Ek lees byna enige iets, maar ek was nog nooit ‘n groot leser van wetenskapfiksie of stories oor vampiere en sulke goed nie. My meisiekind het beslis nie my liefde vir lees geërf nie, vir haar is lees byna soos tande trek. Toe ek dus hoor dat sy AL vier boeke in die Twilight reeks van Stephenie Meyer in minder as ‘n maand deurgelees het, het ek besluit ek moet sien wat is so boeiend aan hierdie stories.
Die enigste boek van Stephenie Meyer wat ek toe onmiddellik in die
hande kon kry, was ‘The Host’. Blykbaar het Stephenie hierdie boek
reeds in 2008 geskryf en dis maar nou eers wat dit regtig hier bekend
begin raak het. Natuurlik as gevolg van haar gewilde Twilight reeks.
‘The Host’ is Stephenie Meyer se eerste sogenaamde volwasse roman.
Blykbaar is die Twilight reeks meer vir tieners geskryf, maar sover ek
gehoor het, verslind oud en jonk dit.
Omdat dit ‘n wetenskapfiksie verhaal is oor ruimtewesens wat die
aarde oorneem, was ek nogal skepties en onseker of ek dit regtig wil
lees. Ek lees deesdae nie naastenby genoeg na my sin nie en verlede Vrydagaand
het ek besluit ek wil die naweek ‘n slag ‘n lekker boek lees. ‘The
Host’ lê toe al ‘n week vir my en loer en ek dink toe ek sal ten minste
die eerste hoofstuk lees en as dit ‘n pot strooi is, dan kan ek nog
iets anders kies.
Wow, wat ‘n lees ervaring! Nog lank voor die einde van hoofstuk een
was ek vasgevang - hoek, lyn en sinker. Die boek is heel naweek orals
saam met my - en ek bedoel ORALS. Gisteroggend het ek die laaste
hoofstuk gelees en ek was sommer mislik omdat die storie klaar is. Nou
kan ek nie wag om te begin lees aan die Twilight reeks nie.
‘The Host’ is nie sommer net wetenskapfiksie nie - daar is avontuur,
aksie, drama en naelbyt spanning ook. En dis ‘n anderster
liefdesverhaal.
Die verhaal gaan oor ruimtewesens wat die aarde oorneem. Wesens
bekend as ‘Souls’. Hierdie silwer, wurmagtige kreature kan net regtig
lewe binne in ‘n ander wese. ‘n Soul het dus ‘n menseliggaam nodig as
gasheer. Die Souls het ongemerk die Aarde infiltreer en hulself binne
in mense begin vestig. Teen die tyd wat die mensdom begin agterkom het
iets is verkeerd, was dit klaar te laat. ‘n Soul sal die menslike
liggaam oorneem en die persoon binne in doodeenvoudig uitwis, alhoewel
hulle daardie persoon se geheue behou. Met die hulp van hierdie geheue,
lok hulle dan ander mense en word hele families gou-gou oorgeneem.
Souls is ‘n vreedsame ras en voel dat die mensdom nie die lieflike
planeet Aarde verdien nie, aangesien die mense mekaar vermoor en
vermink en die aarde vernietig. Souls is ook ‘n hoogs gevorderde spesie
wat alle siektes blitsig gesond maak, selfs die aarde se ongeneeslike
siektes soos kanker. Verder maak Souls nie oorlog nie, hulle lieg nie,
hulle oortree geen wette nie, nie eers ‘n spoedbeperking nie. Alle
Souls werk vrywillig in die veld waarin hulle die beste is, daar is
geen geldstelsel nie en enige iets wat ‘n Soul nodig het, gaan haal hy
doodeenvoudig van die winkelrakke af. In kort, die Aarde is ‘n paradys
onder die Souls se beheer.
