Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
32 views

Voetstoots - John Miles

Page 1
posts 1–1 of 1
superstar - founder
993 posts

"Om klip te pak is amper iets soos meditasie, jy doen dit later outomaties," sê hy in gedagte, terwyl hy die netjiese klipmuurtjie betrag. "Daar is iets van 'n bevryding daarin. En ek minag nie 'n enkele klip nie, o nee."
Ek stap saam met die skrywer John Miles op sy plaas, Katstaartlaagte, neffens die Oorlogskloof-natuurreservaat in die Onder-Bokkeveld naby Nieuwoudtville. Sy elfjarige foksterriër, Gerrie, draf opgewonde saam, op soek na die lastige werfhaas wat onmin in die groentetuin saai. Die natuurskoon hier op die plato anderkant Vanrhynspas, oftewel die grens tussen die Wes- en Noord-Kaap, is bergagtig, ongerep. Fynbos- en blommewêreld.
John het hier kom aftree in 1998, nadat hy dekades lank verbonde was aan die Universiteit van die Witwatersrand se eertydse Departement Afrikaans en Nederlands. Hier was byna niks met sy aankoms nie. Net 'n eensame windpomp.
Maar hy het vroeg in sy lewe geleer hoe lekker dit is om met sy hande te werk.
Eers het hy vir 'n paar maande in 'n tent gebly terwyl hy omtrent man-alleen sy stylvolle kliphuis en 'n aangrensende dubbelverdieping-eenheid - wat ook sy "winkel" of skryfkamer huisves - gebou het. Die krag is alles van sonpanele afkomstig, met 'n diesel-kragopwekker op die reserwebank. Dit is hier waar hy en die kunstenaar Saar Steenkamp die afgelope dekade nesgeskop het. Hy was vroeër 35 jaar getroud met Elza, ook 'n kunstenaar, en het drie kinders.
Hy boer ook 'n bietjie met boegoe, rooibostee en olyfbome. Op die kombuistafel pryk 'n bottel heerlike olyfolie met 'n Katstaartlaagte-plakker op. En hy bak 'n bobaas-olyfbrood. "My pa was 'n bakker, ek dink dis hoekom ek op my hoë ouderdom begin brood bak het," sê hy terwyl hy die geurige brood, vars uit die oond, sny.

John is nie een vir die kollig of literêre bekgevegte nie. Klagtes van 'n oordrewe skrywersego, grootpraat of fyn spog sal jy nie voor sy deur lê nie. Hy is veel eerder 'n nederige, joviale en gasvrye mens. 'n Yweraar, nougeset. Stel in baie dinge belang - van die filosofie tot die Bokke se spelpeil. Leef gesond en naby aan die natuur - hy lyk ten minste tien jaar jonger as sy sewentig somers.
Hy noem homself 'n "kopmens", maar aan die knap bouwerk, versorgde groentetuine en netjiese olyfboord is hy in krieketterme 'n allrounder. 'n Vriendin noem hom " 'n Renaissance-man - iemand wat alles kan doen".
Die veelsydigheid kom van ver af. Hy is ná skool na die Universiteit van Pretoria om teologie te gaan studeer. 'n Preekstoel het hom egter nooit gesien nie en hy het eerder 'n M.A. in sosiologie behaal.
Op universiteit was sy vakansiewerke uiteenlopend: Hy het ambulanse bestuur ("en nog 'n ongeluk ook gemaak"), agter die stuur van 'n lykswa gesit, en by 'n ertsmyn, fietswinkel en prokureursfirma gewerk . . .
Maar hoewel hy nie in 'n huis met boeke grootgeword het nie, het die begeerte om te skryf, om op te teken, in sy vroeë twintigs al hoe sterker geword: 'n suksesvolle loopbaan as akademikus en skrywer sou volg. (Terloops, hy is Johannes Daniel gedoop, maar is van kleins af John genoem om hom van nefies met dieselfde oupa-voorname te onderskei.)
Huisbou het heelwat met skryf in gemeen, reken hy, terwyl hy nou so na die mure in sy sitkamer kyk. "Jy begin met 'n kamer en weet eintlik nie. So ontwikkel 'n ding. En dan maak jy 'n vuurherd. Jy weet nie hoe groot die opening moet wees nie. Dit groei so. Dit is vir my dieselfde met romanskryf."
Dit stem ooreen met 'n onderhoud met Lucian Freud wat hy onlangs gelees het. "Lucian Freud kyk na sy kuns as tydelik en veranderlik. Portrette groei uit een element uit, dikwels 'n oog. Ek is 'n modernis, ek glo in 'n funksionaliteit, maar dit is 'n organiese ontwikkeling. Jy weet min of meer in watter rigting, maar dit kan baie afdraaipaadjies loop."

