Die voorblad van Annelie Botes se jongste roman, Thula-thula, is kotsgeel met 'n onheilspellend falliese, skerpgemaakte rooi vetkryt. Die meisietjie, 'n stokfiguurtjie in 'n rok, se oë is swart gaatjies, haar hande oor haar skaamte gevou, haar mond 'n verbete kruisie - "thula" beteken tog "wees stil". Die boek dra 'n ouderdomsperk van 18 jaar, en dit is nie vir die bangmoedige nie. 'n Mens lees dit met jou hart wat in jou kuiltjie klop. Die tema is kindermolestering.
Elbie Lötter se boek Dis ek, Anna, het 'n paar jaar gelede
hierdie taboe oopgeskryf en dit is steeds nodig dat dit aan die groot
klok gehang word - blykbaar kom bloedskande in een uit elke vyf
Suid-Afrikaanse gesinne voor.
Triomf se mense was dus nie net 'n geïsoleerde enklave van versukkeldheid nie.
Die kind Gertruida se pa Abel molesteer, verkrag en sodomiseer
haar vandat sy vier is. Haar ma drink elke nag 'n slaappil en kyk
anderpad.
Bedags drink sy purgeermiddels. Daar is selfs 'n
tweede moederfiguur wat bewus is van wat aangaan, maar verkies om stil
te bly - Mama Thandeka, wat vir Abel grootgemaak het. Die eenvoudige
opsie om mans, penisdraers, te blameer vir alles wat stukkend is,
bestaan dus nie. In die voortyd was dit vroue wat jong maagde na die
offerplek lei om die onheil van hulself af te weer en so gaan dit
steeds.
My toets vir hierdie soort boek is altyd hoe outentiek die
kinderstem is. Dink maar aan die onvergeetlike stem van die bot,
moerige Celie in The Color Purple.
Gertruida is 'n ander een. Sy is hoogs begaafd, briljant, veral
as dit kom by woorde. Sy slaag telkens daarin om die nagmerrie te
verwoord, as iemand maar net wou luister. Bloedskandelike lakensake in
'n kinderwoordeskat is die stoffasie van senu-ineenstortings: "sy
slurpie eet my pietermuis".
'n Mens word yskoud by die besef hoe hulpeloos 'n kind is
wanneer sy grense vroeg-vroeg vernietig is. Hierdie kind is 'n
oorlewer.
As tiener en jong vrou is sy beskadig, maar tog verbasend
uitgesorteer (met die hulp van 'n tante wat self deur die nagmerrie is
en 'n sielkundige, wie se hande ook afgekap is as die kind nie self 'n
klag gaan lê nie). 'n Skoolmaatjie wat ook jare lank deur haar eie pa
verkrag word en later die lewe skenk aan 'n gestremde kind, gaan lê wel
'n klag en die gevolge is katastrofaal: haar pa verloor sy pos as
landdros, hulle verloor hul huis, sy en haar kind word 'n ruk lank in
'n inrigting geplaas en dan maar weer teruggestuur na haar (nou) arm,
verbitterde ouers. Gertruida besef dus dat sy geen hulp van die sisteem
kan verwag nie.
Nog 'n reddingsboei is haar vriendskap met 'n sensitiewe
onderwyser wat nie veel ouer as sy is nie. Sy oorweeg haar opsies en
begin haar "minnaar" manipuleer met seks om meer vryheid te koop.
Die haat-liefde verhouding met haar pa, die siek verknotting, word uitstekend geskilder.
Abel is 'n vol karakter vir wie die leser selfs soms, teësinnig,
meegevoel ervaar. Sy eie kinderdae was 'n piekniek in die hel. Die kind
se ma word minder volledig geteken, sy bly sketsmatig, iemand wat
lankal die handdoek ingegooi het en maar net deur die bewegings gaan.
Twee goed hinder my: dit voel asof die gebeure (landelikheid,
tennis met hooggeplaastes op Saterdag, verlate plekkies op die plaas
waar die kind dae lank kan wegkruip) by 'n vroeër tyd hoort, dertig of
veertig jaar gelede, maar die storie speel in die hede af.
En: dit is 'n boek wat sy tema genadeloos ontgin en geen houe
terughou nie, dit dra selfs 'n ouderdomsbeperking, tog is dit amper
onverwags hoopvol en romanties, soos 'n jeugboek: die onderwyser, die
ridder op die wit perd, het haar lief en is immer daar vir haar en sy
beantwoord sy liefde, beskadigde psige en verslapte kringspier of te
not. Maar Botes weet hoe om ?n storie te vertel. Die leser is hopeloos,
afgryslik vasgenael. Lees dit as jy dapper is.
(Deborah Steinmair in die By)
Thula-thula word deur Tafelberg uitgegee.
Bestel Thula-thula HIER.
Ja, jong, ek moet dit net in die hande kry!
MK, ek sien jy gebruik 'n kalahari.net e-trader link. Mag ek myne ook maar gebruik?
Hondjie, ek het 'n inskrywing hier oor Kalahari gemaak verlede jaar, om te verduidelik waaroor dit gaan. Kortliks:
"Koop jou boeke by Kalahari.net
Ek wil julle almal asseblief vra, as julle boeke by Kalahari wil bestel, doen dit tog maar van Boekemakranka se skakel af in die kolom regs. (Of kliek sommer hier bo, as jy vandag 'n boek bestel)
Ek is 'n 'Affiliated Partner' by Kalahari, en kry 'n (baie klein, maar darem) kommissie op elke bestelling wat van hier af skakel. Dit help om darem nou en dan 'n ekstra gig by te koop, vir al die bandwydte wat ek gebruik."
As jy egter die moeite doen om 'n inskrywing te maak oor 'n boek, mag jy natuurlik jou eie e-trader skakel gebruik.
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member