Bloedskande het eintlik niks met seks te make nie, sê Annelie Botes oor haar jongste en negende boek, Thula-thula. Kobus Burger het met dié Baaise skrywer oor seer, haar rol as storieverteller en die mens se geneigdheid tot splitting gesels.
Dit is vroegoggend en oor ’n koppie stomende koffie deel sy die nuus.
Dit is meer as ’n maand later en Thula-thula (Tafelberg) het reeds ’n tweede drukoplaag van 8000 eksemplare beleef en ’n derde word beplan.
Dít nadat die eerste oplaag van 17000 gou gesorg het dat die boek die toptien-lysie van boekwinkels se topverkopers gehaal het en op Nielson Bookdata se lys die no.2-plek beklee, net onder Spud.
Die geskiedenis van dié ontstellende boek met sy ouderdomsperk van 18 jaar, omdat dit oor bloedskande handel, het reeds met haar topverkoper, Raaiselkind, begin.
“Toe ek navorsing gedoen het vir Raaiselkind, het ek agtergekom hoe baie outistiese kinders en gestremde kinders word seksueel abuse. Dit was toe nie my topic nie, maar dit was vir my ontstellend. Hulle kan dit nie praat nie. Hulle kan nie sê dit is verkeerd nie. Toe het die saad al geval,” vertel Annelie Botes.
In 2007 het die navorsing gesê bloedskande kom in een uit elke vyf gesinne voor. Maar toe sy in 2007 haar navorsing bygewerk het, was dit 2,6 uit elke vyf gesinne.
Thula-thula handel oor Gertruida wat reeds van ’n jong ouderdom af deur haar pa, Abel, seksueel gemolesteer word. Dit word ’n geheim wat sy bykans lewenslank saam met haar dra.
In die boek is daar ’n ander karakter, Andrea, wat ook deur haar pa gemolesteer word, maar dan polisie toe gaan. Uiteindelik word haar hele gesin deur dié bekendmaking verwoes.
“So die maatskaplike bestel is ondoeltreffend. As ’n meisie soos Andrea polisie toe gaan, wat gebeur met hulle? Hoekom kom dit op die koerante se voorblaaie? Hoekom mag mense foto’s neem? Waarom word alles nie in camera gedoen nie?
“Die gesin moet self, saam met kundiges, hierdie ding gesond kry op ’n wyse wat vir húlle waardig en werkbaar is. Hulle moet om die eetkamertafel kan sit met die nodige hofbeamptes en kundiges,” sê Botes.
“By die Volksblad-kunstefees in Julie was daar vir die boekbekendstelling ’n groot gehoor. En ons praat toe oor die kwessie van ’n ondoeltreffende maatskaplike stelsel.
“Wat vir my hartseer is, is die ouer vroue, kom ons sê 70-plus. Hulle het miskien nie meer mans nie en is nie meer seksueel aktief nie. Maar dit het met hulle gebeur as kind. Om nou daaroor te praat, is vir hulle verskriklik en onwaardig. So hulle gaan met die ding graf toe.
“En wragtig, daar staan ’n tannie op en sê sy het die boek gelees en sy sê dit het met haar gebeur en Thula-thula het vir haar ’n draaipunt gebring. Dit is die eerste keer dat sy besef het dit is nie ’n skande nie.
“Sy het skaars gesit, toe staan ’n ander vrou op. En dit is wat ’n mens soek.”
Maar moet kinders dan nie juis die boek lees nie?
Botes vertel dat die publikasiewet van 1996 lui dat alle boeke met kinderseksualiteit outomaties as kinderpornografie geklassifiseer word.
“Al is dit ’n ou boekie wat sê waar kom ek vandaan en daar is ’n tietie of tottertjie of iets geteken. Dan is dit kinderseksualiteit.
“Ek en Tafelberg-uitgewers het bewus geword van die wet en die teks aan die Publikasieraad voorgelê vir keuring.” Vandaar die ouderdomsperk.
Botes sê die bloedskande het eintlik niks met seks te make nie.
“Dit het alles met mag en beheer te doen. Seks is maar net die manier hoe dit manifesteer.
“Dit gaan nie om vieslikheid nie. Ek dink ’n 12-jarige kan die boek lees, saam met volwasse begeleiding en interpretasie.”
Thula-thula is nie ’n maklike boek om te lees nie en ’n mens voel daar is bitter min hoop.
“Daar ís min hoop. Vasgevangendheid?.?.?. maar dit is hoe dit is.
“Ek is net die medium waardeur ’n storie vertel word. Ek vertel nie ’n storie soos ek lus het nie. Maar ek bly op die ou einde die medium wat dit create. Maar die feite is tog die feite. En ek beheer dit nie.
“As jy in ’n motorongeluk was en jou been moes afgesit word, dan kan hulle vir jou 70 kunsbene maak, maar jy gaan nooit weer jou been terugkry nie. Jy kan die paraplegiese spele gaan hardloop en ’n medalje wen, maar jy gaan nooit weer jou been hê nie.
“As jy in die vuur geval het, kan hulle 60 operasies op jou gesig doen, jou gesig gaan nooit weer dieselfde wees nie.
