Marida Fitzpatrick het met Odette Schoeman oor Swartskaap, haar debuutroman, gesels.
Op 20 het sy twee kinders gehad; op 30 een boek. En nou voel Odette Schoeman nie meer soos die swartskaap nie.
Die kinders was nie beplan vir voor 20 nie. “Ek was verlief en verlore. En stupid. Jy weet mos nie van al die birds en die bees nie. Maar vandag, as ek terugkyk, sal ek niks anders wou doen nie.”
Die boek wou sy wel voor 30 hê. Om die waarheid te sê, sy móés.
“Ek het gesê voor my 30ste verjaarsdag. ’n Paar maande voor my verjaarsdag, toe sê ek well, this is it. Toe gaan sit ek en skryf die eerste 100 bladsye.”
Skryf is iets wat sy nog altyd wou doen, en eintlik het dit vir haar natuurlik gekom, maar ná daai eerste 100 bladsye het sy so getwyfel dat sy dit eers vir ’n uitgewer gestuur het.
“Toe sê Nelleke (de Jager, van Kwela Boeke) sy soek die res van die manuskrip. Ek het gesê ek is nog nie happy met die res nie, maar eintlik wás daar nie ’n res nie. Toe skryf ek die res in drie weke.”
En nou verskyn Swartskaap volgende week.
“My idee was om die dinge wat ek gesien het, uit te kry en vir mense te sê: ‘Dit maak nie saak waar jy vandaan kom of wat jou omstandighede was nie, daar’s hoop’.”
Jare lank het Odette met die titel in haar kop geloop. “Omdat ek een was: ’n swartskaap.”
Ons gesels by haar en haar “amper-man” se huis in Vanderbijlpark in die Vaaldriehoek.
Erg op haar senuwees sit sy hande in mekaar in ’n sonkol op die bank.
Odette (30) is ’n agter-die-skerms mens; nie een vir die kollig en onderhoude en sulke dinge nie.
“Die idee van mense wat vir my kyk?.?.?.” Sy ril. “Nee, ek weet nie, ek’s baie skaam.”
Terug by die titel: “Maybe het ek vir myself gesê ek’s ’n swartskaap, ek weet nie. Ag, my ma en pa is geskei toe ek baie jonk was en ek’s koshuis toe en dis maar die behandeling wat koshuiskinders in Lagerspoort gekry het.”
Lagerspoort is ook die koshuis waar Claudie, hoofkarakter in Swartskaap, grootword.
“Sekere gedeeltes van die boek, soos my boeties en my skoollewe in die koshuis, is gebaseer op my lewe. Maar die ma en pa is heeltemal fiktief.”
Net soos Claudie was sy ook in haar hoërskooljare by ’n plek van veiligheid.
Anders as Claudie, wat deur haar pa gemolesteer is, sê Odette sy was net daar uit rebelsheid.
Sy lag. “Baie weggeloop van die huis af.”
Daar het sy die grootste gedeelte van Swartskaap se storie gekry. “Vriendinne wat ek gemaak het, stories wat ek gehoor het. Soos die molesterings, die ouers?.?.?.”
Dis vir haar belangrik dat mense weet Claudie se ouers is nie hare nie.
“My ma en pa?.?.?. ek het nie rêrig baie kontak met hulle nie. Hulle’s twee baie goeie mense.
“Ek sou graag ’n beter verhouding met hulle wou gehad het, maar ek het nie die geleentheid gehad nie.
“Omdat ek van vyf jaar oud af in ’n koshuis was, het ek en my ouers nie gebond nie. As ek by my ma of pa moes bly, was hulle vir my vreemdelinge. Ons het nie oor die weg gekom nie. Glad nie.”
Daarom het sy Claudie se ma en pa op vriendinne van haar se ouers gebaseer. “Dit was om die omstandighede moeiliker te maak, die victory groter.”
Sy praat kalm en afgemete.
“Claudie is baie dapperder as ek. Ons het dieselfde drome gehad, vrese. Sy’s basies ek; hier en daar getweak. Dit was baie moeilik om oor myself te skryf, maar ook genesend in a way.”
Lang stilte, kyk ver. “Aag, ek dink ’n ou het maar?.?.?. om in moeilike omstandighede groot te word, wat jy nie wil face?.?.?. Baie dinge het in perspektief geval omdat ek dit nou weer geface het.”
Die molesterings en verkragting in die boek is nie outobiografies nie, sê sy.
“Miskien was dit makliker om dit te skryf, juis omdat dit nié met my gebeur het nie.”
Die storie van Swartskaap was vir haar ’n belangrike storie om uit te kry.
“Dis ’n storie van leef en oorleef.”
Claudie se grootworddorpe is ook Odette s’n. Aan die Oos-Rand en in die Vaaldriehoek.
Odette is in Primrose, Germiston, gebore as die jongste van ses kinders. Sy het vyf broers. “My ma’t te veel kinders gehad. Sy’t ook begin op 17. Vandag, as ’n mens terugkyk, dan kry jy respek.”
