Page
1
posts 1–1 of 1
+0
permalink
Ampie Coetzee, die man met die mooiste stem in die land!
Ampie Coetzee, wat onlangs 70 geword het, se vriende en kollegas deel gedagtes oor hom met GERRIT BRAND.
Die literator Ampie Coetzee, medeoprigter in die
jare sewentig van die Afrikaanse Skrywersgilde en die onafhanklike
uitgewery Taurus, wat in die apartheidsjare gesensureerde skrywers se
werk uitgegee het, het onlangs 70 geword. So praat die mense oor hom:
Marko Coetzee (seun): “Van my pa kan ek praat met die begrip van ’n seun en die respek van ’n jong man.“Amps verhef hom nooit tot kenner of patriarg nie.
Daar is liefde, wysheid, maar geen ego wat ’n wig is tussen hom en
ander nie. Hierdie nederigheid is verbasend, gesien sy aansienlike
bydrae tot ons taal en ons land. Ek besef dit nou eers, want hy praat
nooit daaroor nie.
“Van die paar persoonlike stories wat hy wel vertel
(tussen baie holrug geryde grappe) besef ek dat verset teen
onregverdige stelsels nog steeds sy keuses bepaal.
“Hy lewe deurgaans met min dinge en ’n interne rykheid wat ons almal se lewe verbreed.”
“Dis 44 jaar gelede dat ek jou ontmoet het en van naby kon meemaak. En steeds bewonder ek die geesdrif waarmee jy alles aanpak.
“Van ’n sak Suid-Afrikaanse sout alleen kan jy nie
leef nie. Daarom, breek die brood en skink die wyn en hou die hart van
Base rein. Prosit!”
“Hy is ’n kenner, ontleder en liefhebber van die
letterkunde wat nog altyd sy vakgebied en sy verkenningsterrein is.
Besef ons aldag hoe uitsonderlik so ’n toewyding is, hoe daardie
skeppende en beskawende ruimte van interaksie tussen
menswees-en-betrokke-denke gekrimp het?
“Emmie (ek noem hom so, want hy is nou mos
‘professor emeritus’) het nooit die skyn van boersjwa gesag nagejaag
nie. Hy was goed toegerus om met pyp en trui en geleerde woordeskat en
(veral) die politiek korrekte ruggraatloosheid vet te stoel in die
ivoortoring van ’n akademiese Vlakplaas, maar hy het sy gewig kom
ingooi in die loopgrawe waar daar (vergeefs?) geveg is vir die
erkenning van die revolusionêre drakrag en die transformerende
groeikrag van Afrikaans as gevoels- en denkgeskiedenis. Dis die eer
wat hom toekom. Dit is waarom ek hom bewonder. (En natuurlik dat hy al
so lank my buddy is want dit verg hare op die tande!)
Maar hy gaan nie lê nie. Hierdie gedoente van 70 is
maar net nog ’n mylpaal terwyl hy fluit-fluit die bult aanhou uitklim
na vryer en meer uitdagende denkruimtes. Sonder om die water te mors.”
“It is also your 70th birthday this year. You are of
the same age as Breyten, like I am of the same age as Stella. You and
Stella, and Toetsie, were my guardian angels all the years Breyten was
under the wings of the other (black) angels.
“Many years have passed, Breyten is back under my own wings, you are no longer living in the Transvaal and the Lowveld.
“We don’t get to see you often enough but, Ampie, you will remain my brother for as long as I live.
“With my heart . . .”
“Dit was hy wat die geskiedenis van die Afrikaanse
letterkunde uit ’n Marxistiese perspektief herskryf het in die
tagtigerjare, wat daarna vroeë Suid-Afrikaanse tekste uit die koloniale
tydperk gelees het binne die raamwerk van Foucault se denke en wat die
belangrike ondermynende funksie van die swart Afrikaanse letterkunde
beskryf het met behulp van Deleuze en Guattari se idees.
“Vir die skerp kyk, die sin vir geregtigheid, die
matelose energie en die gewillige lag, sê ons almal dankie en mooi loop
verder!”
“Deurgaans weier hy om goue kalwers te eerbiedig.
Baie belangrik: sy kapasiteit om vertroue in ’n saak te omskep tot
aksie en daadwerklike betrokkenheid.
“En êrens in hierdie samestelling sal daar klei
gevind moet word vir die uitbeelding van ’n kok se gewaad en een wat
nooit die waarde van goeie gesprek gepaard met ewe goeie kos en wyn
onderskat nie. Iemand met die moed om te staan by sy oortuigings ten
spyte van teenstand.”
“Ons wat saam met Ampie gewerk het, onthou miskien
veral daardie uitbundige en stout lag in die gange by Wits, of by ’n
vergadering van Taurus toe ons nog medepligtiges was – dit en sy
gasvryheid, sy smaaklike kos. Daardie lag was die fisieke manifestasie
van ’n lewenslange liefde vir die vakgebied en toewyding aan harde
werk, gekombineer met ’n aansteeklike geesdrif en lewensgenieting.
“Vir Ampie wens ek toe: ’n heerlike verjaardag en ’n paar bottels lekker wyn saam met goeie vriende.”
* Yolande Breytenbach se boodskap is in die oorspronklike Engels.
Page
1
posts 1–1 of 1
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member