Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
79 views

Heupvuur-vrae aan Annelie Botes, skrywer van Thula-thula

Page 1
posts 1–1 of 1
superstar - founder
993 posts

Heupvuur-vrae aan Annelie Botes, skrywer van Thula-thula
Melt Myburgh op LitNet


Annelie Botes se jongste roman, Thula-thula, het Suid-Afrikaners aan die praat. Melt Myburgh het haar genader met ʼn sarsie heupvuur-vrae en in die proses sy stoel kwytgeraak na ʼn onbehoorlike lagbui.
Jy het omtrent tien jaar gelede al begin praat van ʼn boek met die titel Thula-thula. Hoekom moes lesers so lank wag vir hierdie publikasie?
Jy onthou nie goed nie; dit was sedert 2002, dus sewe jaar. Die universe het ʼn klomp stokke in my speke gesteek, en die baaisiekel se wiel het dikwels voor my oë dwarsgedraai.
Eers het ek myself byna kranksinnig gehad met foreign exchange. Toe spring ek met ʼn toeristevisum en 800 pond in my sak op die vliegtuig en gaan pas vir ʼn jaar lank my ou granny op in Engeland.
Skaars vyf maande terug van Engeland af, toe klim ek wéér – hierdie keer as goewernante van vier allerhelse stout koninklike bliksempies in ʼn ou klipkasteel amper op die grens van Wallis. Wat ek dáár deurgemaak het, is genoeg stof vir ʼn roman.
Intussen het daar ʼn ander Afrikaanse roman oor bloedskande verskyn, en ek het dit goed gedink om dinge bietjie te laat afkoel voor ek mý weergawe op die boekrakke laat beland. Intussen is Broodsonde uitgegee, en ook Sabbatsreis is geskryf en verby die drukkers.
In 2007 het ek begin met die werklike skryfproses van Thula-thula, en in April 2008 is my skootrekenaar op ʼn crucial tyd uit my huis gesteel, terwyl ek lê en slaap. Ek was reeds op bladsy 265, en het net back-ups gehad tot op bladsy 143. Geen mens sal ooit kan begryp wat dit aan my gees gedoen het nie. Só het die tyd gevlieg.
Maar miskien is dit presies hoe alles moes gebeur, want op die ou end het die suiwerste-suiwer uit my siel op die papier beland. Seker uit pure loutering. En so hartseer soos die tragedie by Paarl Printers was, het dit ook bygedra tot die oponthoud na die einde toe, want skaars was Gertruida twee dae daar by Paarl Print, toe gebeur die tragedie. Sy het self ʼn paar lelike skroeimerke opgedoen.
Ai, my kop kap deesdae vreeslik aan. Volgens alle aanduidings is Thula-thula ʼn wegholsukses. Kan jy asseblief bietjie uitbrei daaroor?
Ek weet nie mooi wat om te sê nie. Tafelberg het begin met 17 000 as ʼn eerste oplaag. Presies ʼn maand nadat Thula-thula uit die drukkersoonde gekom het, is ʼn tweede druk van 8 000 bestel. Dit moet bepaald ʼn aanduiding wees dat die mark die boek wíl hê.
Baie geluk! Tydens die Volksblad-kunstefees het lesers baie emosioneel gereageer op jou boek. Hoe ervaar jy die reaksies tot dusver?
Oorspronklik was ek so bang vir die reaksie dat daar sulke klein blasies op my vel uitgeslaan het. Vreeslik gejeuk. Maar die hemele is my getuie: tot hiertoe het ek nog géén reaksie gehad wat dui op walging, afstoting of bek-uitspoel nie. Inteendeel. Lesers vind Gertruida se oorlewingskrag bykans soos ʼn innerlike resonansie van hulleself. En iedereen voel ek het die skokkende skote in die gesig met baie deernis hanteer.
ʼn Reaksie wat ek dikwels by ʼn gehoor gewaar, is ʼn stil-stomheid. Amper asof elkeen wag vir iemand anders om iets te vra of te sê. Maar as die bespreking eers op dreef kom, kry ek nie die mense gestop nie. Hulle wil altyd nog en nog vra.
