Page
1
posts 1–2 of 2
+0
permalink
LANDSKAP MET DIERE - Welma Odendaal
Welma Odendaal se nuwe bundel kortverhale, Landskap met diere,
uitgegee deur Human en Rousseau, is egter ’n goeie voorbeeld van ’n
boek waar die suiwer en min woorde en die insigte in die flapteks ook
’n belangriker diens kan lewer.
Dit kan ’n invloed hê op die leser se eerste lees,
se eerste indrukke. Die flapteks se verwysing na die “groter
strominge van die tyd” en die “herkenbare sosiale en politieke
landskappe” van hierdie verhale praat van sowel die eerste paar “ouer”
soort verhale as al die daaropvolgende “nuweres”; die leser word
bedag gemaak daarop dat nie die verskille belangrik is nie maar die
tematiese ooreenkomste: verguising, (seksuele) dwang, verlatenheid,
vreemdelingskap – die hele skala in die “verdierliking” van die titel.
Odendaal se bydrae tot die tendense wat in die
Afrikaanse kortverhaal teen die einde van die vorige eeu aksent gekry
het, was nie min nie. Voorop staan “Mamy Blue en ek onthou” uit Getuie vir die naaktes
( 1974) met sy “nuwe gevoelighede” (Aucamp) vir die verstrengeldheid
en gevarieerdheid van die seksuele in menslike aangetrokkenheid, asook
die “struggle”- verhaal “Baker” uit die tweede gedeelte van Keerkring
(1977). Belangrik is ook die herevaluering van die rol van die
tradisioneel beskermende vaderfiguur (wat ook by Corlia Fourie en F.M.
Gilfillan voorkom) in haar verhaal, “My Pa” uit Verlate plekke (1991).
“Gestroopte karakters in ontmaskerende situasies,”
het Elize Botha haar eerste bundel opgesom. Verwant aan die wêreld van
John Miles.
Gestrooptheid is ook vir Landskap met diere
’n kodewoord. In die opmerklik baie reise en dwaaltogte in hierdie
verhale is nie net die figure nie, maar ook die ruimtes soms gestroop
tot name en opsommende indrukke van kort verblywe. Die wonderlike in
Odendaal se prosa is egter hoe “die gewoonste voorwerp met betekenis
gelaai word” (die flapteks).
Gestrooptheid gaan in hierdie bundel gepaard met
suggestie. In “Mooinooi”, in die uitstekende titelverhaal en in die
ligter maar uitstekende “Noot vir noot” word dit aan die leser
oorgelaat om die verhaal van die vrou en die kind langs die pad, dié
van die doodskiet van die hond en die vraag na óf daar ’n kind gebore
is te “voltooi”, in te vul. Dit begin al met die fyn, tekenende
gebarespel tussen die ma en die tuinman in “Johannes gaan huis toe”.
By gebrek aan ruimte sonder ek twee verhale uit. Die
titelverhaal is tegnies ’n waagstuk wat meesterlik geslaag het. ’n
Meisie wat ’n kind verwag van die “breins van Bonteheuwel” moet besluit
of sy wil trou en die kind hou. In ’n tweeluik wat in 1986 begin en in
2007 eindig en waarin elke segment begin met ’n gekursiveerde rapper is
dié verhaal veel meer as aanklag teen die nuwe orde; ter sake is die
broosheid van elke nuwe begin (kalf én kind) binne die konteks van
verval.
In “Sportdag” word emosionele afpersing,
eensaamheid, weerloosheid en gewelddadigheid saamgetrek. Soos ook in
ander verhale is daar op die agtergrond in die bure se gesprekke wel
die “gemurmel” van moontlike groot verdriet in die verhouding tussen
’n gestorwene en sy afwesige geliefde. Hoe die onvoorspelbare in
minder as twee bladsye teen die slot die ondraaglike blootlê in háár,
die geliefde, se verhaal, is werklik meesterlike vertelkuns.
Landskap met diere is Welma Odendaal se beste bundel.
HUMAN & ROUSSEAU, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 192 BLADSYE, ISBN 9 780 79815 035 4
(Abraham de Vries in Die Burger)
Bestel Landskap met diere HIER van Kalahari.
Page
1
posts 1–2 of 2
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member