Disgrace - Die Fliek
Het iemand al Disgrace gesien? Ek wonder hoe dit met die boek van JM Coetzee vergelyk?
Leon van Nierop het op RSG die volgende gesê:
DISGRACE
Datum Uitgereik: Vrydag, 14 Augustus 2009
SNV
Regisseur: Steve Jacobs
Akteurs: John Malkovich, Jessica Haines, Eriq Ebouaney, Charles Tertiens, Scott Cooper, Monroe Reimers, Fiona Press, Paula Arundell
![]() |
![]() |
Dit handel oor ʼn professor aan die Universiteit van Kaapstad wat padgee nadat hy ʼn verhouding met ʼn student begin het. Hy beland by sy lesbiese dogter in die Oos-Kaap wat sielsalig alleen boer. Nadat drie booswigte hulle beroof en aanrand, besluit die professor om pad te gee. Sy dogter se besluit sal jou die hande laat saamslaan.
Onthou, DISGRACE
is gruwelik realisties en omtrent so vrolik soos ʼn glimlag op ʼn
begrafnis. Baie mense wat keelvol is vir die geweld in die land sal nog
verder onder die indruk van ons probleme kom. Dis jammer dat, alhoewel
die Australiese regisseur Steve Jacobs se motiewe goed was, die
rolprent nie na Suid-Afrika lyk nie, veral omdat Petrus, ʼn Xhosa, deur
ʼn Franse akteur gespeel word. Dit doen ernstig afbreek aan die rolprent
se geloofwaardigheid. Jy moet hare op jou bors hê vir die rateltaai DISGRACE.

Is nie van plan om die filmweergawe van Disgrace te gaan kyk nie. Ek het die boek gehaat en wonder steeds hoe op dees aarde dit die Nobelprys kon wen. Daar is wragtag beter boeke in ons land wat bekroon kan word.
Die hele idee dat 'n plaaslike storie verfilm word met oorsese spelers steek my dwars in die krop. Dit het hier gebeur en ook met die verfilming van The Bang Bang Club - hoewel daar darem van ons plaaslike akteurs ook in is. Ek weet nie eers of ek daai fliek wil gaan kyk nie - ek ken die ouens van die BBClub, so ek dink nie die filmweergawe sal vir my werk nie.
Stephi, miskien is dit beter as jy Disgrace as fliek moet gaan kyk as my nie die boek gelees het nie - dan kan jy dalk 'n soort van objektiwiteit handhaaf, maar ek stem saam - Marguerite Robinson moes darem al teen die tyd die boek gelees het.
Ek is gewoonlik teleurgesteld as ek die filmweergawe van 'n gunstelingboek sien - Hulle verander dit so dat jy nie eers die oorspronklike storie herken nie. Sprekende voorbeeld - The Legend of the Seeker op DSTV - gebaseer op Terry Goodkind se wonderbaarlike Sword of Truth-series. Het een episode gekyk en al wat met die boek ooreengestem het, wat die karakters se name.
Die enigste ware uitsondering was All the President's Men - Woodward en Bernstein se boek oor die Watergate. As jy nie die boek gelees het nie, het jy nie die fliek verstaan nie.
So verskoon my maar as ek Disgrace sal oorslaan.
Anita, ek het ook so oor Disgrace gevoel. Dit het my depressief gelaat en met ʼn gevoel van futiliteit oor die toekoms van Suid-Afrika. Maar ek dink miskien verdien die boek ʼn herlees.
Maar ek het onlangs na ʼn lesing oor die tragedie gaan luister en die spreker het gesê dat hy ook by die eerste lees gedink het die boek is ʼn “disgrace.” Later het hy egter besef dis gegrond op die tragedie. Die boodskap van ʼn tragedie is dat jy op aarde is om die lewe te beheer, dit bloots te ry. Dit werk nie vir die prof. in Disgrace nie, soos dit ook in tipiese tragedies nooit werk nie.
Die lewe breek jou altyd, is die boodskap van die tragedie. Jy nie wen nie. Maar op die ou end is die besef wat troos: ek het probeer.
ʼn Griekse tragedie is gebaseer op ʼn mite, en mites handel oor hoe die liefde ineengestrengel is met die dood. Dit gáán ons tot sterwe bring, dis onvermydelik. Volgens mites se plot is die mens vasgevang in sy omstandighede.
En die boek het ná alles die Nobelprys gewen. Dit sê seker iets. Ek dink ek gaan die fliek kyk en bg. in gedagte hou. Dalk help dit.
Ek gaan eerder die boek weer lees as om die fliek aan te durf. Die Fransman as boosaard gaan nie vir my werk nie. Nie die Disgrace wat in ons land afspeel nie. Mens wil mos kan assosioeer. Op dieselfde manier wat Treppie in die fliek nie vir my die Treppie in die boek Triomf was nie.
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

