Heupvuur-vrae aan Annelie Botes, skrywer van Thula-thula
Melt Myburgh op LitNet
Annelie Botes se jongste roman, Thula-thula, het
Suid-Afrikaners aan die praat. Melt Myburgh het haar genader met ʼn
sarsie heupvuur-vrae en in die proses sy stoel kwytgeraak na ʼn
onbehoorlike lagbui.
Jy het omtrent tien jaar gelede al begin praat van ʼn boek met die titel Thula-thula. Hoekom moes lesers so lank wag vir hierdie publikasie?
Jy
onthou nie goed nie; dit was sedert 2002, dus sewe jaar. Die universe
het ʼn klomp stokke in my speke gesteek, en die baaisiekel se wiel het
dikwels voor my oë dwarsgedraai.
Eers het ek
myself byna kranksinnig gehad met foreign exchange. Toe spring ek met ʼn
toeristevisum en 800 pond in my sak op die vliegtuig en gaan pas vir ʼn
jaar lank my ou granny op in Engeland.
Skaars vyf maande terug
van Engeland af, toe klim ek wéér – hierdie keer as goewernante van
vier allerhelse stout koninklike bliksempies in ʼn ou klipkasteel amper
op die grens van Wallis. Wat ek dáár deurgemaak het, is genoeg stof vir
ʼn roman.
Intussen het daar ʼn ander
Afrikaanse roman oor bloedskande verskyn, en ek het dit goed gedink om
dinge bietjie te laat afkoel voor ek mý weergawe op die boekrakke laat
beland. Intussen is Broodsonde uitgegee, en ook Sabbatsreis is geskryf en verby die drukkers.
In 2007 het ek begin met die werklike skryfproses van Thula-thula,
en in April 2008 is my skootrekenaar op ʼn crucial tyd uit my huis
gesteel, terwyl ek lê en slaap. Ek was reeds op bladsy 265, en het net
back-ups gehad tot op bladsy 143. Geen mens sal ooit kan begryp wat dit
aan my gees gedoen het nie. Só het die tyd gevlieg.
Maar
miskien is dit presies hoe alles moes gebeur, want op die ou end het
die suiwerste-suiwer uit my siel op die papier beland. Seker uit pure
loutering. En so hartseer soos die tragedie by Paarl Printers was, het
dit ook bygedra tot die oponthoud na die einde toe, want skaars was
Gertruida twee dae daar by Paarl Print, toe gebeur die tragedie. Sy het
self ʼn paar lelike skroeimerke opgedoen.
Ai, my kop kap deesdae vreeslik aan. Volgens alle aanduidings is Thula-thula ʼn wegholsukses. Kan jy asseblief bietjie uitbrei daaroor?
Ek weet nie mooi wat om te sê nie. Tafelberg het begin met 17 000 as ʼn eerste oplaag. Presies ʼn maand nadat Thula-thula
uit die drukkersoonde gekom het, is ʼn tweede druk van 8 000 bestel. Dit
moet bepaald ʼn aanduiding wees dat die mark die boek wíl hê.
Baie geluk! Tydens die Volksblad-kunstefees het lesers baie emosioneel gereageer op jou boek. Hoe ervaar jy die reaksies tot dusver?
Oorspronklik
was ek so bang vir die reaksie dat daar sulke klein blasies op my vel
uitgeslaan het. Vreeslik gejeuk. Maar die hemele is my getuie: tot
hiertoe het ek nog géén reaksie gehad wat dui op walging, afstoting of
bek-uitspoel nie. Inteendeel. Lesers vind Gertruida se oorlewingskrag
bykans soos ʼn innerlike resonansie van hulleself. En iedereen voel ek
het die skokkende skote in die gesig met baie deernis hanteer.
ʼn
Reaksie wat ek dikwels by ʼn gehoor gewaar, is ʼn stil-stomheid. Amper
asof elkeen wag vir iemand anders om iets te vra of te sê. Maar as die
bespreking eers op dreef kom, kry ek nie die mense gestop nie. Hulle
wil altyd nog en nog vra.
Ek onthou
hoeka jy het daar op Bedford in die Oos-Kaap die hel uit die kerkorrel
gespeel. Lyk my mens kry jou nie uit ʼn kerk uit nie.
