, hoop, wanhoop ... Maar dis darem nie nét heavy boots nie, daar’s ook kreef en wyn. Die verse is maar my storie – en die storie van my familie.

Indien jy die langpad vat, waarheen? Berge toe of die Karoo!

Wat is jou idee van volmaakte geluk? Om met die twee vroue in my lewe in die berge te stap; genoeg skenkels in ’n pot en goeie rooiwyn om ons deur te dra; en Cesaria Evora (se “Besame Mucho”) hard genoeg dat ons tot laataand kan knoffel kap – of ten minste tot net ná badtyd.

Watter woord of sêding gebruik jy dalk te veel? Op die oomblik waarskynlik “liefiediefie”. My jongste, wat skaars drie maande oud is, lag dan gewoonlik van oor tot oor.

Vertel van die groot liefdes in jou lewe. My grootste liefde was ’n hond. Hy was so groot soos ’n beer met ’n lang, kartelhaar-, gitswart pels. Jare lank my bergklimmaat. Hy’s dood toe hy my lewe gered het toe ons eenkeer in 1987 saam Helderberg in Somerset-Wes geklim het.

Wat jaag jou skrik op die lyf? My eie sterflikheid.

Watter van jou deugde word heeltemal oorskat? Dat ek ’n goeie luisteraar is ...

In watter omstandighede sal jy deur jou tande lieg? Hier wil ek dit kategories op skrif stel: ek het nog nooit in my lewe gelieg nie!

Watter kuns sal jy wil aanleer? Ek speel te min instrumente en dié wat ek kán bespeel, speel ek te min. En ek praat te min tale.

As wat wil jy in jou tweede lewe terugkom? Hierdie ís my tweede lewe!

Wat beskou jy as die allerdiepste gat van ellende? Was nog nie daarin nie. Kom ons praat dalk weer ná die resensies oor my bundel?

Waar wil jy graag woon? My huis is waar my hart is. En as klein Manon daar is en my vrou, Mariska, dan’s ek happy.

Buiten die verskyning van jou digbundel, watter (onverwagse) ding het vandeesweek met jou gebeur? Toe ek die streekronde in die afdeling vir rubriekskrywers in die Vodacom Joernalis van die Jaar-kompetisie gewen het met ’n rubriek wat in Beeld verskyn het. Dit was nou regtig soos ’n onderskepdrie in beseringstyd – ek was heeltemal oorbluf.

Wat is jou beste kenmerk? My vrou sê ek lees mense baie goed.

Watter eienskap waardeer jy die meeste in ’n man? Om homself nie te ernstig op te neem nie.

En in ’n vrou? Om haarself só te dra dat ek dink: daar is nie een situasie waaraan ek kan dink wat dié vrou nie sal beter maak nie.

Wat van jou vriende stel jy die hoogste op prys? Die vermoë om my uit te los. Ek pes dit wanneer mense aan my karring.

Wie is jou gunsteling-skrywers? ’n Moeilike een ... daar is te veel. Net om ’n paar te noem: Milan Kundera, Gabriel García Márquez, Kurt Vonnegut, Isabel Allende, Jonathan Safran Foer, Steven Sherrill, Jorge Luis Borges en selfs Terry Pratchett.Dan het ek nog nie eens by die Suid-Afrikaners of werklik die digters uitgekom nie!J

ou gunsteling-fiksiekarakter? Één van ’n hele paar waarvan ek baie hou is Terry Pratchett se karakter Death. In die boek Mort raak Death gatvol vir sy werk en vat ’n rukkie af (hy hunker eintlik daarna om mens te wees). In dié tyd werf hy ’n apprentice met die naam Mort.Not everyone’s cup of tea ...

Jy is ’n nuusredakteur by Beeld . Waarmee anders hou jy jou tans besig? Ek wil baie graag aktief begin met navorsing oor die werk van Wopko Jensma, maar klein Manon het die wêreld nogal holderstebolder kom omkeer.Intussen het ek ’n unicycle gekoop.

En skryfgewys? Ek’s altyd aan’t doodle aan die een of ander vers of selfs ’n rubriek. Maar ek speel nogal met die idee om ’n roman te skryf.

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
Page 1
posts 1–1 of 1

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now