Tydens verlede jaar se Stellenbosse Woordfees is sy merkwaardige bydrae tot die Afrikaanse letterkunde oor die afgelope dekades in die aanbieding Kroniek van John Miles: sewentig jaar! gevier.
Sy CV is indrukwekkend: In 1963 het sy eerste gedigte in Standpunte verskyn, voor hy in 1970 gedebuteer het met die invloedryke kortverhaalbundel Liefs nie op straat nie. "Die stemvurk van Sewentig," het André P. Brink sy lof in 'n destydse resensie besing.
My eerste kennismaking met John se skryfwerk was die titelverhaal in dié bundel, wat 'n voorgeskrewe kortverhaal was op hoërskool in die negentigs. Van meet af het hy intrigerende, verwikkelde prosa geskryf wat nie geskroom het om die politiek van die dag voor stok te kry nie.
Hy deel graag die staaltjie van 'n destydse hoofuitgewer wat hom vermaan het om die openingsin uit die verhaal "Vir oulaas Lientjie", wat in Liefs nie op straat nie verskyn het, asseblief te verwyder. Die sin het as volg gelui: "Lientjie het gesien hoe Tom op 'n dag aan die los bors van die bediende vat."
Die uitgewer was ferm: "Mnr. Miles, u weet mos, 'n mens dóén nie so iets nie."
John het uitgeroep: "Maar . . . dis funksioneel!" en volstrek geweier dat die sin uitgelaat word. Die uitgewer het publikasie geweier en die boek (met bogenoemde sin onaangeraak), het by die meer dapper Buren-uitgewers verskyn.
Ses romans het hierna gevolg.
Hy het dikwels met sensuur te doen gekry: sy satiriese roman Donderdag of Woensdag (1978) is verbied en die kinderboek Stanley Bekker en die boikot (1980) - geskryf uit die perspektief van 'n bruin seun onder die juk van apartheid - is tot verbode leesstof verklaar: 'n eerste vir 'n Afrikaanse kinderboek. Elza het destyds by 'n private skool naby Westdene in Johannesburg skoolgegee, en die kinders het self die boek geïllustreer.
John sê vandag hy sou dit graag wou uitbrei tot 'n ondermynende "skoolboekiereeks".
Dan was daar natuurlik sy veelbekroonde polisieroman Kroniek uit die doofpot (1991), wat wyd beskou word as een van die merkwaardigste en belangrikste bydraes tot die Afrikaanse prosa.
Hierin was die polisieman Tumelo John die slagoffer van die staat se "opvreetmasjien" en bedrog, geweld en aanranding binne die polisie is oopgevlek. In 1997 het die boek in Eng els verskyn as Deafening Silence, en 'n televisiereeks op SABC het gevolg. Kroniek uit die doofpot is in 2005 deur Human en Rousseau heruitgegee.
John Miles was ook uitgewer: saam met Ampie Coetzee en Ernst Lindenberg was hy medestigter van Taurus, wat boeke uitgegee het waarvoor die groot kanonne te bang was weens die destydse streng Wet op Publikasies.
Danksy Taurus het byvoorbeeld André P. Brink se Oomblik in die wind en verskeie invloedryke boeke deur onder andere Breyten Breytenbach, Nadine Gordimer, RR Ryger, Ryk Hattingh, Antjie Krog en John self in die onstuimige sewentig- en tagtigerjare wel verskyn.
John lag vandag lekker oor "die ou dae" by Taurus en hoe hulle die uitgewery as 'n "posbesteldiens" vermom het, kompleet met 'n adminis?tratiewe vorm wat volgens wet by "die perseel" - in werklikheid agter die voordeur van sy huis in Melville - opgeplak was. In 'n ironiese wending is die eerste van Taurus se hoogs omstrede boeke gedruk by New Era Printers in Vrededorp, wat aan 'n Indiër behoort het wat nie 'n woord Afrikaans kon verstaan nie en tot in daardie stadium slegs bokse gedruk het!
Ampie Coetzee, André P. Brink, Chris van der Merwe en Dorothea van Zyl het by die Woordfees-huldeblyk sy oeuvre in oënskou geneem. Tydens sy toespraak het John die karakter Smerski uit sy vorige roman, Die Buiteveld (2003), aangehaal: " 'n Mens voltooi nie 'n lewe nie, jy kry nie daarmee klaar nie."