“Met hierdie kinders is dit dieselfde. Jy hét dit deurgemaak. Êrens in jou is iets baie sleg beskadig. En dit is permanent beskadig.
“Jy kan sielkundige toe gaan, jy kan ’n goeie man kry. Maar die kringloop sal altyd bly. En ongelukkig mag ek nie vir mense sê jy gaan volkome genees nie, want dan lieg ek. Dan verkoop ek ’n morele leuen. En skrywers mag nie morele leuens verkoop nie.
“Maar die kanse op ’n goeie lewe is baie goed. As sy ’n simpatieke man kry en as sy ’n bietjie self-vergifnis begin besef. Haar seksdele het op instink gereageer. ’n Vrou het vir my gesê: ‘I don’t have to forgive. All I have to forgive is my genitals for responding.’
“Daar is baie hoop, maar ek het ook in my navorsing vroue teëgekom wat ’n verskriklike boggerop van hul lewens maak en dan sê: ‘Toe ek 12?jaar oud was, het my nefie my agter die kraalmuur gemolesteer.’
“Dit is sommer kinder-games. In elk geval, ons het almal met ons niggies en nefies, so to speak, agter die kraalmuur gevry.
Wanneer dit ’n speletjie is, wanneer die een nie emosioneel beheer het oor die ander nie, waar die een nie in angs leef vir die ander een, dan is dit nie molestering nie en behoort dit nie skade te los nie. Tensy jou nefie 17?jaar oud was en jy was vier.”
’n Mens wonder of Botes nie dalk ’n sielkundige of maatskaplike werker is nie, siende dat sy onderwerpe soos outisme en nou bloedskande met soveel sensitiwiteit in haar boeke hanteer.
“Ek dink daar woon ’n oer-ouma in my wat my help met alles. Ek is eerstens ’n storieverteller. Ek is eintlik laastens ’n skrywer.
“Ek wil nie onsin skryf nie. Ek weet baie min van baie van hierdie goed, maar ek is nuuskierig daaroor. En dan wil ek daaroor skryf en moet ek uitvind. Ek kan nie net feite uit my duim suig nie. Daarom lê ek rond in die hof. En is by sielkundiges en by staatsaanklaers en ek dring op ’n simpatieke manier hierdie gesinne binne.
“Obviously kry ek hul toestemming voordat ek hul binnesfeer betree. Voor dit gaan ek na ’n sielkundige toe vir ten minste tien sessies, dan leer sy my hoe benader ek hulle. Ekself is nooit gemolesteer nie.”
Verslawing en meer spesifiek dobbelverslawing duik wel dikwels in Botes se boeke op en dit is iets wat sy goed verstaan.
“Ja, ek het gedobbel totdat ek cholesterol en diabetes gekry het daarvan. Dobbel is bykans ongeneeslik, want dobbelverslawing is ’n vorm van time out, ’n vorm van splitting. Soos Gertruida wat Doringrosie geword het.
“Verslawing in al sy vorme is ’n vorm van splitting. Om te ontsnap uit die realiteit. Hoekom wil ons ontsnap? Want in die realiteit is dit seer.
“Ons is nie almal om dieselfde redes seer nie. Daar loop nie een mens op die aarde wat nié verwerping vrees nie en wat die underdog wil wees nie.
“Ek skryf obviously uit my eie plek van seer. Ek steek nie my seer weg nie. As mense hul seer oopgooi, is dit tog ’n groot verligting.”
As manlike leser voel ’n mens die vroue in Botes se boeke is altyd sterker as mans en kan soveel meer die storms van die lewe deurstaan. Op bladsy 260 van Thula-thula dink Mama Thandeka: “Ek wis nie hoekom iNkosi ’n vrou se kop anderster gemaak het as ’n man s’n nie. ’n Man se kop is ampers heeltyd vol baklei en kooisake en geld en karre. ’n Vrou se kop is ampers heeltyd vol trane.”
Ook in Raaiselkind het ’n mens gevoel die vroue kan veel makliker die stormagtigheid van die lewe hanteer as hul manlike eweknieë.
“Dit het niks met chauvinisme te doen nie,” verduidelik Botes. “Vroue is eenvoudig sterker. Dit is omdat vroue die oerversorgers is. Ek vra myself altyd die vraag af: sou die mans oor die Drakensberge gekom het? Kaalvoet. Met al hul osse en goeters, as hulle net mans was? Dan is my antwoord: nee. Ek kan nie sien hoe hulle sou oorgekom het nie.
“As ek vra: sou die vroue alleen oorgekom het? Dan is my antwoord: ja. ’n Vrou het nie einde nie. Mans se psige is anders. Tog, kyk hoe sterk is Samuel (in Thula-Thula). Kyk hoe sterk is Braham.
“Mans is nie almal swak figure nie. Maar baie mans se ultimate belangstellings is net rugby, bier, braai en doos.
“Dit is die vrou se drif om meer te weet?.?.?. En nie net vandag nie. Deur al die eeue. Om meer te weet, om beter ingelig te wees. As ons ’n VLV-tee of ’n konsertaand hou, wie is daar? Die vroue! Daar is twee mans en 110 vroue.
