Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
38 views

Breyten Breytenbach word 70

Page 1
posts 1–2 of 2
superstar - founder
993 posts

Die digter Breyten Breytenbach se 70ste verjaardag word op Woensdag 16 September in die Breytenbach-sentrum in Wellington gevier.

Breytenbach se jongste digbundel, oorblyfsel/voice over, sal op dié dag in die sentrum se ­teaterkafee, Die Bôrdienghuis, bekend gestel word.

Breyten noem die bundel ’n “collage”, getransformeerde “variasies” van Magmoed Darwiesj se werk. Darwiesj (1941–2008), ’n Palestynse digter, was ’n vriend van Breytenbach. “Onmiddellik ná sy sterfte het ek hierdie reeks begin skryf as fragmente van ’n voort­gesette gesprek met hom,” skryf Breytenbach.

“In die daaropvolgende weke sou ek noordwaarts reis – eers na Katalonië en daarna verder tot in Friesland. Vertaling, om oor te gaan van die een taal in ’n ander, is ook ’n reis. Ek beskou hierdie ­fragmente as lofbetuiging.”

Die ­akademikus Louise Viljoen en die digter Charl-Pierre Naudé sal by die bekendstelling oor die bundel gesels.

Op 19 September bied die ­Breytenbach-sentrum in same­werking met die Afrikaanse Letterkundevereniging (ALV) en die departement ­Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch ’n dagseminaar aan waar bydraers tot ’n spesiale uitgawe van die Tydskrif vir Letterkunde oor Breytenbach se werke referate sal lewer. Ampie Coetzee, ­Willem Anker, Willie ­Burger, Helize van ­Vuuren, Heilna du Plooy en Hermann Giliomee is van die sprekers.

Kort dokumentêre rolprente deur Cloete Breytenbach oor ­Breyten in gesprek met Koos ­Kombuis, André P. Brink en Ampie Coetzee, asook ’n gesprek met ­Breytenbach in Katalonië sal deel ­wees van die dagseminaar.

Die vieringe sluit die aand van 19 September af met ’n woordkunsproduksie, Verse in my vingers, wat deur Juanita Swanepoel saamgestel is.

Skakel 021 873 2786 met navrae en om te bespreek.
(Beeld)

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
superstar - founder
993 posts


Die afgelope week is daar ook heelwat ruimte afgestaan in die Rapport Boeke en in die By, om hierdie groot digter te gedenk. Ongelukkig is al die artikels nie aanlyn beskikbaar nie.

Verder skryf Francis Galloway ook as volg in die By:

DR. Francis Galloway toon aan hoe Breyten oor die afgelope 45 jaar gesorg het dat ons are nie verkalk nie.Breyten Breytenbach het as briljante woordmeester én doring in die volksvlees oor ’n tydperk van 45 jaar ’n diepgaande invloed op die Afrikaanse gemeenskap uitgeoefen. As seismograaf en weervoorspeller, flitslig en horlosie, geheue en spaarbank sorg hy dat die paadjie wat ons oopkruip nie toegroei nie.

Sy oorskryding van sisteemgrense ontlok sedert die sestigerjare heftige reaksie en etikettering van mediamense en die breë publiek; selfs verligte skrywers en kritici distansieer hulle van sy radikale oortuigings.

Hierdie oortuigings voed egter ook die alternatiewe Afrikaanse beweging én die pleitbesorging vir die erkenning en behoud van Afrikaans binne die meertalige, multikulturele post-apartheid- bestel.

Dit was min openbare figure in Suid-Afrika beskore om soos hy ’n hele gemeenskap tot selfondersoek te dwing en rekenskap te laat gee van hul ideologiese aannames en literatuuropvattings.In die twisgesprek wat volg op die bekroning van sy dubbele debuut en die visumweiering aan sy vrou, word Breytenbach verwyt dat hy die morele kode van die volk oortree het en dat sy kuns nie die volkstrewe dien nie. 

Hy word as buitestander en verraaier gebrandmerk. Van toe af is die kwessie van identiteit, en ’n herdefiniëring van Afrikanerskap en Afrikaans-wees, die hoofbron van sy sosiale kritiek; sy uitsprake oor (Suid-)Afrikanerskap word hoekstene in ’n uitkringende debat oor lojale verset versus Afrikanerverraad.

Tien jaar ná sy verskyning op die toneel word hierdie “terroris” in die volksmidde nege jaar tronk toe gestuur vir sy daadwerklike verwerping van “Apartaans” en die “wit staat vir witmense”.Einde 1982 word sy vonnis onverwags opgeskort en hy keer terug na Frankryk. Daar is geen helde-ontvangs vir hom beskore nie en die pers maan hom om sy ou weë van ekstremisme te vermy en sy talent in die belang van die Afrikaanse taal en letterkunde aan te wend. 

