Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
38 views

LANDSKAP MET DIERE Welma Odendaal

Page 1
posts 1–2 of 2
superstar - founder
993 posts


LANDSKAP MET DIERE - Welma Odendaal

Die flapteks van ’n boek is die ­opsomming wat gewoonlik heel ­agter op die boek verskyn. Dit is ’n aspek van uitgewery wat in resensies min aandag kry en wat tóg belangrik is. Natuurlik is ’n flapteks ook reklame, uiteraard het die skrywer soms meer as net ’n handjie daarin en dis voor die hand liggend dat dit moet bydra om jou te laat besluit of jy die boek wil koop.
Welma Odendaal se nuwe bundel kortverhale, Landskap met ­diere, uitgegee deur Human en Rousseau, is egter ’n goeie voorbeeld van ’n boek waar die suiwer en min woorde en die insigte in die flapteks ook ’n belangriker diens kan lewer.

Dit kan ’n invloed hê op die leser se eerste lees, se eerste ­indrukke. Die flapteks se ver­wysing na die “groter strominge van die tyd” en die “herkenbare ­sosiale en politieke landskappe” van hierdie ver­hale praat van sowel die eerste paar “ouer” soort verhale as al die ­daaropvolgende “nuweres”; die ­leser word bedag gemaak daarop dat nie die verskille belangrik is nie maar die tematiese ooreenkomste: verguising, (seksuele) dwang, verlatenheid, vreemdelingskap – die hele skala in die “verdierliking” van die titel.

Odendaal se bydrae tot die ­tendense wat in die Afrikaanse kortverhaal teen die einde van die vorige eeu aksent gekry het, was nie min nie. Voorop staan “Mamy Blue en ek onthou” uit Getuie vir die naaktes ( 1974) met sy “nuwe ­gevoelighede” (Aucamp) vir die verstrengeldheid en gevarieerdheid van die seksuele in menslike aan­getrokkenheid, asook die “struggle”- verhaal “Baker” uit die tweede gedeelte van Keerkring (1977). Belangrik is ook die herevaluering van die rol van die tradisioneel beskermende vaderfiguur (wat ook by Corlia Fourie en F.M. Gilfillan voorkom) in haar ­verhaal, “My Pa” uit Verlate plekke (1991).

“Gestroopte karakters in ontmaskerende situasies,” het Elize Botha haar eerste bundel op­gesom. Verwant aan die wêreld van John Miles.

Gestrooptheid is ook vir Landskap met diere ’n kodewoord. In die opmerklik baie reise en dwaaltogte in hierdie verhale is nie net die figure nie, maar ook die ruimtes soms gestroop tot name en opsommende indrukke van kort ­verblywe. Die wonderlike in Odendaal se prosa is egter hoe “die gewoonste voorwerp met betekenis gelaai word” (die flapteks).

Gestrooptheid gaan in hierdie bundel gepaard met sug­gestie. In “Mooinooi”, in die uit­stekende ­titelverhaal en in die ­ligter maar uitstekende “Noot vir noot” word dit aan die leser oor­gelaat om die verhaal van die vrou en die kind langs die pad, dié van die doodskiet van die hond en die vraag na óf daar ’n kind gebore is te “voltooi”, in te vul. Dit begin al met die fyn, tekenende gebarespel ­tussen die ma en die tuinman in “Johannes gaan huis toe”.

By gebrek aan ruimte sonder ek twee verhale uit. Die titelverhaal is tegnies ’n waagstuk wat meesterlik geslaag het. ’n Meisie wat ’n kind verwag van die “breins van Bonteheuwel” moet besluit of sy wil trou en die kind hou. In ’n tweeluik wat in 1986 begin en in 2007 eindig en waarin elke segment begin met ’n gekursiveerde rapper is dié ­verhaal veel meer as aanklag teen die nuwe orde; ter sake is die broosheid van elke nuwe begin (kalf én kind) binne die konteks van verval.

In “Sportdag” word emosionele afpersing, eensaamheid, weerloosheid en gewelddadigheid saam­getrek. Soos ook in ander verhale is daar op die ­agtergrond in die bure se ­gesprekke wel die “gemurmel” van moontlike groot verdriet in die ver­hou­ding tussen ’n gestorwene en sy afwesige ­geliefde. Hoe die onvoorspelbare in minder as twee bladsye teen die slot die ondraaglike blootlê in háár, die geliefde, se verhaal, is werklik meesterlike vertelkuns.

Landskap met diere is Welma Odendaal se beste bundel.

HUMAN & ROUSSEAU, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 192 BLADSYE, ISBN 9 780 79815 035 4

(Abraham de Vries in Die Burger)

Bestel Landskap met diere HIER van Kalahari.

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
regular - member
90 posts

Ek het ook vanoggend die stuk gelees op Die Burger, dit lyk na 'n boek wat ek graag op my lysie wil sit!

Page 1
posts 1–2 of 2

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now