Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
27 views

Skryfster van ‘verruklike prul’ draai in Kaap en Wildtuin

Page 1
posts 1–1 of 1
superstar - founder
993 posts

‘Ek hoop hulle kry my eendag dood agter my lessenaar,” sê die Britse trefferboek-skrywer Penny Vincenzi. Nie dat sy elke dag van nege tot ses daar hóéf te sit nie – sy’t immers reeds 7 miljoen romans wêreldwyd verkoop. Dis dat sy wíl skryf, “want dit voel of ek vlerke kry”.
Vincenzi was onlangs in Suid-Afrika vir die bekendstelling van haar 15de roman, The Best of Times. Haar genre, verduidelik sy, gaan alle definisie te bowe. Maar sy’s doodgelukkig met “eietydse sage’’.
Dis ook ’n kompliment wanneer haar werk deliciously trashy genoem word en dit skeel haar min dat die “snobistiese” literêre wêreld dit as triviaal beskou. “Nothing beats a good story.’’ En as dit soos hare in tonnemaat verkoop, hoekom nie?
Tot dusver raak die ekonomie nie haar verkope nie en ook by ons vlieg haar boeke van die rakke af. The Best of Times was die top- slapband-romanverkoper (teenoor die kleiner formaat massamark-weergawes) in die week van ons gesprek.
Vincenzi vergeet nie haar Suid-Afrikaanse lesers nie. Een van die hoofstukke in haar jongste roman speel juis af in die Krugerwildtuin en twee plekke in Kaapstad, die Vineyard Hotel in Claremont, en Tafelberg. “Want ek was al voorheen hier.
“Plekke is ware plekke. Net karakters word heeltemal nuut geskep.”
Wat maak haar nuutste spesiaal?
“Dis maar soos al die ander. Vrolik, hartseer. Daar is romanse, aksie, humor (nie opsetlik nie), goeie karakters en ’n sentrale gebeurtenis.”
Sy glo ook aan ’n geselstrant en haar taal is lekker. Jy kan jou net indink hoe ’n karakter is wat gaan teem oor haar “koolstofvoetspoor”.
Haar romans word in 18 tale vertaal. Onder meer Pools en Chinees, maar “die snaaksste is Russies … om my skryfwerk in daardie eienaardige lettertjies te sien”, lag sy.
Vincenzi, wat haar man se Italiaanse van aangeneem het, skryf al vandat sy nege is. “Ek het ’n koerant met vervolgverhale by die skool uitgegee. Toe reeds het ek die waarde van die uitsteltegniek besef.”
Sy wou nooit skrywer word nie, eerder joernalis bly by onder meer die Britse Mirror, The Times, die Daily Mail en Cosmopolitan.
“Maar ’n uitgewer het my ’n klomp geld en ’n sperdatum aangebied. Die geld is lekker, ja. Maar ek hou van wat ek doen.”
Die joernalistiek, glo sy, het haar alles geleer. Van navorsing doen tot by beskrywing. Sy glo haar feite moet reg wees. Wanneer ’n toneel in die hospitaal se noodeenheid of in ’n polisiekantoor afspeel, voer sy vooraf onderhoude op band met verpleegsters of die polisie.
Sy werk altesame ’n jaar aan ’n boek. Daarna neem die produksieproses, waarin sy ’n groot sê het, nog twee jaar.
Vincenzi het nie, soos baie ander welgestelde, produktiewe skrywers, ’n span skrywers nie. Sy skryf elke woord self en “het gelukkig nie rumatiek nie”. Sy werk op ’n skootrekenaar agter haar lessenaar in die studeerkamer van hul Victoriaanse huis in Londen met ’n kaggel en reuse-boekrak. Haar hond, Clementine, lê by haar voete en sy praat gereeld met hom. “Ook met myself. Ek sê dikwels vir myself: ‘Sjoe, dis nou swak geskryf!’ ”
En al kan sy enige plek skryf, verkies sy die musieklose stilte van haar studeerkamer. “Want ek moet kan konsentreer.”
En kophou. Sy het al aangeleer om te onthou wat sy op bladsy sewe geskryf het, al trek sy op bladsy 750. “Dis net oefening.”
Wanneer sy in die middel van ’n verhaal vashaak, loop sy op haar spoor terug. “Dis bietjie soos breiwerk uittrek. Ek lees weer en kyk waar die probleem ontstaan het. Opgee? Nooit. Dis my werk. Ek het ’n kontrak en ’n sperdatum.”
Sy bly deur die hele verhaal gemotiveerd. “Dis nie so moeilik nie. Ek werk met baie karakters se stories wat inmekaar geweef word. Elkeen se storie help die ander een aan en een belangrike gebeurtenis bind alles saam.” Soos die ongeluk in die proloog van haar jongste roman; ’n idee wat sy in ’n verkeersknoop gekry het.
Sy glo nie juis aan inspirasie nie. Dis eerder nuwe ervaringe soos oorsee reis wat haar iets gee om oor te skryf. Of gesprekke. “Iemand vra my nou die dag of ek ooit sal lieg om my man te beskerm … Daar’s nou ’n storie.”
Maklik was dit nie om vier dogters groot te maak én te skryf nie. Eers wanneer almal gaan slaap het, het sy begin en dan maklik deurnag gewerk.
“ ’n Mens kán as jy wil.”
Haar vriende en familie respekteer haar skryftyd. Naweke behoort aan hulle.
“As die voordeurklokkie in werktyd lui, neem ek ’n pen in my hand, sit my bril op en sê ek is in die middel van iets … Ek laat niemand in nie … Ek’s eintlik aaklig met besoekers.”
Sy beweer haar lewe is eintlik vervelig. “Tog is my benadering dat ek eerder spyt wil wees oor iets wat ek gedoen het as dat ek dit níé gedoen het nie.”
(Riette Rust in Rapport)


Gebruik HIERDIE SKAKEL om The Best of Times te bestel

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
Page 1
posts 1–1 of 1

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now