Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
72 views

Kubermens - Eveleen Castelyn

Page 1
posts 1–11 of 11
regular - member
90 posts

Kubermens
Toe hierdie digbundel in 1999 verskyn het, het ek beslis nog nie ‘n kuberlewe gehad nie, wel al by die werk, maar internet by die huis – veral ‘altyd-aan’ internet – was eenvoudig te duur.  Dit was dus vir my verassend om die bundel tweedehands raak te loop en die datum van publikasie voorin te sien.  Nou is dit vir my nog meer verstommend om te sien dat dit geskryf is deur iemand wat in 1928 gebore is!


“Eveleen C@stelyn”, spel sy haar naam op die voorblad.  Die voorbladontwerp is nie baie verbeeldingryk nie, as ek dink aan voorblaaie van wiskunde- en rekenaarwetenskaphandboeke wat ek gehad het, met een of ander konstruksie van nulle en ene of blokkies wat uitmekaarval.  Maar ek het die tweedehandse bundeltjie uit die rak in die boekwinkel gehaal, na die inhoudsopgawe en eerste paar gedigte gekyk, en ek kon dit nie weer terugsit nie.
Die bundel bestaan uit vyf afdelings, maar begin eers met ‘n inleidende gedig,


MITES VAN DIE HEELAL

I have.. a terrible need… shall I say the
word? … of religionl. Then I go out at
night and paint the stars.
Vincent van Gogh

sterrekundiges in digterlike
wit jasse skryf poëtiese
mites en sprokies van die Heelal
maak somme
met kwantummeganika
en soek
in hulle wildste drome
na die boustene van atome:
leptons en elektrone
en kwarke het se geure:
“op, af, sjarme, vreemd
waarheid en skoonheid”
….
I, Kuberruimte, bestaan uit net drie gedigte. Die reus van IBM, oor die skaakspelle van Deep Blue teen Kasparov.  ‘n Diep stem kom uit sy binneste:  / my hart is potblou verkluim / diepblou soos ‘n blok ys gevries – / ek is vreesloos en boos / vreesloos en boos . . . Jernigan, die Sigbare Man, oor die veroordeelde moordenaar Joseph Paul Jernigan wat sy liggaam tot beskikking van die wetenskap gestel het om te dien om data vir driedimensionele beelde van die menslike liggaam beskikbaar te stel.   Rekenaarbeelde van sy liggaam kan bv. hier besigtig word. Kuberkomponis: Uit die EMI-rekenaar / kom die klassieke klanke / van Johann Sebastian Bach … Kuberkomponis EMI / het geen passie of geheue nie / ken geen vreugde,  liefde eensaamheid / of diep gevoelens nie.


II, “As die mens God speel”, bestaan ook net uit drie gedigte.  Die aarde treur, dit verwelk, gaan oor die gooi van die eerste atoombom: Die Enola Gay draai / skerp om, duik weg / van die hel / waarin hulle afkyk // die medevlieënier / skryf in sy dagblog // “Here, wat het ons gedoen”.  Tjernovil, oor die Russiese kernreaktor wat ontplof het.
Gestorwe planeet:

Aerosolkannetjies pons gaatjies
in die dun osoondoek rondom


Menslike faeces in die bergstrome:
reviere mond uit in ‘n riool-
oseaan, perdjies met blink
gekamde olieswart kuiwd
en skuimende rasende bekke
slaan dood neer, gevrekte visse
en voëls soos skulpe uitgespoel
op die strande, sing die swanesang
van ‘n verlore paradys

gestorwe planeet
gemaak met mensehande


III, E-pos, klink baie belowend gesien die tema van die bundel, maar ongelukkig begin die tema hiervandaan heeltemal degenereer.  Ek het eenkeer ‘n praatjie van Prof. Hans du Plessis oor kreatiewe skryfwerk bygewoon, waarin hy gesê het mense stel nie belang in jou persoonlike intriges nie, jy moet dit “vertaal”.   Hier maak die skryfster haar dalk hier en daar skuldig aan die oortreding van daardie reël, bv. in “Voorbode” wat blykbaar gaan oor die dood van ‘n familielid.  Nie dat daar iets mee verkeerd is nie, sulke gedigte kan dikwels baie beteken vir mense in soortgelyke omstandighede, neem bv. die twee (mooi) gedigte, Swaar Week en Gekweste wat handel oor borskanker. (Haar eie, wonder mens?)