“Wie lees die boeke? Vir elke een man wat ’n boek lees, is daar tien vroue wat ’n boek lees. Ek dink ook ’n vrou se siel is van nature meer arty geskep.”
Voor in Botes se topverkoper Raaiselkind staan dié aanhaling: “Gee ag op dié met ’n gekwelde gees want hulle is vol vreemde wysheid. – Muurskrif, Nineve, 6?v.C.” Is dié aanhaling nie ewe toepaslik op Thula-thula nie?
“Al die ou antieke stede het ’n mandala gehad, ’n stadsplein-sirkel. Alle paaie moes na daardie sirkel toe loop. Hulle het maande gereis en kon nie lees nie. Maar hulle het geweet die pad gaan in die mandala eindig, waar jy kan kos en medisyne kry, en jou kamele laat uitrus en jouself was.
“Elke boek moet ’n mandala hê. En baie boeke wat ek deesdae lees, het nie ’n mandala nie.
“In
Thula-thula is Mama Thandeka die mandala. Sy is nie die hooffiguur nie.
Maar Mama is die mandala. Sy weet alles, sy sien alles.
“Raaiselkind het in wese nie oor outisme gegaan nie, maar oor ’n samelewingskwessie. Mense wil altyd by my weet: het Ingrid die kind doodgemaak of het sy nie die kind doodgemaak nie?
“Dan sê ek altyd: my karakters sê nie vir my altyd alles nie en steek ook maar vir my goeters weg. Maar ek sal vir julle sê as julle eers vir my ’n vraag beantwoord.
“Die vraag is: Indien daardie dorpie se Christen-gemeenskap wat kwansuis so barmhartig is met mekaar, as hulle net een tiende vir haar (Ingrid) gedoen het wat hulle kon doen, sou die tragedie plaasgevind het?
“Binne ’n minuut is daar ’n diskussie wat sê nee, dit sou nie gebeur het nie. Eenparig.
“Ek het outisme as ’n stuk gereedskap gebruik om by die verantwoordelikheid van die samelewing uit te kom.
“En in Thula-thula het ek bloedskande gebruik omdat dit weer eens ’n society issue is. Ek voel sterk aangetrokke tot society issues.”
'n Doodgewone Mens
Annelie
Botes (gebore Basson) is in Junie 1957 op die plaas Grootfontein in die
Kammanassie naby Uniondale gebore. Sy is later gedoop, geskool en
getroud in Uniondale.
Haar “nering” is volgens haar klavieronderwyseres. Sy het in 1986 ’n onderwyslisensiaat in klavier aan Unisa behaal.
Die boeke uit haar pen wat T hula-thula voorafgegaan het, is Trippel Sewe, Ribbokvoete, Klawervier, Trousseaukis, Raaiselkind, Nawelstring, Broodsonde en Sabbatsreis.
Raaiselkind is sowat ses jaar gelede vir die verhoog verwerk en by feeste soos die KKNK opgevoer. Die boek het ook al in Engels, Duits en Nederlands verskyn.
“Daar is niks omvangryk aan my nie,” skryf Botes in haar CV. “Ek is ’n doodgewone mens wat skinder en huil en ’n overdraft het.”
Wie se probleem is dit?
“Daar bestaan nie iets soos ’n probleemkind nie,” sê die skrywer Annelie Botes. “Daar bestaan wel iets soos probleemouers.
“Ek was ook ’n probleemouer. My kinders het ook damage in sekere opsigte. Ons is almal probleemouers.
“As ons net versigtig is?.?.?.??As ons maar sal dink wat ons aan ons kinders doen.
“?’n Mens moet ’n liksens hê vir enige ding. Jy moet tot ’n liksens hê om te kan visvang. Maar jy hoef nie ’n liksens te hê om kinders te kry nie.
“Voordat jy trou, moet jy die dominee gaan spreek vir berading. Maar jy bring ’n baby in die wêreld en sê: ‘Dis mý kind, ek sal hom grootmaak soos ek wil’.
“Ek dink baie ouers het geen idee wat vorentoe skade sal bring nie. Ouers neem nie genoeg verantwoordelikheid vir hul kinders nie. Ouers vergeet dat hulle die ondertekenaars is van die kaart en transport van hul kinders se toekoms. Hulle push hul kinders te hard.
“Die kind moet (op skool) hierdie toppresteerder wees. En ouers skryf hul kinders se redenaarstoesprake. Hulle doen hul kinders se assignments en take.
“Hoekom doen die ma die taak? Want die kind gaan 84% kry, maar die ma gaan 93% kry. En daai kind voel dan incapable.
“En as daai kind dalk 93% kry vir iets wat sy self gedoen het, dan sal die ma sê: ‘Oe, dis darem maar jammer van daai 7%’.
“Weet jy wat se insult is dit vir ’n kind? ‘Jy het so goed gedoen, maar jy is nooit genoeg nie.’ Dit is daardie kinders wat verslaafdes en underdogs word.”
(Kobus Burger in die By)
Bestel HIER van Kalahari indien jy nog nie die boek het nie.
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member