Wen 'n Boek!
Martie Preller was so gaaf om twee boeke vir Boekemakranka te skenk. Spik-splinternuut uit haar pen!
1e Prys - Die land van stories - 'n praktiese storiemaakkursus
2e Prys - Vandag is nie gister nie
Hieronder is 'n lusmakertjie uit haar nuwe boek. Al wat jy hoef te doen om deel te neem, is om Skryfopdrag 8 uit te voer. Skryf jou eie definisie vir ’n storie, maksimum 100 woorde, as kommentaar op hierdie pos. Skryf dan in een paragraaf waarom jy dink jy hierdie boek moet wen.
Sluitingsdatum Vrydag 11 September.
Die pos van wenboeke moet ongelukkig beperk word tot Suid-Afrika.
Meer inligting oor die boeke op Martie se webwerf.
Onthou ook die bekendstelling Saterdag 5 September!
Waarheen moet die inskrywings gestuur word. Dalk kyk ek nou weer teen my oogvelle vas?
Infinate (verkeerd gespel) aka Kadys
Waarheen moet die inskrywings gestuur word. Dalk kyk ek nou weer teen my oogvelle vas?
-infinate
Al wat jy hoef te doen om deel te neem, is om Skryfopdrag 8 uit te voer. Skryf jou eie definisie vir ’n storie, maksimum 100 woorde, as kommentaar op hierdie pos.
(Bly om jou terug te hê!)
‘n Storie is
‘n Storie is ‘n samestelling van woorde wat my moet vasvang. Vasvang in verwondering om te wil weet wat vêrder gaan gebeur. Die mense in die storie moet lewe, vrolik of hartseer. Dit maak nie saak nie wie hulle is nie, hetsy koning of bedelaar, maar ek moet so met hulle identifiseer dat ek my onmiddellik binne in hulle lewe bevind. Ek wil self die bedelaar of koning wees. Wanneer ek klaar gelees het aan die storie moet ek nog wonder en dink. Definitief moet ek nog van die skrywer se ander stories ook wil lees.
Hoekom ek die boek moet wen
Die boek moet net eenvoudig my kant toe kom! Hoekom? Omdat ek so vreeslik lief is vir skryf maar, die stories bly my ontwyk. My linker brein peuter ewig tussenin wanneer my regter brein aan die gang kom. Ek het regtig hulp nodig om vir links bietjie uit my stories uit te jaag.
'n Storie is vir my die manier om te ontvlug van my eie realiteit. Ek wil vasgevang word in 'n wêreld wat net sowel my eie sou kon wees, sou ek ander keuses gemaak het in die lewe.
Hoekom ek die boek moet wen?
So kan ek leer hoe om alternatiewe realiteite teenoor my eie te meet, en so sin maak van my eie interne wêreld.
'n Storie is 'n spel met woorde, idees en emosies om jou te vermaak, te laat droom, te laat verlang, te begeer en sommer net om jou menswees te verryk; wat jou laat ontsnap na 'n alternatiewe heelal waar jy kan skuil teen die daaglikse verdriet en ellende van die lewe. 'n Storie is deel van jou lewe want dit laat jou droom en as jy kan droom is jy tot alles instaat.
Hoekoem ek die boek moet wen?
Ek besef elke dag hoe min ek werklik van skryf al weet, al is ek my lewe lank daarmee besig - mens kan altyd iets nuuts leer - en nog 'n baie belangrike rede is: ek moet ander potensiële skrywers die pad in die literêre wildenis wys - en daarvoor het ek elke bietjie kennis en hulp nodig
Stories is verseker nie 'n kompetisie nie,
tog floreer storie uitdinkery as mens ‘n prys kry. Vir my om iets te skryf wat
storie-agtig aanbetref is dus 'n geduimsuigery. Oom Pop Gooi Duim. Julle ken
daai verhale? Van die vrou in die sirkus wat uitgestal is in 'n glaskas? Sy was
net 'n kop en wou net lemoengevulde sjokolade eet. Ja, oom Pop kon lekker jok.
Lyk my nie die redigeerder werk lekker vanoggend nie... ja wat ek wou sê is dat dit altyd lekker is om 'n boek persent te kry hm?
Ek stem ook saam met Anita dat stories mens roer en soms herken jy waarheid daarin en soms nie, maar dis lekker as daar so draai aan die einde is en soms werk dit ook nie. Storievertellers is ook anders, want dan luister mens om die vuur in 'n kring soos in Dwaalstories en so... ek gaan groet lekker storiedag almal.. ek dwaal af..
‘n Storie is soos kondensmelk. Ek wil dit eers bietjies bietjies en suinig ervaar. Bang wees dit raak op. Dan wil ek selfbeheersing verloor en gulsig groter teue sluk. Die dik lekkerte van die woorde moet my verlei, wegvoer, walglik brand in my keel. Ek mag maar skuldig voel omdat ek vraatsig en oordadig betrokke is. Omdat ek die soetsappigheid geniet. Omdat ek meer en meer wil he en dit nie neersit nie… die storie moet dik en soet warm in my maag kom le. Die taaiheid van woorde moet my van myself vergeet. Daai dik gevoel van “nou ek nie meer nie maar ek ook nie ophou nie”. Waar trek ek die streep tussen “ek is nou dik – sit neer” en “dit is nou klaar – sit neer”
Sy had ‘n ellelange lysie
van stories wat sy wou skryf…
“Maar hoe?” het haar ma gekyf
Toe skryf sy maar al wen sy toe nie die prys’ie.