Niks skakel egter regtig vreeslik in by die e-pos of kuber-idee nie.  Tog is daar hartroerende gedigte soos Huis in ‘n Boks en ‘n Boemelende Kersfees, wat miskien tog iets oor die mense van ons tyd sê.  Sao Paulo van ver af gesien (1997), waar Villeneuve wen / in ‘n Williams Renault is nogal vir my spesiaal – ek het eers in 2000 begin Formule 1 kyk, maar daarna het Jacques Villeneuve nog ‘n hele paar jaar gery en sy troetelnaam by ons was Willeneef.  Gesien al die tegnologie wat gebruik word in F1 pas dit seker in die tema? Daar is ook ‘n gedig wat ‘n parodie is op Elisabeth Eybers se gedig Maria, Onze Lieve Vrouwe Gasthuis (vir Biddy), In die fleur van jou lewe / skryf jy ‘n gedig oor Maria / nooi van Nasaret: / ‘n Engel het dit self gebring / en sy het ‘n lofsang / tot God’s eer gesing; / toe bure-agterdog haar pla / en Josef haar wou skei, ens.  As ek hiervan geweet het sou ek dit liewer aangehaal het by die dood van Elisabeth Eybers.


IV, Westransvaal Blues, bestaan uit 9 kort verse waarvan 8 kwatryne en een vyfreëlige vers, almal oulik, maar met geen verband met die tema Kubermens wat ek kan raaksien nie.


VI, Tankas , ‘n twintigtal tankas.  ’n Tanka is ‘n vyfreëlige versvorm van Japanese oorsprong soos die Haikoe, in hierdie geval met ‘n lettergreeppatroon van 5-7-5-7-7.   Weereens is die gediggies baie mooi maar meestal sonder verband met die bundeleenheid, behalwe miskien hierdie een:


die hadidas roep
skreeuende telefone
in hospitale,
duiwe koer besetseine
op ongevalle-lyne


Die tema in I en II blyk meer te omvat as net nie mens in die kuberruim, maar ook in die algemeen die mens en tegnologie.  Dis jammer dat die interessante tema so gou in die boek doodloop, miskien sou dit beter gewees het as die bundel ‘n meer oorkoepelende naam gegee was, met afdelings I en II saamgegroepeer onder die opskrif Kubermens, miskien uitgebou met van die ander gedigte wat dalk wel inpas.  Of was daar dalk, toe die kuberruim nog relatief nuut was in 1999, net eenvoudig nie tyd om meer aandag aan die samestelling van die bundel te gee nie, uit vrees dat iemand anders eerste op die rakke is met ‘n soortgelyke idee?


Desondanks die effense probleem met die bundel-idee, is dit ‘n lekker bundeltjie wat mens maklik in ‘n halfuur of so kan deurlees.  Dis jammer dis glad nie op die oomblik in die handel beskikbaar nie, maar dalk kan jy soos ek ‘n tweedehandse kopie in die hande kry, of in ‘n biblioteek.


Verwysings:

castelyn-eveleen

Eveleen Castelyn, 1928-2004  (Foto: Vuurklip)
‘n Kort biografie is hier beskikbaar.
Joan Hamibidge skryf in Litnet,  Bon Voyage, Eveleen Castelyn op 13 Desember 2004:

Dalk sal ons minder bly uitstel,
leef vir die tevergeefse oomblik,
op ‘n soekende kuberreis
tot stilte kom.
As jy vanaand vir Cas sien,
jou Sjinese mandaryn,
sê vir hom ek bewaar
sy bottel Franse sjampanje
net tot en met sonsopkoms. Op
‘n vol en gulle samesyn.