Ek onthou hoeka jy het daar op Bedford in die Oos-Kaap die hel uit die kerkorrel gespeel. Lyk my mens kry jou nie uit ʼn kerk uit nie.
Ek speel al amper twee jaar orrel by Patmos-gemeente hier in die Baai. Ons sit van Januarie af sonder predikant, en uiteindelik het ons nuwe predikant vandag (Sondag 2 Augustus) begin. Aldus was ons vir baie maande afhanklik van aflospredikante. Verlede Sondagaand preek ds Danie Mouton (van die sinodale kantoor). Goeie prediker, hy. Altyd interessant as hy die Bybelgeskiedenis netjies in gleuwe inpas, en mens duidelik laat verstaan wáár is jy in terme van tyd, en hoe was die gewoontes en vermoëns en kultuur van daardie tyd.
Ewentil. Só preek hy uit Lukas 24 van die twee Emmausgangers by wie Jesus die Sondag ná sy kruisiging aangesluit het op hulle reis. Sy teksvers was vers 15:
Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop.
Ds Mouton het dit besonder fyn deurgetrek na die onsekerheid en praatjies en gissings en ontsteltenis wat die mensdom ervaar het direk na die kruisiging. Mooi uitgelig hoe die kommunikasiestelsel in daardie tye gewerk het. Hoedat hierdie twee mense op pad na Emmaus geen belangrike mense was nie, en ook maar gissend oor wat nou eintlik gebeur het. Gladweg het hy dit oorgedra na vandag se dae waarin ons almal gis en wonder en onseker is en twyfel oor die waarhede van die lewe. Maar al erken ons Hom nie altyd nie, kom loop Jesus altyd langs ons, preek ds Mouton. Sáám op reis met ons doodgewone mense.
En ineens slaan hy oor en sê dankie vir ʼn boek soos Thula-thula; ʼn boek wat saam met ons op die pad kom loop en baie mense na ʼn bestemming van begrip lei. Dánkie, sê hy, en al verstaan ons dit nie, moet ons weet dat God op Sy manier ook saam met bloedskendige kinders loop.
Ek, wat net die orrelis is, was geruk tot in my gedermtes. Ds Mouton is ʼn saggeaarde man en ek dink hy is taamlik eng, of só het ek hom oor die maande heen opgesom wanneer hy soms by Patmos gepreek het. Daardie man uit die sinodale kantoor sou hom nié vereenselwig het met ʼn stuk gemors nie. En as die boek beskaamlik was, sou hy nié in die kerk daarvan gepraat het nie.
Die afgetrede ds Frans Nel, voorheen van Sonheuwels se gemeente, se vrou, Linde, het die boek direk na verskyning gelees. ʼn Preutse vrou; seker maar só gebeitel deur die jare waarin sy in die kollig van heiligheid móés staan daar by Sonheuwels. En Linde kan nie uitgepraat raak oor Thula-thula nie.
Ds Lindo Pieters van Boshof in die Vrystaat het laat weet dis die roerendste boek wat hy al ooit gelees het. Die afgetrede ds Wim Fourie, voorheen van Kroonstad, reken alle ouers behoort verplig te word om die boek te lees.
Nou’t ek genoeg gerave met behulp van dominees.
Terug by die Volksblad-fees: daar het jy kritiek uitgespreek teen die ouderdomsperk van 18 wat die P ublikasieraad Thula-thula opgelê het. Wat was hulle redes daarvoor en hoekom verskil jy van hulle?
Nee, ek het nie kritiek uitgespreek nie, ek het net vertel hoe dit gebeur het. En inderwaarheid het ek gesê dat ek dankbaar is vir my én Tafelberg se onthalwe dat dit só gebeur het, omdat dit ons ʼn vorm van beskerming gee. Ek het nooit die Publikasieraad se redes op papier gesien nie, en stel ook nie belang nie.
Eerstens wil ek net verduidelik waarom Thula-thula by die Publikasieraad gaan draai het. In 1996 is ʼn wet uitgevaardig waarvolgens alle kinderseksualiteit outomaties geklassifiseer word as kinderpornografie. Al is dit ook ʼn dikbladsy-kinderboekie oor Waar kom ek vandaan? en daar is ʼn tekeninkie van ʼn tottertjie, dan moet dit volgens wet aan die Publikasieraad voorgelê word.
