Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
21 views

Emma se oorlog deur Lien Roux-De Jager

Page 1
posts 1–1 of 1
superstar - founder
993 posts

Emma se oorlog deur Lien Roux-De Jager

Die hoofkarakter in hierdie liefdesverhaal in twee dele, Emma Badenhorst, word reeds van die tweede bladsy in haar eie oorlog ingetrek.
Die hewige oorlog wat in haar uitbreek, is die gevolg van haar gelyktydige aangetrokkenheid tot twee mans. Soos dit ’n goeie liefdesverhaal betaam, verteenwoordig die twee mans twee direkte teenpole – die Afrikaner-prokureur Christiaan Botha en die Engelse joernalis Kingsley Fitzroy. En dié twee is natuurlik albei verlief op Emma.
Emma se oorlog is Lien Roux-De Jager se 12de boek onder verskillende skrywersname (ook Heléne Roux en Joléne de Koningh).
Emma verloor haar hart feitlik onmiddellik op Fitzroy. Haar eintlike oorlog is dan om Christiaan, wat reeds formeel kom vra het om by haar te kuier en sy voorneme om met haar te trou, duidelik gemaak het, asook haar vriendin Christina van hierdie ontydige liefde te oortuig. Haar liefde vir ’n Engelsman ontkiem in die politieke landskap van ’n naderende oorlog tussen Boer en Brit. Dié boodskap moet ook aan haar broer, Faan, en haar pa en ma oorgedra word. Die geluk is wel aan Emma se kant omdat haar dokter-pa in sy jeugjare met haar ma, wat van Engelse afkoms is, iets soortgelyks moes deurmaak.
Uiteindelik is dit dus net Christiaan, wat as onversetlik teenoor die galante en gesofistikeerde Fitzroy uitgebeeld word, wat eintlik die oorsaak van die konflik blyk te wees. Hoe erg die tweestryd werklik binne haar is kan mens net wonder aangesien Emma se oorweldigende gevoelens vir Fitzroy vroeg reeds wys.
Die tydgegewe van die Anglo-Boereoorlog word aangestip deur onder meer historiese verwysings, soos na die skermutseling waar Jameson in 1896 gearresteer is toe hy die Rand wou inval.
Inderdaad handel die verhaal oor “liefde in oorlogstyd”, soos die subtitel lui. En tipies van ’n idilliese liefdesverhaal eindig deel I van die boek waar Emma en Kingsley as mnr. en mev. Fitzroy hulle in Ruthland?shire, Engeland, vestig. Maar nie voordat sy haar die afkeer van die Boere-gemeenskap op die hals gehaal het met haar verhouding nie.
Fitzroy word heel geloofwaardig uitgebeeld hoewel soms effens te sjarmant, maar altyd gereserveerd, duidelik intelligent, ingelig en ’n gebruiker van digterlike taal wat enige vrou sal laat swymel. Daar is etlike geleenthede waar die leser wel wonder oor die egtheid van Fitzroy se bedoelinge. Maar uiteindelik swig die leser ook en lees dalk die leidrade wat op onraad dui in goedertrou mis.
In deel II kom dit dan wel na vore dat hy nooit ’n joernalis was nie, maar ’n Britse spioen wat baie kort ná sy huwelik met Emma teruggekeer het na Suid-Afrika om in die oorlog teen die Boere te gaan veg. Hy laat dan ’n swanger Emma in Engeland agter – net om nooit weer terug te keer nie. Nadat Fitzroy gesneuwel het, besluit Emma ná ’n lange sielswroeging om terug te keer na haar land van herkoms.
Wat opval, is dat Christiaan (haar jeugliefde) sommer enkele bladsye ná die begin van deel II weer in die pren?tjie is. Net soos die opbou tot die Anglo-Boereoorlog onderspeel is deur Emma om haar liefde vir Fitzroy te laat realiseer, word die gevolge van die oorlog op die agtergrond gestoot deur die nuwe oorlog wat in Emma woed oor haar gevoelens vir Chris?tiaan.
Emma skroom nie om erkenning te gee aan versugtinge, hunkering en die lyflike passie van die vrou nie (in die konteks van die negentiende eeu, natuurlik). Dit voel egter of te veel hoofstukke se eindes met sodanige drome beklee word dat dit amper voorspelbaar raak.
Vir die romantiese hart sal hierdie boek ’n aanwins op die rak wees. Dit probeer niks meer as ’n liefdesverhaal wees nie.
Maar dit dra darem ook by tot die kategorie leesstof oor die Anglo-Boereoorlog.
(Danila Liebenberg in die Beeld)

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
Page 1
posts 1–1 of 1

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now