Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
24 views

Let the right one in

Page 1
posts 1–1 of 1
regular - member
148 posts


As julle die geleentheid kry om hierdie film te sien doen dit! Ek is totaal gefassineerd deur hierdie Sweedse vampier film vanaf die boek met dieselfde titel (In Sweeds: Låt den rätte komma in) deur die skrywer John Ajvide Lindqvist. Die storie speel af in die tagtigs in 'n werkersklas buurt in Stockholm en het heelwat tipies vampier elemente maar word wonderlik slim, sensitief en met baie grasie vertel. Dis 'n liefdesverhaal sonder maklike antwoorde. Wanneer is dit wat ons vir liefde doen geregverdig en hoe verweef raak dit (liefde) met een mens wat 'n ander bloot vir praktiese redes nodig het. Liefde is kortstondig en veranderlik. Die landskap in die film is beide sneeuwit en donker en die klank van die Sweedse taal mooi en amper bekend. Ek is mal oor die titel. Die titel van die boek is glo geinspireer deur 'n liedjie van Morrisey 'Let the right one slip in'. Dit pas by die vampier en liefdes temas en ek kan nie verstaan dat beide Engelse publiseerders van die boek en die makers van die nuwe Engelse weergawe van die film, dit verander het na 'Let me in' nie.

Ek kan ook nie help om hierdie storie met 'Twilight' te vergelyk nie. Terwyl ek 'Twilight' die boek geniet het en die film ook tot 'n mindere mate voel ek dat die reeks amper te skoon is. Die vampiere daar word nie bedreig deur sonlig nie, slaap nie en word amper goddelike wesens wat kan kies om nie aan hulle behoeftes in te gee nie. Die moeilike nuanses van menswees (of onmenswees) word maklik gemaak en dis seker hoekom dit as jeugboeke bemark word. Ek wil nie die Twilight boeke kritiseer nie, dis net interessant hoe verskillend die twee benaderings is.


Page 1
posts 1–1 of 1

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now