Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
91 views

Staan in die algemeen nader aan vensters - Loftus Marais

Page 1
posts 1–6 of 6
regular - member
90 posts

voorblad
Alhoewel die digbundel redelik maklik lees, het dit my nogal 'n tydjie besig gehou. Ek het die koop van sy bundel vir te lank agterweë gelaat en dit toe eers gekoop die aand by sy voorlesing saam met Ronelda S. Kamfer.   Ek dink dit is dalk goed dat dit so gebeur het - mens moet hom eintlik eers lewendig beleef.  Dis nie verniet dat een van sy gedigte "Die digter as rockstar" heet nie!   Soos almal seker teen die tyd weet, hierdie bundel is sy debuut, waarvoor hy saam met Ronelda S. Kamfer die Eugene Marais-prys ontvang het.

loftus
Loftus Marais lees van sy gedigte voor in Boekehuis

Die bundel is tematies wat "vensters" en "kyk" aanbetref, eerstens haal hy 'n motto aan voor in die boek: "The birds are in their trees, / the toast  is in the toaster, / and the poets are at their windows." - uit "Monday" van Billy Collins.  Loftus se storie van vensters begin by Ligthning safety tips - what you should know (p.63), waarin sy pa sê: "in sy diakenstem / los die foon, sit af die tv / en staan weg van alle vensters" - wat hy natuurlik nie doen nie!  En net as jy dalk daarna op soek is: die titel van die bundel kom voor in die gedig Op soek, p.42.  Die woord "venster(s)" kom nog in heelwat meer gedigte voor.

Die boek is opgedeel vier dele, volgens die uitgewer (Tafelberg) se katalogusbeskrywing: In hierdie debuutbundel word die vier aparte leefruimtes van ’n sprekerstem poëties ontgin. Die studentedorp, die voorstad, die stad en ook die platteland word op soms speelse, soms intieme wyses ondersoek...  Ek probeer 'n verband sien tussen sy rebellie teen (en tog ook aanvaarding van) die fisika in die heel eerste gedig, Elementêre Fisika, en hierdie opdeling van die bundel in vier dele.  Let op die posisie van die venster op die blad voor elkeen van die vier dele.  In wiskunde begin mens in die eerste kwadrant (regs bo) en werk dan linksom, maar hy begin links bo, en werk dan regsom, as te ware stroomop dus.

EenDeel 1.  Eerste gedig: Elementêre Fisika
Inderdaad, soos hulle sê, dit gaan baie oor die studentedorp, mens sien dit in die eerste gedig waar dit blyk dat hy studente-akkommodasie met sy broer gedeel het.  Hy kan gedigte te voorskyn haal oor die onwaarskynlikste onderwerpe, bv.  Aan die fontein in ons flatblock se quad.  Tog dink ek dat hy dalk in hierdie deel die verband ondersoek tussen poësie en die realiteit (fisika, sien weer die eerste gedig).
TweeDeel 2. Eerste gedig: Welkom in Kaapstad
Volgens minstens een resensie is die eerste gedig intertekstueel met "Aan die Kaap geskryf" van Wilma Stockenström, asook met werk van Antjie Krog in Verweerskrif.  Ek het ongelukkig nog nie een van die twee gelees nie.  Die deel handel grotendeels oor Kaapstad, maar maak ook 'n paar ander draaie met bv. Siel en Op soek.
DrieDeel 3.  Eerste gedig:  Voorstedelik
Oor mense met stasiewaens wat met 'n getik in hul motorhuise afkoel, mense met dwerge in hulle tuine, wat saans woordeloos die tafel afdek en oorgeklankte programme op TV kyk.
VierDeel 4: Eerste gedig: Bloekomboom
Meestal landskapgedigte en herrinneringe aan kuiers op 'n plaas in sy kinderdae.

Soos ek reeds gesê het,  Marais het die vermoë om oor die onwaarskynlikste ding 'n gedig te skyf, nog 'n voorbeeld,  Die drie windkragopwekkers by Klipheuwel,  waar ek ook in Desember verby gery het en geen idees daaroor gehad het nie.  Gedigte kan ook teen die einde 'n onverwagse wending neem, sien bv. Siel (die naam moes dalk anders gewees het!) en Portret van 'n ramer.