Hy laat hom egter nie muilband nie. Nou is hy nie meer volkskritikus uit skuld of sentiment nie, maar uitgesproke toegewy aan die saak van swart politieke mag en meerderheidsregering.Hy sien sy taak as die soeke na barsies en skeurtjies waardeur ’n verskuiwing in die Afrikanerbewussyn kan plaasvind en metodes waardeur hierdie verskuiwings ingespan kan word om transformasie te bewerkstellig.

Tien jaar nadat hy opgesluit is, ontvang die verloopte seun ’n prys in die Staatsteater. Hy gebruik hierdie podium om, tot groot ontsteltenis van die Afrikaner-establishment van die PW Botha-bedeling, politieke ontwikkelinge van die tyd kras te veroordeel en om te verklaar dat die bevryding van die Suid-Afrikaanse samelewing net kan plaasvind deur die aftakeling van die Afrikaner se magsmonopolie. Hy raak betrokke by ’n andersoortige ondergrondse aksie – geheime ontmoetings tussen lede van die ANC en groepe progressiewe Suid-Afrikaanse meningsvormers. Dit dra by tot die skepping van ’n klimaat van gesprekvoering en onderhandeling.In die Nuwe Suid-Afrika bou hy voort op sy omstrede reputasie as staatskritikus. 

Hy kruis in ope briewe en op openbare podiums swaarde met die presidente en ander top-amptenare. Sy uitsprake oor die Waarheids-en-versoeningskommissie, openbare skuldbelydenis, die post-bevrydingsrol van die ANC, nuwe soustreine en die korrupsie van mag ontlok verontwaardigde reaksie in sowel polities korrekte Afrikanerkringe as regeringsgeledere. Ook op die kultuurterrein, veral met sy kunsuitstallings en toneelopvoerings by Afrikaanse kunstefeeste, lei sy verskuiwing van verwagtingshorisonne tot uitstappery en heftige reaksie in die pers.Breytenbach voel hom aan die begin van die nuwe millennium in die eerste plek Afrikaan, maar dit is sy Afrikaanstaligheid wat sy voortgesette verset dryf. 

Vroeër was sy verset teen die kulturele en politieke maghebbers van Afrikaans wat die taal en volk gekaap het.Noudat Afrikaners nie meer in die magsposisie is nie, is dit vir hom moontlik om ’n saak uit te maak vir Afrikaans, omdat taaldiversiteit kultureel, ekonomies en polities verrykend en ’n voorvereiste vir vooruitgang is.

Sy deelname aan nuwe po diums vir die Afrikaanse taal en kultuur, in teenstelling met dié van die eertydse Afrikanernasionaliste, asook aan inisiatiewe gerig op die erkenning van minderheidsregte, sorg vir nuwe etikette om sy nek.Hy word óf omhels as ’n onwaarskynlike kampvegter vir die volksaak óf afgestoot as ’n nuwe regse wat vasskop teen nasiebou en regstellende aksie.

Die nabyheid aan eertydse Nasionaliste én die voorpraters van die nuwe Afrikaner-binnekring (asook die oormaat van pers-aandag) raak egter vir hom knellend en hy bevraagteken al meer die “ons” namens wie gepraat word.

Gebeure soos die volkstemming-debakel en ’n kwetsende ope-brief-aanval op hom deur ’n Afrikaanse skrywer, wat hom daarvan beskuldig dat hy die volk faal deur nie voorbrand te maak vir die einde van Afrikaans as amptelike taal nie, dra daartoe by dat Breytenbach hom onttrek aan die plaaslike toneel.Dit beteken egter nie dat hierdie openbare figuur in die kas geklim het nie.

As invloedryke wêreldburger het hy toegang tot podiums wat hy benut om die “mislukte Suid-Afrikaanse rewolusie” en die huidige kultuur van korrupsie, toeëiening, geweld en apatie aan die kaak te stel.Hy doen dit in die geloof dat beperkinge getransendeer kan word, dat ’n mens aan die beweeg moet bly en geraas moet bly maak vir die utopiese denkbeeld van aanspreeklike regering en vir die erkenning van regte.

Om te oorleef, moet die mens die verantwoordelikheid aanvaar om die wêreld anders te verbeel.Dr. Francis Galloway is die skrywer van onder meer Breyten Breytenbach as openbare figuur. Sy is ’n buitengewone dosent en navorser oor die uitgewerswese aan die Universiteit van Pretoria. 

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
Page 1
posts 1–2 of 2

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now