Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
208 views

Wanneer is Kru in boeke te kru?

Page 1 · 2
posts 1–20 of 32 newer >
regular - member
90 posts

In my skrywe oor Staan in die algemeen nader aan vensters van Loftus Marais het ek genoem dat hy redelik vrylik kru taal gebruik.  Op my Wordpress-blog, waar ek dit ook geplaas het, het Nikita (lid hier en self ook Wordpress-blogger) aanvanklik positief-belangstellende kommentaar gelewer.  Totdat sy die gedig Akademiesie Graffiti aanlyn ontdek het (sy woon in Londen en kon dus nog nie die boek onder oë kry nie) - met 'n kru woord daarin.  Ons het toe verder saam met Maankind daaroor gesels, en lyk my die twee dames het besluit hulle stel nie belang om sulke digkuns te lees nie.

Ek wil graag hoor hoe die ander lede van Boekemakranka voel oor die gebruik van sodanige taal deur skrywers.  Het jy een maatstaf wat geld vir digbundels en vir prosa?  Skrywers van verhale kan mos redeneer dat die karakters soos regte mense moet praat, nie soos kinders op 'n Sondagskoolpiekniek nie. Wat byvoorbeeld van Etienne van Heerden se 30 Nagte in Amsterdam, waar dieselfde woord reeds op bl. 33 voorkom?  Iemand het onlangs by my gekla oor Marita van der Vyver se Vergenoeg. Kan iemand ons inlig oor bv. Thula Thula van Anneli Botes, ek het net Sabbatsreis gelees en kan nie meer onthou nie. Laat mens hulle 'n bietjie meer toe, maar 'n digter moet sy woorde tel, aangesien hy namens homself praat?

Dis natuurlik nie 'n nuwe ding dat Afrikaanse digters sulke taal gebruik nie.  My taalonderwyser het bv. al in die 70's vir ons vertel van Breyten se sluwe bitter eende op sy graf. (Ons was darem almal seuns in die klas.)  Ek het in die 80's Antjie Krog se Lady Anne gelees en onthou bv. iets daaruit.  In Desember het ek 'n tweedehandse kopie van André Le Roux se Struisbaai-blues (1977) in die hande gekry en gelees.  Ek het dit as taamlik dekadent ondervind.

Onder andere het Maankind gewonder of Eugene Marais of Opperman so 'n woord sou gebruik het.  Ek het Leon Rousseau se Die Groot Verlange oor Eugene Marais gelees en dink ek kan sê ja, as hy in ons tyd geleef het, sou hy. Vir 'n man wat in sy laaste dae sou lieg en bedrieg vir sy verslawing, is dit my mening. As hy in vandag se literêre landskap grootgeword het, sou hy.   As hy dit in sy tyd probeer het sou dit literêre selfmoord gewees het.

D.J. Opperman skryf in 'n gedig Ovidius praat mooi met rooi-aas op Franskraal:

Nou jóú stinkende geval :
Jy is minus skelet,
arms, been en been
'n terugstort
uit 'n groter bestek
tot amper plant:
dikvellig, 'n balsak
wat net mond
en stront
en daartussen as restant
'n stukkie van jou vroeëre
werwelgestel

Daar is ander voorbeelde, ek gee bladsynommers uit Versamelde Poësie, 1987:  Pirrhatjie (259), My appelliefie van Inchanga (349), My visj (371).  Mens sal meer kry as jy soek, maar wat my aanbetref, hy doen dit baie meer smaakvol as Loftus Marais.

Vir Maankind en Nikita:

Soek julle dames na 'n digter vroom?
Vind julle dalk dat sonder skroom
die koma-stok van van Opperman
die korrels nie só suiwer wan:
julle hoop was die verkeerde oom!

novice - member
20 posts

Ons is tog almal groot genoeg om te verstaan wanneer 'n kru woord van pas is en wanneer nie. Ek verstaan regtig nie wat die kwessie hieromtrent is nie.