Sy nuwe roman, Voetstoots, uitgegee deur Human & Rousseau, het vandeesweek op die winkelrakke verskyn. Dit is 'n meesleurende, kontemporêre roman van oor die 350 bladsye, wat soos met die meeste van sy vorige werk, op die lotgevalle van gewone sterflinge fokus, teen die agtergrond van 'n gewelddadige samelewing.
Hy noem Voetstoots " 'n episode". Die verhaal speel binne enkele dae af teen die einde van 2006 in 'n fiktiewe Namakwalandse dorpie, met die sandsteenkranse van 'n berg - Losberg - wat bo die landskap uittroon.
"Party mense dink verkeerdelik dit is Vanrhynsdorp. Maar ek ken nie eens die plek nie. Dit is 'n denkbeeldige dorp, bevolk met my eie karakters, maar geen dorpskarikature nie. Dit is natuurlik gevoed deur modelle hier en daar, grepies wat jy neem."
Die berg weerspieël gedurig die karakters se emosies en kwesbaarhede - soms 'n "stille getuienis van ander tye", dan weer 'n "soliede, gevoellose klipmassa".
Die rolprent Confidence, deur die Hongaarse filmmaker István Szabó, het as 'n eerste inspirasie gedien. "So 'n cliché-toneel van 'n vrou en 'n vreemdeling wat dieselfde kamer deel in 'n polities onstuimige tyd. Almal weet wat in die fliek volg, en dan gebeur dit ook. Maar hoe dit gebeur en die implikasies daarvan word so 'n boeiende opset."
Hy het lank geloop met die idee vir dié roman. "Dit is eintlik 'n Rooi Rose-gegewe," sê hy met 'n laggie. "Dit is my indruk van so 'n cliché-opset. 'n Toevallige ontmoeting tussen 'n hy en 'n sy . . . en dan gebeur wat almal verwag. Alles vind geweldig vinnig plaas. 'n Verhouding wat binne twee dae uitblom en dan begin die probleme, want daar is ook 'n kind by. Nou ja, dan is daar ook 'n afloop," merk hy beskeie op.

