Phyllis Green het per e-pos in die Sarie met Annelie gesels oor Thula-thula (Tafelberg, R165)
Jou vorige boeke het ook taamlik kontroversiële onderwerpe
aangeraak: dobbel en outisme. Nou bloedskande. Waarom sulke onderwerpe?
Eintlik
kan mens enigiets oor die kam van kontroversieel skeer. ‘n Roman kan
oor alledaagse verskynsels handel, en tóg as kontroversieel oorkom.
Dink maar aan onderwerpe wat ons heeldag en aldag omring, soos
Alzheimers, die verwoestende effek van regstellende aksie,
gesinsgeweld, bulimie, bipolêre depressie, vraatsug, die verval van ons
land, bankrotskap, werkloosheid, pilverslawing, moord en doodslag, die
skoktoestand van vele ouetehuise en hul inwoners, kerke wat leegloop.
Fynbosbewaring (in my boek Klawervier), dobbel en outisme
kan beswaarlik as kontroversieel beskou word. Ek sou my onderwerpe
eerder as hartseer beskryf. Ek dink lesers verwar dikwels die term
kontroversieel en die begrip van aangrypend.
Hoe het jy die navorsing vir Thula-thula benader?
Ontsaglik
klinies, aanvanklik. Toe ek met indiepte gevallestudies begin het, was
dit ‘n mengsel van emosies, verstand en uiterste deursettingsvermoë.
Maar ek het altyd en altyd gesoek totdat ek die waarheid beet het. Mens
wéét as iets die waarheid is. En dan begin jy daardie waarheid toets
aan die opinies van kenners en deskundiges. Geen feite in Thula-thula
is uit my duim gesuig, of op grond van aanname nie. Om die hele
navorsingsproses te beskryf kan ‘n roman op sy eie wees. Onthou dat ek
met báie tentakels moes rekening hou, bo en behalwe bloedskande.
Algemene boerdery, Bonsmaras, die veld, tuinplante, die stand van
plaasskooltjies, gewere en wapenwette, tennistegnieke, onderwys, baie
jare se maantye, die grenstyd.
Mens leer en leer en leer. En dan kan mens maklik in die slagyster
trap van nog en nog wil leer. Onbewustelik vermy jy die werklike
skryfproses deur te glo die navorsing is nog nie klaar nie. Daar kom ‘n
tyd dat ék moet besluit: Vandag begin ek amptelik skryf aan die boek.
Die kennis wat ek nog kortkom, sal ek inwin soos ek aangaan en agterkom
daar is nog dingetjies wat ek moet weet, of meer intens moet bestudeer.
Was die skryfproses uitmergelend?
Dit was
baie minder uitmergelend as die navorsing. Toe ek begin skryf, het ek
my nie meer elke dag onderstebo geskrik oor gruwelfeite nie. Wat
uitmergelend was, was toe my rekenaar op ‘n Sondagoggend 20 oor 5 uit
die huis gesteel is terwyl ek slaap. Die roman was reeds geskryf tot by
bladsy 265 en ek het net back-ups gehad tot by bladsy 143.
Die oorskryf van daardie 120 bladsye was hel. Ek het niks vergeet wat
ek geskryf het nie, maar die plasing daarvan het totaal deurmekaar
geraak in my kop. Onthou, ek werk met Gertruida se hede en verlede,
asook met Mama Thandeka se hede en verlede. En skakel nooit tussen
seksies oor op ‘n chronologiese basis nie, maar eerder op emosionele
nood. Om weer al daardie kloutjies by die oor te bring het my menigmaal
in erge trane gehad.
Waarom juis Mama Thandeka as verteller?
Ek het
‘n verteller nodig gehad wat soveel as moontlik van al die karakters
weet. Daar is, selfs vandag nog, niémand wat meer weet oor wat agter
die deure van ‘n huis aangaan nie as die huishulp. Sy weet van elke
vuil onderbroek, elke kous met gate in, pilboksies in die
badkamerhouertjie. Sy sien elke bloedkolletjie op die laken, en weet
hoe praat die mense in die huis met mekaar, waar ander ore nie hoor
nie. Tog is ons huishulpe baie lojaal en praat nie daaroor uit nie. Ek
kon aan niemand beter as ‘n dekades lange huishulp dink wat beter sou
kon verslag gee van wat in die Strydoms se huis en lewens aangegaan het
nie. Mama Thandeka se kennis was vir my goud werd.