Ek
speel al amper twee jaar orrel by Patmos-gemeente hier in die Baai. Ons
sit van Januarie af sonder predikant, en uiteindelik het ons nuwe
predikant vandag (Sondag 2 Augustus) begin. Aldus was ons vir baie
maande afhanklik van aflospredikante. Verlede Sondagaand preek ds Danie
Mouton (van die sinodale kantoor). Goeie prediker, hy. Altyd
interessant as hy die Bybelgeskiedenis netjies in gleuwe inpas, en mens
duidelik laat verstaan wáár is jy in terme van tyd, en hoe was die
gewoontes en vermoëns en kultuur van daardie tyd.
Ewentil. Só
preek hy uit Lukas 24 van die twee Emmausgangers by wie Jesus die
Sondag ná sy kruisiging aangesluit het op hulle reis. Sy teksvers was
vers 15:
Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop.
Ds
Mouton het dit besonder fyn deurgetrek na die onsekerheid en praatjies
en gissings en ontsteltenis wat die mensdom ervaar het direk na die
kruisiging. Mooi uitgelig hoe die kommunikasiestelsel in daardie tye
gewerk het. Hoedat hierdie twee mense op pad na Emmaus geen belangrike
mense was nie, en ook maar gissend oor wat nou eintlik gebeur het.
Gladweg het hy dit oorgedra na vandag se dae waarin ons almal gis en
wonder en onseker is en twyfel oor die waarhede van die lewe. Maar al
erken ons Hom nie altyd nie, kom loop Jesus altyd langs ons, preek ds
Mouton. Sáám op reis met ons doodgewone mense.
En ineens slaan hy oor en sê dankie vir ʼn boek soos Thula-thula;
ʼn boek wat saam met ons op die pad kom loop en baie mense na ʼn
bestemming van begrip lei. Dánkie, sê hy, en al verstaan ons dit nie,
moet ons weet dat God op Sy manier ook saam met bloedskendige kinders
loop.
Ek, wat net die orrelis is, was geruk tot in my
gedermtes. Ds Mouton is ʼn saggeaarde man en ek dink hy is taamlik eng,
of só het ek hom oor die maande heen opgesom wanneer hy soms by Patmos
gepreek het. Daardie man uit die sinodale kantoor sou hom nié
vereenselwig het met ʼn stuk gemors nie. En as die boek beskaamlik was,
sou hy nié in die kerk daarvan gepraat het nie.
Die afgetrede
ds Frans Nel, voorheen van Sonheuwels se gemeente, se vrou, Linde, het
die boek direk na verskyning gelees. ʼn Preutse vrou; seker maar só
gebeitel deur die jare waarin sy in die kollig van heiligheid móés
staan daar by Sonheuwels. En Linde kan nie uitgepraat raak oor Thula-thula nie.
Ds
Lindo Pieters van Boshof in die Vrystaat het laat weet dis die
roerendste boek wat hy al ooit gelees het. Die afgetrede ds Wim Fourie,
voorheen van Kroonstad, reken alle ouers behoort verplig te word om die
boek te lees.
Nou’t ek genoeg gerave met behulp van dominees.
Terug by die Volksblad-fees: daar het jy kritiek uitgespreek teen die ouderdomsperk van 18 wat die P ublikasieraad Thula-thula opgelê het. Wat was hulle redes daarvoor en hoekom verskil jy van hulle?
Nee,
ek het nie kritiek uitgespreek nie, ek het net vertel hoe dit gebeur
het. En inderwaarheid het ek gesê dat ek dankbaar is vir my én
Tafelberg se onthalwe dat dit só gebeur het, omdat dit ons ʼn vorm van
beskerming gee. Ek het nooit die Publikasieraad se redes op papier
gesien nie, en stel ook nie belang nie.
Eerstens wil ek net verduidelik waarom Thula-thula by die Publikasieraad gaan draai het. In 1996 is ʼn wet uitgevaardig waarvolgens alle kinderseksualiteit outomaties geklassifiseer word as kinderpornografie. Al is dit ook ʼn dikbladsy-kinderboekie oor Waar kom ek vandaan? en daar is ʼn tekeninkie van ʼn tottertjie, dan moet dit volgens wet aan die Publikasieraad voorgelê word.