Daar is egter geen plek meer vir “regte” mense nie. Die Souls het ‘n
soort sekuriteitsmag - die Seekers - en hulle soek heeltyd na mense wat
nog nie deur ‘n Soul oorgeneem is nie, vang hulle en maak van hulle ook
Souls. Alles natuurlik baie ordentlik en vreedsaam, volgens die Souls.
Daar is egter sommige mense wat hulself nie so maklik laat oorneem
nie en wat die ou Aarde wil terughê, foute en al. Een van hulle is
Melanie Stryder, ‘n rebel wat weier om oor te gee en op vlug is saam
met haar broer Jamie en haar minnaar, Jared.
Die stil oorlog is amper verby en daar is bitter min regte mense oor
toe Melanie per ongeluk deur die Souls gevang word. Wanderer is ‘n Soul
wat byna ‘n soort legende onder haar eie wesens is, omdat sy al op 8
ander planete gebly het - Souls bly gewoonlik nie op meer as 3 planete
in hul leeftyd nie. Wanderer word in Melanie se liggaam oorgeplant,
maar niemand het rekening gehou met Melanie se wilskrag nie. Melanie is
sterk genoeg dat Wanderer dit nie regkry om haar heeltemal uit te wis
nie.
Wanderer kan hierdie menslike wese glad nie verstaan nie. In die agt
vorige gasheer liggame waarin sy al gebly het, het sy nog nooit met so
iets te doen gekry nie. Wanderer se taak is om Melanie se geheime uit
te snuffel en dan aan die Seekers oor te dra, sodat hulle die ander
rebelle kan opspoor, maar Melanie bou ‘n figuurlike muur om haar geheue
en al wat deurkom na Wanderer is Melanie se groot liefde vir Jamie en
Jared.
Tot haar skok besef Wanderer dat sy gevoelens vir Jamie en Jared
begin ontwikkel, dat sy bekommerd is oor hul veiligheid, na hulle
verlang en dat sy simpatie het met Melanie wat vasgevang is in haar eie
liggaam en net met haar verstand kan skop en skree en weerstand bied.
Dan doen Wanderer die onvergeeflike. Sy vorm ‘n bondgenootskap met
Melanie en saam gaan soek hulle vir Jamie en Jared. Melanie vertrou
haar nie onmiddellik nie, maar mettertyd bewys Wanderer haarself bo
verdenking, nie net aan Melanie nie, maar ook aan ‘n groep menslike
rebelle.
Hoe meer Wanderer alle kante van menswees ervaar, hoe meer besef sy
dat haar eie mense, die Souls, verkeerd was om hierdie spesie se
planeet van hulle af weg te vat. Dit bring haar by die punt waar sy
besluit om die hoogste offer te bring.
Ek gaan niks meer van die verhaal weggee nie, behalwe net dat die
einde ‘n lekker onverwagte kinkel in het. Lees dit self - dis deur en
deur die moeite werd. Dis regtig ‘n onvergeetlike storie oor die
volharding van liefde en die kern van menswees.
In die slotparagraaf staan een sin vir my bo alles uit: Daar is nog hoop vir hierdie planeet van ons.
Jislaaik, Sonkind, ek gaan jou ontvoer by jou werk dat jy permanent hier kom sit en lees, en net skryf wat jy van die boeke dink. Jy gee elke keer vir my 'n klinkklare aanduiding van presies waaroor 'n boek gaan, en of ek daarvan sal hou of nie.
Ag Maankind - dit sal vir my soos die hemel wees as ek net kon lees vir 'n werk LOL!
Ek stem saam met Maankind. Sonkind skryf oor 'n boek op 'n manier wat maak, as jy dit nog nie gelees het nie, jy nie kan wag om dit te lees nie!
As jy so kan skryf oor The Host wil ek jou nie sien of hoor as jy die Twilight reeks gelees het nie. Dis baie goeie stories wat mens wegvoer. Uit hierdie spanningsvolle werk-ry-d-datum- kosmaak- jaag lewe van ons. Geniet dit en laat ons asseblief weet as jy klaar is. Dankie