Het julle al ooit gehoor van die Russiese Formaliste? Hulle voer aan dat kuns alewig moet verander. Dit is eintlik so vanselfsprekend: Indien kuns nie verander het nie, sou alle Afrikaanse digters nog soos die Dertigers gedig het. Die "silwer woord" - asseblief tog! Indien kuns nie verander het nie, sou alle skrywers nog vervelige plaasromans soos C.M. van den Heever geskryf het.

En Opperman en Marais as maatstawwe? Hoe dan nou? Opperman het baie respek gehad vir die werk van Etienne Leroux - nou nie iemand wat net die silwer woord gebruik het nie. Kop, ek dink ook dat jou oordeel van Eugène Marais dalk bietjie wild is - of hoe? Is iemand wat verslaaf is aan iets noodwendig 'n aaklige mens wat outomaties "sleg"/"boos" is? Nee wat, ek dink nie iemand se karakter hoort so (miskien ondeurdag) bespreek te word op 'n boekeforum nie. Iemand wat in staat is tot sekere negatiewe dade, is nie noodwendig in staat tot alle negatiewe dade nie.

Was dit nie ook Sheila Cussons (heel bekend vir die geestelike aard van haar poësie) wat gedig het oor die "glinsterende drol" nie?

En Antjie Krog met "Ek is, die Here hoor my 'n vry fokken vrou"?

Ek dink ook nie ek hoef aan te haal uit Marlene van Niekerk se Triomf nie. Onlangs (na ons bespreking oor haar werk) skaf ek toe ook Hambidge se Palindroom aan, en in die digbundel-gedeelte, Koesnaatjies vir die proe, wel... as stront jou ontstel - bly weg, want ander woorde wat rym met stront is blykbaar erger.

En Johann de Lange se "Nog eenmaal wil ek in jou mond kom"?

Hoe dit ookal sy, ons moet miskien bietjie wegbeweeg van die streng Calvinistiese benadering van sg. "vloekwoorde" (en ek skryf sg. omdat dit tog net woorde is - en nie iets om oor skaam te wees nie). Dit is nie boos of sondig nie. Ons moet ook waak daarteen om 'n outeur/digter te nou te koppel aan sy/haar werk. Wat in 'n boek/gedig gesê word, is beslis nie altyd die mening van die outeur nie. As mense die kreatiewe skryfwerk van 'n skrywer/digter as dié se mening beskou, wel, dan skort daar duidelik begrip... As jy ook 'n skrywer/digter se karakter beoordeel aan die hand van hulle werk...

Maar nou ja, as iemand nie daarvan hou nie, staan dit hulle vry om van alle goeie en resente skrywers (lyk my) weg te bly. Ek het egter nie lus vir net C.M. van den Heever, Van Wyk Louw, Tryna du Toit en Ena Murray nie. Die lewe is net te kort.

__________________
"Dit is die kinders wat God in sy liefde aan my gegee het." - Genesis 33:5
regular - member
148 posts


" Laat mens hulle 'n bietjie meer toe, maar 'n digter moet sy woorde tel, aangesien hy namens homself praat?" Hier stem ek met Hondje saam. Digters vertel gereeld hoe hulle eintlik die gedigte dien en dat dit nie heeltemal as die waarheid beskou met word nie. As die verskillende maatstawwe vir die beoordeling van digters en ander skrywers is dink ek dis omdat mense gedigte lees vir ander redes as romans.  

Hondje, ek dink nie Kop het gesê Eugene Marais is sleg of boos nie, net dat hy sou vloek en dit dink ek ook. Maar ek dink ook nie eintlik dat krutaal boos is nie (patrykeer wel lelik) en maar net 'n klein aanduiding van iemand se karakter. Persoonlik pla vloekwoorde my meestal net as dit amper uit gewoonte gebruik word of as kinders vloek. Ek moes Akademiese Graffiti nou weer gaan lees want ek kon die vloekwoord daarin nie onthou nie. Ek moet erken; om die regte vloekwoord op die regte tyd te gebruik is lekker. Ek sal dit wel versigtiger skryf want dit bly staan lank na jy nie meer kwaad is nie. Lyk my almal se grense is anders. Na al die geskryf oor Thula-thula dink ek steeds dat ek dit nie wil lees nie en het ek die dele wat aangehaal en voorgelees is verskriklik ontstellend gevind maar die woord 'kak'? Nee wat.


regular - member
148 posts


Wonder nou of ek heeltemal eerlik hierbo was. Daar is woorde wat my aanstoot gee. Woorde wat vroue beledig en so bedoel word wanneer dit gebruik word. Of dit my van 'n skrywer sal afsit? Ek weet nie. Dit hang seker af hoekom en waar dit gebruik word.