Ek weet nie wie die Cas is na wie Hambidge verwys nie, toevallig haal Cas Vos ook Jernigan, die Sigbare Man aan.


Groete,
Chris
(My Kop Op 'n Blok! http://mykopop.wordpress.com)

regular - member
198 posts

Dankie vir die stuk oor Eveleen Castelyn.  Sy is een van ons vergete digters soos ook Olga Kirsch en Ina Rousseau - vrouedigters wie se werk nog altyd tot my gespreek het.

Aan Nadia, geluk met die boek.  Hoop dit verkoop goed.

Verder, Huisgenoot het darem die week sy Boekebylaag in gehad.  Het nie veel om die lyf nie, maar die artikels oor Daniel Hugo en TT Cloete was tog insiggewend.  Soos julle sê, daar is darem iets oor boeke in.

regular - member
121 posts

Dis baie interessant. Voorwaartse vrou gewees! Dis baie lekker as iemand sulke dinge uithaal en deel. Ek het nog nooit van haar gehoor nie!

__________________
Elke mens se lewe is 'n storie.
regular - member
90 posts

Dankie Martie, dis 'n voorreg om jou ook op ons forum te hê, welkom!  Hier in my kas staan 'n boekie van jou, "Eendag was daar 'n storie".  Ek het so bietjie daarin gelees tot daar 'n oefening was, toe het ek 'n lêer daarvoor op my rekenaar geskep...  My verskoning is, ek moet nog 'n lewe maak ook tussenin!  Daarna het ek darem toe al my eerste kinderstorie sommer net geskryf sonder om te leer!

Met my skrywes oor boeke probeer ek ook maar net my beskeie deeltjie doen, al het ek nie opleiding in die rigting nie.  Met boeke waaroor baie geskryf word, is dit vir my maar sommer gesels, maar met minder bekende boeke soos hierdie een, waaroor ek terloops geen resensie op die internet kon kry nie, hoop ek dat iemand wat soek, eendag as ek lankal groener (blouer, gouer?) ruimtes opgesoek het, dit nog steeds iewers in die kuberruimte sal aantref!

regular - member
121 posts

Haai Kop! Dankie. Ek het 'n paar maande gelede ook hier rondgehang en dit het baie vir my beteken. Toe moes ek eers weer goete klaarmaak en my aandag is vreeslik afleibaar, dan probeer ek maar myself in toom hou. Daar is so baie fassinerende dinge en skrywes.

COOOl vir jou van die kinderstorie! Ek dink ons het storiepatrone in ons en ons ontwikkel dit deur te lees en te skryf! Mens leer ook maar so al doenende!

Ek het op jou en Nikita se blogs gaan loer en dit lyk vir my na welige weivelde! :) Wonderlik as ons deel waaroor ons opgewonde raak. Ja, ja - ek dink ook so oor die internet en oor boeke ens. Ons gee ons deel en dit hang maar so rond op maniere en dit raak en interesseer weer iemand anders ens so aan. Dis wat so lekker is aan deel.

NS. Ek sien op jou blog jy is aan die verkeerde kant van 1960 gebore :) EK is aan die verkeerde kant van 1950 gebore ... Dis wonderlik die draaie wat 'n mens se lewe neem. Waar jy orals moes aandoen ens ens. Vir seker is ons lewens ook stories. Laaaang stories!

__________________
Elke mens se lewe is 'n storie.
regular - member
198 posts

Hi kop.  Jy het 'n baie interessante webblad.   Poësie is my groot liefde in die lewe. 

Wil nou baie vermetel en voorbarig wees, maar ek wil weet of ek die Breederivier Skrywersburo as 'n skakel daarby kan aanheg.

