Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
48 views

Onderhoud met Martie Preller

Page 1
posts 1–4 of 4
superstar - founder
993 posts

Dankie, Martie, dat jy ingestem het om met Boekemakranka te gesels, ons is bevoorreg.

Dankie vir jou en julle, Trisa – vir die boek-entoesiasme wat ’n heerlikheid is vir enige skrywer/leser.

Meeste van ons ken jou as Babalela en Balkie se ma, maar jy is 'n veelbekroonde skrywer van 'n hele boekrak vol kinder- en jeugboeke. Op watter manier het dit jou gehelp om in hierdie projek in te groei?

Ek weet nie eintlik nie – behalwe dat ek baie ervaring het van baie verskillende soort stories het. Ek dink ervaring is altyd ’n bate – al is elke nuwe storie weer ’n nuwe soort uitdaging. Ek het met die baie skryf saam, mettertyd ontdek dat daar storiepatrone is, al is daar, helaas, nie storieresepte nie!

Hierdie is dan ook op 'n manier jou eerste baba. Was dit moeiliker, of makliker om vir die volwasse mark te skryf?

Dit was net anders. Wanneer ’n mens na die verskillende genres kyk, is die jeugroman nie naasteby so ver van ’n volwasse roman as wat ’n prenteboek van ’n jeugverhaal is nie. ’n Jeugverhaal is maar net ’n korter roman met jongmense as karakters, terwyl ’n prenteboek weer iets heeltemal op sy (of haar) eie is.

Elke boek het ook sy (of haar!) eie nonsens. Party was “makliker” om te skryf en ander “moeiliker”.  Hierdie boek het haar eie nonsens gehad J . Dis ook moeilik om later te onthou hoe iets gebeur het! ’n Mens onthou selektief, dink ek! Hierdie is die langste boek wat ek nog ooit geskryf het en die lengte en die gepaardgaande omvattendheid daarvan was ongewoon vir my.

Wat het jou eintlik gemotiveer om hierdie ding aan te pak?

Ek wil met albei boeke deel. Dit is vir my baie belangrik om te deel. Ek dink as elkeen deel wat vir hom/haar spesiaal is, kan die wêreld net ’n beter plek wees. Stories is vir my baie, baie spesiaal en dis wat ek kan deel. (Ek kan baie beslis nie koek bak of klere maak nie. Ek kan baie getuies inroep om dit te bevestig!)  Aan die een kant wil ek nog ’n storie deel en aan die ander kant wil ek deel wat ek ontdek het  op my reis as mens en skrywer in die land van stories waarin ons almal bly!  

Het jou karakters hulle beter gedra as wanneer hulle klein is? Of is hulle maar so wederstrewig soos die mensdom is?

O jinne nee! Die hele spul is onmoontlik. Eiesinnig en koppig en as jy hulle nie toelaat om hulle storie te vertel soos húlle wil nie, kry die hele spul van klein tot groot (van pers of wollerig tot op die oog af “normaal”) die stilstuipe of hulle pla jou in die nag, totdat jy vodde is en hulle hulle sin gee.

Ek sê "projek", want jy gee terselfdertyd 'n roman en ’n storiemaak-kursus uit. Hoe hou hierdie twee boeke verband?

Hulle het saam gebeur, dus moet daar sekerlik ’n verband wees. Ek dink (na ek klaar geskryf het wat geskryf wou word) dat die roman op ’n manier, dalk, as jy so wil, gesien kan word as ’n soort storie-manifestasie van die storiemaak-kursus. Maar jy kan die verband, indien enige, interpreteer nes jy wil. Die skrywer skryf en dan lees die leser en die leser mag en moet presies dink en doen wat hy/sy wil!

Die uitgewersbedryf verander ook noodwendig met die verandering in tegnologie, tegnies is dit makliker om jou eie boek uit te gee. Watter nuwe talente het jy ontdek in die proses?
Noukeurigheid! Ek is haastig van geaartheid, en skryf het my al klaar groter geduld geleer. Om boeke self uit te gee het my nmeer geduld geleer – wat ek waarskynlik al amper weer vergeet het en sekerlik van voor af sal moet leer. Maar dit is ’n bemagtigende ervaring om boeke self uit te gee en alles in jou eie hande te neem.

Jou storiemaak-kursus - Hoe verskil dit van wat op die mark is? Wat IS op die mark?

Ek weet nie of daar iets anders soortgelyk in Afrikaans beskikbaar is nie. Dis prakties en vol inligting – maar die lekkerste stories kom as ’n mens unieke stories kan skryf en daarom is die boek vol moontlikhede, sodat jy jou eie storiepad kan kry. Dis ook vol skryfopdragte wat die leser/skrywer in staat stel om die riglyne wat aangebied word te internaliseer en jou eie te maak. ’n Mens raak dikwels opgewonde oor nuwe maniere en dan vergeet jy alles weer – dis eers wanneer jy nuwe inligting dé van jou gemaak het, wat dit blywend is. En ’n mens leer nie fiets ry deur vir ’n fiets te kýk nie – jy moet ry! As jy moet skryf, moet jy skryf!

Gaan jy dit opvolg met werkswinkels? Het jy al 'n struktuur sodat mense jou kan nadertrek daarvoor?

Ja – daar is inligting op my webwerf daaroor.

Watter vraag het jy gehoop vra ek jou nie? Antwooord dit asseblief!

Hie Hie. Dis ’n gemene vraag ... Nie rêrig gehoop jy vra nie – maar die vraag of die stories outobiografies is of outobiografiese elemente bevat , is nogal moeilik om te antwoord, want aan die een kant is dit natuurlik nie en aan die ander kant wel, in die sin wat Kundera so mooi stel:  . . . the characters in my novels are my own unrealized possibilities. That is why I am equally fond of them and equally horrified by them. Ek dink nie een lewe is vir my genoeg nie, nou het ek baie lewens! Ek was al op ’n albatros se rug en dit was vrék koud, laat ek jou dit vertel! J

Watter vraag het jy gehoop vra ek, wat ek nagelaat het om te doen? Antwoord dit asseblief.

Ek weet nie! Julle moet maar nog vra, as julle wil.

Waar kan mense die boeke bestel, en wat kos dit?

Op my webwerf.  Die openingsaanbod is R130 + R25 posgeld. Die boeke sal ook op ’n paar plekke in die land by vriende en familie beskikbaar wees as iemand dit daar wil kry om posgeld te spaar. Boekwinkels vra 40% van die die boek se prys, dus wil ek dit liewers eers so doen.    

Baie dankie, Martie! Ek is seker daar is mense wat brand van nuuskierigheid om meer te hoor!

Meer inligting beskikbaar op Martie se Martie Preller se webwerf.


__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
regular - member
121 posts

Wonderlik, dankie!  Sal beslis op die webwerf gaan draai en my boek bestel.  En ek weet dit gaan geteken wees  :)  Oe, lekkerte op note!

regular - member
121 posts

Nadia - hoop jy sal geniet. Ek beplan om al die boeke te teken! Dis nog 'n pluspunt as alles daar jou hande loop. Sterkte daar! Dankie vir die entoesiasme!

__________________
Elke mens se lewe is 'n storie.
regular - member
118 posts

Ek sien nou eers hierdie oulike onderhoud raak. Dankie, julle twee!

__________________
Annemari
Page 1
posts 1–4 of 4

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now