Die skrywer of uitgewer besluit nie wat is die norm nie; dit is die Publikasieraad se werk. Hulle mag nie die publikasie van ʼn boek (of fliek of DVD of wat ook al) verbied nie, maar hulle mag die verkoop, verpakking en verspreiding daarvan reguleer, ter beskerming van kinders.
Hierdie wet is later van tyd (2004) nóg strenger aangepas. Maar in hierdie malhuis van ʼn land, waar administrasie eintlik nie meer bestaan nie, het niemand hulle aan dié wet gesteur nie, en daar het talle boeke verskyn waarin kinderseksualiteit ter sprake kom, sonder die wete of goedkeuring van die Publikasieraad. En dít is nogal iets waaroor ek moerig is. Van hierdie ongekeurde boeke is selfs as voorgeskrewe boeke op skool goedgekeur.
Maar my uitgewer by Tafelberg, Riana Barnard, is betyds deur ʼn kundige attent gemaak op hierdie wet se bestaan. En só het ons almal saam besluit dat dit die eerlike en skoon pad is wat ons sal volg. Come what may ...
Thula-thula het nie ʼn ouderdomsbeperking gekry omdat dit ʼn vieslike of afstootlike boek is nie, só glo ek vas, maar omdat dit ʼn gevaarlike boek kan wees as ʼn tiener dit sonder begeleiding lees. Die boek vertel nie net die eensydige kant van die slagoffer nie, maar gaan ook ekstensief in op die situasie van die ma wat geweet het, maar stilgebly het. En dit gaan heluit diep in die totale lewe van die oortreder in. In so ʼn mate dat mens soms simpatie met die oortreder voel. Want hierdie monster-optrede van hom is nie iets wat sommer op ʼn dag uit die bloue lug val nie; dis iets wat ʼn lang-lang-lang pad aankom. En op ʼn dag ontstaan ʼn trigger-situasie (soms bykans ʼn nietigheid) wat net een strooitjie te veel op die kameel se rug word.
Wesentlik het bloedskande boggherol uit te waai met seks. Bloedskande is ʼn vorm van magsbeheer, gerig op iemand wat emosioneel nie in staat is om daarteen in opstand te kom nie. Amper ʼn soort sadisme. Ek vergelyk dit op ʼn makabere manier met ʼn man wat ʼn vrou vermoor en haar dan in die bosse insleep en seks het met haar lyk. Nekrofilie. Sekerlik is dít tog nie normale seks nie? Shit, niks is normaal daaraan nie. Dis bloot ʼn brutale manier van sê wie is baas, en wie sal doen nét wat hý wil, wánneer hy wil. Werk maar self uit hoe ek dit bymekaar bring.
Dan skram ek ook nie in Thula-thula weg van die kwessie van hoe die slagoffer dikwels die oortreder manipuleer nie (iets wat altyd vreeslik bedek word deur die heiliges van aangesig in die samelewing). Sy (kan ook ʼn hy wees) haat wat met haar gebeur, maar wil dit ook nie daadwerklik stop nie, want dan verloor sy die enigste bietjie beheer wat sy oor die monster het. Omdat ál haar grense vernietig is, en sy nooit self mag besluit wat is goed vir háár nie, is hierdie stukkie beheer vir haar ʼn onskatbaar waardevolle wapen.
Ag, dis so ʼn komplekse situasie dat ek dit nie in ʼn kort stukkie op papier na behore kan verduidelik nie. As ʼn veertienjarige meisie die manipulasie-taktieke in Thula-thula raaklees, sonder begeleiding om haar te help om dit te interpreteer, kan sy maklik begin dink: “Aha, nóú het ek ʼn plan.” En dis bleddie gevaarlik.
Dan staan ek ook sterk op teen die maatskaplike sisteem wat nie genuine in die guns van die slagoffer of slagoffer-familie optree nie. Daar sal indringend gekyk moet word na die wette rondom die hantering van bloedskande-kwessies, want soos die wette en sisteme tans lyk, doen dit eintlik allerweinig om die tragiese situasies te verbeter.
