'n Groot skrywer, 'n grootse boek. Etienne van Heerden ryg vanjaar weer eens die letterkundepryse in, dié keer vir sy roman 30 nagte in Amsterdam. Pas is die M-Net- en die Via Afrika (W.A. Hofmeyr)-pryse en vroeër vanjaar die Universiteit van Johannesburg se UJ-prys vir die beste skeppende skryfwerk in Afrikaans aan hom toegeken. 'n Groot skrywer, 'n grootse boek. Etienne van Heerdenryg vanjaar weer eens die letterkundepryse in, dié keer vir sy roman 30 nagte in Amsterdam . Pas is die M-Net- en die Via Afrika (W.A. Hofmeyr)-pryse en vroeër vanjaar die Universiteit van Johannesburg se UJ-prys vir die beste skeppende skryfwerk in Afrikaans aan hom toegeken.
In ’n neutedop, waaroor gaan 30 nagte in Amsterdam?
Henk Ekskuus se reis van besadig wees tot ’n rieldans om die askol.
Waar is jy gebore en getoë?
Gebore
in die Florence Nightingale-kliniek in Hillbrow. My ma is weens my oupa
Tinko se kommer oor die vroedvroue van die Karoo per trein op
Johannesburg toe vir die bevalling.
My pa, wat op die plaas
agtergebly het, se dagboekinskrywing vir daardie dag lui kort en
kragtig: “Etienne Roché gebore. Volk begin koring sny.” ’n Hele ruk
later noteer hy: “Etienne se eerste sin: ‘Papa, kan ’n satelliet byt?’ ”
Ek onthou nog hoe hy my uit buitentoe geneem het om my die Karoo-melkweg te wys; een van my vroegste herinneringe.
Watter boeke lê op jou bedkassie?
Spulle
van hulle. Niks merkwaardigs intelligent op die oomblik lê bo-op nie.
As ek vinnig ondertoe krap: Karoo Veldblomgids van Suid-Afrika, van
David Shearing, met illustrasies deur Katryn van Heerden. Isobel Dixon
se jongste digbundel, A Fold in the Map. Ou vriendin Doreen Atkinson se
goeie studie Going for Broke: The Fate of Farm Workers in Arid South
Africa. En om my vakies te maak vir die doedoes saans, lees ek lekker
aan die enigmatiese Eugène Marais se prosa; pas gisteraand sy verhaal
“Die leeus van Magoeba” herlees.
Wat doen jy vir plesier?
Ek
lewe met ’n klankbaan. Gegewe my bagasie, is ek nogals opgewonde oor
die nuwe Bruce Springsteen, Bob Dylan en Leonard Cohen. Musiek by die
rekenaar, musiek in die motor, musiek in die huiskamer.
En vir bederf?
Dit bly daardie Vrydagaand as ons ons moeë lywe insleep in Paternoster.
Die
honde ruik al die see van Hopefield af en dis ’n kakofoniese aankoms in
die mistigheid van die koue Benguela. Gô-uit en stukkend gelewe pak ek
kameeldoring in die herd en raak later aan die slaap met die donderende
golwe van Bekbaai in my ore. Grootbederf.
Reis jy baie?
Al
minder. In die jaar wat ek 30 nagte in Amsterdam begin skryf het, was
ek drie keer kort ná mekaar in Amsterdam. Maar die Universiteit van
Kaapstad en LitNet hou my nou te besig. Ek reis baie minder. Ek probeer
dit sny.
Is jy skrikkerig?
Ja, vir blindword. Ek het net een oog.
Een van die “vreemdste” plekke waar jy al was?
Ek
was twee keer vinnig deur die Strandveld-dorpie Redelinghuys. Een
oggend in blommetyd aan die Weskus ry ons die eerste keer deur
Redelinghuys op soek na petrol, op en af met die paar stofstraatjies.
Ek vra ’n dame, die enigste mens in sig, wat op haar eie stap, waar die
motorhawe is.Sy kyk my aan en sê, nee, sy weet nie, sy bly maar nog net ses maande op Redelinghuys. Toe dag ek: ’n dorp vir ’n roman.
Indien jy die langpad vat, waarheen?