Definisie:
'n Storie het sy unieke plek in die wêreld. Niemand anders as die skrywer kan die storie presies op daardie manier vertel nie. Die uitspansel is vol stories. Saans blink dit in die lug bokant jou. As jy 'n storie het om te vertel, moet jy dit doen, anders is daardie spasie in die uitspansel waar jou storie-ster moet skyn vir altyd leeg. En as jy 'n leser is, verlustig jou in al die stories wat wink om gelees te word. Want elke keer wanneer 'n storie gelees word, gloei daardie storie-ster asof hy deur die engele self met 'n helder oranje stoflap blinkgepoets is.
Hoekom moet ek die boek wen?
Sommer. Want ek moet nog baie leer hoe om stories te vertel.
Wanneer mens 'n storie begin lees, is jy pynlik bewus daarvan: ek gaan nou 'n storie lees. Van daar af het die skrywer vir 'n paar sinne lank die kans om hierdie "verkeerde" persepsie te breek. Kry hy/sy dit reg, dan vat 'n storie jou weg uit hierdie alledaagse ondermaanse na iewers anders waar jy graagter wil wees. Die bestanddele wat die skrywer gebruik is karakters, plekke en situasies. Karakters moet karakter hê. Plekke moet voel asof jy daar is. Situasies bestaan uit probleme of konflikte, daarsonder is daar eintlik nie 'n storie nie. Die skrywer sit iets in van plekke waar hy/sy was ens. maar dan moet die skrywer se verbeelding op loop gaan, met die leser s'n agterna. 'n Storie is ook op 'n manier 'n reis - wanneer jy 'n goeie storie klaar gelees het, voel jy jy was iewers heen en het weer tuisgekom.
Hoekom ek die prys moet wen? As 'n troosprys! My eerste storie ooit is van die uitgewers af op pad terug na my toe en as die Poskantoor dalk eendag so gaaf is om op te hou staak en dit af te lewer, dat ek nou kan sien wat alles verkeerd is, sal ek Martie se boek nodig hê.
Dankie vir al julle bydraes sover. Ek lees grootoog en met 'n warm hart. Dis heeltemal wonderlik hoe elkeen 'n unieke antwoord gee.
Kop - moenie kommer nie. My eerste poging is nou nog in my laai!
Stories - daar is nie "regte" en "verkeerde" stories nie - daar is net stories wat "werk" - in die sin van dat lesers dit wil lees. Ek probeer in die boek oor storiemaak die "leser"-jy by die "skrywer"- jy uitkry! Ek weet ek probeer stories skryf wat ek as leser sou wou gelees het, want al skrywende ontdek ek die storie en dus "lees" ek dit dan vir die eerste maal.
Ek is 'n baie ongeduldige leser - ek reken dis die skrywer se werk om my aandag te hou! Ek sit sommer boeke neer wat my verveel. Daar is te baie ander boeke wat ek ook wil lees. Wanneer ek skryf dink ek aan daardie ongeduldige leser ...
Dieselfde met gedigte. Ek wil iets kry uit my lees. Ek kry soms: 'n wete of 'n herkenning van iets wat ek geweet het, maar vergeet het of 'n troos of 'n glimlag, of sommer net 'n wonderlike spel met woorde, maar daar moet iets wees. Ek stel nie eintlik belang in wat 'n watsenaam palindroom is nie. Palings se drome ... maggies ja! DIT kan interessant wees! O ja - dis 'n palinode ... paling in nood? of o, palinode, my botterbone!! (na die hond dit uitgeskoffel het op soek na 'n versteekte been ...)
:)
Ek stel nie eintlik belang in wat 'n watsenaam palindroom is nie. Palings se drome ... maggies ja! DIT kan interessant wees! O ja - dis 'n palinode ... paling in nood? of o, palinode, my botterbone!! (na die hond dit uitgeskoffel het op soek na 'n versteekte been ...)
Hehehehehehe Martie, maar ek doen tog ja wat, ek sal graag meer wil leer van al die dinge, dit tiekel my tog so bietjie en so an..
‘n Storie is daardie stukkie van jou hart of siel wat net eenvoudig vertel móét word. Dit moet gedeel word, omdat die betekenis daarvan nie net vir jouself van waarde is nie, maar ook die potensiaal het om ander mense te raak. ‘n Storie is die skilderkuns van die siel en die vlerke van die alledaagse.
Ek sal graag die boek wil wen omdat skryf en lees my hartklop en asem is en ek nog bitter min van albei weet.
'n Storie word gebore of vind sy oorsprong uit 'n ware gebeurtenis, vertelling, jou persoonlike belewenis of observasie van die lewe. Die kern of oorsprong gee jou soveel inspirasie dat jy dit net met ander wil en moet deel.
Jy nooi ander om in gedagtes saam met jou in hul verbeelding op paaie te reis. Paaie van vreugde, lag dat jy ruk, hartseer wat jou agter laat met 'n knop in jou keel, rou smart en spanning.Jy word aangeraak of geinspireer deur liefde, drome, smart en lewe. Dit laat jou met broeiende gedagtes en jou eie bitter-soet tye van onthou.
Ek moet net die boek wen want ek het soveel stories binne my wat net vertel moet word . . !
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member