Die panorama in my truspieël deur Daniel Hugo. Protea (slapband, 64 pp.).
Reeds met die lees van die inhoudsopgawe van Daniel Hugo se jongste
digbundel kan die leser aflei dat hy hier te doen gaan kry met verse
oor die liefde, oor plekke, oor die skryf van gedigte en oor diere –
almal temas bekend uit Hugo se oeuvre sedert hy in 1981 in Brekfis met
vier gedebuteer het.
Hugo publiseer ook al om die ander
jaar ’n digbundel en wat ek nog altyd van sy digkuns bewonder, is sy
vermoë om te rym; om die juiste rymwoord te vind sonder dat daar sprake
is van ’n gedwing.
Hy lewer trouens self hierop kommentaar
in “Toe en nou” (p. 44) wanneer die spreker soek na “ ’n verbrande rym
op ick” – om te rym met “blonde chick”.
Wat die titel van
die bundel betref, kom dit veral in die slotgedig, “Die lang pad” (p.
64), ter sprake, waar die gegewe van die pad vorentoe en die onbekende
“groot miskien” wat op jou wag, ondersoek word.
Die
spreker in die gedig kyk in die truspieël en kom tot die besef dat die
panorama agter jou altyd deel sal wees van jou ervaring en dat die
bestaan soos ’n palindroom is – “begin is bestemming en bestemming is
begin”.
Die besin oor die digkuns kom reeds in die
openingsgedig, “Voyeur” (p. 7), voor, waar nie net die spieëlmotief in
die bundel geaktiveer word nie, maar waar ook verwys word na God wat sy
rug op die mens gedraai het en seer sekerlik “ ’n digter moet wees,
want hy “leef per-vers”.
In “Sinne en sin” (p. 13) tree Hugo in gesprek met Marlene van Niekerk oor die kwessie van poësie as/en filosofie.
In
hierdie gedig word geredekawel oor of gedigte wat mooi lyk en klink
enigsins beter (of slegter) is as verwikkelde vernufspoësie.
By
Hugo self is daar ’n balans tussen die twee, want sy vernuftige omgang
sorg daarvoor dat sy kort gedigte nie “die verstand verveeld (laat)”.
Vergelyk in dié verband die gedig “Zen-digter” (p. 18). Of die rits
haikoes met hul gevatte titels.
Ewe grimmig is “Loflied op
die letterkunde” (p. 20), wat handel oor die spreker se liefde vir die
letterkunde, maar ook oor sy liefde vir diegene wat die ongeleeste,
onverkoopte boeke verpulp en “bruikbare bokse” maak uit die hoop
papier.
Naas die digkuns word daar ook lofliedere aangehef
oor die liefde en die huwelik. So word die liefde met ’n ui vergelyk
(p. 38) en word man en vrou se verskillende perspektiewe op die liefde
weergegee in terme van die skil van uie. Slim word daar ook gespeel met
“ui” en “ei” in die gedig.
In “Huwelik” is daar weer
sprake van ’n spinnerak. Vergelyk hierteenoor ’n gedig soos
“Kortsluiting” (p. 42) waarin die erotiese tweespraak tussen man en
vrou beskryf word, of die plesierige “Toe en nou” (p. 44).
Opvallend
dat Hugo, net soos Johann de Lange in sy Die algebra van nood, korter,
kompakter verse skryf. Is dit dalk in reaksie op die eietydse, langer,
narratiewe vers deur Danie Marais of die uitgebreide,
filosofies-besinnende vers deur Charl-Pierre Naudé?
Hugo
se bundel dien as ’n goeie illustrasie van hoe met die woord en
wederwoord gewoeker kan word; hoe vernuftig op klein skaal met die
woord omgegaan kan word. Asook dat gedigte humoristies kan wees sonder
om gruwelik of gomgatterig te wees.
(Marius Crous in die Beeld)
Dit lyk my een probleem van ons arme lesers in hierdie resessie is dat party skrywers nog daarby so 'n groot "output" het en twee boeke gelyk uitgee, want Die Lenige Liefde, vertalings wat Daniel Hugo van Herman de Coninck se gedigte gemaak het, lê nog ongelees hier by my. Sy vorige vertalings van de Coninck, "Liefde, miskien", was 'n groot gunsteling van my, wat ek telkemale uit die biblioteek geneem het, tot dit op 'n dag net verdwyn het. Volgens die bibliotekaresses se stelsel moet hy daar wees, maar hy is nie. Gelukkig het ek onwettige kopieë van 'n klompie van die gedigte en wil nog probeer kyk in watter mate die nuwe en ou bundels dalk oorvleuel.
Ek wonder nogal wanneer is 'n gedig nou "gruwelik of gomgatterig"? Party van Carl Boplaas se speelse versies? Of van die hoog aangeslane Loftus Marais? As dit by Afrikaanse musiek kom is dit vir my makliker om my oordeel daaroor te vel.
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member