André Brink as een van die jongspan in Die Jongspan
Die gewilde jeugkoerant, Die Jongspan, het in 1925 as Die Kleinspan ontstaan, 'n los byvoegsel tot Die Huisgenoot. In 1934 is die naam verander na Die Jongspan, maar dit was steeds deel van Die Huisgenoot. Eers vroeg in 1936 het Die Jongspan 'n onafhanklike tydskrif geword, aanvanklik onder redaksie van Ingrid Jonker se pa, die bekende skrywer en politikus Abraham H. Jonker.
Op die eerste bladsy van Die Jongspan was altyd 'n vervolgverhaal, terwyl die laaste twee bladsye gerig was op die kleinspan. Daar was ook gereeld 'n bladsy - 'n paar jaar lank selfs twee - met redelik vervelige nuus en inligting oor die Voortrekkers. Later jare was daar darem 'n bietjie vernuwing: 'n bladsy "Vir ons dogters" en in die 1950's 'n rubriek, "Nuut op die silwerdoek". Gelukkig was daar T.O. Honiball se tekenreeks, Jakkals en Wolf, en 'n ruk lank ook Faan Brand.
Bladsy 2 is
gewy aan interessante nuusbrokkies oor wêreldgebeure: "Wat oral
gebeur". Dit was jare lank onder leiding van die digter N.P. van Wyk Louw.
Die vroue in die redaksie was óf net voorletters óf 'n onbekende tant iemand.
Op 2 November 1945 is in 'n beriggie gemeld dat Van Wyk Louw se vrou, "mev.
Truida Louw (by ons maats beter bekend as tant Elsie)", die vorige maand
uit diens van die Nasionale Pers getree het. Sy het nege jaar lank by Die Jongspan gewerk. Ná
haar is die bladsy met "Bydraes van Maats" deur ene tant Ans
behartig.
Ek het in my
soektog na gedigte vir Rymreise, 'n nuwe
digbundel vir jong tieners, alle digbundels in die Nasionale Biblioteek aan die
onderpunt van die Tuine in Kaapstad deurgegaan. Ek het ook die Jongspanne
deurgegaan in die hoop dat daar iewers 'n gediggie sou wees wat die jongspan
van die 21ste eeu óók sal geniet. Soos 'n mens die bladsye vluglees, sien jy
latere bekende name raak: soos dié van Simon Europa van Bredasdorp, wat as
volwassenes dikwels briewie vir Die Burger geskryf het. Sy storie "Sponkie
se avonture" is op 8 Februarie 1946 gepubliseer. Tant Ans skryf op 22
Februarie 1946 oor die klomp gediggies wat Hester Heese van Kamieskroon
ingestuur het en op 28 Junie 1946 noem sy die briefie van Wilhelm Grütter van
Pietersburg. Christo Viljoen skryf op 23 April 1948: "Ek wil graag prente
van 'cowboys' hê en het wit duiwe om te verkoop." Op 1 Maart 1946 verskyn
die volgende sonnet van Hennie Aucamp. Hy was toe maar net elf jaar oud:
Boereplaas
As die son agter die bergtop verdwyn
En die lug gekleur is in 'n bad van karmosyn,
Dink ek aan ons ou boereplaas
Nou geheel in 'n skemer waas.
En ek verlang, O! ek verlang om te hoor
Die beeste-geloei wat my so bekoor:
'n Treurige liedjie van ou aia Raal
As sy by die put gaan water haal.
Ek sien my ou moedertjie, al roepend na my:
Kom in nou, my kindjie, die windjie sny.
So mooi is sy as die windjie speel
met haar gryse haartjies van ferweel.
Ek hoor die paddas kwaak en raas
En ek verlang dan na ons ou boereplaas.
Een naam
duik egter gereeld op, dié van A.P. Brink. Op 15 Maart 1946 verskyn die gedig
waarvan hy ook in sy outobiografie 'n Vurk in
die pad skryf:
In die vlei
Daar onder in die vlei
Zoem, zoem 'n by -
En skoenlappers bont
Die vlieg daar rond
sap uit die blomme te suig.
Die voëltjies is daar
In klompies bymekaar,
Hulle vlieg en sing,
Bou nessies in 'n kring
Van stokkies, grassies en strooi.