Hoewel Marais ook soms woorde gebruik wat vir my onbekend is, is dit nie so erg as in Johan Myburg se Kamermusiek nie.  Die boek het vir my in geheel en  beslis 'n 'ligter' aanslag as Kamermusiek en ek vind Loftus se werk beslis baie meer toeganklik as die van iemand soos Breyten Breytenbach.

Aangesien ek 'n oorsig of bespreking van die boek skryf (en nie 'n resensie nie), om potensiële lesers 'n idee te gee wat om te verwag, moet ek net noem dat Marais kru taal redelik vryelik gebruik, asook dinge wat godsdienstig aanstoot mag gee, bv. in die gedig Wederkoms.  Bedtonele raak op plekke ietwat aan die grafiese kant. Wat die kru taal aanbetref moet ek sê dat ek my dikwels afgevra het of daar 'n ander woord is wat hy kon gebruik het, en meestal was die antwoord nee.  Om 'n ligte voorbeeld te noem, in Relaas van 'n tuindwerg waar hy sê, "'n hond het gister op my rug gepis", twyfel ek of die dwerg 'n ander woord sou gebruik het!  Daarenteen, is die woord wat hy gebruik in Terug op die plaas (p. 76) nodig?  Ons weet mos almal wat 'n koos is!  Onlangs het Mnr. Muller geskryf oor Wat maak 'n goeie gedig goed, waarop ek hom (met hierdie tipe van dinge in gedagte) gevra het of hy reken dat Loftus Marais die laaste stappe, nl krities beskou, en redigeer, goed regkry.  Sy antwoord was dat Loftus 'n vriend is en hy liewer nie kommentaar wou lewer nie!

Aanhalings:

Papiertjie (p. 14)
aan ’t stry oor die politiek gaan sit almal aan tafel, maar
als kantel, eetgerei kletter, glase mors wyn
gaste kyk agterna soos ek die trappe op verdwyn
na my lessenaar, gedek vir skryf, chaotiesdeurmekaar
ek vat ’n halfklaargedig, vou dit ’n paar keer
gaan stoot dit onder die poot sodat als balanseer
die mense glimlag, klink ’n glasie op my
ek dink: ai, papiertjie, dís ware littérature engagée

uit Met M se vertrek na Londen (p. 18)

en sommer net in die algemeen: Boeings wat NUUSWAARDIG NEERSTORT

uit Op soek (p. 42)

ek's op soek na 'n gedig
ag leser, wees van my bewus, gee my skryfstof
kom my tegemoet in private tydjies:
staan in die algemeen nader aan vensters
trek die gordyne effe terug
o sloer voor kiere vir 'n wyle!

My gunstelinge:

Elementêre fisika
Papiertjie
Met M se vertrek na Londen
Ode aan Sarah se voete
Die vroegsomerson as skilder
Na 'n grand uitstalling
Gedig vir my Seamus HeaneyNewSelected Poems 1966-1987
Landskap met duimafdruk

Ballade van die olieboor
Siel
Op soek
Selfportrette op vlekkelose byderwetse oppervlakke
Nagfilm

Voorstedelik
Relaas van die tuindwerg
Portret van 'n ramer
Tafel afdek
Oorgeklank (behalwe, ek hou van Derick)
Lightning safety tips - what you should know
Die inhoud van hulle huis

Bloekomboom
Die drie windkragopwekkers by Klipheuwel
Windpompskets
Vuil hande

Resensies:

Ek weet nie hoeveel resensies daar op die internet oor die boek bestaan nie, maar hier is 'n paar:

NB/Tafelberg : Katalogusbeskrywing
Beeld: Debuutdigter ‘dans op papier’ - Charl-Pierre Naudé
Die Burger: Gedigte vir die kykers - Wayne Muller
Beeld: Debuut troon bo onlangses uit - Lucas Malan
Litnet: Die Afrikaanse poësie se nuutste rockster verskyn met sterk debuut - Louise Viljoen
Litnet:  Tessa Louw - Briefresensie  Indien nie een van die beste nie, seker die geesdriftigste!

