Chanette Paul het beïndruk met Springgety en Fortuin.
Boheem, haar derde spanningsroman, bevat weer ’n groepie uiteenlopende karakters in ’n afgesonderde gemeenskappie, waarvan minstens een ’n moordenaar is. Daar is weer ’n heldin wat haar in ’n maalkolk van verraad, gierigheid en wraak bevind en ’n “hunk” wat enige rooibloedvrou se knieë lam sal maak.
Die heldin heet Katrien Bresselaar. Die gemeenskappie is Bohemia, ’n eertydse nedersetting vir melaatses wat ’n tuiste vir kunstenaars geword het – met Rose-Anne Lockwood, wêreldbekende skrywer, as matriarg.
Daar woon nie meer melaatses in Bohemia nie, maar die nuwe geslag inwoners het elkeen ’n kruis waarmee hy of sy deur die lewe beur. Ook Katrien het ’n spul bagasie wat moeisaam uitgepluis moet word.Die poppe begin dadelik dans. Rose-Anne word vermoor en Katrien is ’n verdagte. Dit word nogtans aan haar opgedra om Rose-Anne se laaste manuskrip af te rond, met die hulp van kassetbande waarop Rose-Anne “notas” oor haar boek-in-wording gemaak het. Dié kassette word die voertuig waarmee inligting oor Bohemia se inwoners en hul onderlinge vetes aan Katrien, en dus aan die leser, oorgedra word.
Al weet Paul se aanhangers teen hierdie tyd wat om te verwag, is daar genoeg wat Boheem anders as sy voorgangers maak. Die deurlopende tema – die mite dat iemand onskuldig is aan ’n misdaad totdat die teendeel bewys word – is interessant en word goed benut. Katrien se man is jare gelede vermoor; sy is verdink, maar nooit vervolg nie. Dít is vir sommige so goed soos ’n skuldigbevinding: ’n verdagte is dikwels skuldig totdat die teendeel bewys word.
Die speurder Gys Niemand maak weer sy opwagting, maar mag nie by die ondersoek na die moord op Rose-Anne betrokke raak nie. Hy gaan “kuier” in Katrien se tuisdorp en stel nie-amptelik ondersoek in na haar man se skietdood. Die leser kry dus twee moordverhale vir die prys van een. Dié twee intriges hou verband met mekaar: As Katrien se onskuld aan haar man se dood bewys word, is dit minder waarskynlik dat sý ’n briewemes in Rose-Ann se rug gedruk het.
San, die weduwee by wie Gys loseer, is ’n juweel en kielie gereeld die lagspiere.Al is Paul se spanningsromans eerder op emosie as intrige gebou, is daar op bykans elke bladsy verwikkelinge. Die leser word aan ’n klomp detail blootgestel en moet kophou om by te bly.
Paul het die verstommende vermoë om uit ’n magdom feite, vrae, verwikkelinge - met ’n “miskien” en ’n “wat as ... ?” om elke hoek en draai - ’n hegte tapyt te weef sonder dat daar ’n enkele los draadjie êrens uithang.Daar is nie ruimte om die diepere aspekte van die roman te betrek nie, maar Boheem kan wyd gelees word en sal op meer as een vlak bevredig.
Jaybee Roux in die Beeld
Bestel BOHEEM van Kalahari.
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member