Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
32 views

STROOIDAK EN TORING : VAN MENSE EN MY TYD Izak de Villiers

Page 1
posts 1–1 of 1
superstar - founder
993 posts

STROOIDAK EN TORING : VAN MENSE EN MY TYD - Izak de Villiers

Izak de Villiers se herinneringe, wat hy uit ’n hele lewe se ervarings en ontmoetings opdiep, volg nie ’n chronologiese lyn soos ’n mens meestal in ’n outobiografiese geskrif kry nie. Die jeugjare in die eerste aflewering wat so ’n lyn laat vermoed, word gou vervang met spronge in die tyd en ’n episodiese gang. Met die afwisseling van anek­dotes en meditasies, sonder dat die geheel rommelrig raak of in ’n opdringerige prekerigheid verval, gee die boek eerder ’n bont mosaïek ervarings van wat die verteller als beleef het, herinneringe waarin die profiel van ’n spesifieke persoon telkens in opeenvolgende aflewerings belig word.

Dit is ’n stoet figure wat voor die leser verrys, “gestalten tegenover mij” wat die verteller meestal beïndruk maar soms ook afstoot, telkens met afwisseling tussen die komiese en die ernstige, alles geskryf in ’n uitmuntende prosastyl.

Daar is Pik Botha wat soms laataand of douvoordag aan ’n slapende Izak oor die telefoon sy ge­digte voorlees – ’n reeks ervarings wat sober oorvertel word, sonder dat hy die innuendo’s uitlap. Daar is die uiteensetting van Verwoerd se “sosiale ingenieurswese” waaroor De Villiers van vroeg af, soos trouens ook met die hele beleid van die Nasionale Party, ongemaklik was. Verwoerd is volgens De Villiers se seun Louis beskou as feitlik ’n heilige, ’n “kruis tussen die Here Jesus en Vader Krismis”. En daar is die hartchirurg Chris Barnard met sy groot talent, maar wat op sy nederige agtergrond neergesien het. Piet Cillié het by geleentheid aan hom gesê: “Beaufort-Wes het jou jou minderwaardigheidskompleks ge­gee, en ’n min­derwaardigheidskompleks plus onbetwiste talent is ’n weergalose wenkombinasie.”

Van die boeiendste stukke rondom spesifieke figure is dié oor Cillié en FW de Klerk: oor Cillié, sy mentor, met groot waardering, maar ook dikwels oor die baie kere dat hy nie geskroom het om sy verskille sonder sagte woorde te laat blyk nie; oor De Klerk wat, volgens hom, die kieserskorps met ’n referendum gekonfronteer het waarin verkeerde vrae gevra is, gevolg deur ’n lamsakkige vertoning van die verteenwoordigers van die NP in die onderhandelinge. Daar is ook die ontmoeting met ’n verwaande Jimmy Kruger wat ná sy gewraakte woorde oor Biko manhaftig sy standpunt verdedig en ’n moedige De Villiers wat met meedoënlose logika die vloer met hom vee. By wyse van kontras is daar die indruk wat Margaret Gardiner met haar beskaafdheid op hom maak, iemand wat in die VSA in die wêreld van die modes leef, maar nie die liefde van haar familie in ’n nederige Woodstock afgesweer het nie.

Nog hoogtepunte in dié reeks herinneringe is dié aan Audrey Blignault, ’n “gelukskind” en iemand “met ’n gawe vir vriendskap”; Berta Smit, sy redakteur by Tafelberg; Louis Luyt, die koning van rugby; en Sheila Cussons wie se begrafnisrede (soos ook dié van Blignault) hy gehou het.

De Villiers huiwer nie om sy eie tekortkominge – sy oormoed, opstandigheid en kortgebakerdheid – onbeskaam te noem nie. In dié verband is die kritiek van sy teologieprofessor Kolie Kotzé baie insiggewend. Kotzé het hom ’n 9 vir sy proefpreek gegee, maar goed die kop gewas: “Jy is ’n mannetjie wat vir die pawiljoen wil speel. En ’n prediker speel nie vir die pawiljoen nie. Hy lê God se Woord uit, so helder en duidelik moontlik.”

Dikwels staan die herinneringe aan mense in dié pragtige boek ook in die teken van afskeid, want soveel van hulle het De Villiers in die dood voorafgegaan. So is die laaste besoek aan die uitgewer Daantjie Saay­man in ’n gevorderde stadium van kanker iets van ’n uitvaart: “Buite in sy tuintjie het ons mekaar byna koorsagtig soos geliefdes omhels. Ons het geweet. Hy het my op my rug getik asof hy my wou troos, maar self ’n snikkie gegee.

“Ek het weggery terwyl hy vir my staan en waai. Voor die einde van sy straat het ek die ruit afgedraai en by die venster uit vir hom gewaai. Hy het met albei hande gewuif, soos in ’n seën.

“Dis soos hy nou nog vir my waai.

“Net: ek verbeel my hy wink deesdae meer as wat hy waai. Asof ek moet nader staan vir ’n storie.”

JC Kannemeyer in Die Burger

Bestel Strooidak HIER van Kalahari.

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
Page 1
posts 1–1 of 1

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now