Kom maak gerus ook 'n draai by My Kop Op 'n Blok!
Groete,
Chris

regular - member
148 posts


Ek hou vreeslik baie van 'Soos 'n inval' en snaaks dis nie dat ek dink dis die beste gedig in die bundel nie. Net die die een wat ek die meeste sal herlees sommer omdat dit vir my baie mooi is en ek 'n sucker vir familie stories is.

Hoe lees jy 'n bundel die eerste keer? My man was lank weg en toe hy terugkom het ek hom hierdie bundel gegee en hy het mooi netjies van die voorblad af begin en die eerste goed eerste gelees. (En toe dadelik van 'Elementêre fisika' gehou en kon daaroor 'n opinie gee.) Ek doen dit nie so nie. Begin waar ek lus het en spring rond tot ek min of meer alles gelees het (of 'n paar keer weer) en sal dan van voor af alles deurlees. Ek sal dan eers besluit waarvan ek hou of nie. Dit het 'n hele stryery afgegee want my liewe man reken om dit van vooraf te lees soos wat dit aan jou gebied word, is om die digter die beste moontlike kans te gee. Sal graag wil hoor wat almal hiervan dink.

regular - member
90 posts

Stephni, ek lees maar gewoonlik, as ek nou 'n bundel vat om te lees, van voor af.  Maar gewoonlik het ek 'n klomp wat nog later gelees moet word, dan loerlees ek bietjie in hulle.  Ook in boekwinkels lees ek bietjie hier en daar in digbundels om 'n idee te kry of daar darem iets sal wees waarvan ek hou.

Jou man het seker ook 'n punt beet - die digter het seker een of ander tyd besluit in watter volgorde om die gedigte te sit, maar as die bundel nou eers uit die digter se hande in jou hande is kan jy seker maak soos sy wil, dis in elk geval nie soos 'n roman waar jy wegskram daarvan om voor die tyd die einde te sien nie.

guest poster

o hene.. ek lees toe ook net van voor af... toe loer ek nou gou die twee laaste gedigte... jimmel.. en genade... die taal... ne jimmel... is sy plaasseun herinneringe ook net so sleg? shame nee goeie griet die ou druk dinge bietjie sterk uit soms huh?

maar miskien is dit maar regtig erg om so groot te geword het.. hene geen wonder..

oh well, ek steek net vas by die seemeeugeraamte... dis so slim en so ... shoe ... dat iemand nou daaroor so iets wonderliks kan skryf.. eks sommer lus en gaan google seemeeu geraamte prentjies.. die beendere so wit so mooi...

laat dink my aan als wat mens al lopende op die strand kan optel en stoep toe dra... soos die Bombas familie wat by Waenhuiskrans gewoon het... in 'n huis van hout en klip... die nok van die dak was op sy dag.. die kiel van 'n ROWERSKIP..

askies, ek wou nie afdwaal,

mar nou ja

baai kop

A

superstar - founder
993 posts

Dankie dat julle my inspireer om meer van hierdie digter te lees. Want nou kan ek met ‘n oop gemoed sê, NEE. Ek hou nie daarvan nie. Nuwerwetse digkuns doen dit net eenvoudig nie vir my nie. En ek gaan haal summier my ou verbleikte Senior Verseboek uit, en gaan vanaand bietjie daaruit lees, bloot omdat ek genot vind uit die ouer digters.
Loftus mag ‘n meester wees, maar nie vir my nie.

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
novice - member
15 posts

Ek stem ten dele saam met jou oor die nuwe digters. Dis so asof hulle glo, jou wegspring moet altoos in die dekadente lê. Tog, Loftus is darem meer toeganklik as Breyten.

Dan, net 'n gedagte oor die "hoe lees mens 'n digbundel" onderwerp. Glo my, alle skrywers/digters plaas gedigte/hoofstukke na ure se bepeinsing tog in 'n sekere volgorde.
Dit impliseer tog seker dat ons die beste verstaan dan verkry deur bloot die boek te lees soos geskryf.

Page 1
posts 1–6 of 6

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now