Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
73 views

Afrikaanse Woordelys en Spelreëls - Tiende Uitgawe

Page 1
posts 1–1 of 1
superstar - founder
993 posts

Die tiende uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (die “groen boek”) is waarskynlik die mooiste, beste en gebruikersvriendelikste AWS die afgelope eeu. Daar is egter steeds ruimte vir verbetering.

Hierdie uitgawe bevat ’n paar nuwighede en regstellings van die meeste foute in die negende uitgawe (die “reënboogboek”), maar is in enkele opsigte minder volledig. Daarom raai ek eienaars van die reënboogboek aan om hom nie tot niet te maak nie, maar te hou vir moontlike raadpleging oor byvoorbeeld die gebruik van hoofletters in die titels van publikasies of die omvattende lys voorbeelde van Omgangsafrikaans.

Die wonderlikste nuwigheid is die uiters nuttige reëlverwysings in die woordelys. Woorde wat in die spelreëls ter illustrasie gebruik is en in die woordelys verskyn, bevat in die woordelys ’n kruisverwysing na die toepaslike reël.

In die lys woorde wat met C begin, staan byvoorbeeld “cutex, ge- 9.25(b)”. As ’n mens nou die reël wil bestudeer oor handelsname as werkwoorde, blaai jy na reël 9.25 en lees opmerking (b). In dié geval is daar ’n glipsie en is opmerking (c) eintlik van toepassing.

Die woordelys self, afkortings en buitelandse geografiese name is aansienlik uitgebrei.

Om die woordelys korrek te gebruik, moet die voorwoord, wenke vir gebruikers, die toeligting net ná die voorwoord en reëls in verband met die gebruik van hoofletters/kleinletters en losskryf/vasskryf altyd in gedagte gehou word. Die flapteks (“Oriëntasie”) is ’n samevatting daarvan.

So bepaal reël 9.19: “Afgeleide byvoeglike en selfstandige naamwoorde van eiename, uitgesonderd geografiese eiename en taalbenamings, kan met ’n hoofletter of ’n kleinletter begin.” Verder word opgemerk: “Waar sulke name in die WOORDELYS verskyn, word slegs die skryfwyse met ’n kleinletter aangebied.”

Desnieteenstaande verskyn “Islamiet” in die woordelys teenoor byvoorbeeld “christen”. Oeps.

Onder die wenke vir gebruikers is ’n uiters belangrike regstelling nodig in die volgende sin in paragraaf 2 op bladsy xiv: “Die spelling van binnelandse geografiese name is die domein van die Raad vir Suid-Afrikaanse Geografiese Name en word in publikasies soos Amptelike plekname van die Republiek van Suid-Afrika en Suidwes-Afrika (Staatsdrukker 1978), die aanvullende publikasies daarna en die Staatskoerant gepubliseer.”

Wysigings aan, of toevoegings tot, binnelandse geografiese name word steeds in die Staatskoerant afgekondig, maar verskyn al etlike jare op die webwerf http://sagns.dac.gov.za. Die ander publikasie (die korrekte naam is Amptelike Plekname in die Republiek van Suid-Afrika en in Suidwes-Afrika, en dit het in 1977 verskyn) is in die ou bedeling onder die SA Pleknamekomitee gebruik en het saam met dié verdwyn.

Buitelandse geografiese name word nie in konteks verskaf nie en my raad aan taalgebruikers is om die betroubaarste webwerf denkbaar te raadpleeg as daar twyfel is: die Amerikaanse CIA se The World Factbook. So is Belarus, Belo-Rusland én Wit-Rusland in die lys. Deur https://www.cia.gov/library/publications/the-world-factbook/ te raadpleeg, word met 100% sekerheid vasgestel Belarus is die huidige naam.

Interessant is dat ook terme uit die internetwêreld “ter wille van erkenning” opgeneem is. Voorbeelde is “blog” en “blogger”.

Wat te betreur is, is dat uitgediende vroulike vorme soos “maat­skaplike werkster” steeds in die woordelys verskyn. In die 1980’s was ek op ’n byeenkoms waar ene dr. Hattingh onomwonde verklaar het: “Moet asseblief nie van ‘maatskaplike werksters’ praat nie. Vroulike maatskaplike werkers is net so min ‘maatskaplike werksters’ as wat vroulike dokters ‘doksters’ is. Hulle is maatskaplike werkers!”

Die Taalkommissie het kennelik kennis geneem van die debat in Februarie 2008 oor die moontlike vervanging van die wetenskaplike “miljard” met die populistiese “biljoen” in Media24 se koerante. In die reënboogboek staan by “biljoen”: (miljoen miljoen; in navolging van Amerikaanse gebruik: duisend miljoen). Die opvallende weglating van laasgenoemde opmerking uit die groen boek sluit hierdie debat hopelik nou vir goed af. Viva die groen boek!
(Faan Pistor, in Die Burger)

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
Page 1
posts 1–1 of 1

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now