Al hierdie goeters saamgegooi maak dat ʼn tiener dit wesentlik met begeleiding móét lees, omdat dit vir hulle die meeste lig sal bring. Maar dan moet ek bysê: daar staan niks, absoluut niks, in Thula-thula wat tieners nie weet of ken nie. My spontane mening is dat dit maar vir ʼn klas van Graad 8’s voorgelees kan word; en eintlik is dit die ideale situasie, want dan is daar mos ʼn onderwyser wat die begeleiding kan doen. Maar soos dit tans is, mag dit ongelukkig nie.
Hoe voel jy oor die feit dat baie mense jou as die opvolger van Dalene Matthee beskou?
Dis nie vir my lekker nie. Glad nie. Maar ek is bly jy vra dié vraag. Want op ʼn manier is dit ook vir my ʼn voorreg om in haar kaliber getel te word. Sy was ʼn fenomenale vrou met eindelose diep insig. Daar is baie ooreenkomste tussen my en Dalene se werk. Maar dis geensins ʼn naskrywery nie.
Dis in elk geval makliker om my eie goeters te skryf as om iemand anders na te aap. Maar nou is dit ook só dat ek en sy uit dieselfde landsdeel kom. In ons moedersmelktyd het ons albei die x-strale opgetel van plaaswêreld, vrugteboorde, bobbejane, gesaaides, klowe en berge en riviere, woude teen die suidhange van berge, bruin mense.
Sy is op Riversdal gebore; ek op Uniondale. En die streeksdialek is dus eenders. Dan het ons albei vir lank op Uniondale gebly – ek baie langer as sy. Omdat dit ʼn klein dorpie is waar beperkte dinge gebeur en beperkte sterk (en swak) karakters rondloop, is dit weer eens ʼn agtergrond waar ons albei ons drinkwater uit dieselfde emmer moes skep. Want mens vorm tog jou karakters en die wese van gebeure op dít waarmee jou siel bekend is.
Sy en haar gesin het op Uniondale ingetrek toe ek in standerd 6 was. Omdat sy my gefassineer het, en omdat ek by haar kitaarlesse geneem het vir jare, het sy my mentor-moeder geword. Sy was die eerste mens wat geweet het ek is swanger. Toe my seuntjie gedoop is, het sý in die doopkamer gesit om hom stil te hou. Toe ek getroud is, het sý my huweliksonthaaltjie in die raadsaal van Uniondale se munisipaliteitsgebou gereël. Sý het vir my ʼn present gekoop toe ek matriek met vrystelling slaag. Ná my ma se ontydige dood in my matriekjaar (en my pa wat verlam in die hospitaal lê na vele beroertes) het haar huis op ʼn manier ook my huis geword. Baie naweke daar gekuier; dikwels saam met haar gaan stap. Selfs nadat hulle weg is op Uniondale, Hartenbos toe, het ek nog gereeld daar vir haar gaan kuier.
Dus het ek baie van my lewenswyshede en -waarhede by haar opgetel. Eintlik sou dit baie vreemd wees as iets van haar nié in my skryfwerk resoneer nie.
Maar ons het nooit met mekaar se skryfgoed ingemeng nie. Haar goue reël was: "It’s you and you alone."
Sy was darem maar ʼn merkwaardige mens. Werk jy al aan ʼn volgende boek?
Nee, maar ek dink bleddie hard. Die boek sit klaar in my kop.
Hoe gaan dit deesdae met die ou dobbelgewoonte?
Man, ek kan dit eintlik nie meer onthou nie. Maar nóú vreet ek weer so baie. En as ek nie vreet nie, dan werk ek my skouers uit potjie uit in die tuin. Obsessiwiteit sal maar altyd ʼn deel van my wese bly.
Maar ek probeer sorg dat watter obsessie ek ook al beleef, dit ʼn positiewe uitkoms het. Die ou gryse sê hy wens ek wil ʼn obsessie met dwingende, witwarm seks ontwikkel, ʼn wit lewer, so to speak, want dan sal hy ʼn fees van ʼn aardse bestaan hê.