Die
skrywer of uitgewer besluit nie wat is die norm nie; dit is die
Publikasieraad se werk. Hulle mag nie die publikasie van ʼn boek (of
fliek of DVD of wat ook al) verbied nie, maar hulle mag die verkoop,
verpakking en verspreiding daarvan reguleer, ter beskerming van
kinders.
Hierdie wet is later van tyd (2004) nóg strenger
aangepas. Maar in hierdie malhuis van ʼn land, waar administrasie
eintlik nie meer bestaan nie, het niemand hulle aan dié wet gesteur
nie, en daar het talle boeke verskyn waarin kinderseksualiteit ter
sprake kom, sonder die wete of goedkeuring van die Publikasieraad. En
dít is nogal iets waaroor ek moerig is. Van hierdie ongekeurde boeke is
selfs as voorgeskrewe boeke op skool goedgekeur.
Maar my
uitgewer by Tafelberg, Riana Barnard, is betyds deur ʼn kundige attent
gemaak op hierdie wet se bestaan. En só het ons almal saam besluit dat
dit die eerlike en skoon pad is wat ons sal volg. Come what may ...
Thula-thula
het nie ʼn ouderdomsbeperking gekry omdat dit ʼn vieslike of afstootlike
boek is nie, só glo ek vas, maar omdat dit ʼn gevaarlike boek kan wees
as ʼn tiener dit sonder begeleiding lees. Die boek vertel nie net die
eensydige kant van die slagoffer nie, maar gaan ook ekstensief in op
die situasie van die ma wat geweet het, maar stilgebly het. En dit gaan
heluit diep in die totale lewe van die oortreder in. In so ʼn mate dat
mens soms simpatie met die oortreder voel. Want hierdie monster-optrede
van hom is nie iets wat sommer op ʼn dag uit die bloue lug val nie; dis
iets wat ʼn lang-lang-lang pad aankom. En op ʼn dag ontstaan ʼn
trigger-situasie (soms bykans ʼn nietigheid) wat net een strooitjie te
veel op die kameel se rug word.
Wesentlik het bloedskande
boggherol uit te waai met seks. Bloedskande is ʼn vorm van magsbeheer,
gerig op iemand wat emosioneel nie in staat is om daarteen in opstand
te kom nie. Amper ʼn soort sadisme. Ek vergelyk dit op ʼn makabere manier
met ʼn man wat ʼn vrou vermoor en haar dan in die bosse insleep en seks
het met haar lyk. Nekrofilie. Sekerlik is dít tog nie normale seks nie?
Shit, niks is normaal daaraan nie. Dis bloot ʼn brutale manier van sê
wie is baas, en wie sal doen nét wat hý wil, wánneer hy wil. Werk maar
self uit hoe ek dit bymekaar bring.
Dan skram ek ook nie in Thula-thula
weg van die kwessie van hoe die slagoffer dikwels die oortreder
manipuleer nie (iets wat altyd vreeslik bedek word deur die heiliges
van aangesig in die samelewing). Sy (kan ook ʼn hy wees) haat wat met
haar gebeur, maar wil dit ook nie daadwerklik stop nie, want dan
verloor sy die enigste bietjie beheer wat sy oor die monster het. Omdat
ál haar grense vernietig is, en sy nooit self mag besluit wat is goed
vir háár nie, is hierdie stukkie beheer vir haar ʼn onskatbaar
waardevolle wapen.
Ag, dis so ʼn komplekse situasie dat ek dit
nie in ʼn kort stukkie op papier na behore kan verduidelik nie. As ʼn
veertienjarige meisie die manipulasie-taktieke in Thula-thula
raaklees, sonder begeleiding om haar te help om dit te interpreteer,
kan sy maklik begin dink: “Aha, nóú het ek ʼn plan.” En dis bleddie
gevaarlik.
Dan staan ek ook sterk op teen die maatskaplike
sisteem wat nie genuine in die guns van die slagoffer of
slagoffer-familie optree nie. Daar sal indringend gekyk moet word na
die wette rondom die hantering van bloedskande-kwessies, want soos die
wette en sisteme tans lyk, doen dit eintlik allerweinig om die tragiese
situasies te verbeter.