As ek moet dink aan 'n skrywer waar taalgebruik my afgesit het moet ek Koos Prinsloo noem. Maar dit was nie net die vloekwoorde nie. En ek verstaan nie eintlik die konteks nie.

superstar - founder
993 posts

Vir my gaan dit totaal of 'n woord funksioneel is of nie. Wanneer Antjie Krog sê "Ek is, die Here hoor my 'n vry fokken vrou"? is dit vir my absoluut funksioneel, en maak dit sin in daardie konteks. Die deursleep in die uitgedroogde een was vir mypersoonlik n    te kru.

Net soos die betrokke gedig van Loftus Marais. Die woord daar was dalk van pas in 'n gesprek met vriende, maar in 'n gedig wat dalk op skool voorgeskryf kan word? Nee wat. Poësie moet tot my spreek, dit moet sag op my oor val, of emosie wakker maak. Nie afskakelend wees nie.

Stephni, ek stem oor Koos Prinsloo. Al sy verhale was nie lekker om te lees nie, dit was te kru. Veral Slagplaas.

Waar dit vir my werk, is waar dit mens die siesa, maar dit boei my gevoel gee, soos Deborah Steinmair dit so mooi stel: "Dapper leser afgryslik vasgenael".

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
novice - member
20 posts

MK, ek dink die poësie mag nogal 'n knou kry indien digters begin dig met die gedagte dat elke gedig dalk aan skoolkinders voorgeskryf gaan word. Laat ons ook nou eerlik wees: kinders (veral tieners) praat nie Afrikaans soos 'n preutse dominee nie. Die voorkoms van 'n vloekwoord in 'n gedig gaan ook waarskynlik nie lei tot 'n dramatiese toename in kru taalgebruik onder tieners nie. Ek as moeder weet ook al: dit help beslis nie jy probeer kinders in 'n bubble grootmaak nie. Leer hulle wat is reg/toepaslik en hulle sal met sulke goed kan deal.

Ek dink "kak" is heel funksioneel in "Akademiese graffiti". Die spreker bevind hom immers in 'n publieke toilet. Enigeen wat al daar was, sal weet wat jou dikwels kan verras. Die woord is nie so absurd as mens die beelde wat gebruik word in ag neem nie.

Ek weet egter nie of ons heeltemal bekwaam genoeg is om te besluit wanneer 'n kru woord funksioneel is of nie (nie in literêre werke nie, bedoel ek). Sover ek verstaan het meeste mense op hierdie forum maar 'n elementêre kennis van die digkuns (d.i. meeste van ons lees maar net, en dig dalk skelm, maar is beslis nie kenners nie). Ons persoonlike opvattings en benaderings is egter anders - hieroor is ons elkeen op ons opinie geregtig.

Intussen wil dit vir my voorkom dat van ons beste skrywers/digters heelwat kru taal gebruik: Koos Prinsloo, Joan Hambidge (so lees ek voort aan Koesnaatjies vir die proe), Etienne van Heerden, en les bes, Marlene van Niekerk. Ek dink hulle besef die lewe is nie 'n sprokiesverhaal nie - en daarom skryf hulle nie net in sprokiestaal nie.

Ek was eenmaal by waar Antjie Krog haar bundel Verweerskrif bespreek het. Preuts en vloekwoordloos is haar taal beslis nie - maar sy kan darem maar dig (en praat!) en ek het steeds die wêreld se respek vir haar. Dis tog net woordjies...

__________________
"Dit is die kinders wat God in sy liefde aan my gegee het." - Genesis 33:5
superstar - founder
993 posts

Hondjie, jy is heeltemal reg! Vir my is kru of funksioneel bloot subjektief. En ek sou graag wou sien dat ons hier 'n veilige forum het waar ons (as leke) maar tog ook as lesers, want ons koop die boeke, elk ons eie subjektiewe opinie mag lug. Is dit nie lekker nie?

