Blye dag! Ek het 'n aanlynresensie op Beeld se website raakgeloop! En hierdie is 'n lekker boek, ek deel graag die resensie met julle.
'n Engel in die hoenderhok - Gerda Taljaard. (Resensent: Neil Cochrane)
Die huishouding is dikwels ’n konflikruimte wat gekenmerk word deur angs, verswyging, humor en menslike swakhede – ’n kleinteater van die absurde.
Dié spesifieke dimensie van huishoudings vorm die fokus van Gerda Taljaard se debuutroman.
Dit handel oor die bittersoet verhoudings tussen lede van die Bester-gesin, bestaande uit polisieman-pa Bert, ma Mart (’n toespeling op die dienende Martha-figuur), boetie Fanie, die ouer suster Gretha, die twee kleiner sussies, Marie en Gertie, en die middelkind en hoofkarakter, Helena.
Die Besters kan in ’n mate as verteenwoordigend gesien word van die voorstedelike Afrikaner-werkersklas gedurende die 1970’s, alhoewel Taljaard deur raak en oorspronklike karaktertekening verseker dat die Besters uniek bly – elk opgeskeep met sy individuele hel in ’n omgewing waar mense vir hul huise name soos Lushof, Platsak en Mia Casa gee.
Die wedervaringe van die Besters speel gedurende die 1970’s in die sentrale voorstede van Pretoria, of sogenaamde Moot-gebied, af – ’n stadswyk met ’n sterk Afrikaanse karakter wat grootliks deur gewone salaristrekkers bewoon word. Lesers wat bekend is met die gebied sal sekere verwysings (soos byvoorbeeld straatname) onmiddellik herken, alhoewel lesers versigtig moet wees om Taljaard se uitbeelding van die Moot en sy mense as die werklikheid te verabsoluteer.
Benewens ’n nostalgiese blik op die 1970’s, bied die roman ’n perspektief op die politieke sentimente en vooroordele van die tyd sonder dat Taljaard toegee aan die juk van hedendaagse politieke korrektheid. Bert, Mart en Ouma se inherente rassisme en onverdraagsaamheid spreek duidelik uit hul taalgebruik en houding teenoor swartes.
Hulle leef as werkersklas- Afrikaners in ’n wêreld waar die “baas” en “miesies” maklik een Anna, Liesbet of Dora met ’n volgende “skepsel” kan vervang, al kan die Besters dit nie werklik bekostig om op ander neer te kyk nie.
Bert en Mart verwerp Fransi (Helena se verligte tante) as hulle uitvind van haar verhouding met ’n swart man uit die Ivoorkus en verbied daarna vir Gertie om met die swart kleinseun van die buurbediende te speel, alhoewel die Bester-ouers geen probleem daarmee het dat swart huisbediendes hul kinders grootmaak nie. Hieruit spreek die Besters se dubbele standaarde, wat aansluit by ander voorbeelde van voorstedelike skynheiligheid wat in die roman aan die kaak gestel word.
Die haat-liefde-verhouding tussen Helena en haar pa vorm ’n belangrike deel van die roman-inhoud. Die voorblad dien as belangrike leidraad tot dié gegewe deurdat die verkreukelde klerepatroon op die omslag aanduidend is van die onafgewerkte en gebroke verhouding tussen die twee.
Tweedens dui die patroon op die bloedverwantskap tussen Helena en haar pa wat versterk word deur voorbladfrases soos “Patroon vir pa en dogter”, “Voor en agter, A”, “Sny 2 op vou” en “Jy is nes jou pa”. Hiermee word die konsep van erfsonde of erflas wat telkens in die roman ter sprake kom, beklemtoon sodat Helena en haar pa grootliks as spieëlbeelde van mekaar beskou kan word.
Albei word as sensitiewe karakters uitgebeeld wat moeite ervaar om die uitdagings van die lewe te verwerk. Helena voel verantwoordelik vir die komplekse probleme van haar gesinslede en vriende, terwyl sy self nie die harde werklikhede om haar in die gesig kan staar nie.
As polisieman tydens die apartheidsjare kry haar pa te doen met geweld, kinderverwaarlosing en verkragting wat oor tyd sy inherente sensitiwiteit doodsmoor. Dié verlies aan sensitiwiteit hang nou saam met die macho-beeld wat Bert moet voorhou as Afrikaner-polisieman en die ongenaakbare wyse waarop hy sy seun grootmaak.
Sy verwronge beeld oor manlikheid word van vader na seun oorgedra en sluit aan by die groter sosiale indoktrinasie gedurende die apartheidsjare wat duidelik blyk uit die volgende uitlating van Fanie aan die einde van die roman: “?‘Al my pelle gaan army toe.’ Boetie vee oor sy geskeerde kop. ‘Dit het in elk geval niks met jou uit te waai nie, Pa sê ons land het my nodig.’?” (p. 215).
Pa en dogter smag albei na ontvlugting van neerdrukkende omstandighede – Helena gebruik haar verbeelding. Sy skep vir haarself ’n denkbeeldige engelvriend met die naam Michael (myns insiens ietwat voorspelbaar) met wie sy openlik kan kommunikeer. Verder gebruik sy selfmutilasie (sy sny haarself met skeermeslemme) as ’n destruktiewe vorm van ontvlugting.
Haar pa vind ontvlugting deur skelm seks en drankmisbruik.
Taljaard se debuut sal aanklank by tieners, jong volwassenes en ouer lesers vind, alhoewel dit in wese as ’n jeugroman beskou kan word. Dit is ’n roman wat ’n jong vrou se pad na volwassewording en verwerking van gesinsdemone aanstip. In dié opsig vertoon dit ’n sterk ooreenkoms met Willemien Brümmer se Die dag toe ek my hare losgemaak het.
Selfs al speel die verhaalintrige gedurende die 1970’s af, kry hedendaagse tieners met dieselfde huishoudelike probleme as Helena te doen – seksuele molestering, selfmutilasie, anoreksie en huishoudelike geweld. Die roman gaan eerlik met die
onaangename deel van menswees om sonder om oordrewe swartgallig of moralisties te wees.
Taljaard slaag uitstekend daarin om ’n kreatiewe balans tussen die tragiese en komiese te handhaaf sonder om haar karakters van hul menslikheid te ontneem deur karikatuuragtige uitbeelding. Die Besters is mense van vlees en bloed wat groots is in hul weerloosheid.
’n Engel in die hoenderhok lewer ’n vars bydrae tot die Afrikaanse jeugroman. Dit dien as goeie aansporing vir veral tieners en jong volwassenes om weer te begin lees.
Cochrane doseer Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Suid-Afrika.
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member