In my heel laaste boek, eendag vorentoe, wil ek al my stout en kru en gewaagde stories skryf, sonder brieke. Sodat die mense kan sê: Ja, wragtig, op 78 wys sy toe vir ons sy is nou nie juis wat mens ʼn paradysvrou sal noem nie. Eerder ʼn helle-engel.
(Terug op die stoel) Jou boeke word klokslag op RSG voorgelees. Beïnvloed dit enigsins jou skryfstyl?
Hoege-hoege-hoegenaamd nie. Ek dink nie eens daaraan terwyl ek skryf nie.
Hoe het jy die navorsing vir Thula-thula aangepak?
Ek het gebruik gemaak van kundiges op alle gebiede en nooit gedink ék weet die beste nie. Sielkundiges, dokters, hofbeamptes, regsmense, maatskaplike werkers, polisie, Bonsmara-boere ... Talle en talle gevallestudies gedoen.
So ver moontlik mense se lewens en huise binnegedring tot waar hulle my toegelaat het. Heeltyd het ek met regte-regte prentjies voor my oë gewerk. Geen vreemde settings nie, anders het ek die kans gewaag om dalk die son in die weste te laat opkom, of die rivier opdraand te laat vloei.
En almaardeur het ek kundiges gevra om dit wat ek reeds geskryf het, na te gaan. Die anderdag by die Bloemfonteinfees, toe alles verby is en ek uitkom op die trappe om vir my ʼn bakkie calamari te gaan koop, staan daar ʼn Vrystaatse boer vir my en wag op die trappe voor die CR Swart-gebou. Hy sê hy het die boek drie keer gelees, want hy wóú my uitvang op ʼn boerderyfout. “Maar,” sê hy en skud sy kop, “ek kon jou nêrens op iets betrap nie.” Jimmele, ek het chuffed gevoel.
Omdat ons mense is wat menslike foute maak, het daar enkele bykans onopsigtelike setfoute ingesluip. En dan het ons agterna twee spelfoute opgetel. Ons almal weet wat die regte spelling is, maar somehow het dit verbygeglip. Ingeboud (skroef) in pleks van ingebout. En krytmerke (wapens) in pleks van kruitmerke. Op ʼn snaakse manier is ek nie spyt daaroor nie. Dit gee my by leeskringbesprekings die kans om te wys op die menslike faktore wat getoets word in die groot masjien wat só ʼn roman vervaardig.
Ag wat, gelukkig maak LitNet se proefleser, ou Nicky Grieshaber, mos nooit foute nie. Maar j ou boek is met soveel oortuiging geskryf. Hoe hanteer jy mense se vrae of die boek oor jou persoonlike lewe handel?
Ek sê sommer heel aan die begin van gesprekke dat dit nie mý verhaal is nie. Maar dan sê ek ook dat die mens in sy brose wese maklik kan identifiseer met molestering, al is dit nie in die seksverband nie. Of dit nou ʼn kollega by die werk, ʼn skoolmaat, of raserige bure is, ongeag. Ons almal is bang vir verwerping, en ons almal het al verwerping ervaar. Op ʼn wyse is dit ook ʼn vorm van molestering, daarom kan mense so maklik in Gertruida se skoene instap. ʼn Vrou van ʼn plaas in die Beaufort-Wes-distrik skryf sy het Thula-thula klaargelees en in die boekrak gesit. Maar Gertruida wóú nie in die boekrak bly nie. Chronies uitgeglip en saam met haar in die kombuis en tuin kom rondstaan. Dis winter en dis jagseisoen en sy kon nie heeltyd met Gertruida gesels nie, want sy moet vleis bewerk en pasteie maak en oorsese gaste onthaal, en haar konsentrasie word verbreek deur Gertruida se immerteenwoordigheid. Toe neem sy Gertruida na een van die gastehuisies teen die berghang en sê vir haar sy kan vir tien dae daar vakansie hou en rus. Maar dán moet sy terug boekrak toe.
Pragtig! Dankie, Annelie.

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
Page 1
posts 1–1 of 1

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now