SPAM aktiwiteite!
Boekemakranka het nou regtig so gegroei, dat ons 'n bedreiging vir iemand, iewers geword het!
Lede word versoek om asseblief nie te reageer op vreemde of verdagte boodskappe wat binne die volgende paar dae op die forum verskyn nie. Moet asseblief ook nie op 'n skakel kliek wat vir jou verdag lyk nie, dit lei na 'n pornografiese webwerf.
Rapporteer asseblief enige iets vreemd so vinnig as moontlik aan my, sodat die nodige stappe gedoen kan word.
Hierdie is 'n lekker sandput waar ons baie pret het en ook ernstige gesprekke voer, maar dis nie 'n speelplek vir kinders nie.
Onthou dat jy nie kan Reply op hierdie boodskap nie, as jy wil reageer, kontak my asseblief direk, of antwoord op die forum.
Heerlike knus wintergroete!
Trisa Hugo
Ek was simpel genoeg om om die skakel te kliek, het myself toe bedink en dit toe gestop - is besig om my virus scan te loop en dit het reeds iets gekry. So almal wat op daardie snaakse skakel gekliek het moet dalk dadelik julle virus programme laat werk.
Sies vir daardie een! Stephni, ek hoop nie daar's erge skade nie.
MK, laat weet ons indien nog so iets kop uitsteek, hoor!
Stephni, ek het vanoggend 'n virusscan geloop, en nou weer, en daar was gelukkig niks. Ek is absoluut paranoïs oor virusscans.
Jammer my scan is nou klaar en daar is nie 'n virus nie. Ek het nou heeltemal emosioneel gereageer. My firewall het egter wel iets wat wou deur kom gestop en daar het 'n proses (met 'n .exe leer) begin loop wat ek ook gestop/ probeer stop het. So hopelik is alles gekeer. Het my man nou weer die geleentheid gegee om te kla oor ek kies om Windows te gebruik en nie Linux nie :) Ek gaan gou bietjie my backups doen - ek is vreeslik lui daarvoor en het baie werk wat ek nie nou mag verloor nie!
Maankind, was dit forumboodskappe of advertensies in die regterkantste kolom? In watter geval ook al het jy seker 'support' gekontak. Ek het onlangs vir 'chief' 'n boodskap gestuur of te vra wanneer hy 'favicons' gaan implementeer aangesien ek gesien het hy het mense dit al 'n paar keer beloof sedert Januarie 2008 dink ek. Ongelukkig bly dit 'in die toekoms', jammer want dis iets wat ek dink sy programmeerder nie langer as 'n uur kan besig hou nie. Ek hoop hy is meer behulpsaam hieroor. As dit advertensies is, het hy beheer daaroor en moet sorg dat die advertensie by die inhoud van die forum pas. (Of is dit dalk my skuld oor 'n paar woorde wat onlangs hier verskyn het!)
Stephni ek is ook 'n Linux-'fan'. Ek het 'n paar jaar gelede probeer om my tuisrekenaar oor te skakel na Linux en gevind dis net nie moontlik nie. Sedertdien gebruik ek dit maar net vir bedieners en eksperimentele werk. Dit sou darem lekker gewees het om 'n bedryfstelsel te hê wat nie vatbaar is vir virusse nie!
Forumboodskappe, Kop. Gepos deur "lede":
biorostooda - obseleshose@gmail.com en
burribdurge - pritlyhedetry@gmail.com
Waarskynlik een persoon, wat intussen verban is, daarom is hulle epos adresse nou beskikbaar. Maar ek weet nie van julle nie, ek het nie tyd of energie om aan sulke speletjies mee te doen nie. Ek spandeer eerder my tyd om 'n nuwe inskrywing te formuleer, en ek stel voor almal doen dieselfde.
Maankind dit is maar gewoonlik mense wat met die forum niks te doen het nie en een of ander webwerf wil promoveer, ons kry dit ook baie by Wordpress, maar gelukkig het hulle 'n goeie stelsel (Akismet) wat korte mette daarvan maak! Ek hoop regtig Lefora kan "in die toekoms" so iets implementeer, ander kan dit 'n groot bedreiging inhou vir die voortbestaan van ons forum.
Soos jy sê, ons moet maar ons tyd spandeer om nuwe inskrywings te formuleer en dit doen ek ook. Ek is amper klaar met 'n nie-fiksie boek, eintlik amper 'n naslaanwerk, ek worstel nou bietjie met die laaste hoofstuk want dit is werklik meer naslaanmateriaal!
Ek lees gewoonlik een "storieboek" en een digbundel gelyktydig, ek het begin met "Die Lenige Liefde", Daniel Hugo se vertalings van Herman de Coninck.
Ek het ook 'n paar nuwe boeke onlangs ontvang van Leserkring en een gekoop. Staal Burger en ander verhale van Fanus Rautenbach, Versamelde Boesmanstories 1 van G.R. vonWielligh en Verbrande Paradys van Hans du Plessis.
Wat dink julle moet ek eerste lees?
Maak dit nog sin om aan Leserskring te behoort? (In my geval sedert hulle begin het, daar by 1981 rond)
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member