Ek het begin lees aan Thula-thula, en as julle my sal verskoon vir die volgende dag of twee... Ek sit daardie boek nie neer voor hy klaar is nie.
Dit is dié boek van die jaar. Wag maar en sien. Hoor wat ek vandag vir julle sê!
Bestel dit! Nou.
Myne nog nie gekry nie. Kan nie meer wag nie!
'n Baie ontstellende boek, maar dit ontsluit 'n wêreld aan my, wat beskermend en in 'n liefdevolle huis grootgeword het. Die woordkeuse skok soms, maar Gertruida se verlies aan onskuld word daardeur aan my getoon. Interessant is die haat/liefhê gevoel tussen Gertruida en Abel. Die boek bied nie soseer vermaak of ontspanning nie, maar is nodig sodat ons met ander oë kan kyk na bloedskande en die intense seerkry van die betrokkenes. 'n Moetlees!
Naaldekoker, ek dink ook Annelie was baie braaf om daardie aspek van liefde/haat aan te spreek, en dat Gertruida se 'aandeel' en haar manipulasie ook ter sprake kom. Mense is so geneig om net een skuldenaar en een slagoffer te sien, maar dit klink my dis 'n geweldige komplekse ding wat nie maklik is om te verstaan nie.
(En baie welkom natuurlik, Naaldekoker!)
Daar hang 'n kennisgewing voor my deur: DO NOT DISTURB.
Hoekom? Ek lees die boek. Magtag, maar die vrou kan skryf.
Tot later...
jy reken?
Ek is klaar. Ek kan nog niks sê nie, ek is stom...
Kadys, ek's al 'n week terug klaar gelees. En ek voel nogsteeds bietjie stom.
Ek hoop die boek versprei soos 'n veldbrand deur die land.
'n Moet lees!
Ralie, ek voel 'n stilte voor die storm. Dis so of almal tot stilte geslaan is en dat die sweer gaan oopbars. Ek voel dit! En die oorsese mark gaan hom ook vat, hoog vandag vir my, daardie boek gaan oor en oor vertaal word.
Maankind, ek kry sommer hoendervleis. Die boek het my erg aangeraak. Ek kyk met ander oe na kinders, hulle ouers. As 1 kind gered word van so 'n afgryslike lewe, is hierdie boek 'n sukses.
Ek kan Annelie nie genoeg lof besing oor hierdie boek nie. Sy skyf sodat mens elke karakter leer ken.
Hoe sy so goed kon verstaan en weergee wat in 'n kind se onskuldige kop aangaan, sal ek nooit weet nie. Vir my is dit iets wat mens nie aldag tee kom nie.
Ek hoop die boek word vertaal. Ek hoop dit word op die verhoog opgetree. Dat 'n fliek gemaak sal word. Die wereld moet hierdie boek lees. Ons skuld dit aan ons kinders, en hulle kinders.
Gertruida spook nogsteed by my. En ek dink sy sal vir 'n lang tyd....
Regtig, 10 uit 10 vir hierdie boek.
Ek dink ek gaan hom sommer nou weer lees.
Ek het die boek ook nou al 'n week of wat klaar gelees, maar soos Maankind, is ek nog sprakeloos. Ek weet nie wat om juis te sê nie - maar ek hoop die boek slaag daarin om een of twee kinders se lewens uit 'n bloedskande-hel te red.
Dis die eerste keer in 'n baie lang tyd dat 'n boek so 'n invloed op my het in die sin dat ek saans voor ek aan die slaap raak, daaraan dink en die gebeure so half visueel in my gedagtes sien - en dan slaap ek nie baie lekker nie.
Bloedskande is vir my nog erger as kindermolestasie (en dit is erg genoeg), maar as 'n dogter nie eers haar pa het om na op te sien en te vertrou nie, waarheen gaan sy dan - talle van die meisies beland dan op straat en trou met dieselfde tipe mans(Soos in Thula se geval) en dan vorm dit 'n bose kringloop wat homself oor en oor herhaal.
Dis die een boek wat ek nie wil bespreek nie - nooit nie, newer, nooit nooit nie - ek dink nie ek sal dit kan doen nie.
Maar ek stem saam met Rali, 10/10 vir Annelie Botes en vir die moed en durf wat dit gekos het om Gertruida se verhaal te vertel.
Anita-dek, Ek weet wat jy bedoel. Gertruida spook by my ook. Ek sien haar. Ek wonder oor haar.
Sy wil my nie uitlos nie. Haar eie pa....
Maar ek is anders in die feit dat ek WIL praat oor die boek. Dit pla my so dat ek ander mense se opinies moet hoor. Behoort ek sympatie vir Abel te voel? En vir Susarah? Gaan Gertruida dit maak op die langduur. Ek wat doen mens as jy dink dit gebeur erens in jou vriendekring? Moet jy ook maar Thula..... of gooi ons daai deur wawyd oop.... ?