Ek is dankbaar oor elke boek en digbundel wat op die rakke verskyn, maar ek kan nie almal koop nie, daarom moet ek selektief kan lees, om te kan koop alles wat ek graag sou wou herlees. Iets soos Slagplaas wil ek nie herlees nie, en Staan in die algemeen nader aan vensters roer nie my hartsnare nie, al is dit tegnies goed of selfs uitstekend. En as iemand my mening vra oor die gedig, dink ek dis kru. Dis maar al.

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
novice - member
20 posts

Absoluut, MK. Dit is heerlik! Jy is ook heeltemal reg: Ons moet net heeltyd in gedagte hou dat hierdie opinies subjektief is, en dat ons opinies gelukkig as sulks beskou word.

Ek laat die belangrike blikke aan die literatore oor. Dis 'n landmynveld waarin ons gelukkig nie hoef te trap nie!

__________________
"Dit is die kinders wat God in sy liefde aan my gegee het." - Genesis 33:5
regular - member
198 posts

Watter interessante tema toe ek Boekemakranka vanoggend oopmaak - was Kaap toe om 'n bietjie kultuur in te kry.

Kru en vloekwoorde in letterkunde - een van my groot gunstelingonderwerpe en een waaroor ek gereeld my meestal ongevraagde opinie duidelik lig.

My opinie is dat, indien jou gedig of verhaal of roman dit regverdig, is die gebruik van kru- en ander woorde geregverdig.  Jy kan nie 'n verhaal met geweld, seks, drugs, aanranding ens skryf sonder kru-woorde nie.  Kru-woorde is deel van daardie opset en die mense in daardie milieu praat nie suiwer en mooi afrikaans nie.  As jy dit doen, verloor jou verhaal sy geloofwaardigheid.  As die woorde gebruik word vir blote effek (soos in baie Amerikaanse sepies en rolprente) of in romans ens is dit onaanvaarbaar.

Die selfde geld vir gedigte.   As die tema van jou gedig dit vereis, gebruik die woorde, maar as jy dit gebruik net vir 'n skokeffek of om aandag te trek (sal maar nie name noem nie want van die "kru-werke" het al pryse gewen) is dit onaanvaarbaar.

Antjie Krog gebruik die woord "fokken" nie vir effek nie, maar om ' n emosie weer te gee - dieselfde met Johann de Lange se gedigte.  Die kru woorde daarin is nie vir effek nie, maar om 'n diep gevoel of emosie weer te gee.  Ek kan dit egter nie van almal sê en van ons jonger geslag digters se werke laat my koud juis omdat hulle so hamer op kru woorde (om van Koos Kombuis se braaksels nie eers te praat nie).  Koos Prinsloo was 'n brijlante skrywer, maar hy het, volgens my soms kru-woorde vir effek gebruik.  Trouens ek dink hy het baie keer dinge geskryf net om te skok en vir geen ander rede nie.  Daar sal seker nou weer baie wees wat my hieroor gaan stenig, maar dis my opninie.  Ek is nie 'n letterkundige nie, maar ek weet beslis wanneer woorde of dade vir effek gebruik word.

Dit bly egter 'n moeilike saak - wanneer is dit geregverdig en wanneer nie.  Wanneer is dit vir die skrywer relevant en wanneer vir sy leser.     'n Goeie outydse vloekwoord op sy tyd is soms baie effektief (ons gebruik dit almal ten minste een keer per dag), maar 'n saamgeflansde herhaling van die f-woord., die p-woorde ens ens, is nie letterkunde of literatuur nie.  Dis woordbraaksels en ek ignoreer dit so ver ek kan.

Ek is een van daardie mense wat glo jy kan enigiets skryf sonder om kru-woorde te gebruik, maar nou ja, dis nie wat die leserspubliek wil hê nie.

Vir diegene wat nie die woorde in letterkunde kan hanteer nie, wel dan moet hulle maar terugval op Mills & Boons en Barbara Cartlands.   'n Land se letterkunde weerspiëel sy normes, waardes en taal en ongelukkig leef ons in 'n wêreld waarin kru-woorde die norm pleks van die uitsondering geword het.

