Gaan luister na 'n uittreksel van Thula-thula op Youtube, voorgelees deur Johann Nel.
Ons het die kwessie al voorheen aangeraak. Lees jy ʼn sekere boek nie omdat jy weet dat dit uitmergelend is en jy nie sulke dinge hanteer nie? Of gryp die lot van kinders jou aan die hart, sodat jy nie wil lees hoe hulle seerkry nie?
Daar is nie ʼn eenvoudige antwoord nie. Ek skat die meeste van ons gebruik maar die volstruistegniek en druk ons koppe in die sand. Maar partykeer kom dring ʼn boek hom so by jou aan dat jy eenvoudig nie anders as om dit te lees nie.
So was dit vir my met Thula-thula van Annelie Botes. Nog voor enige resensies of besprekings daaroor, het ek geweet ek gaan dit lees, al was bloedskande gelukkig nooit ʼn werklikheid in my lewe nie.
Ek kon die boek eenvoudig nie neersit nie. Annelie het al haar navorsing, al die gesprekke wat sy met slagoffers gehad het, haar wysheid en insig gebruik om so ʼn menslike verhaal te skryf dat dit vir my voel ek ken vir Gertruida en Susarah-hulle persoonlik. En ook vir arme Abel met sy spies.
Annelie het voorheen geskryf dat meer as die helfte van gesinne in ons land deur bloedskande geraak word. Dis ʼn verskriklike aanklag. Dan is dit hoog tyd dat iemand wat so dapper en talentvol soos sy is, die sweer kom oopsteek het.
Dis nie ʼn maklike boek om te lees nie. Dis eintlik aaklig om te lees en te weet dat dit net so wel waar kon wees. Maar Annelie skryf altyd met deernis vir die menslike kondisie. Sy is objektief en gebalanseerd. Sommige van haar karakters pleeg walglike dade, maar die leser verstaan hulle optrede, al maak dit jou ook naar op die maag. Al wonder jy of jy nie self vir ewig hierna van seks afgesit gaan wees nie. :)
Dit lyk asof sy moeiteloos die terugblik na die gebeure in vier dae ingepas kry. Al gebeur dinge nie chronologies nie, val alles op die ou end in plek en daar is ook spanning in die ontknoping. Ek het net bewondering vir haar skryfwerk.
Miskien sal hierdie boek van die rakke af vlieg. Thula-thula sal hopelik nie ignoreer word nie. Mense gaan daaroor praat en daar sal ʼn klomp vroue wees wie se lewens as gevolg daarvan verander. Ek hoop altans so.
Jy verwoord dit verskriklik goed, Annemari. Ek het die onbeskryflike groot voorreg gehad om saam met Annelie om 'n tafel te sit, met 2 dik-dik leêrs stampvol inligting en navorsing en gesprekke en notas en transkripsies van onderhoude, oor die werk wat ingegaan het in hierdie boek. Sy het my van 'n kant af gewys hoe sy die boek aangepak het, en die leêr met die 'ruggraat' van die boek.
Ek het Getruidatjie dus leer ken toe sy nog net woorde op papier was, en dit wat haar gevorm het op die tafel uitgesprei gesien het.
Daardie dag al het ek gesit en tjank. En vir Annelie gevra, kan dit wáár wees? Sy het my só gesit en aankyk, en gesê, Ja, dit is, daarom moet ek die boek skryf.
Jip,dit is ongelukkig waar!
Ek hoop my eksemplaar gaan vandag in die pos wees, kan nie meer wag nie!
Ek het al so 'n derde van Thula-Thula gelees en dit is 'n skrikwekkende maar briljante boek.
In my koerantdae het iemand eendag gesê dat bloedskande, nie rugby ons land se nasionale sport is en dat as ons weet wie almal hulle kinders seksueel miskbruik, sal ons dit nie glo nie. Volgens die persoon, ek dink dit was 'n maatskaplike werkster of iemand, sit baie van die pa's wat hulle dogters misbruik in die voorste gestoeltes van die samelewing = en veral, soos in Abel se geval, ook in die ouderlingbanke. Baie van die mans glo hulle dogters is hulle eiendom en dat hulle geregtig daarop is om hulle te misbruik. Dis verskriklik, maar dis waar. Ons het die Sondag ook weer op Rapport te voorblad gesien.
Any way, sal laat weet as ek klaar gelees het.
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member