Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
134 views

Fees van die ongenooides - PG du Plessis

Page 1
posts 1–2 of 2
superstar - founder
993 posts

Een van die beminlikste karakters in Fees van die ongenooides, PG du Plessis se onlangse roman oor die Anglo-Boereoorlog (ABO), is die Engelse fotograaf Joey Drew.

Drew kom uit ’n arm agtergrond en probeer aanvanklik om op die Johannesburgse myne sy fortuin te maak. Deur die toeval kom hy in die besit van ’n kamera – die begin van sy kort loopbaan as fotograaf.

Ná ’n swerftog deur die Vrystaat kom hy in ’n haglike toestand by die Van Wyks se plaas aan kort voor die begin van die oorlog. Die Van Wyks, die familie wie se lotgevalle die sentrale gegewe in die roman vorm, ontferm hulle oor hom en in ruil vir hul gasvryheid neem hy ’n hele aantal familieportrette van die gesin.

Joey toon sterk ooreenkomste met die sogenaamde skelmkarakter oftewel picaro, ’n karaktertipe wat in die 16de en 17de eeuse literatuur baie gewild was en sedertdien in verskillende gedaantes voortleef. Hy kom ook in Afrikaans voor, byvoorbeeld in George Weideman se roman Draaijakkals.
Neil Cochrane, een van die jonger woelgeeste in die Afrikaanse literêre wêreld, se navorsing het my belangstelling in die voorkoms van die skelmkarakter in die Afrikaanse literatuur geprikkel.
In Nederlands het Hendrik van Gorp reeds in 1978 insiggewend oor die skelmkarakter geskryf.

Die skelmkarakter is ’n sosiale verskoppeling oftewel anti-held wat allerlei moeilike situasies met slimstreke probeer oorleef. Weens sy marginale posisie kan hy selde op ’n liefdesverhouding aanspraak maak.

Boonop is hy dikwels klein en onaansienlik en het ’n nypende behoefte aan kos en drank. Hy ly dikwels honger en sy skelmstreke wentel meermale om die verkryging van geld vir kos en drank.
Die picaro is ook dikwels ’n ronddolende figuur met weinig permanensie en bied aan die leser van die skelmroman ’n beeld van sowel die maatskaplike situasie van die minder gegoedes tussen wie hy hom bevind, as die hoër klasse met wie hy in aanraking kom weens sy swerftogte. Hierdie soort karakter verkies om met slimstreke eerder as met eerbare werk liggaam en siel bymekaar te hou en sy rare optrede het dikwels lagwekkende gevolge.

Soos ’n tipiese skelmkarakter verkry Joey Drew in Fees van die ongenooides op ’n oneerlike manier die geld, wa en perde van ’n Boer, Hans Bester, wat saam met hom op ’n swerftog vertrek maar onderweg aan tering sterf.

Deur Joey se oë verkry die leser ’n interessante beeld van die moeilike omstandighede waarmee talle mynwerkers aan die Rand moes rekening hou. Met sy aankoms by die Van Wyks is hy uitgeteer en vuil en sy dranklus lei daartoe dat hy sy Boeregashere aanstoot gee met al sy slimmighede. Aan tafel vergryp hy hom aan die Van Wyks se drankvoorraad en die woorde begin vrylik vloei, uiteraard met komiese gevolge.

Weens sy mobiliteit as skelmkarakter beweeg Joey deur talle lae van die samelewing – hy word selfs ’n getuie van die hongersnood wat die swart mense tydens die beleg van Kimberley moes deurmaak – en met sy kamera lê hy beelde vas oor ’n wye spektrum van die Suid-Afrikaanse bevolking.

Sy foto’s word ’n waardevolle dokumentasie van die geskiedenis juis omdat hy so mobiel is en in aanraking kom met sowel die heel armstes as die rykes. Boer én Brit kom in die visier van sy kamera se lens.

Joey se enigste kennismaking met die liefde is wanneer die swart prostituut Betjie in Kimberley hom verlei en onder die wanindruk plaas dat hy vir haar spesiaal is.
Sy marginale posisie lei verder daartoe dat hy vatbaar is vir ’n vriendskap met ’n ander gemarginaliseerde karakter in Fees van die ongenooides: die bywonersdogtertjie Fienatjie Minter, wat met die helm gebore is.

Joey neem dan ook ’n hele paar foto’s van Fienatjie met haar mooi heldersiende blou oë en wend selfs op haar sterfbed nog ’n poging aan om vir oulaas ’n foto van haar mooi oë te neem.

In Du Plessis se roman is sowel Joey as Fienatjie skerp waarnemers van hul tyd en omgewing: Fienatjie kan die toekoms sien en Joey voel hom geroepe om met sy kamera alles waar te neem en vas te lê wat andersins moontlik vir die vergeetboek bestem is.

Interessant genoeg wil Joey sy kamera en fotoversameling vernietig juis nadat hy verneem het dat Fienatjie se blou oë finaal deur die dood verstar is. Sodoende beklemtoon Du Plessis die twee karakters se gedeelde funksie as waarnemers van die pyn en ontbering wat gedurende die ABO gely is.

Vir my was die plesier wat ek uit die lees van Fees van die ongenooides geput het, grootliks te danke aan Du Plessis se sensitiewe uitbeelding van Joey. Sonder Joey Drew se komiese verligting sou die oorlog-ellendes waarmee die karakters verder te kampe het, my heeltemal oorweldig het.
(Andries Visagie is professor in die departement Afrikaans en algemene literatuurwetenskap aan Unisa - in die By)

Bestel Fees van die ongenooides HIER van Kalahari

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
superstar - member
291 posts

Dis 'n boek wat beslis op my lysie is!

__________________
'Ek is, die Here hoor my 'n vry fokken vrou' Antjie Krog.
Page 1
posts 1–2 of 2

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now