Op vyf is sy koshuis toe, Lagerspoort in die destydse Oos-Transvaal. “Ek’s so dankbaar daarvoor. Normale omstandighede, normale mense. My boeties ook. Hulle hou voet by stuk dit was ons redding.”
Haar kleintydherinneringe vertel sy in verstommende besonderhede in die boek. Ja, sy het ’n baie goeie langtermyngeheue, sê sy. “My heel, heel eerste herinnering was ek so klein dat ek nog nie eens kon sit nie.”
Op haar skootrekenaar speel “Sometimes when we touch”: “I’m just another writer still trapped within my truth / a hesitant prize fighter still trapped within my youth.”
Odette se laaste skooljare het anders verloop as Claudie s’n.
“Weggeloop met my boyfriend by wie ek later swanger geraak het. Dit was ’n vreeslike tyd, maar ek het Llewelyne (haar oudste seun) gehad en ek het hom grootgemaak.” Drie jaar later het sy Franco (9) gehad toe sy 20 was. “Ek is bly hulle’s daar, al het ek hulle nie beplan nie.”
Sy en die pa van haar seuns het in ’n stadium getrou, maar is ’n paar jaar later geskei en sy het weer Vanderbijlpark toe getrek waar sy by ’n prokureursfirma begin werk en Cobus ontmoet het. Haar “amper-man”, soos sy hom noem. “Vandat hy in my lewe is, het alles gesettle.”
Hulle wil trou in Desember. “Ons beplan ’n klein, baie klein ding.”
Om vir haar kinders ’n stabiele gesinslewe te gee, is vir haar baie belangrik. “Dis vir my absoluut álles om die pad vir hulle gelyk te maak. Klein dingetjies wat ek nie gehad het nie, gee ek vir hulle in oorvloed. Gesinne is vir my die belangrikste ding onder die son, omdat ek nie daarmee grootgeword het nie.”
In die boek kry Claudie se ma meestal die skuld vir hul disfunksionele gesin. “Maar Claudie se ma het probéér. Haar hele lewe lank het sy gedroom van hierdie Prince Charming en sy’t moed verloor. Teen die tyd dat sy besef het sy moet haarself red, was dit te laat.”
Swartskaap gaan oor empatie. “Claudie se ma en pa is baie goeie mense wat net nie kon cope met wat in hul lewe verkeerd gegaan het nie.” Geen mens is net sleg of net goed nie, sê sy en hark haar vingers deur die swart gordyn van haar hare. “Jy’t ’n keuse. Op die ou end is jy wat jy die meeste doen. Op die ou end van die dag ís ons net.” Een mens vir wie sy graag ’n boek wil stuur, is haar graad een-juffrou, Claudie se juffrou Van Zyl. Sy glimlag hartseer. “The older you get, the more you need the people when you were young.”
Volgende keer wil sy iets heeltemal fiktief skryf. “?’n Riller. Iets donker en weird?.?.?. Ek worry nie oor literêr nie.”
Uit
haar lewe ís daar nog baie om te vertel, “maar ek weet nie of ek rêrig
wil oopkrap nie. Met Swartskaap voel ek of ek nou al die str*nt
afgesluit het”.
Daar is wel ’n deel van haar storie wat werd is om vertel te word. Van te vroeg kinders kry. Van baie stupid wees. Van baklei om êrens te kom. Dit was nie deel van Claudie se storie nie, “want my drie weke was op”.
“Ek moes die boek daar eindig en ek moes dit happy eindig. Hulle sê alles is oukei aan die einde. As dit nie oukei is nie, is dit nie die einde nie.”
Ja, sy glo vas
aan gelukkige eindes. “Ek glo dat alles jou êrens uitbring. Ek glo jy
gaan kry wat jy verdien. En ek dink ek verdien ’n happy einde.”
(in Beeld)
Bestel Swartskaap HIER van Kalahari.
Odette Schoeman is ’n literêre maagd. Sy het geen letterkundige
opleiding nie, sy ken skaars die name van die groot Afrikaanse
skrywers?kanonne en sy lees meestal net nie-fiksie. Sy werk in ’n
prokureurskantoor in Vanderbijlpark en haar papegaai se naam is Raka.
Hy’s “genoem na Koos Kombuis se boek”, wat sy baie geniet het. Maar
wanneer jy haar debuutroman, Swartskaap, begin lees, besef jy baie gou
hier’s ’n aangrypende verhaal van leef en oorleef deur iemand wat wéét
hoe die ABC van storiemaak werk. In Swartskaap vertel Claudie Thompson
van haar eie grootwordjare. Dis ’n storie van armoede, ouers wat soms
waansinnig en liefdeloos optree, seksuele misbruik, huise sonder
meubels, koshuise, pleegsorg, wegloop, “plekke van veiligheid’’. Dis
ook ’n verhaal deurspin van humor en deernis oor al die snaakse goed
wat met kinders gebeur wat van kleins af maar na hulself moet omsien.