Die twee hoofkarakters is August en Tessa. August is 'n vreemdeling, "die eenkantsoort", wat na die dorpie trek - eintlik vlug - om redigeerwerk aan 'n pas ontdekte dagboek van die 18de eeuse ontdekkingsreisiger, kolonel Robert Jacob Gordon, te voltooi. Tessa is 'n polisievrou op die dorp, besig om van haar onstabiele en jaloerse man, Andries, wat by die Skerpioene werk, te skei.
Wanneer 'n toevallige ontmoeting op Oukersaand daartoe lei dat Tessa se seuntjie, Otto, deur August opgepas word, skop 'n onomkeerbare, komplekse proses af wat albei volwassenes voor verskeie keuses met verreikende gevolge te staan bring. "'n Mens moet respek hê vir die toeval," merk die verteller by geleentheid op.
Sowel August as Tessa dra swaar aan die verlede. Een van die sleutelgedagtes in die roman is wanneer August besef: "Die verlede is ?n denkbeeld waarvan jy nie kan loskom nie." En die mantra: "Ons lewe deur herhaling."
Op die eerste bladsy spreek die verteller die leser direk aan: "Wees voorbereid op 'n verhaal uit 'n toevallige bestaan, 'n onderbreking, terwyl die meesternarratief van die land elders uitgepluis word."
John wil die leser aan die raai hou oor wie die verteller kan wees. "Dit word in die derde persoon vertel, maar daar is 'n bietjie van 'n manipulasie."
Maklik was die skryf hiervan nie. "Ek was onseker. Ek het dikwels gewonder of ek moet aangaan. Word ek nie afgetrek in 'n pappery nie? En dan dink ek, nee, ek hanteer dit goed, en met respek. Dit is vir my so maklik om sinies te wees en daai kille, aftakelende kyk kom vanself, maar in hierdie roman is daar weinig van."
Hy het dit baie geniet om " 'n bietjie te speel." "Daar is historiese goed, 'n liefdesverhaal, spanning, 'n moontlike moord.
Sommige ouens sal miskien sê ek sit op te veel stoele, maar hopelik is dit 'n gewone postmodernistiese potpourri. Ek sien dit eintlik as nog 'n soort Buiteveld waar 'n Smerski-karakter verder gevoer word. En die toeval speel weer 'n groot rol, soos in Die Buiteveld."
Hy lag. "Ek het nou rond en bont gepraat, jong, as die wind so opkom . . ."
John reken daar gaan uiteenlopende reaksie op die roman wees. "Iemand het eenkeer vir my gesê 'jy wil seker lesers vroeg vervreem, want jy wil hulle nie hê nie'. Maar die toeganklikheid van die verhaal is vir my nogal belangrik, om die idees te omskep en te verwerk in handelinge. Die openingstoneel loop dinge ?n bietjie vooruit."
Hy het eers gespeel met die titel Lewende Hawe. "Maar toe is ek bang die koöperasies bestel dalk die boek en stuur dit terug later," sê hy laggend.
Waarom juis Voetstoots? ?Die karakters belê in iets, in hierdie geval 'n verhouding, en daar is geen waarborg dat dit die regte keuse is nie. Dit is soos wanneer jy op iets bie: jy weet nie of dit goed of sleg is nie, jy moet dit maar net aanvaar soos dit is, gebreke en al." Hy het dit geniet om die bestaande dagboeke van kolonel Robert Jacob Gordon, bevelvoerder van die VOC se troepe aan die Kaap tot 1795, na te vors.
"Hy was 'n fassinerende mens. 'n Avonturier, 'n reisiger na die onbekende binneland en 'n nougesette optekenaar wat pragtige illustrasies gemaak het. Hy kon van die Khoi-tale praat en werklik kommunikeer, sonder om op 'n neerbuigende manier van 'n tussenganger gebruik te maak. Deur te maak dat August 'n laaste dagboek van hom vind, kon ek verder kommentaar lewer op die geskiedenis."
Smerski se woorde in Die Buiteveld eggo weer eens in die nuwe roman, wanneer August deur Gordon se dagboek lees en besin oor " 'n moedelose skrywer wat swig voor die onmoontlikheid van geslaagde optekening, die onmoontlikheid van volledigheid" (bl. 356).
Vir John is dit belangrik dat die leser aan 'n karakter moet kan glo.
"Dit moet 'n waarskynlike karakter wees, ek voel sterk oor die menslike karakter as 'n eenheid van potensialiteite. Alles is vloeibaarhede. Die moontlikheid bestaan, gegewe sekere omstandighede dat hy só en só kan ontwikkel, maar daar kan iets voorval dat hy 'n heeltemal ander rigting kan inslaan."
Hy weet self nie waarom hy skryf nie.
"Ek stel ook nie belang om te weet nie. Ek weet net dit is vir my singewend om te doen, iets waarmee ek maklik aanhou. Dit klink amper sentimenteel, maar dit maak sin. Ek wil probeer om meer van 'n roetine te hê. Daar is niks so wonderlik soos 'n roetine nie. Ek praat nie van 'n gevangenskap nie, maar 'n roetine wat skép en momentum gee aan iets."

Ons drink 'n laaste koppie koffie op die stoep. Dit is tjoepstil rondom ons. Die ooptes is vredig, doer op die horison - sowat 60 km weg - weerkaats 'n motorlig buite Calvinia.
"Soms dink ek ek het een of ander adolessente behoefte aan afstand," sê John nadenkend.
Maar dit is niemand beskore nie, soos sy verteller in Voetstoots opmerk: "Ons is onherroeplik aan die tyd uitgelewer, van afstand is daar geen sprake nie" (bl. 320).
"Die hele lewe is transformasie, dis daai aan-die-gang wees. Gelukkig is ek geseën met goeie gesondheid. Ek het geen behoefte om weg te gaan van die plaas nie, maar ek sal dit ook aanvaar. Jy móét dit aanvaar . . . jy dra alles met jou saam."
 Erns Grundling in die By

Bestel Voetstoots HIER.

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
Page 1
posts 1–1 of 1

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now