Al hierdie goeters saamgegooi maak dat
ʼn tiener dit wesentlik met begeleiding móét lees, omdat dit vir hulle
die meeste lig sal bring. Maar dan moet ek bysê: daar staan niks,
absoluut niks, in Thula-thula wat tieners nie weet of ken
nie. My spontane mening is dat dit maar vir ʼn klas van Graad 8’s
voorgelees kan word; en eintlik is dit die ideale situasie, want dan is
daar mos ʼn onderwyser wat die begeleiding kan doen. Maar soos dit tans
is, mag dit ongelukkig nie.
Hoe voel jy oor die feit dat baie mense jou as die opvolger van Dalene Matthee beskou?
Dis
nie vir my lekker nie. Glad nie. Maar ek is bly jy vra dié vraag. Want
op ʼn manier is dit ook vir my ʼn voorreg om in haar kaliber getel te
word. Sy was ʼn fenomenale vrou met eindelose diep insig. Daar is baie
ooreenkomste tussen my en Dalene se werk. Maar dis geensins ʼn
naskrywery nie.
Dis in elk geval makliker om my eie goeters te
skryf as om iemand anders na te aap. Maar nou is dit ook só dat ek en
sy uit dieselfde landsdeel kom. In ons moedersmelktyd het ons albei die
x-strale opgetel van plaaswêreld, vrugteboorde, bobbejane, gesaaides,
klowe en berge en riviere, woude teen die suidhange van berge, bruin
mense.
Sy is op Riversdal gebore; ek op Uniondale. En die
streeksdialek is dus eenders. Dan het ons albei vir lank op Uniondale
gebly – ek baie langer as sy. Omdat dit ʼn klein dorpie is waar beperkte
dinge gebeur en beperkte sterk (en swak) karakters rondloop, is dit
weer eens ʼn agtergrond waar ons albei ons drinkwater uit dieselfde
emmer moes skep. Want mens vorm tog jou karakters en die wese van
gebeure op dít waarmee jou siel bekend is.
Sy en haar gesin
het op Uniondale ingetrek toe ek in standerd 6 was. Omdat sy my
gefassineer het, en omdat ek by haar kitaarlesse geneem het vir jare,
het sy my mentor-moeder geword. Sy was die eerste mens wat geweet het
ek is swanger. Toe my seuntjie gedoop is, het sý in die doopkamer gesit
om hom stil te hou. Toe ek getroud is, het sý my huweliksonthaaltjie in
die raadsaal van Uniondale se munisipaliteitsgebou gereël. Sý het vir
my ʼn present gekoop toe ek matriek met vrystelling slaag. Ná my ma se
ontydige dood in my matriekjaar (en my pa wat verlam in die hospitaal
lê na vele beroertes) het haar huis op ʼn manier ook my huis geword.
Baie naweke daar gekuier; dikwels saam met haar gaan stap. Selfs nadat
hulle weg is op Uniondale, Hartenbos toe, het ek nog gereeld daar vir
haar gaan kuier.
Dus het ek baie van my lewenswyshede en
-waarhede by haar opgetel. Eintlik sou dit baie vreemd wees as iets van
haar nié in my skryfwerk resoneer nie.
Maar ons het nooit met mekaar se skryfgoed ingemeng nie. Haar goue reël was: "It’s you and you alone."
Sy was darem maar ʼn merkwaardige mens. Werk jy al aan ʼn volgende boek?
Nee, maar ek dink bleddie hard. Die boek sit klaar in my kop.
Hoe gaan dit deesdae met die ou dobbelgewoonte?
Man,
ek kan dit eintlik nie meer onthou nie. Maar nóú vreet ek weer so baie.
En as ek nie vreet nie, dan werk ek my skouers uit potjie uit in die
tuin. Obsessiwiteit sal maar altyd ʼn deel van my wese bly.
Maar
ek probeer sorg dat watter obsessie ek ook al beleef, dit ʼn positiewe
uitkoms het. Die ou gryse sê hy wens ek wil ʼn obsessie met dwingende,
witwarm seks ontwikkel, ʼn wit lewer, so to speak, want dan sal hy ʼn
fees van ʼn aardse bestaan hê.