Twiet, twiet, twieretwiet!
Fluit 'n vink in die riet.
O, kom saam met my
Na die voëls in die vlei,
Want dis vrolik, so vrolik daar!
'n Paar
maande later, op 24 Mei 1946, skryf die elfjarige André Brink van Douglas:
"Ek is nou besig met 'n diereversameling en ek sal bly wees as Maats vir
my prente of tekeninge van diere sal stuur - soveel as moontlik - met die dier
se naam daarby." En op 28 Junie soek hy Die Jongspan van 15 Februarie 1947 en nog twee ander uitgawes. Hy "sal dit koop
- of iets in ruil daarvoor gee."
Die volgende
jaar, op 21 Februarie 1947, is daar weer 'n briefie van André. Hy wil
korrespondeer "met iemand wat in diere of posseëls belang stel. Ek het 'n
diere-, plant- en voëlalbum om te verkoop. Almal is volledig, en ek sal dit
teen 6/- elk verkoop."
Op 27 Junie
1947 sê hy baie dankie vir die Maats wat vir hom geskryf het. Hierdie keer wil
hy hê Maats moet vir hom sywurmeiers stuur. Hy knip vir Tarzan uit Die Burger uit en vra
of iemand vir hom sekere vorige Tarzans
aanstuur.
Vyf maande
later, op 28 November 1947, verskyn 'n skets van Ingrid Jonker. Onderaan staan
dat sy twaalf jaar oud is. Ingrid, wat in 1933 gebore is, was in 1947 veertien jaar
oud. Sy en haar suster Anna het in hierdie tyd by hul pa, Abraham H. Jonker, en
sy vrou gewoon. Sy was 'n leerder aan die Meisieskool Wynberg met 'n
onderwyseres wat haar as skrywer baie aangemoedig het. [In'n Vurk in die pad,
op p. 106, vertel André Brink dat, toe hy haar jare later ontmoet, dit vir
albei betekenisvol was dat sy gebore is naby die dorpie
waar hy 'n hele paar jaar as jong seun gewoon het.]
Nag
Aanhoudend waai die wind oor die wye, eindelose vlakte …
Omtrent honderd tree hiervandaan
staan 'n eensame figuur.
Dit lyk na 'n vrou of liewer 'n
meisie.
Eindelik gooi sy haar vermoeide
liggaam op die grond neer en tuur rusteloos na die hemel. Die wind waai haar
krulle deurmekaar …
Maar dit skyn of sy niks raaksien
nie. Nie eers die maan wat glimlaggend sy strale na benede stuur nie. Nie eers
die sterretjies wat vonkel aan die donker hemel nie. Niks nie.
Aanhoudend waai die wind oor die
wye, eindelose vlakte …
Vinnig stoom my trein die stasie
binne.
Ek klim in. Ek moet inklim, maar ek nie, ek voel ek mag nie. Wat hinder? Is dit omdat ek
weet dat daar 'n arme siel rondswerwe op die wye vlaktes?
Dis stil, dis donker, dis nag.
Aanhoudend waai die wind oor die
wye, eindelose vlakte …
Op 9
Januarie 1948 skryf tant Ans die volgende in haar brief: André "wil
marmotjies koop van Maats. Julle moet eers aan hom skryf en die kleur,
ouderdom, ens. meld. Hy het ook vier splinternuwe 'Rooi Jan'-boeke om te
verkoop teen 3 s elk plus 3 d posgeld op elke boek. Verder het hy 'n nuwe
'Royal'-seëlalbum met ongeveer 200 seëls wat hy vir 5 s 6 d sal verkoop. Hy
verkoop ook sywurmeiers teen 10 vir 3 d en uitgesoektes teen 15 vir 6 d. (Die
Royal-sëels is die vorige jaar uitgereik tydens die toer van die Britse
koningsgesin deur Suid-Afrika.)
Kort hierna,
op 23 Januarie, wil hy self 500 tot 1 000 sywurmeiers koop. Volgens tant Ans
sal hy "goed daarvoor betaal."
Op 6
Februarie 1948 wil hy prente van Johnnie Weismuller, Brenda Joyce en Johnnie
Sheffield hê. Dan noem hy ook: "Bestellings vir die seëlalbum stroom nog
steeds in. Dis lankal reeds verkoop en al die profyt gaan in seëls en koeverte
om poswissels terug te stuur. Diegene wat sonder poswissel aanvraag gedoen het,
wil ek net bedank. Ek onmoontlik nie al
die briewe bedank nie."