Het Saterdagaand vir Sandra Prinsloo in die Naaimasjien gaan kyk - briljant!.  Gaan kyk dit as jy die kans kry want dis teater op sy beste.

Lekke week vi amal

regular - member
90 posts

@Hondjie:  Ek erken onvoorwaardelik my stelling oor Eugene Marais was ondeurdag.  My mening dat hy kru taal in sy werk sou gebruik het in 'n later tyd, bly dieselfde, gegrond net op die bietjie wat ek van sy persoonlikheid geleer het uit die biografie. "Stront" is darem nie vir my te kru nie.  Alhoewel die woord en k** na dieselfde ding verwys, is daar vir my 'n graadverskil. Ek stem ook met jou saam dat ons maar net as leke subjektief oor die dinge gesels - die belangrikste is dat ons moet probeer sorg dat Joan Hambidge nie hier op ons afkom nie! :-)

Ek het bietjie gesoek rondom jou aanhaling van Johann de Lange, iewers op Versindaba sê hy mense verstaan die gedig verkeerd, maar sê ook nie hoe dit verstaan moet word nie.  Ek het by 'n resensie 'n fragment van die gedig opgespoor en die daaropvolgende lyne borduur baie letterlik voort op dieselfde trant.  Die voorkoms van erotiek en gay erotiek is miskien weer iets heel anders as die tema waaroor ons nou hier praat. Gay erotiek kom ook in Loftus Marais se bundel voor. Dis regtig vir my 'n moeilike onderwerp om oor te gesels en prof. Hambidge het alreeds by die resensie in kommentaart geskree "daar hang 'n homofobie-onderrokkie uit!"

Ek dink nie ek sal de Lange se bundel lees nie.  Gelukkig is dit nie al kriterium wat mens gebruik om te besluit of jy 'n boek wil lees of nie.  In die eerste plek moet dit jou aantrek, bv. soos Jeanette Ferreira se boek Die Son Kom Aan Die Seekant Op my soos 'n magneet getrek het, wat op sy beurt veroorsaak het dat ek moeite gedoen het om 'n weergawe van Louis Trichardt se dagboek te kry en "painstakingly" die half-Nederlands gelees het.  Daarenteen weet ek nie wat in de Lange se bundel my sal aantrek nie, miskien moet ek die hele resensie of nog resensies lees.  Soos jy sê, Maankind, dit roer mens se hartsnare of nie.

Net 'n bietjie terug na die betrokke gedig waaroor Nikita dit gehad het. (Ek dink sy is hard besig om te verhuis in Londen en ek hoop sy is gou weer aanlyn om by ons aan te sluit.)
Ek dink nie dis bloot 'n anekdote oor  sy besoek aan die toilet of die k** in die bak wat wegspoel nie.  Eerstens is die feit dat dit afspeel in die fisikagebou van belang. Die stelling wat hy wil maak, word eerstens gesuggereer deur die wet van fisika (Planck?) wat hy aanhaal: alles neig van nature na 'n toestand van chaos.  Die feit dat hy oor die mangatdeksel loop, maak mens bewus dat die k** onder die mangatdeksel deur op pad is en hom soort van agtervolg, hy kan nie daarvan wegkom nie.  Dit gaan dus meer oor al die k** wat mens op 'n kampus en en in 'n land het. Dat almal helder en lig loop op die teer is dus bedrieglik - die chaos bly met ons!  As sy suster dus in die gedig "Terug op die plaas" sê, "Daar's min politiek in jou verse", moet sy dalk weer dink, of sy is korrek dat dit min is en nie niks nie. Dis wat ek dink!  Nou kan julle lekker lag en sê: Jy moet jou kop laat lees!

superstar - founder
993 posts

Kop, dis vir my die punt. Daardie gedig spreek net eenvoudig nie tot my in die mate wat ek daaroor wil dink, of dit analiseer nie. Die gedig sélf moet my eers gryp. En poësie moet vir my as totaal oningeligte leek, mooi wees. Ek het te veel ander goed om te lees om tyd te spandeer op iets wat nie vir my mooi is, of my hartsnare roer nie, so maklik en eenvoudig soos dit.