In my heel laaste boek, eendag
vorentoe, wil ek al my stout en kru en gewaagde stories skryf, sonder
brieke. Sodat die mense kan sê: Ja, wragtig, op 78 wys sy toe vir ons
sy is nou nie juis wat mens ʼn paradysvrou sal noem nie. Eerder ʼn
helle-engel.
(Terug op die stoel) Jou boeke word klokslag op RSG voorgelees. Beïnvloed dit enigsins jou skryfstyl?
Hoege-hoege-hoegenaamd nie. Ek dink nie eens daaraan terwyl ek skryf nie.
Hoe het jy die navorsing vir Thula-thula aangepak?
Ek
het gebruik gemaak van kundiges op alle gebiede en nooit gedink ék weet
die beste nie. Sielkundiges, dokters, hofbeamptes, regsmense,
maatskaplike werkers, polisie, Bonsmara-boere ... Talle en talle
gevallestudies gedoen.
So ver moontlik mense se lewens en
huise binnegedring tot waar hulle my toegelaat het. Heeltyd het ek met
regte-regte prentjies voor my oë gewerk. Geen vreemde settings nie,
anders het ek die kans gewaag om dalk die son in die weste te laat
opkom, of die rivier opdraand te laat vloei.
En almaardeur het
ek kundiges gevra om dit wat ek reeds geskryf het, na te gaan. Die
anderdag by die Bloemfonteinfees, toe alles verby is en ek uitkom op
die trappe om vir my ʼn bakkie calamari te gaan koop, staan daar ʼn
Vrystaatse boer vir my en wag op die trappe voor die CR Swart-gebou. Hy
sê hy het die boek drie keer gelees, want hy wóú my uitvang op ʼn
boerderyfout. “Maar,” sê hy en skud sy kop, “ek kon jou nêrens op iets
betrap nie.” Jimmele, ek het chuffed gevoel.
Omdat ons mense
is wat menslike foute maak, het daar enkele bykans onopsigtelike
setfoute ingesluip. En dan het ons agterna twee spelfoute opgetel. Ons
almal weet wat die regte spelling is, maar somehow het dit verbygeglip.
Ingeboud (skroef) in pleks van ingebout. En krytmerke (wapens) in pleks
van kruitmerke. Op ʼn snaakse manier is ek nie spyt daaroor nie. Dit gee
my by leeskringbesprekings die kans om te wys op die menslike faktore
wat getoets word in die groot masjien wat só ʼn roman vervaardig.
Ag
wat, gelukkig maak LitNet se proefleser, ou Nicky Grieshaber, mos nooit
foute nie. Maar j ou boek is met soveel oortuiging geskryf. Hoe hanteer
jy mense se vrae of die boek oor jou persoonlike lewe handel?
Ek
sê sommer heel aan die begin van gesprekke dat dit nie mý verhaal is
nie. Maar dan sê ek ook dat die mens in sy brose wese maklik kan
identifiseer met molestering, al is dit nie in die seksverband nie. Of
dit nou ʼn kollega by die werk, ʼn skoolmaat, of raserige bure is,
ongeag. Ons almal is bang vir verwerping, en ons almal het al
verwerping ervaar. Op ʼn wyse is dit ook ʼn vorm van molestering, daarom
kan mense so maklik in Gertruida se skoene instap. ʼn Vrou van ʼn plaas
in die Beaufort-Wes-distrik skryf sy het Thula-thula
klaargelees en in die boekrak gesit. Maar Gertruida wóú nie in die
boekrak bly nie. Chronies uitgeglip en saam met haar in die kombuis en
tuin kom rondstaan. Dis winter en dis jagseisoen en sy kon nie heeltyd
met Gertruida gesels nie, want sy moet vleis bewerk en pasteie maak en
oorsese gaste onthaal, en haar konsentrasie word verbreek deur
Gertruida se immerteenwoordigheid. Toe neem sy Gertruida na een van die
gastehuisies teen die berghang en sê vir haar sy kan vir tien dae daar
vakansie hou en rus. Maar dán moet sy terug boekrak toe.
Pragtig! Dankie, Annelie.
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member