Oe, dis lanklaas dat 'n boek my so aangegryp het!
Dit was vir my die verskrikking van die boek, Ralie. En Annelie het meesterlik daarin geslaag om my simpatie vir al die karakters te wek. Vir Abel ook. Daar is ook 'n aspek in waaroor ek nog tob, wat ek nie kan uitgespel kry in woorde nie, en dit is dat Gertruida ook 'n rol te spele gehad het in die 'verleiding' van haar pa. Dit voel vir my dit word gesuggereer in die boek. Ek het heeltyd gewonder wat sou van haar geword het as sy bloot haar eie pietermuis gesmeer het met salfies, pleks van aan te dring dat haar pa dit doen.
Daar. Ek het dit gesê. Wat dink julle?
Dit was mos ook 'n probleem met André P Brink se boek Die blou deur, met die "fraaie skoenlappertjie" wat sy so oopgegooi het vir haar pa, en hulle beide plesier geput het uit die "deeglike versoprging" daarvan.
Daarsy.... iemand wat ook wil praat oor die boek.
Gertruida het haar deel in die verleiding gespeel. Definitief. Maar ek voel dit was eers later jare dat sy regtig begin manipuleer, om te kry wat sy wou he. Maar ek blameer haar nie. Ek dink ek sou dieselfde gedoen het. MEns moet seker so verbittered raak deur jou omstandighede. En soos Annelie erens in 'n onderhoud gese het, soms is dit die enigste 'game' wat hulle ken.
Maar dat Gertruida op 4 haar pa probeer verlei het deur te vra vir salf.... Nee. 'n Kind so klein weet nie van sulke dinge nie. En hoe sou sy inelkgeval geweet het watter salf om aantesmeer. Al wat sy geweet het is dat haar ma nie op die oomblik daar was vir haar nie, en sy wou net gehad het dit moet minder seer wees. Miskien het sy haar pa vertrou, dat hy haar sal help, nie die inteendeel nie. Ons almal maak dieselfde foute meer as een keer voor ons die les leer.
Wat ek nie kan verstaan nie, is hoe is dit in hemels naam moontlik dat Susarah deur dieselfde ding gegaan het, maar sy kan anderpad kyk. Mens sou dink sy sou haar kind gevat het en geloop het.
Geld was duidelik nie 'n kwessie nie, Susarah het genoeg geerf. En dis nie asof sy Abel meer regtig lief gehad het nie (of wag, dalk het sy?). Sy't hom blameer vir Anthonie se dood, maar sy gee nie om dat Abel Gertruida elke dag bietjie meer en meer verniel nie. Hoekom het sy gebly?
En hier is die deel wat vir my moeilik is om uittespel. Was sy net so bly dat dit vir een keer nie sy was wat deur die naglikkewaar getruiter word nie?
Ek hoor alles wat julle hier sê. Ek het ook baie vrae gehad, maar ek het skaars die vraag gevra, dan het die verhaal 'n wending geneem wat my beantwoord het. Ek voel nog steeds nie in staat om hieroor te praat nie en stem saam met Anita. Ek ag myself eintlik te gering om ooit hierdie boek te bespreek.
Al wat ek weet is dat daar by 'n kind wat op 4 reeds gemolesteer is, seksuele gevoelens wakker gemaak is wat sy nog nie eens bewus van was nie en ook nog nie van bewus moes wees nie. Dit het 'n invloed op die res van haar lewe gehad. Ek was deur 'n baie naby persoon, op die ouderdom van 12 (54 jr gelede) gemolesteer. Ek het nie naastenby moes deurmaak wat Gertruida moes nie en tog vergeet mens dit nooit nie.
So, daar is dit nou ook uit. Dalk sal ek later meer oor dit kan praat.
Kadys, jy is reg, dit is deel van die goed waaroor ek sukkel om te skryf. Die feit dat sy op 4 'n soort van orgasme beleef het. En hoe sy toe sy bietjie groter was haarself verwyt omdat haar liggaam reageer op haar pa se aanraking.
En dis wonderlik as dit mense help om daardie onreg aan 'n kind uit te bring. Dink net aan al die skade aan jouself oor die jare. Onnodig.
Rali ek het nie 'n probleem om die boek hier te bespreek nie. Wat ek bedoel het is dat ek dit nie vir die leeskring in Robertson wil doen nie. Die boek is reeds hier ter sprake vir 2010 se lys, maar ek het klaar gesê kry iemand anders. Ek sien nie kans om in die boek en in sy karakters se psiges te gaan delf nie - dis net een van daai boeke .........Chinchilla was al erg genoeg. (Van ons leeskringlede het ook laat blyk dat hulle nie die boek op die lys wil hê nie - dus 'n geval van ons kyk maar anderpad. Ek voel 'n mens moet soms dinge wat jou ontstel en pla konfronteer en direk takel - dis wat ek probeer om te doen, maar dis nie aldag maklik nie).