Maar hoor my lied, dis totaal subjektief, dis my mening, oor my tyd en my mooi.

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
regular - member
148 posts


So gepraat van digters en vloekwoorde, ek is mal oor die foto van Danie Marais in die nuwe uitgawe van Bravo!

regular - member
90 posts

Stephni ek weet niks van Bravo! nie, is dit aanlyn of 'n fisiese tydskrif?  Ek het die blogspot plek gekry maar sien nie die foto daar nie.  Eintlik weet ek ook niks van Danie Marais nie, ek het maar net gehoor daar's nog 'n digtende Marais wat 'n bundel uit het.  Die enigste foto wat ek nog van hom gesien het is die een op Versindaba:

Danie Marais

Danie Marais

waarop hy my verskriklik aan Ge Korsten laat dink, veral die haarstyl!

Ek sien ook Philip de Vos het pas as blogger by Versindaba aangesluit met die woorde:

“Ek kan ook sommer dadelik my kop op ‘n blog sit om almal te verseker dat daar net die mooi en edele dinge van die lewe hier gaan verskyn, anders as wat onse Steve op sy blog kwytraak, want die enigste lelike woord wat ek ken is die woord ghwano en nou dat ek dit gesê het, voel ek amper ek moet my mond met seepsoda gaan uitwas.”

He he he!

superstar - founder
993 posts

Volg die Bravo! skakel in die regterkantse kolom by die kategorie SKAKELS. En as jy klaar gelees het, gaan jy uit en gaan soek hom!

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
regular - member
198 posts

Ek het die eerste uitgawe van Bravo - want dit word nie hier by ons in die Breederivier vallei versprei nie.  Met Exclusive op Worcester wat ook nou toemaak, is daar nou geen kans dat jy dit nog in die hande kan kry nie (weet nie eers of hulle dit gehad het nie want toe ek een keer gebel het en navraag gedoen het, het hulle nie geweet waarvan ek praat nie.)  So nou sit ek maar droeë bek hier.

regular - member
148 posts


Ongelukkig lyk dit vir my of Bravo! nog nie hulle website met die nuwe uitgawe opgedateer het nie. Ek hou baie van die nuwe voorblad - met Casper de Vries en 'n bottel lagtonikum! Ek het dit by die CNA gekry maar as ek nie daarvoor gesoek het nie sou ek dit nooit gesien het nie. Tussen die FHM, muscle mags en Destiny Man. Ek ken nie die man wat 'n tydskrif met die naam Destiny sal lees nie.

Anita net omdat jy droeë bek sit gaan ek vertel van die Danie Marais foto. Hy het 'n Clark Kent kuif, 'n dikraambril, 'n pak en hemp wat oopgeknoop is om sy superheld pakkie te wys waarop daar staan ... "Fok rugby" Ek dink ek gaan dit op my muur plak.

regular - member
90 posts

Dankie Stephi dat jy darem nou ons nuuskierigheid bevredig het, ek dink ek stem nogal baie dae saam met Danie daaroor!

Verder het ek op Versindaba Jelleke Wierenga se onderhoud gelees waar die gedig 10 September 2007 aangehaal is. Ene Jakkie spreek waardering vir die gedig uit, waarop Jelleke dan  (waarskuwend?) antwoord:

Jakkie, baie dankie vir jou waardering. Gedigte is myns insiens nie “hoge kuns” nie - nes met skilderye of beeldhouwerk of romans hoef jy nie “opgelei” te wees om dit te waardeer nie. As dit jou raak, raak dit jou. Ek hoop jy hou ook van die ander gedigte in my bundel. Party is nogal “wild”! - Jelleke

Nou wonder ek of 'wild' kru beteken of wat - al weer nuuskierig!


rookie - member
1 posts


Danie Marais in die nuwe uitgawe van BRAVO!

regular - member
148 posts


Aah lekker, dankie Carien!

regular - member
121 posts

Ek hou van hierdie!  Waar kan ons die t-hemp kry? Sal seker onder die klippe gesteek word as ons dit dra ...

Page 1 · 2
posts 1–20 of 32 newer >

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now