Een van die beminlikste karakters in Fees van die ongenooides, PG du
Plessis se onlangse roman oor die Anglo-Boereoorlog (ABO), is die
Engelse fotograaf Joey Drew.
Drew kom uit ’n arm agtergrond
en probeer aanvanklik om op die Johannesburgse myne sy fortuin te maak.
Deur die toeval kom hy in die besit van ’n kamera – die begin van sy
kort loopbaan as fotograaf.
Ná ’n swerftog deur die Vrystaat
kom hy in ’n haglike toestand by die Van Wyks se plaas aan kort voor
die begin van die oorlog. Die Van Wyks, die familie wie se lotgevalle
die sentrale gegewe in die roman vorm, ontferm hulle oor hom en in ruil
vir hul gasvryheid neem hy ’n hele aantal familieportrette van die
gesin.
Joey toon sterk ooreenkomste met die sogenaamde
skelmkarakter oftewel picaro, ’n karaktertipe wat in die 16de en 17de
eeuse literatuur baie gewild was en sedertdien in verskillende
gedaantes voortleef. Hy kom ook in Afrikaans voor, byvoorbeeld in
George Weideman se roman Draaijakkals.
Neil Cochrane, een
van die jonger woelgeeste in die Afrikaanse literêre wêreld, se
navorsing het my belangstelling in die voorkoms van die skelmkarakter
in die Afrikaanse literatuur geprikkel.
In Nederlands het Hendrik van Gorp reeds in 1978 insiggewend oor die skelmkarakter geskryf.
Die
skelmkarakter is ’n sosiale verskoppeling oftewel anti-held wat
allerlei moeilike situasies met slimstreke probeer oorleef. Weens sy
marginale posisie kan hy selde op ’n liefdesverhouding aanspraak maak.
Boonop
is hy dikwels klein en onaansienlik en het ’n nypende behoefte aan kos
en drank. Hy ly dikwels honger en sy skelmstreke wentel meermale om die
verkryging van geld vir kos en drank.
Die picaro is ook
dikwels ’n ronddolende figuur met weinig permanensie en bied aan die
leser van die skelmroman ’n beeld van sowel die maatskaplike situasie
van die minder gegoedes tussen wie hy hom bevind, as die hoër klasse
met wie hy in aanraking kom weens sy swerftogte. Hierdie
soort karakter verkies om met slimstreke eerder as met eerbare werk
liggaam en siel bymekaar te hou en sy rare optrede het dikwels
lagwekkende gevolge.
Soos ’n tipiese skelmkarakter verkry
Joey Drew in Fees van die ongenooides op ’n oneerlike manier die geld,
wa en perde van ’n Boer, Hans Bester, wat saam met hom op ’n swerftog
vertrek maar onderweg aan tering sterf.
Deur Joey se oë
verkry die leser ’n interessante beeld van die moeilike omstandighede
waarmee talle mynwerkers aan die Rand moes rekening hou. Met sy aankoms
by die Van Wyks is hy uitgeteer en vuil en sy dranklus lei daartoe dat
hy sy Boeregashere aanstoot gee met al sy slimmighede. Aan tafel
vergryp hy hom aan die Van Wyks se drankvoorraad en die woorde begin
vrylik vloei, uiteraard met komiese gevolge.
Weens sy
mobiliteit as skelmkarakter beweeg Joey deur talle lae van die
samelewing – hy word selfs ’n getuie van die hongersnood wat die swart
mense tydens die beleg van Kimberley moes deurmaak – en met sy kamera
lê hy beelde vas oor ’n wye spektrum van die Suid-Afrikaanse bevolking.
Sy
foto’s word ’n waardevolle dokumentasie van die geskiedenis juis omdat
hy so mobiel is en in aanraking kom met sowel die heel armstes as die
rykes. Boer én Brit kom in die visier van sy kamera se lens.
Joey
se enigste kennismaking met die liefde is wanneer die swart prostituut
Betjie in Kimberley hom verlei en onder die wanindruk plaas dat hy vir
haar spesiaal is.
Sy marginale posisie lei verder daartoe
dat hy vatbaar is vir ’n vriendskap met ’n ander gemarginaliseerde
karakter in Fees van die ongenooides: die bywonersdogtertjie Fienatjie
Minter, wat met die helm gebore is.
Joey neem dan ook ’n
hele paar foto’s van Fienatjie met haar mooi heldersiende blou oë en
wend selfs op haar sterfbed nog ’n poging aan om vir oulaas ’n foto van
haar mooi oë te neem.
In Du Plessis se roman
is sowel Joey as Fienatjie skerp waarnemers van hul tyd en omgewing:
Fienatjie kan die toekoms sien en Joey voel hom geroepe om met sy
kamera alles waar te neem en vas te lê wat andersins moontlik vir die
vergeetboek bestem is.
Interessant genoeg wil Joey sy kamera
en fotoversameling vernietig juis nadat hy verneem het dat Fienatjie se
blou oë finaal deur die dood verstar is. Sodoende beklemtoon
Du Plessis die twee karakters se gedeelde funksie as waarnemers van die
pyn en ontbering wat gedurende die ABO gely is.
Vir my was
die plesier wat ek uit die lees van Fees van die ongenooides geput het,
grootliks te danke aan Du Plessis se sensitiewe uitbeelding van Joey. Sonder
Joey Drew se komiese verligting sou die oorlog-ellendes waarmee die
karakters verder te kampe het, my heeltemal oorweldig het.
(Andries Visagie is professor in die departement Afrikaans en algemene literatuurwetenskap aan Unisa - in die By)
Bestel Fees van die ongenooides HIER van Kalahari
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member