'n Vierjarige kind wat seer gekry het en salfies nodig het, moet die vertroue in haar pa het om toe te laat dat hy dit doen, selfs al is dit op private plekke -dis hoekom jy 'n pa het. Alle pa's ruil op die een of ander tyd hulle dogtertjies se doeke om, bad hulle, vertroetel hulle as hulle seerkry - so daai argument werk nie so lekker nie. Dit is egter 'n biologiese feit dat 'n vierjarige kind wel 'n orgasme kan kry - daar is genoeg mediese bewyse daarvoor.
Wat Getruida se latere manipulasie betref en ook die feit dat sy uit haar eie teenoor hom reageer, dit is maar soos dit werk. Soos sy groter word en haar seksuele gevoelens ontwikkel meer, sal jy mettertyd liggaamlike plesier daaruit kry - dis hoe 'n mens se biologie werk. Ek het heelwat studies gelees oor gemolesteerde meisies wat erken dat daar 'n tyd in die mishandeling kom dat hulle dit liggaamlik en orgasmies aanvaar en selfs meedoen daaraan, maar dit beteken nie dat hulle goedkeuring gee daarvoor nie. Hulle reageer maar net op 'n liggaamlike prikkel.
Haar manipulasie van Abel is ook 'n erkende feit by gemolesteerde kinders, veral meisies wanneer hulle begin groot word en weet waaroor dit gaan. Dis iets van " as jy dit wil hê, moet jy my gee wat ek wil hê" en dit is wat Gertruida gedoen het. Ek dink dit is die enigste manier waarop sy Abel op 'n manier kon beheer - sy het iets wat hy wil hê, so betaal daarvoor.
Die tragiese effek daarvan is dat as die meisies nie sielkundige behandeling kry om deur die trauma te werk nie, hulle daardie manipulasie as volwassenes voortsit, hetsy in verhoudings, huwelike of op straat en dit is hier waar ek dink Susarah se probleem vandaan kom - die bose kringloop.
Anneli Botes het briljant daarin geslaag om Abel en Susarah simpatiek te beskryf - op 'n sekere vlak verstaan jy hoekom hy dit doen en hoekom sy dit toelaat - dit verskoon egter nie hulle optrede nie. Jou kind is jou kind en jy beskerm jou kind al is dit teen jou eie man. Die feit dat sy niks gedoen het nie en Abel sy gang laat gaan het is ook tipies van mishandelde vroue. Hulle is maar te bly daar is iemand anders wat dit moet doen, dan hoef hulle dit nie self te ervaar nie. Ek dink fisieke aanranding speel ook 'n groot rol in so 'n vrou se optrede. Ek kan myself egter nie indink dat enige ma sal toelaat dat haar man dit aan haar dogter doen ek. Ek sal die bastard self kastreer met 'n stomp mes.
Die boek bring my ook weer by 'n opmerking wat John Douglas die beroemde FBI profiler in sy boek Mindhunter gesê het "serial killers are not born, they are made". Ek glo dat dit ook geld vir molesteerders en verkragers (in die meeste gevalle egter, daar is uitsonderings) - hulle leef maar net uit wat aan hulle gedoen is. Douglas het egter ook genoem dat sommige kinders wat so erg mishandel is, egter wel daarin geslaag het om bo hulle trauma uit te styg. Die skrywer van die boek, A Boy called It, Dave Pepler dink ek is sy naam, het dit reg gekry om ondanks afgryslike mishandeling as kind, bo dit uit te styd.
Maar dit maak nie saak hoe jy die saak beskou nie, dit gebeur daagliks en dit is hoekom die boek vir my so verskriklik is - as ek saans in my bed lê en dink aan al daardie dogtertjies wat op daardie oomblik so grusaam mishandel word, dan kan ek nie slaap nie. Ek kan net elke aand vir die liewe Here dankie sê vir 'n wonderlike pa en oupa wat my liefgehad en en nooit nooit soiets probeer het nie. My hart breek elke keer as ek iemand ontmoet wat dit ervaar het - en dis waar ware vriendskap begin - as jy daardie stukkende mens aan die hand kan vat en help om by heling uit te kom.
Dave Pelzer van A child called it het klaarblyklik meer probleme oorgehou as wat hy laat blyk het. Daar is geweldige kontroversie of hy wel mishandel is as kind, of nie. Gaan lees meer daaroor hier:
My dogter woon toevallig in dieselfde gebied as waar die Pelzers gewoon het. Die straat wat hy noem in sy boek, is klaarblyklik in 'n goeie gebied geleë.
Dit wys jou, die 'geheimhouding', die twyfel, die thla, selfs by ander gesinslede, is ook universeel tot Gertruida se verhaal.
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member