Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
42 views

Lang skaduwees in Afrika - Connie Luyt

Page 1
posts 1–1 of 1
superstar - founder
993 posts

Lang skaduwees in Afrika - Connie Luyt

Ek het hierdie 'n heerlik leesbare boek gevind, en in die proses geleer van 'n stuk geskiedenis waarvan ek maar min weet, nl die uittog van boere na Oos-Afrika na die Anglo-Boereoorlog. Ook oor die rol van die Mau-Mau om hulle weer te verdryf. Jaco Fouché skryf soos volg daaroor:

Ná ’n verblyf in ’n konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog, haar kind en man kwyt, wend Francine van Rensburg haar tot ’n Engelsman, Tremayne.

Hy was in die toe afgelope oorlog een van haar oppassers. Die liefde sneuwel egter wanneer haar man, Karel, terugkeer en sy die lewe saam met hom en sy mense moet hervat. Al wat vir haar oorbly van Tremayne, is gerugte wat sy vermoed onder die lede van haar gemeenskap oor die kind wat vir haar gebore word, gesaai word. Intussen is daar ’n moeilike skoonsuster om mee rekening te hou.

Dit is hoe Francine se wêreld lyk kort voordat sy saam met haar skoonmense na Kenia verhuis. Hier gaan die intrige onverpoos voort. Die aankomelinge moet hulle inburger en een van die vroue loer vir Karel.

Tremayne maak kortliks weer sy opwagting, maar met tragiese gevolge. Dit gee aanleiding tot deel twee van die boek waarin Francine se dogter Maia die verteller is. Hier kom die immigrante se toekoms op die spel wanneer daar ontevredenheid onder die swart Keniane (die Kikoejoe) is oor grond wat destyds aan nuwe (wit) boere verkoop is.

Die land, en Afrika, is aan die verander en die dae van die kolo-nialiste is dalk getel. Maia se man, Tom, is weg oorlog toe (die Tweede Wêreldoorlog) en haar broer wil hê sy moet Suid-Afrika toe gaan. Sy bly egter en gaan voort met die boerdery. Wanneer Tom terugkom, merk sy teenoor hom op dat verhoudinge met die Kikoejoe verander het. Hulle is nie meer gedienstig daarmee om onderdane te wees nie. Die woord uhuru word gebruik, nou aan die einde van die wêreldoorlog wat ook om vryheid gegaan het. Die Maranga African Union, die Mau-Mau, is bedrywig en sekuriteitsmaatreëls word ingestel. Boere word vermoor; Maia beleef trauma; Tom is in gevaar. Die witmense moet hul toekoms heroorweeg.

Die derde deel van die boek betrek Maia se dogter Christine. In Suid-Afrika word sy ’n skilder en beleef haar eie dinge. Sy trou, onder meer, vir ’n tyd. Later gaan sy terug na die Kenia van haar ma en haar ouma. Dis natuurlik nie dieselfde plek nie. Haar besoek lewer ’n kennismaking met ’n Amerikaner, Craig Newman, op. Ook loop sy iemand uit haar verre verlede weer raak in die land waar die geweld en vrees iets van die verlede is en sy kan vrede maak met haar kinderherinneringe.
Dit, in breë trekke en sonder om al die verrassingsoomblikke te verklap, is die intrige van Connie Luyt se baie leesbare boek. Die styl is nogal oorsigtelik, voel ’n mens soms en jy’s bang jy’s so dalk stukkies storie kwyt, maar hierdie manier van skryf het die hoë leesbaarheidsfaktor tot gevolg. ’n Mens wil nie die boek neersit nie en ek het later gevoel die aantekeninge wat ek tussendeur maak, strem net my leesvaart.

Die verhoudingsverhale is ineengeweef met ’n kunstema: Ouma Francine wat op ’n Engelsman verlief was, het dagboek gehou en kleindogter Christine wat op ’n Amerikaner verlief raak, is ’n skilder.

Die boek haal elemente by wat tot sy Afrikaanse lesers sal spreek: die Boereoorlog, die verhouding met die swartmense van Afrika en emigrasie. Met die lees oor die vryheidstryd in Kenia moet ’n mens natuurlik aan die struggle in Suid-Afrika dink. Die ophaal van die toestande in die Kenia waarheen Christine terugkeer, herinner aan plaaslike kwellinge oor infrastruktuur en algemene welstand en welvaart. Tog blyk die boek nie ingeperk te word deur enige agenda nie. In storie, besonderhede en beskrywing is dit ’n goed nagevorste genot om te lees. – Jaco Fouché

Bestel die boek van Kalahari teen die afslagprys van R132.

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
Page 1
posts 1–1 of 1

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now