Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
19 views

Life of Pi (Yann Martel)

Page 1
posts 1–1 of 1
regular - member
121 posts



I turned around, stepped over the zebra and threw myself overboard.

Dit is vir my maklik om te sien hoekom Life of Pi die 2002 Man Booker-prys in gewen het.  Die boek is nie net goed ontvang deur kritici nie, maar ook deur gewone lesers.  Yann Martel vertel hier die opwindende, unieke en geloofwaardige storie van Piscine (Pi) Patel, wat vir 227 dae op ‘n reddingsboot op die Stille Oseaan rondgedobber het.  

Die boek bestaan uit drie dele; Pi se tyd in Pondicherry, waar sy pa eienaar van die dieretuin is, die 227 dae as skipbreukeling op die Stille Oeaan en, laastens, Pi se tydjie in Mexico.


Die boek begin waar Pi as ou man vertel dat hy baie gely het, dat hy werk, dat hy Indië mis maar lief is vir Kanada en dat hy na iemand genaamd Richard Parker verlang. Die leser maak hierna vinnig kennis met die jong Pi en sy belangstelling in diere, die wetenskap en godsdiens. Pi leer van Islam, Christendom en Hinduisme en hy voer rituele wat deur hierdie drie gelowe vereis word, getrou uit; hy omhels al drie.  Hy bewonder egter ook ateïste, vir hom is dit belangrik dat mens in iets glo en ateïste glo in die afwesigheid van ‘n God met geen konkrete bewys dat God wel afwesig is nie. (Pi het egter glad nie tyd vir agnostici nie, hulle wat nie genoeg geloof het om die sprong na een van die twee kante te neem nie - die aard van geloof is ook ‘n tema in die boek)  


Na ‘n gelukkige tyd in die Pondicherry-dieretuin verkoop Pi se pa die dieretuin en die gesin emigreer per skip na Kanada.  Daar is diere wat saamgaan, wat langs die pad by ander dieretuine afgelaai moet word.  Wanneer die skip sink is Pi die enigste oorlewende mens en eindig hy op ‘n lewensboot met ‘n zebra, ‘n hiëna, ‘n orang-oetang en ‘n Bengaalse tier met die naam Richard Parker.  Na slegs ‘n week is net Pi en Richard Parker oor en begin die oorlewingstryd in alle erns.  Pi moet net nie teen die elemente en honger oorleef nie, maar ook teen Richard Parker.


Die derde deel van die boek speel in Mexico af, waar Pi en Richard Parker aan wal gaan.  En dit is hier waar Pi ‘n ander weergawe van die storie moet offer aan die ongelowige amptenare van die maatskappy aan wie die gesonke skip behoort het. 

Temas in die boek is die oorlewingsdrang, die belangrikheid van stories vertel en die aard van godsdiens.  Wat die oorlewingsdrang betref, stel Martel dit duidelik dat mens en dier ongewone, onverwagte en selfs heroïese dinge doen om te oorleef.  Maar net so sal mens en dier ook veragtelike dinge doen ten einde te oorleef.

 

Ek wil nie te veel oor die storievertel-tema sê nie aangesien ek dan van die storie moet weggee.  Iets om oor te dink is wat die “waarheid” is; hier word feitelike waarheid en emosionele waarheid gelyk gestel.  Pi glo aan die krag van stories om te inspireer en te red.

Ek is besig met die eerste herlees van hierdie boek.  Toe ek dit die eerste keer gelees het, het ek dit as bloot ‘n baie goeie avontuurverhaal gelees, een wat jou vasgevang hou.  Nou met die eerste herlees, lees ek dieper en vind ek soveel waarhede en verlustig en my in die briljante prosa, dat ek dit byna meer geniet as die eerste keer.  Wat ek weet, is dat ek hier met ‘n grootse boek te doen het, en dat dit eenvoudig wonderlik is om nie deur dit hoef te sukkel, soos wat mens soms met literêre tekste moet doen nie.


Page 1
posts 1–1 of 1

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now