Ek het Schoeman op Facebook uitgevra oor haar uitsonderlike debuut:
*
jACO BOTHA
Swartskaap lees soos ’n helder, eerlike outobiografie. Almal gaan dit vra, so kom ons kry dit uit die pad: is jy Claudie?
*
Odette Schoeman
Ja,
en nee. Ja, ek het self baie dele van die boek geleef en plekke en
mense ervaar wat ook in Claudie se storie voorkom. Haar verhaal is een
wat daagliks gebeur en ek voel dis belangrik om dit te vertel. Ek en
Claudie deel dieselfde grootword-dorpe en in sommige gevalle dieselfde
drome en vrese, maar sy is baie dapperder en baie meer streetwise as
ek.
Nee, ek is ook nié Claudie nie, want nie al die
ervarings waaroor ek geskryf het, was my eie nie. Ek het baie daarvan
geleen by goeie vriendinne wat oor my pad gekom het. As skrywer gebruik
mens fiksie om ’n verskeidenheid redes: om jouself te beskerm en soms
om ander mense te beskerm – al verdien hulle dit nie altyd nie. En soms
gebruik jy fiksie sommer maar net om die verskillende stories bymekaar
te bring.
Dit was moeilik, maar nodig, om Claudie se storie te vertel.
*Jaco Botha
Jy’t
op ’n kol genoem jy’t voor Swartskaap nooit meer as ’n bladsy op ’n
slag geskryf nie. Wat het jou geïnspireer om hierdie dikke boek te
begin?
* Odette Schoeman
Inspirasie
was daar al my hele lewe lank. En ja, daar wás ’n oomblik – my 30ste
verjaarsdag! Ek wou nog altyd ’n boek skryf en het myself belowe ek sal
my eerste een die lig sal laat sien voordat ek 30 jaar oud word. Ek het
’n paar maande voor my verjaarsdag begin skryf, binne drie weke
klaargemaak en het met ’n skrywerskontrak in my hande gesit lank voor
my eie sperdatum. Dit was ’n groot geskenk.
*Jaco Botha
Wat het jou gedryf om spesifiek Claudie se pynlike storie te vertel?
*
Odette Schoeman
Baie
mense sal seker nie met my saamstem nie, maar ek dink die pyn en die
lelike dinge van die lewe is noodsaaklik. Hoe kan mooi bestaan as daar
nie ’n lelik is waarmee jy dit kan vergelyk nie? Hoe kan jy voel jy het
enigiets bereik as jou paadjie net met roosblare besaai was? Claudie
het goed uitgedraai. Maar sou sy steeds goed uitgedraai het as al daai
lelike dinge nie met haar gebeur het nie? Ek glo dat enige lelike of
moeilike situasie jou die geleentheid gun om te groei en ’n beter en
sterker mens te word. Molière het gesê: “The greater the obstacle, the
more glory in overcoming it.”
Ek wou Claudie se storie
vertel omdat ek dink seksuele misbruik en armoede is een van die
grootste obstacles vir vandag se jong meisies. Ek wil hê Claudie moet
hulle inspireer. Dit kan gedoen word!
*
Jaco Bo
t
ha
Jy beeld jou karakters deurgaans uit as driedimensionele mense met goed en met sleg. Vertel meer.
*
Odette Schoeman
Ek
glo nie daar bestaan ’n mens wat net sleg is nie. Of net goed is nie.
Ons almal het goed en sleg in ons. Party het meer sleg en ander het
meer goed. Soms kan ’n mens nie help om te lag wanneer jy dit raaksien
nie – soos in die geval van Claudie se ma. As jy nie kan lag daarvoor
nie, moet jy ten minste sorg dat jy iets daaruit leer. Dit sou
onregverdig van my gewees het om net die sleg van sekere karakters uit
te beeld. Claudie se pa het haar tog nie van haar geboorte af
gemolesteer nie. Daar was goeie tye en goeie eienskappe ook. Hoe sal
die leser Claudie en haar besluite kan verstaan as hulle nie ook van
die goeie weet nie? Wat ek met Swartskaap probeer sê, is dat goeie
mense in sekere omstandighede sleg kan word en slegte mense goed. Die
keuse is joune.
*
Jaco Botha
Jy het nou die storie van Claudie uit jou uitgeskryf. Is daar nog ander stories in jou wat wag om vertel te word?
(Rapport)
Bestel Swartskaap HIER van Kalahari.
Ek hou nogal van Jaco se term "literêre maagd" (want ek is ook een in die sin dat ek ook nie letterkundige opleiding gehad het nie.) Ek wens Odette Schoeman geluk dat sy toe wel die boek voor haar 30ste verjaarsdag geskryf het.
Mag dit goed vaar en die eerste een wees van vele boeke.
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member