Page
1
posts 1–1 of 1
+0
permalink
ZOMERTIJD -J.M. Coetzee
’n Biografie probeer meestal “die mens” agter ’n
bekende se masker vaspen. Hoe weet ’n mens watter verhaal oor iemand
waar is? Deesdae is daar skepsis oor die betroubaarheid van beelde
waarmee ander weergegee word, maar soos die media getuig, kortwiek
dit nie biografiese belangstelling nie.
J.M. Coetzee se werk was altyd behep met dié
glibberigheid van identiteit en die komplekse verhouding tussen
werklikheid en fiksie. Zomertijd (die Nederlandse vertaling van
Summertime), die slotdeel van sy (outo)biografiese drieluik, ná
Boyhood (1997) en Youth (2002), span hierby die kroon.
Vincent, die fiktiewe biograaf, versamel inligting
vir ’n lewensverhaal van die onlangs oorlede (!) skrywer Coetzee. Hy is
veral geïnteresseer in die periode 1972-1977, toe Coetzee aan sy
debuutroman, Dusklands, gewerk en saam met sy pa in ’n verwaarloosde
werkershuisie in Tokai, Kaapstad, gewoon het.
Om ’n beeld te kry van Coetzee se private lewe van toe, reis Vincent die wêreld deur op soek na getuies.
Hy voer gesprekke met Julia, ’n getroude vrou met
wie Coetzee ’n verhouding gehad het, met sy gunstelingniggie, Margot,
met die Brasiliaanse danseres Adriana, wie se dogter by Coetzee
Engelslesse geneem het, en met die oudkollegas en vriende Martin en
Sophie.
Ironies genoeg lewer hierdie gesprekke meer oor die getuies as oor hul onderwerp op.
Boonop besef Vincent gou hy kan nie struktuur op
die materiaal afdwing nie; Julia sê byvoorbeeld haar verhaal het ’n
kop en stert, maar nie die romp waarop Vincent aandring nie. Die
inligting wat ingesamel word, gaan veral oor Coetzee se
geslotenheid, sosiale onhandigheid en geremdheid.
Ander onderwerpe, wat hierby aansluit, is die
blywende invloed wat die dor Karoo van sy jeugjare op hom gestempel het
en dat dit “deze koude vis” (Julia se woorde) heeltemal aan seksuele
aantrekkingskrag ontbreek: “Het was alsof hij van hoofd tot voeten met
een neutraliserende spray was bespoten, een steriliserende spray.”
Aansluitend hierby is daar gesprekke oor sy ewe
liefdelose as skuldbelaaide verhouding met sy pa, die vervreemding van
sy familie, taal en geskiedenis, en selfs sy afstand van die stryd
teen apartheid. Tog verdoesel die gesprekke hieroor meer as wat dit
verhelder.
Op die relasie tussen Coetzee die mens en Coetzee
die Nobelpryswenner en skrywer word nie veel lig gewerp nie. Die
interessantste suggestie kom van Julia, wat haar vroeëre minnaar as
een van die vredeliewendste mense sien wat sy ooit geken het.
Volgens haar vermag hy dit deur alle gewelddadige impulse na sy
literêre werk te kanaliseer, “dat als gevolg daarvan een soort
oneindige oefening in catharsis zou worden”.
Behalwe vir gespreksverslae bevat Zomertijd
ongedateerde dagboekfragmente van die skrywer en aanvullende
aantekeninge oor aspekte van sy persoonlikheid waaroor hy self nog
verder wou nadink. Deur die verdubbeling van die soektog na die self
raak werklikheid en fiksie op ’n ingewikkelde manier vervleg.
Vincent is ’n skepping van Coetzee, wat op sy beurt
die onderwerp word van ’n fiktiewe biograaf wat sonder sukses
waarheid en verdigting van mekaar probeer skei.
Die resultaat is ’n ineengestrengelde knoop van
skynbaar outentieke verslae en bedrieglike bespiegelinge, met die
bedoeling om te laat sien dat dit onmoontlik is om op die menslike
psige vat te kry.
Tegelykertyd is dié meervoudig gelaagde struktuur
die enigste manier waarop die afwerende Coetzee na homself kan kyk.
Jy sou hom, by alle genadelose kritiek wat hy die karakters in die
roman oor hom laat uitgiet, ook maklik van narcisme kan verwyt.
Miskien is Coetzee se versluiering van ’n
uiteindelike waarheid en sy moedswillige vergroting van die raaisel
tog ’n daad van skaamtelose selfverheerliking.
Dit beteken nie dié kwasi-outobiografiese roman is
nie meesleurend nie. Die byna 300 bladsye boei enduit. Saam met
Vincent is jy naarstig op soek na die man agter die skrywer, tot jy
ook uiteindelik besef ’n biografie kan nooit iets anders wees nie as
’n tweeslagtige geheel waarin die skadu’s van die beskrewe persoon, sy
biograaf en dié se informante in mekaar oorvloei.
Uiteindelik is die enigste wenner in dié spel tussen
werklikheid en fiksie Coetzee self. Met ’n vaardige verdwyntruuk vermy
hy die etiket en stempel van ’n beslissende lewensbeskrywing. En
daarmee ontglip hy nie net die leser nie, maar ook homself.
) UITGEVERIJ COSSEE, AMSTERDAM. (HARDEBAND, 288 BLADSYE, ISBN 9 789 05936 257 4.) UIT ENGELS VERTAAL DEUR PETER BERGSMA.
) ANNEMARIÉ VAN NIEKERK IS ’n LETTERKUNDIGE VAN DEN HAAG, NEDERLAND.
Page
1
posts 1–1 of 1
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member