
Toe
ek laasjaar hierdie boek gekry het, het ek geloerlees en gesien daar is
baie interessante dinge in, en dit toe vir eers op die rak gesit – soos
dit ‘n goeie naslaanwerk betaam. Onlangs het ek egter besluit om dit
van voor tot agter deur te lees. Dit het ek toe gedoen, behalwe dat ek
die wetenskaplike name meestal maar oorgeslaan het.
Dis uitstekende werk van ‘n fenomenale kenner op die gebied, in
keurige Afrikaans geskryf en met ‘n lekker humorsin daarby. Daar is
baie foto’s, waarvan die meeste uitstekend is, hier en daar sukkel ek
(letterlik!) om kop of stert uit te maak, maar dis te verstane,
aangesien ‘n fotograaf van insekte nie altyd die agtergrond kan kies
nie.
Ek het selfs ‘n paar woorde en terme bygeleer wat ek nie geken het
nie, bv. “verpop”, wat gebeur as ‘n larwe ‘n papie word, die
teenoorgestelde van “ontpop”. Nog ‘n paar is partenogenese,
Mülleriaanse mimikrie en striduleer. (Klink dit of lg. iets met
Stradivarius te doen het?)
Bestel Inseklopedie by
Kalahari.net 
Veel meer kan ek nie daaroor sê nie, opsom kan mens dit tog nie,
daarom het ek besluit om te probeer om uit elke hoofstuk minstens een
interesantheid as lusmakertjie aan te haal. Wees egter verseker dat
hierdie dikwels verstommende interessanthede op amper elke bladsy
voorkom.
1. Die wêreld van ‘n insek
Die hoofstuk is grotendeels ‘n inleiding en daar is ‘n interessante
gedeelte oor die grootste, kleinste, langste lewe, kortste lewe, hitte-
en kouebestandheid, ens.
Pleks van een brein in die kop het
insekte ‘n gedesentraliseerde senuweestelsel. Primitiewe insekte het
inderwaarheid ‘n brein, oftewel senuweeknoop, vir elke liggaamsegment…
…
Al die verdere breine, wat onderling verbind is, kan heel goed op
hulle eie [heermee] voortgaan. ’n Goeie voorbeeld hiervan is dat ‘n
koplose hottentotsgotmannetjie effektief kan paar.
2. Voortplanting
Deeltydse maagde: Die plantluise
het die voordele van geslagtelikheid en ongeslagtelikheid perfek
gekombineer. In die lente en die somer, wanneer jong groei van plante
volop is, plant die wyfies ongeslagtelik voort. Dit versnel hulle
vermeerdering geweldig…. In die herfs produseer hulle, pleks van
ongevleulde dogters, skielik gevleuelde seuns en dogters. Dié vlieg
rond, paar en die wyfies lê dan bevrugte eiers op die gasheerplante.
Dié bevrugte eiers is geprogrammeer om te oorwinter…
3. Metamorfose
Dit wat binne-in ‘n papie afspeel is een van die ongelooflikste prosesse in die lewende natuur.
…
in ‘n papie moet uit ‘n larwe skielik, sonder tussenstadia, ‘n volwasse
insek gemaak word. Niks wat die volwassene nodig het, is by die larf
op sy plek nie.
4. Beweging
… wat die vlooi dan teen 20 G laat versnel…
Deur dié pen hard op een van die
knoppe te druk en dan skielik in die gleuf te laat afgly, kry die
kniptor so ‘n geweldige ruk dat hy verkeie kere sy eie lengte die lug
ingeskiet word. Indié proses bereik die kniptor se kop ‘n vernelling
van 380G!
5. Konstruksies en strukture
Die molkriek se klarinet …
Mannetjies hol hulle tonnelingang só uit dat dit in ‘n bolvormige holte
eindig. Hulle sit dan in hierdie tonnel en striduleer op die
strategiese punt waar die klang presies net soos in ‘n klarinet
versterk word.
6. Sig en lig
Waarskuwingskleure en nabootsing:
… In die natuur is die “internasionale kode” vir gevaar swart
gekombineer met rooi (tot oranje of geel) , of met wit… Giftige diere
boots mekaar dikwels na om die boodskap vir vyande te versterk… ’n
Groot aantal nie-giftige insekte boots op hulle beurt weer die giftiges
na.
7. Geluid en gehoor
Vals alarm van die doodshoofmot:
… Die rede vir hierdie eienaardige piepgeluis is verbasend.
Doodshoofmotte gaan gereeld in heuningbyneste in om heuning te steel.
Hulle piepgeluid stem presies ooreen met die koninginfluit, wat onder
meer die effek het dat die werkerbye “vries” en passief gaan sit.
8. Reuk
Van voor en agter toegegroei:
Mierleeus se larwes grawe tregtervormige vangputjies in die sand…
Hulle lê dan (soms maande lank)… Omdat miere besonder goed ruik, sou
hierdie putvalle nie gewerk het as mierleeus enige reuk afgee nie. Die
mierleeus is dus geheel reukloos, wat hulle regkry deurdat beide hule
mond en anus toegegroei is.
9. Aanpassings vir hitte en koue
Namib-toktokkies speel met vuur: …
Een tegniek wat die daglewende toktokkies het om dié omstandighede te
oorleef, is lang bene. Hierdie bene word geknak gehou wanneer die
toktokkies soggens en saans naby die warm sand wil wees om op te warm
terwyl die lug nog te koud is.
10 Superorganismes
Kastes: … Werkerbye verrig ‘n
verbasende aantal take, maar daar is nie spesiale kastes nie. Die bye
los dié probleem op deur sogenaamde progressiewe poliëtilisme, wat
beteken dat ‘n werkerby haar deur die loop van haar lewe opeenvolgens
op verskillende take toelê… Interessant genoeg kan werkerbye, as die
swerm dit vereis, regreseer na vorige stadia in hulle ontwikkeling –
byvoorbeeld weer koninginjelliekliere of waskliere ontwikkel nadat
hulle dit reeds vantevore verloor het!
11. Die rol wat insekte speel
Insekte speel ‘n rol in alle
landekosisteme, en hulle rol is groter as wat meeste mense aanneem…
Omdat juis dié wat ons skade berokken natuurlik wel opgemerk word, is
daar by baie mense die persepsie dat die meeste insekte plae en peste
is…
…
Wat egter nog onverbeter is, is die gebruik van die maaiers van sekere
brommers om wonde van dooie weefsel te reinig. Aangesien die maaiers
net dooie weefsel eet, sal hulle letterlik dooie selle tussen die
lewendiges uit verorber met ‘n netheid wat chirurgies oonmoontlik is.
Verder skei hulle antibiotika af om ontbindingsbakterieë (wat hulle
konkurente is!) te beveg.
12 Identifikasie
Die hoofstuk bestaan uit omtrent 70 bladsye, met foto’s,
illustrasies en beskrywings van omtrent 2 tot 4 ordes, onderordes of
families per bladsy. Ek dink Prof. Holm moes hierdie hoofstuk liewer
‘n indeks genoem het, maar ek dink hy het dit die laaste hoofstuk
gemaak om mense soos ek wat besluit het om die hele boek deur te lees,
‘n streep te trek!
Gepraat van indekse, daar is 3, ‘n algemene indeks van terme, ‘n populêre naamindeks en ‘n wetenskaplike naamindeks.
Ek hoop dat ek hiermee minstens een leser aanspoor om die boek te lees en nie net as naslaanwerk op die rak te laat staan nie.

Prof. Erik Holm
.............................................
Chris van der Westhuizen
http://mykopop.wordpress.com