Die buro is daarop gemik om jong, nuwe en amateurskrywers te help om hulle werk te ontwikkel en te evalueer.   Sien die skakel Breederivier Skrywersburo op Boekemakranka.

Ek vra groot asseblief - ek sal kruip ook as dit moet.

Groete ,   Anita de Kock

regular - member
121 posts

Anita - Gaan kyk op Facebook - Holderstebolder het so skryfding en wenke ens begin. Dis baie blootstelling (dalk)

Is jy op storiewerf.co.za ook? Daar is ook baie mense (en jongmense) wat wil skryf ens.

Het julle iets te doen met die weltevreden ding - skrywers retreat lyk dit my daar in jou wereld. Is genooi om Vrydag na opening te gaan. Wil baie graag daai wereld weer sien. Was baie lanklaas daar. Hoop ek sien jou dalk daar?

Ek het toe iemand plaaslik gekry om boeke te redigeer. Was net makliker as ek daar kan inval ens. Maar julle lewer broodnodige diens. Sterkte.


__________________
Elke mens se lewe is 'n storie.
regular - member
90 posts

Dankie Anita vir die kompliment oor my blokkie!  Ek het nogal lank laas my sg. Blokkerol op datum gebring, daar is al heelwat ouens daarop wat ophou skryf het of selfs hulle hele blogs uitgewis het.  En ek moet bieg ek het nog nie eens Boekemakranka daarop nie!  Die opdatering is al 'n rukkie in my agterkop, ek sal probeer tyd maak en Boekemakranka, Breederivier en miskien nog 'n paar skakels van lede hier se webwerwe bysit.

regular - member
198 posts

Hi Martie.  Bankie vir die raad oor storiewef en Holderstebolder.  Sal werk maak daarvan. 

Weet niks van die weltevreden-ding af nie.  Laat my bietjie weet.  Ek het geen uitnodiging gekry nie - hulle weet seker nie eers van my af nie.


Die Google Reader klink baie interessant - kan iemand my asseblief vertel hoe om dit in die hande te kry - want ek het nie juis 'n "clue" nie.

Ek is darem al op Facebook (danksy my broerskind), maar sukkel maar nog om dit aan die gang te kry.  Wil die skrywersburo ook daarop sit - het probeer om die links te volg wat hulle gee - so ek dink ek het 'n blad of wall of wat ook al gestig, maar weet nie hoe om dit verder te doen is.

Hey Kop, daai boekie van Martie oor stories skryf, is 'n aanwins vir enige boekmens.  Hy staan op my rak en ek gaan gereeld terug daarheen as ek my "skryfstudente" iets moet leer.   Ek hoop nie Martie gee om dat ek haar boek gebruik nie, maar ek gebruik alles wat ek nuttig vind - en ek smous skaamteloos met Hennie Aucamp se handleidings - en alles wat hy my so oor 'n geselsie oor die foon vertel.  

As jy nie weet hoe nie, sit by die voete van die meesters en lees.  Met daardie woorde ......

Ek sal enige rekenaarmeester se voete soen, newermaaind daarby sit, as hulle my die pad in die tegnologiese duisternis kan wys.

regular - member
121 posts

Anita - Martie gee glad nie om nie :) Is baie bly as dit kan help erens! Ek is toe nou nie na die weltevredending nie. Was in Durbanville en effe rowwe tyd daar met kleintjies wat toe moes heen en weer hospitaal toe vir allerhande mishaps. Maar almal darem fine - ouma is net vodde! Lyk my daar is skrywershuisies waar jy kan gaan bly en groot lokaal met baie boeke ens.

__________________
Elke mens se lewe is 'n storie.
regular - member
198 posts

Martie ek sal beslis gaan uitvind van Weltevreden en wat daar aangaan.  Dit klink na iets heerliks.  Sal laat weet sodra ek weet.

Ek leef en bly tussen ouma's en kleinkinders.  Geniet dit solank jy kan.  Hulle word so gou groot.
Anita

Page 1
posts 1–11 of 11

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now