André het sy
les geleer. Op 4 Maart 1949 adverteer hy vyftien seëls van die VSA en 53 seëls
van die Maleisiese eilande, maar voeg by: "Maats moet 'n koevert met seël
en adres insluit en die nodige bedrag in 'n posorder, maar moenie die posorder
invul nie, sodat ingeval die seëls al verkoop is, dit net teruggestuur kan
word."
Op 27 Mei
1948 adverteer hy marmotjies: drie mannetjies en vier wyfies, teen 2 sjielings
en 'n sikspens stuk. Die marmotjieboerdery floreer. Op 2 September 1949
adverteer hy vyftien marmotjies teen 2/6 stuk. "Maats moet die kassies
waarin die marmotjies vervoer is, dadelik terugstuur." [In sy memoir vertel
hy op p. 130 watter groot werk dit was om ure elke dag "mankolieke klein
hokkies" aanmekaar te timmer sodat die marmotjies twee-twee per trein na
hul nuwe eienaars gestuur kon word. Van wins was daar nie veel sprake nie.]
In dieselfde
brief van 27 Mei 1948 stel hy 'n "wedstrydjie" bekend. Die prys is
(geen verrassing): 'n paar marmotjies. Die tweede prys is 'n boek.
"Maats," haal tant Ans uit sy brief aan, "julle moet vir hom
stories skrywe oor die gespanne verhouding tussen 'n meisies- en seunskoshuis
en die deelnemers moet die grappige, waaghalsige daad van iemand wat graag
vrede wil herstel en wat dan tot vrede sal lei, beskryf. Die sluitingsdatum is
5 Oktober."
Die uitslag
van die wedstryd is nooit in Die Jongspan bekend gemaak nie. (Dalk het niemand ingeskryf nie. Of dalk was die
maats wat van marmotjies hou nie juis goeie skrywers nie.) Nog voor die
sluitingsdatum op 9 September 1949 verskyn die dertienjarige entrepreneur se
eie spanningsverhaal.
Slim vang sy
baas
"Oom
Koos het mos die enigste ordentlike suurlemoenboord in Laagvlakte en al die
mense koop dan ook by hom suurlemoene!" sê Ghrieskan, alias Jan Vermooten,
een Vrydagaand in die koshuis aan die ander twee van die driemanskap.
"Ounuus!" spot Wiele, met
die spoggerige doopnaam van Ernst du Preez.
"Wag tot ek klaar gepraat
het!" sê Ghrieskan vererg en vervolg: "As ons nou vanaand daar gaan suurlemoene steel…"
"Wie steel nou
suurlemoene?" vra Besembos, alias Petrus Wenning, spottend.
Asof hy niks hoor nie, gaan
Ghrieskan voort: "Môre-oggend ons dit
dan in die dorp gaan verkoop om sakgeld te verdien!"
"Dis darem te erg, en in elk geval,
oom Koos ken al die koshuisseuns en as hy ons sien? Saterdae kom hy juis dorp
toe!" sê Wiele.
"As jy bang is, ek my suster gaan roep om jou op te pas," sê
Ghrieskan. "En wat oom Koos betref, ons
ons tog vermom …"
"Ja," sê Besembos
spottend, "MET MASKERS EN REWOLWERS!"
Ghrieskan sê net "Ag!" en
haal sy skouers op.
Toe Wiele naderhand saamstem met
Ghrieskan, is Besembos verplig om ook met die plan akkoord te gaan. En kort na
al die ligte uit is, vertrek drie seuns, elk met 'n kussingsloop onder die arm,
na oom Koos Brand se suurlemoenboord. Tot hul blydskap staan daar alreeds 'n
aantal mandjies, klaar volgepluk onder die bome, en die driemanskap net instop.
Die volgende oggend vind ons die
drie in die dorp, deeglik vermom met swart snorre, besig om suurlemoene te
verkoop aan die gretige dames. Elke klant word verseker dat die suurlemoene uit
'n beroemde sitrusdistrik kom. Die seuns van die dorp wat hulle darem herken,
vind dit tog te prettig en bondel om hulle saam.