Die kindertaal is baie oortuigend. Hoe kry jy dit reg?
Binne-in my (en binne-in ons almal) woon tientalle multiplicities.
Van ‘n ongeletterde, tot by Einstein, ‘n skisofreen en die engel
Gabriël; die dorpsliefling, die bose ondergrawer. En ook die klein
kindjie. Ek klim net in die emosionele vel van die kindjie-multiplicity in,
en dan kom die taal vanself. Wat dit bietjie makliker maak, is dat
Gertruida nou op 26 met die woordeskat van ‘n grootmens terugdink aan
haar kleintyd. Dit gee haar ‘n voorsprong as dit by die vertelbaarheid
van kinderinsidente kom.
Met die lees van die boek, al is Abel ‘n aaklige karakter,
ervaar mens tog soms empatie met hom. Is dit ‘n belangrike element in
die verhaal?
Dis nie soseer dat ek empatie spesifiek vir
Abel wou opwek nie. Selfs Jeffrey Dahmer en Hitler en die 11
September-bommers het prysenswaardige kante. En tog, selfs die pous en
moeder Theresa het aaklige skadukante. Dis maar hoe die mens se psige
werk. Wat ek wel graag wou regkry, is dat mense net effentjies sal
verstaan dat die Abels van die lewe nie sommer só word op ‘n slegte dag
nie. Die wanklanke en dissonante akkoorde in die mens se psigiese orkes
kom ‘n lewenslange pad. Tydens die skryfproses het ek dikwels snags
wakkergelê as ek dink wat ouers onbewustelik aan hulle kinders doen. En
ek sluit myself nie daavan uit nie. Mens moet omtrent vir alles ‘n
liksens hê, tot om vis te vang en ‘n baaisiekel te ry. Maar mens hoef
g'n liksens te hê om ‘n kind te mag grootmaak nie.
Susara is baie op die agtergrond, tog speel sy ‘n sterk rol in die hele bloedskande-onderwerp. Wei uit.
Die
waarheid is dat ongeveer 95% van alle ma's bewus is van wat aangaan. As
mens in ag neem dat bloedskande minstens in 1 uit elke 5 gesinne
voorkom, is die kans redelik goed dat die ma self as kind gemolesteer
is. Sý het dit gemaak tot hiertoe, haar dogter sal dit ook maak. Tot op
hierdie dag weet ek nie wat die Susarahs van die lewe behoort te doen
nie. Want as hulle dit openbaar maak (daar is wette wat openbaarmaking
afdwing) is die gesin in hulle maai in. Ek is so bang my nek word
morsaf gekap, maar ek dink die beste wat sy kan doen, is om agter die
toe deure van die huis in sterk alliansie met haar dogter te leef, en
om as ma-dogter-span alles moontlik te doen om sáám te probeer om sy
vlerke te knip.
Tragies, maar die meeste ma's is so afgestomp, en só angsbevange vir
publieke skande, dat hulle maar Gods water oor Gods akker laat loop.
Wat is die grootste euwel van die sosiale gemeenskap teenoor bloedskande?
Ek
weet nie. Maar dalk lê ‘n groot euwel daarin opgesluit dat die
gemeenskap nie aandring op ‘n meer effektiewe maatskaplike sisteem om
hierdie kinders én gesinne te spaar van openbare skande nie. Daar word
hopeloos te veel gepraat in hopeloos te veel ore wat nié nodig het om
dit te hoor nie.
Wat het jy oorgehou van Thula-thula na die boek geskryf is?
Die
één ding wat my nooit sal verlaat nie, is hoe sterk Gertruida is. As ek
aan haar dink, sien ek haar waar sy in die wit flennienagrok ‘n gat in
die familie-kerkhof spit om haar aaklige memorieboek te begrawe.
Hoekom dink jy moet mense die boek lees?
Dwarsdeur Thula-thula
sal bykans elke mens hom- of haarself gespieël sien in die Abels,
Susarahs en Gertruidas van die lewe. Waarskynlik in ander omstandighede
as dié op Kiepersolkloof, maar nogtans. En dis goed as ‘n mens soms
stilstaan en jouself spieël
Kyk na die video-voorlesing van Thula-thula
Bestel HIER van Kalahari indien jy nog nie die boek het nie.
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member