Ek het hierdie boek nou al twee weke terug gelees en kon nie dadelik besluit hoe om daaroor te skryf nie. In 2005 toe Acid Alex gepubliseer is het ek 'n resensie in die Mail & Gaurdian gelees asook Koos Kombuis (hy is vriend van Lovejoy en skryf ook die voorwoord wat ek vir laaste lees sou los) se opinie oor die boek. Ek het 'n gebrekkige idee oor die boek gekry maar ek dink nie dit was die fout van die resensies nie. Partykeer lees mens wat jy wil raaklees en ignoreer die res.
Acid Alex is die outobiografie van iemand wat dwelms gesmokkel, verkoop en gebruik het en net daar is my probleem om oor hierdie boek te skryf. Hierdie aspekte is krities tot die verloop van sy lewe maar ek kan dit nie oor my hart kry om iemand wat soveel moes deurmaak net eenvoudig in die dwelmhokkie te druk nie. Daar is soveel meer en heelwat daarvan is erger as dwelms. Soos sy kinderjare wat die meeste aandag kry en skokkend en aangrypend is. Hy het my gemeenskappe laat sien waarvan ek niks geweet het nie en tronke waaroor ek nooit gewonder het nie. Die boek is goed geskryf en ten spyte van die verskriklike goed wat in detail met baie vloekwoorde beskryf word is dit verbasend hoopvol. Hy het 'n boodskap van liefde en ek hoop hy word gehoor.
Ek sien die hele boek is op Google Books beskikbaar. Ek het probeer soek na die ou resensies maar kom toe af op 'n onderhoud met Lovejoy. Dit blyk dat verskeie boekwinkels geweier het om die boek op hulle rakke aan te hou. Die wêreld is wonderlik eienaardig, want ek kon dit by Alkantrand Biblioteek in Pretoria uitneem!
Dankie, Stephni, ek gaan nóú die boek bestel. Gelukkig kan ons biblioteek die boek ook van ander biblioteke vir ons bestel as hulle dit nie het nie. Ek het vlugtig met Al Lovejoy te doen gekry, toe hulle baba 'n jaar of wat gelede gebore is, en die idee wat ek gekry het, is van 'n persoon wat absoluut uit die warboel van die hel wat sy lewe was, ontsnap het, omdat hy wou. En hy skryf so skerp soos 'n naald, die man. Dieselfde naalde wat sy lewe amper verwoes het?
'n Mens is so geneig om te dink jy weet iets van die lewe, en dan lees jy so 'n boek, of Thula-thula. Ek is ook nog nie gereed om daaroor te skryf nie.
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member