Thula thula, thula baba, thula sana,
Thul’u babuzo ficka, eku seni.
Kukh’in khan-yezi, zi-holel’ u baba,
Zim-khan yi-sela indlel’e ziyak-haya,
Sobe sik hona xa bonke be-shoyo,
Be-thi bu-yela u-bu-ye le khaya,
Thula thula thula baba,
Thula thula thula sana,
Thula thula thula baba,
Thula thula thula san.
Keep quiet my child
Keep quiet my baby
Be quiet, daddy will be home by dawn
There’s a star that will lead him home
The star will brighten his way home
The hills and stones are still the same my love
My life has changed, yes my life has changed
The children grow but you don’t know my love
The children grew but you don’t see them grow
Thula-thula deur Annelie Botes
- die ergste boek wat ek in ‘n bitter lang tyd gelees het. Eintlik dink
ek nie enige boek het my al ooit so ontstel nie. Nie eers ‘Dis ek,
Anna’ of die boek oor die Australiese weeskinders wat deur die
Katolieke nonne misbruik is nie.
Die boek gaan oor ‘n gesin waar dinge drasties en tragies
skeefgeloop het. ‘n Pa en ‘n ma wat wandel met God en ingehaak is by
Satan. En ‘n gemeenskap wat kyk en nie sien nie, want die waarheid is
te ongeloofwaardig.
Gertruida is 26 jaar oud, maar steeds vasgevang in die bang lyfie
van ‘n vier-en-‘n-halfjarige dogtertjie. ‘n Dogtertjie wie se boetie op
sy 10de verjaarsdag verongeluk het en toe alles in haar lewe op sy kop
laat draai het. ‘n Dogtertjie wat bo-gemiddeld intelligent is, maar al
hoe stiller en stiller raak, omdat sy bang is vir die naglikkewaan,
bang vir die gevoelens wat haar pa uit haar kinderlyfie uittoor. Stiller
raak, omdat haar pa haar tot stilte sweer en haar ma oor haar boetie
treur en nie omgee wat snags in Gertruida se kamer gebeur nie.
‘n Pa wie se hartseer gif trek in sy kop en ‘n ma wie se hartseer
en verwronge idee van ‘n gesin se beeld na buite maak dat sy haar
dogter verraai tot die einde.
Ek het deurentyd gemengde gevoelens teenoor Abel en Susarah gehad,
van ‘n felle haat tot ‘n diepe jammerte. En weersin in die mense
van die gemeenskap wat Gertruida ook gefaal het. Net soos die
gemeenskap soveel ander kinders in nood faal, omdat ons nie betrokke
wil raak nie. Omdat die een wat ons verdink van die onmoontlikste goed,
‘n vername, gerespekteerde persoon is en dit net soveel makliker is om
ons koppe weg te draai en onsself wys te maak ons verbeel ons hierdie
dinge.
Gertruida kruip weg agter woorde, verdwyn in sprokiesverhale terwyl
haar pa haar snags buig na sy wil. Soms wonder sy of God bestaan en ás
hy bestaan, waarom ignoreer Hy haar. Hy sê in die Bybel geen haar op jou hoof sal geskaad word nie. Waarom word álles aan haar geskaad?
Nag na vernederende nag bid Gertruida dat haar pa moet doodgaan.
Soms maak sy planne om hom self dood te maak, maar ook in Gertruida
baklei die liefde vir haar pá teen die haat vir Abel. In haar kop kry
sy dit reg om soms ‘n onderskeiding te maak tussen die man wat haar 22
jaar lank reeds molesteer en die pa wat soms op die mees onverwagte tye
weer haar pa word soos voor haar boetie se dood. Die pa wat haar
kinderlyfie gebad en in die bed gesit het, aan haar gevat het in
liefde, sonder dat dit verkeerd gevoel het.
Sy baklei ook met haarself omdat sy nie by magte is om net weg te
loop nie, die siek siklus te verbreek nie. Uiteindelik kry sy die insig
dat sy soos die hond is wat wetenskaplikes in ‘n eksperiment gebruik
het. Eers skok hulle die regterkant van sy hok en hy loop lê links. Dan
skok hulle die linkerkant en hy loop lê regs. Daarna skok hulle die
hele hok en die hond het nêrens om heen te gaan nie. Eers is hy
verwilderd en angstig, maar toe hy geen uitvlug plek kry nie, gaan lê
hy later willoos op die hok se vloer en gee hom oor aan die skokke.
Hierna maak die wetenskaplikes die hok se deur wawyd oop en tot hul
verbasing storm die hond nie uit na veiligheid nie. Hy bly lê net daar,
sy vluginstinkte is beskadig en hy is afgestomp teen pyn en skok.
Mettertyd leer Gertruida meer oor haar pa en ma se eie kinderjare en
alhoewel dit nie ‘n verskoning vir dit is wat hulle haar aangedoen het
nie, kom sy tot die besef dat sy slegs die slagoffer was van twee mense
in wie se brein iets ontspoor het. Dalk was haar boetie se dood net die
sneller.
Ek wil nie meer vertel en die boek bederf vir dié wat dit nog wil
lees nie. Ek moet net byvoeg dat dit nie ‘n boek is wat ek sommer vir
enigeen sal aanbeveel nie. Jy moet sterk wees om hierdie boek te lees
en nie mateloos, redeloos en radeloos te voel om uit te gaan en alle
kindermolesteerders sommer net vrek te skiet nie. Dalene Matthee het in
‘Fiela se kind’ gesê: “Die Here vergewe mens baie dinge, maar die skade
wat jy ‘n kind aandoen, vergewe Hy jou NOOIT nie.” Amen
Ek wil net een stukkie hier aanhaal, wat my diep getref het. Mens
glo so maklik sielkundige hulp is ‘n antwoord, en ek is een van dié wat
ook gou is om te sê ‘Gaan praat met iemand. Kry hulp.’
