Iemand vir ’n scoop? deur Marida Fitzpatrick. Uitgewer: Tafelberg. R145.
Dis
soos ’n heerlike skindersessie met jou beste vriendin, maar veel meer:
dis ’n reënerige Sondagmiddag in ’n kokon van onderbeklemtoonde bliss
in die bed met koffie en tjoklits; dis jy in jou duvet voor jou
gunsteling-sepie, dis om skelm uit die kantoor te sluip om alleen te
gaan fliek.
Want dit is – presies nes chick lit
veronderstel is om te wees – die hoogste vorm van gemak, troos en
ontspanning. Dit skep ’n sone waarin jy heeltemal jouself kan wees.
Sonder dreigemente, mededinging, vooroordele – en ook sonder pretensie
dat jy eintlik intellektueel is.
Want
dit is hoe ons Andi, die hoofkarakter, sien. Sy is snaaks en weerloos
en het ’n effens neurotiese swak vir roomys en mooi lap. Sy is amper
dertig en obsessief oor die feit dat sy steeds single is, steeds nie
haar doelwit bereik het nie en nog altyd in ’n doodloopstraat sit as
vermaak-verslaggewer by die sukkelende poniekoerant Pers.
Andi
kyk grootoog na Media Park, waar die Naspers-kantore is, en waar sy glo
haar droomwerk wag – in die glaskantore van Rapport of Sarie, as ’n
ernstige joernalis, of ten minste een wat oor “mooi’’ en
“inspirerende’’ dinge skryf. En al wat tussen haar en haar droomwerk
lê, voel sy, is ’n scoop waarmee sy naam sal maak.
En dit
kry sy toe sy ’n tip-off kry oor die skadukant van Jack Greeff, sanger
en klubmagnaat. Ons volg haar effens lomp en
nie-heeltemal-007-nie-vordering met die groot exposé – en dis
histeries. Want terselfdetyd begin Luan Verster, Hugh Grant-look-alike
en Adonis, per e-pos met haar flankeer.
Intussen gaan haar
gewone lewe ook maar aan, soos die aanhoudende gekarring van haar ma
dat sy met ’n doktor moet uitgaan om te vergoed vir die feit dat sy nie
een geword het nie en haar knaend herinner om water en kalsiumpille te
drink. Terwyl die redakteur, Paul Meintjies (met sy “falliese’’ snor),
heeltyd aan haar hakskene hap om die nuutse skindernuus te kry oor 7de
Laan-sterre en Steve Hofmeyr se outobiografie.
Fitzpatrick
skryf wonderlik satiries oor die celeb-skandes en freak of the
week-soort joernalistiek wat ons almal daagliks moet verteer. Duidelik
ken sy as joernalis al die skandes en skete van dié geromantiseerde
bedryf.
Die storie is net reg vir enige moderne vrou wat
24/7 uitgedaag word om balans te vind tussen loopbaan en persoonlike
lewe, en boonop voel sy’s nooit heeltemal goed genoeg nie. Dis eerlik
en plat op die aarde, en niks word in watte gewikkel nie.
Dis
so lekker om ’n slag iets te lees oor die alledaagse snaaksighede en
persoonlike probleme wat in bekende plekke afspeel – en dan nog boonop
in ’n bekende taal: die karakters drink koffie in Sandton, koop by
Woolies of maak ’n draai by Weigh-Less in Cresta. Andi sit tussen
smouse in die verkeer en droom daarvan om artikels oor Zuma te skryf.
En dis seker dan die doel van chick lit, om te klink soos jóú laatnaggesprek oor ’n Häagen-Dazs. Hiermee nooi ek jou om dit een Sondagmiddag gulsig op te slurp.
Koop Iemand vir 'n scoop? HIER van Kalahari.
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member