‘Ek hoop hulle kry my eendag dood agter my lessenaar,” sê die Britse
trefferboek-skrywer Penny Vincenzi. Nie dat sy elke dag van nege tot
ses daar hóéf te sit nie – sy’t immers reeds 7 miljoen romans wêreldwyd
verkoop. Dis dat sy wíl skryf, “want dit voel of ek vlerke kry”.
Vincenzi
was onlangs in Suid-Afrika vir die bekendstelling van haar 15de roman,
The Best of Times. Haar genre, verduidelik sy, gaan alle definisie te
bowe. Maar sy’s doodgelukkig met “eietydse sage’’.
Dis ook
’n kompliment wanneer haar werk deliciously trashy genoem word en dit
skeel haar min dat die “snobistiese” literêre wêreld dit as triviaal
beskou. “Nothing beats a good story.’’ En as dit soos hare in tonnemaat
verkoop, hoekom nie?
Tot dusver raak die ekonomie nie haar
verkope nie en ook by ons vlieg haar boeke van die rakke af. The Best
of Times was die top- slapband-romanverkoper (teenoor die kleiner
formaat massamark-weergawes) in die week van ons gesprek.
Vincenzi
vergeet nie haar Suid-Afrikaanse lesers nie. Een van die hoofstukke in
haar jongste roman speel juis af in die Krugerwildtuin en twee plekke
in Kaapstad, die Vineyard Hotel in Claremont, en Tafelberg. “Want ek
was al voorheen hier.
“Plekke is ware plekke. Net karakters word heeltemal nuut geskep.”
Wat maak haar nuutste spesiaal?
“Dis
maar soos al die ander. Vrolik, hartseer. Daar is romanse, aksie, humor
(nie opsetlik nie), goeie karakters en ’n sentrale gebeurtenis.”
Sy
glo ook aan ’n geselstrant en haar taal is lekker. Jy kan jou net
indink hoe ’n karakter is wat gaan teem oor haar “koolstofvoetspoor”.
Haar
romans word in 18 tale vertaal. Onder meer Pools en Chinees, maar “die
snaaksste is Russies … om my skryfwerk in daardie eienaardige
lettertjies te sien”, lag sy.
Vincenzi, wat haar man se
Italiaanse van aangeneem het, skryf al vandat sy nege is. “Ek het ’n
koerant met vervolgverhale by die skool uitgegee. Toe reeds het ek die
waarde van die uitsteltegniek besef.”
Sy wou nooit skrywer word nie, eerder joernalis bly by onder meer die Britse Mirror, The Times, die Daily Mail en Cosmopolitan.
“Maar ’n uitgewer het my ’n klomp geld en ’n sperdatum aangebied. Die geld is lekker, ja. Maar ek hou van wat ek doen.”
Die
joernalistiek, glo sy, het haar alles geleer. Van navorsing doen tot by
beskrywing. Sy glo haar feite moet reg wees. Wanneer ’n toneel in die
hospitaal se noodeenheid of in ’n polisiekantoor afspeel, voer sy
vooraf onderhoude op band met verpleegsters of die polisie.
Sy werk altesame ’n jaar aan ’n boek. Daarna neem die produksieproses, waarin sy ’n groot sê het, nog twee jaar.
Vincenzi
het nie, soos baie ander welgestelde, produktiewe skrywers, ’n span
skrywers nie. Sy skryf elke woord self en “het gelukkig nie rumatiek
nie”. Sy werk op ’n skootrekenaar agter haar lessenaar in die
studeerkamer van hul Victoriaanse huis in Londen met ’n kaggel en
reuse-boekrak. Haar hond, Clementine, lê by haar voete en sy praat
gereeld met hom. “Ook met myself. Ek sê dikwels vir myself: ‘Sjoe, dis
nou swak geskryf!’ ”
En al kan sy enige plek skryf, verkies sy die musieklose stilte van haar studeerkamer. “Want ek moet kan konsentreer.”
En kophou. Sy het al aangeleer om te onthou wat sy op bladsy sewe geskryf het, al trek sy op bladsy 750. “Dis net oefening.”
Wanneer
sy in die middel van ’n verhaal vashaak, loop sy op haar spoor terug.
“Dis bietjie soos breiwerk uittrek. Ek lees weer en kyk waar die
probleem ontstaan het. Opgee? Nooit. Dis my werk. Ek het ’n kontrak en
’n sperdatum.”
Sy bly deur die hele verhaal gemotiveerd.
“Dis nie so moeilik nie. Ek werk met baie karakters se stories wat
inmekaar geweef word. Elkeen se storie help die ander een aan en een
belangrike gebeurtenis bind alles saam.” Soos die ongeluk in die
proloog van haar jongste roman; ’n idee wat sy in ’n verkeersknoop
gekry het.
Sy glo nie juis aan inspirasie nie. Dis eerder
nuwe ervaringe soos oorsee reis wat haar iets gee om oor te skryf. Of
gesprekke. “Iemand vra my nou die dag of ek ooit sal lieg om my man te
beskerm … Daar’s nou ’n storie.”
Maklik was dit nie om
vier dogters groot te maak én te skryf nie. Eers wanneer almal gaan
slaap het, het sy begin en dan maklik deurnag gewerk.
“ ’n Mens kán as jy wil.”
Haar vriende en familie respekteer haar skryftyd. Naweke behoort aan hulle.
“As
die voordeurklokkie in werktyd lui, neem ek ’n pen in my hand, sit my
bril op en sê ek is in die middel van iets … Ek laat niemand in nie …
Ek’s eintlik aaklig met besoekers.”
Sy beweer haar lewe is
eintlik vervelig. “Tog is my benadering dat ek eerder spyt wil wees oor
iets wat ek gedoen het as dat ek dit níé gedoen het nie.”
(Riette Rust in Rapport)
Gebruik HIERDIE SKAKEL om The Best of Times te bestel
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member