Die
N1 Karoo toe, via Prins Albert, waar ek Die swye van Mario Salviati
klaar geskryf het. Afswenk by Beaufort-Wes, rigting Aberdeen. Voor
Aberdeen links die grondpad in Murraysburg toe.Dan van
Murraysburg met die sogenaamde “Sneeuberg Crossing” oor die
familieplaas teen Toorberg se hang na die ou halte Zuurpoort en daarna
Graaff-Reinet, waar Asbesmiddag en 30 nagte in Amsterdam setel.Aandoen
en oorslaap ook in Nieu-Bethesda. Dan via Somerset-Oos na Cradock, die
wêreld van Kikoejoe, en uiteindelik via die Karoopark en In stede van
die liefde se Matjiesfontein terug na Stellenbosch. Een week is genoeg
en jou kop is skoon.
Watter van jou deugde word heeltemal oorskat?
Ek
vermoed dat dit wat mense as deugde beskou, dikwels eerder mankemente
is. Vinnig bekyk, is ek seker hardwerkend, maar vir my is dit eerder ’n
gesondheidsrisiko as ’n deug. My deugde lê eerder by iets soos my
waardering vir die vroetel van die voorste punt water deur die droë
kluite van ’n groentetuin. Dat ek dit raaksien en dat dit my boei. Dis
die deug waarvoor ek onthou wil word.
Lieg jy ooit?
Nooit. Oeps, daar gaat ons alweer.
Watter sêding gebruik jy dalk te veel?
To each his own.
Wat is jou beste kenmerk en indien jy kan, wat sal jy aan jouself verander?
My
beste kenmerk is dat ek kan terugsit en ruimte gee. Ek sien LitNet as
die speelplek van ander mense se kreatiwiteit en menings. Ek het geen
behoefte om net opinies wat my eie idees eggo, te plaas nie.
As ek werk met my studente in skeppende skryfwerk, wat saam met my skryf aan hul manuskripte, kan ek meestal ook daarin slaag om te vra: Wie is hierdie stem, wat is hierdie stem, hoe gaan ons hierdie stem so ver moontlik ontwikkel? Al skryf daardie skrywer heel anders as ek, of kyk sy heel anders na die dinge in en om ons as ek.
Wat beskou jy as die diepste gat van ellende?
Kliniese depressie.
En die hoogtepunt van geluk?
Die dag as die grafte oopgaan en jy besef: Dit was al die tyd geen gerug nie. Dis waar! Bingo!
Wat is die belangrikste lewensles wat jy geleer het?
Als verander. Niks bly dieselfde nie. Dit sal verbygaan. Al sekerheid is die voortdurende voortbeweeg die onbekende in.
Waar kom jy aan jou stories, aan jou idees?
Ek hou vol dat elke mens ’n hele meesleurende verhaal is.
In
elke mens se kop draai ’n film af, elke dag. Emosies, herinneringe; die
hele museum en konsert wat elkeen van ons se gemoed is. ’n Gemoed vol
herinneringe en vrese en drome.
So, jy moet maar net mooi
kyk en luister. Navorsing doen. Reis. In my roman Asbesmiddag beskryf
ek die proses van navorsing van die romanskrywer.
Daardie ou skrywer wat ek as hoofkarakter gebruik, moet omtrent deur die passies gaan om sy storie te ken!
Skryfgewys, iets nuut in die pyplyn?
Ek
wil vanjaar niks skeppends skryf nie. Ek wil eerder saam met my
vertalers werk. Tans lê twee dik manuskripte op my lessenaar: Leon de
Kock se Engelse vertaling van In stede van die liefde en Michiel Heyns
se Engelse vertaling van 30 nagte in Amsterdam.
Ek is
bevoorreg om sulke uitstekende vertalers te hê, en my rol is om met die
neurotiese vingerpuntjie te sorg dat niks verlore gaan nie. Dis ’n heel
nuwe proses wat ’n mens moet deurgaan om jou verhaal te sien skuif van
een taal na ’n ander. Dis taai. Maar jy moet laat gaan, en jy sal
verras word.
(Gesprek in die Beeld se By)
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member