"Nog net hierdie ou," sê
Besembos met 'n blik op sy polshorlosie.
Gou-gou word die kar tot stilstand
gebring en oom Koos kyk uit.
niks te laat merk nie, sê Willie die rympie
op. Oom Koos luister egter nie en vra 'n suurlemoen. Ghrieskan oorhandig dit
met 'n kloppende hart. Die dorpseuns wil hulle siek lag toe oom Koos skielik
briesend bulder: "Dis dan my eie private merk!"
Ghrieskan se hart sak in sy skoene toe oom Koos hulle gebied om in te klim.
Gelukkig skiet 'n plan hom te binne en skaars sit hulle agterin of hy
verduidelik dit aan die ander twee. Hulle gooi al die suurlemoene uit en skaars
was die laaste een uit, of oom Koos sê: "Ons gaan reguit na my huis toe,
en ek gaan self met julle afreken."
In stilte ry hulle aan. Toe die kar
stilhou, klim die drie ewe sedig uit. "Thank you for the lift, sir!"
sê Wiele in sy beste Engels.
Oom Koos staar hulle oorbluf aan.
"Is julle dan nie die kinders wat my suurlemoene verkoop nie?"
"Pardon, sir," sê
Ghrieskan, "We thought you offered us a lift! Those other pals are still
selling lemons!" en hulle stap ewe deftig weg.
Oom Koos skud net sy kop oor sy
flater.
Die volgende jaar, op 28 April, word André se brief oor die kunswedstryd in gepubliseer.
Daarin noem hy dat die skoolkoor van
80% behaal en gewen het. Hy self het 'n goue en 'n silwer diploma ontvang
"en wag op hete kole op die uitslae van die opstelle en gedigte." Hy
gaan voort: "Vandag is my verkoop- en kooplys weer langerig. Ek sal
toorkunsies verkoop aan maats wat met my in verbinding tree. Dan het ek ook nog
'n hele aantal marmotjies om te verkoop teen 2/6 stuk."
In die volgende
paragraaf soek hy na iemand "buite die Unie" (d.w.s. buite
Suid-Afrika) wat vir hom 'n marmotjie-mannetjie
uitruil of verkoop, iemand wat NIE voorheen by hom gekoop het nie. Hy sluit af:
"En dan, les bes, wil ek graag 'n jongerige mannetjie-das hê. Ek sal twee
marmotjies daarvoor ruil."
In sy brief
van 15 September 1950 adverteer hy soos gewoonlik marmotjies en vra weer vir 'n
mannetjie-das.
Op 26
Januarie 1951 het hy boeke om te verkoop, boeke "wat nog almal sonder 'n
merkie of kolletjie is", onder andere, Geluksvoël
van Allah, Jakkals en Wolf(Dele 4 & 5), Oom Kaspaas,
Stories van toeka se dae en Avonture van Pinokkio. Tant Ans
voeg by: "By elke drie wat bestel word, sal André nog een geadverteerde
boek gratis gee. As julle ontevrede is met die kopie,
julle dit weer terugstuur."
In 1951 is
sy pa, as landdros, verplaas. Of die eensame wyfiedas saam met die gesin na
Sabie verhuis het, is onbekend. Dit word ook nie in 'n Vurk in die padgenoem nie. Op 9 November
adverteer André "'n ou beproefde patentjie met aanwysings aan oor hoe om
sywurms se sy van 'n kokon af te draai." Dan bied hy ook goëltoertjies
teen spesiale pryse aan. "Hy waarborg alles," skryf tant Ans namens
hom. [In 'n Vurk in
die pad vertel hy op p. 130 dat hy
uiteindelik marmotjies gratis uitgedeel het aan sy "ál minder gewillige
maats" en dat sy pa, gelukkig sonder om hom vooraf te waarsku, die laaste
klompie van die "piepende goed" verdrink het.]
Bronne
- Brink, André P. 2009. 'n Vurk in die pad: 'n Memoir. Human & Rousseau.
- Die Jongspan. Januarie 1936 tot Desember 1953
- Metelerkamp, Petrovna (samesteller). 2003. Ingrid Jonker: Beeld van 'n digterslewe. Hemel en See.
Adinda Vermaak op Storiewerf
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member