Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
23 views

Ampie Coetzee

Page 1
posts 1–1 of 1
superstar - founder
993 posts

Ampie Coetzee, die man met die mooiste stem in die land!

Ampie Coetzee, wat onlangs 70 geword het, se vriende en kollegas deel gedagtes oor hom met GERRIT BRAND.

Die literator Ampie Coetzee, medeoprigter in die jare sewentig van die Afrikaanse Skrywersgilde en die onafhanklike uitgewery Taurus, wat in die apartheidsjare gesensureerde skrywers se werk uitgegee het, het onlangs 70 geword. So praat die mense oor hom:

Marko Coetzee (seun): “Van my pa kan ek praat met die begrip van ’n seun en die respek van ’n jong man.“Amps verhef hom nooit tot kenner of patriarg nie. Daar is liefde, wysheid, maar geen ego wat ’n wig is tussen hom en ander nie. Hierdie nederigheid is verbasend, gesien sy aansienlike bydrae tot ons taal en ons land. Ek besef dit nou eers, want hy praat nooit daaroor nie.

“Van die paar persoonlike stories wat hy wel vertel (tussen baie holrug geryde grappe) besef ek dat verset teen onregverdige stelsels nog steeds sy keuses ­bepaal.

“Hy lewe deurgaans met min dinge en ’n interne rykheid wat ons almal se lewe verbreed.”

John Miles (skrywer): “Abraham van 1939, opgegroei tussen mynwerkers, getrou aan hul taal!
“Dis 44 jaar gelede dat ek jou ontmoet het en van naby kon meemaak. En steeds bewonder ek die geesdrif waarmee jy alles aanpak.

“Van ’n sak Suid-Afrikaanse sout alleen kan jy nie leef nie. Daarom, breek die brood en skink die wyn en hou die hart van Base rein. Prosit!”

Breyten Breytenbach (skrywer): “Ampie is ’n taai mens. Hiermee bedoel ek geensins dat hy klewerig is nie. Inteendeel! Maar dat hy weerstandig, opstandig en soms weerbarstig is. Darem meeste van die tyd verstandig ook. Stewig ge-aks op sy kuite met ’n groot glas water in die hand is hy nog steeds net so betrokke by prosesse en implikasies van bewussynswording, ook die sosiale, veral soos gesien deur die kaleidoskopiese spektrum van taal.
“Hy is ’n kenner, ontleder en liefhebber van die letterkunde wat nog altyd sy vakgebied en sy verkenningsterrein is. Besef ons aldag hoe uitsonderlik so ’n toewyding is, hoe daardie skeppende en beskawende ruimte van interaksie tussen menswees-en-betrokke-denke gekrimp het?

“Emmie (ek noem hom so, want hy is nou mos ‘professor emeritus’) het nooit die skyn van boersjwa gesag nagejaag nie. Hy was goed toegerus om met pyp en trui en geleerde woordeskat en (veral) die politiek korrekte ruggraatloosheid vet te stoel in die ivoortoring van ’n akademiese Vlakplaas, maar hy het sy gewig kom ingooi in die loopgrawe waar daar (vergeefs?) geveg is vir die ­erkenning van die revolusionêre drakrag en die transformerende groeikrag van Afrikaans as ge­voels- en denkgeskiedenis. Dis die eer wat hom toekom. Dit is waarom ek hom bewonder. (En natuurlik dat hy al so lank my buddy is want dit verg hare op die tande!)

Maar hy gaan nie lê nie. Hierdie gedoente van 70 is maar net nog ’n mylpaal terwyl hy fluit-fluit die bult aanhou uitklim na vryer en meer uitdagende denkruimtes. Sonder om die water te mors.”

Yolande Breytenbach (vriendin) *: “My dear Ampie,
“It is also your 70th birthday this year. You are of the same age as Breyten, like I am of the same age as Stella. You and Stella, and Toetsie, were my guardian angels all the years Breyten was under the wings of the other (black) angels.

“Many years have passed, Breyten is back under my own wings, you are no longer living in the Transvaal and the Lowveld.

“We don’t get to see you often enough but, Ampie, you will ­remain my brother for as long as I live.

“With my heart . . .”

Louise Viljoen (letterkundige): “Ampie het dwarsdeur sy loopbaan soos ’n vars en driftige bries deur die soms muwwe portale van die Afrikaanse literatuurstudie gewaai.
“Dit was hy wat die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde uit ’n Marxistiese perspektief herskryf het in die tagtigerjare, wat daarna vroeë Suid-Afrikaanse tekste uit die koloniale tydperk gelees het binne die raamwerk van Foucault se denke en wat die belangrike ondermynende funksie van die swart Afrikaanse letterkunde beskryf het met behulp van Deleuze en Guattari se idees.

“Vir die skerp kyk, die sin vir geregtigheid, die matelose energie en die gewillige lag, sê ons almal dankie en mooi loop verder!”

Willem Strydom (kunstenaar): “My waardering vir Ampie is veelvoudig. Voorop staan sy verrykende vriendskap. Dan is daar sy uitsonderlike begrip vir die skeppingsproses en gepaardgaande vermoë om dit sinvol te interpreteer. ’n Portret van hom sal sy sin van humor moet uitbeeld.
“Deurgaans weier hy om goue kalwers te eerbiedig. Baie belangrik: sy kapasiteit om vertroue in ’n saak te omskep tot aksie en daadwerklike betrokkenheid.

“En êrens in hierdie samestelling sal daar klei gevind moet word vir die uitbeelding van ’n kok se gewaad en een wat nooit die waarde van goeie gesprek gepaard met ewe goeie kos en wyn onderskat nie. Iemand met die moed om te staan by sy oortuigings ten spyte van teenstand.”

Gerrit Olivier (letterkundige): “Ampie 70? Dit laat ’n mens self met misnoeë in die spieël kyk. Ek sal ’n dop op hom drink, in vriendskap en in simpatie.
“Ons wat saam met Ampie gewerk het, onthou miskien veral daardie uitbundige en stout lag in die gange by Wits, of by ’n vergadering van Taurus toe ons nog medepligtiges was – dit en sy gasvryheid, sy smaaklike kos. Daardie lag was die ­fisieke manifestasie van ’n ­lewenslange liefde vir die vakgebied en toewyding aan harde werk, gekombineer met ’n aansteeklike geesdrif en lewensgenieting.

“Vir Ampie wens ek toe: ’n heerlike verjaardag en ’n paar bottels lekker wyn saam met goeie vriende.”

Nog huldeblyke, en ’n gedig deur Breyten Breytenbach, kan op die blog Boekeblok op hierdie webwerf www.dieburger.com gelees word. Kyk ook die gedig en kunswerk op vandag se Boekeblad.
* Yolande Breytenbach se boodskap is in die oorspronklike Engels.

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
Page 1
posts 1–1 of 1

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now