In Gertruida se woorde: “Maar dwarsdeur alles het sy skepties
gebly, want sy was oortuig al doen jy tienduisend terapiesessies, al
verslind jy elke boek en artikel oor sieklike seks agter huise se
geslote deure, al volg jy die gesondword-getuienis van honderde
slagoffers, al bid jy tot jou knieë skurf is - vergeet sal jy nooit.
Die wantroue en angs is by jou ingebed tot die einde van jou dae.
Jy kan klinies leer verstáán wat die verwrongendheid veroorsaak
wat die monster dryf om jóú lewe te verorber. Jy kan leer konsentreer,
jou obsessies beperk en hanteer. Jy kan duisend maal oortuig word van
jou onaandadigheid en onskuld. Op die oppervlak kan ‘n sielkundige jou
help met antwoorde soek. Maar vergeet en volkome héél word, by ‘n punt
aankom waar die aftakeling nie meer ‘n faktor in jou lewe is nie, is
onmoontlik. Die slagoffers wat dit getuig, is besig met ‘n wiegelied.
Miskien kan dit sagter word. Verder terugskuif in jou geheue.
Vervang word deur omstandighede van geborgenheid en respekwaardigheid.”
Maar jou gesteelde kindwees - dit sal jy nooit weer terugkry nie.
Thula Thula, stil my kind!
Dankie Sonkind. Sekerlik een van die beste besprekings wat ek ng oor hierdie boek gelees het.
Inderdaad so, Infinate! Deborah Steinmair se overgeetlike woorde, Dapper leser afgryslik vasgenael kom baie duidelik na vore in die manier wat Sonkind oor hierdie boek skryf.
Ek het so pas die boek klaar gelees. Ek weet nie hoe om my gevoelens in woorde om te sit nie. Die boek het my op ver paaie laat terugloop en weer ervaar wat ek al vir jare probeer vergeet. Die hartseer is weer myne, maar saam met dit ook dalk 'n paar antwoorde. Dit is so ongelooflik realisties geskryf. Dis gevoelens wat ek al vir jare op papier probeer sit sodat ek dit weer kan opskeur en hoop die gevoelens gaan weg.
Die donkerte vou weer en weer om my toe en dan vra ek ook diesefde vrae oor en oor. "Waar was God?" Probeer myself troos dat alles met 'n doel gebeur, maar die troos help net party dae. Se, more skyn die son weer!!!
Jammer, maar ek moes net met iemand deel wat in my binneste aangaan. Party dae wonder ek ook of als regtig gebeur het en of ek my maar net verbeel het, maar die nagmerries kan nie opgetower word nie.
Aan Annelie Botes: Ek weet nie waar jy aan die storie gekom het nie, maar dit is ongelooflik naby aan die kol. Die ervarings, gevoelens en gevolge is "spot-on". Dis baie goed geskryf en ek komplimenteer jou. Baie dankie want jy het die slegte en die goeie gekombineer. Ek hoop tog net my lewe sal dieselfde einde he.
Dankie vir jou briefie, Antonette. Hierdie is 'n veilige forum waar jy kan deel hoe die boek jou affekteer. Ek is seker elke een van ons wat Getruida se pyn meegemaak het, het op 'n manier gewonder - kan dit regtig wáár wees? Is dit geheel en al moontlik? En dan word jy naar op jou maag as jy besef dit is inderdaad so.
As al daardie navorsing en harde werk wat Annelie in daardie boek gesit het net mense kan help om in kontak met hulle pyn te kom, en so te help om hulle te genees, is ek seker dit was die moeite werd vir haar. Glo my, sy het dik leêrs vol aantekeninge, uitknipsels, onderhoude oor die onderwerp. Hulle het baie kilometers afgelê om met slagoffers te gesels. En keer op keer was dit Gertruida se storie wat uitgekom het. Jou storie.
Dit sou baie interessant wees om op 'n langer termyn te hoor hoe die lees van Thula-thula jou geaffekteer het. Skryf gerus weer hier as jy wil.
Ek het jou briefie vir Annelie aangestuur.
Vir die wat nog nie Thula-thula gelees het nie, dit kan HIER bestel word by Kalahari.
Baie dankie dat jy jou storie met ons gedeel het. Mense wat - deur die genade - nie so 'n trauma deurleef het nie, kan nie besef waardeur julle gaan nie. Juis daarom glo ek dat Annelie se boek so baie nodig was en ek loof haar vir haar moed om die boek te skryf.
Ek hoop en sal bid dat jy die krag en genade sal kry om hierdie verskrilike trauma te bowe te kom. Reik uit na ondersteuningsgroepe, en omring jou met mense wat jou situasie verstaan en jou sal bystaan, maak nie saak wat nie.
As jy niemand het om mee te praat nie, kontak my by anita_de_kock@yahoo.com . Ek is nie 'n sielkundige nie, maar ek kan luister (of in die geval lees) en jou bemoedig. Glo in die helende krag van God en glo dat jy sterk genoeg is in jou self om op te staan en die lewe in die oë te kyk.
Sterkte ek dink aan jou.
Antoinette - ag liewe genade tog. Hier lees ek nou ook jou brief. Baie, BAIE sterkte. Woorde het vir seker helende krag.
Die boek was briljant! Die navorsing was uitstekend gedoen, die emosies en gevoelens wat daarmee gepaard gaan was so akkuraat. Daar waar Gertruida nie kon verstaan dat haar pa haar kan regte liefde betoon by tye maar tog ook die likkewaan in die nag kan wees nie. Ek kon nie die boek neer sit nie.
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member