(Hierdie boekoorsig verskyn tegelykertyd by My Kop Op 'n Blok.)

Die
lewe van Maria, van 1897 tot 1972. Aangesien die boek reeds in die
19de eeu begin, en dit op ‘n wynplaas, het die eerste stuk vir my
effens die gevoel van die ou Kaapse verhale wat ek graag as kind gelees
het, maar nie vir ‘n oomlik vervelig nie, want dit begin met die
sinnetjie:
ek was vyf toe hulle Hansie doodgemaak het
Terwyl Maankind op Boekemakranka nou verwys het na Marié Heese se blog,
en ek die boek onlangs gelees het, beter ek vinnig ietsie daaroor skryf
voor ek alles vergeet. Die foto is uit die stofomslag, daar word
genoem dat sy Audrey Blignaut se dogter is. Wat die titel aanbetref, sê
die kopieregblad: Die titel van hierdie roman is ontleen aan die gedig “Suiwer Wiskunde” van N.P. van Wyk Louw uit sy bundel Nuwe Verse.
Hansie was darem net haar troetelhaan wat per ongeluk onder die
slagmes beland het. Onmiddelik is daar ‘n konfliksituasie met Trui
(Gertruida), die huishoudster en haar pa. Soos die stofomslagnotas
(sien verderaan) sê: Marié Heese se karakters leef. Trui is miskien
vir my die werklikste karakter in die boek, maar dit geld eintlik vir
almal, en aangesien die verhaal oor so ‘n lang tyd span, is daar
heelwat karakters.
Die konflik met haar pa keer bv. weer terug hy ‘n gewonde Kaapse
rebel, ‘n vriend van Trui, uit die huis jaag, en later wanneer sy in
Eugene Marais se Winternag die skoonheid van Afrikaans as
letterkundetaal ontdek, maar haar pa en die dominee reken “dis ‘n taal
sonder ‘n verlede en sonder ‘n toekoms.” (Bl. 40-41)
Die groot griep van 1918 kry natuurlik ook ‘n beurt in die boek,
ongeveer vanaf bl. 114. Toevallig, terwyl ek besig was om hierdie
gedeelte te lees. Gedurende die afgelope week is die eerste bevestigde
geval in Suid-Afrika aangemeld.
Nog ‘n interessante karakter is die Duitse kunstenares Inge, wat die
loodglasvensters vir ‘n katedraal in Kaapstad moes oordoen, met wie
Maria bevriend raak. So ook die Pool, Latski (bl. 191-), wat sy gesê
het: “Chopin was a Pole. Did you know that? …. His heart was immured
in a pillar of ze Church of ze Holy Cross in Varsaw”.
Maar ek wil nie die storie verder bederf vir voornemende lesers nie.
’n Voortreflike boek, en glad nie so “oudtyds” as was mens dalk ‘n
suspisie mag hê nie. Onthou dit het in 1976 verskyn – na die
blommekinders! Net nog ietsie wat ek wil sê: Maria se gedagtes wat so,
nie in vol sinne nie, sonder punktuasie in die boek uitgespreek word.
So ‘n stukkie daarvan:
miskien
kon ek
dit
alles
vir jou vertel het
as ek jou geken het
toe ek nog Maria was
maar nou
is ek nie meer Maria nie
ek is ‘n wingerdstok
‘n ou ou wingerdstok
soms dink ek
minstens al ‘n honderd jaar oud
en ek dra die letsels
van al my winters aan my bas
maar toe dit oestyd was
toe kon ek vrugte gee

Notas in die stofomslag (skrywer onbekend)
Die Uurwerk Kantel is die ontroerende
verhaal van Maria Celliers.
Met die trefseker gevoel van die begaafde
skrywer voer Marié Heese ons terug na
‘n tydperk wat verby is. Ons leer ken
Maria hier teen die draai van die vorige eeu
as kleuter op Schoongelegen waar sy met
sensitiewe oë na die mense en die wêreld
om haar kyk.
En later: Maria -die skrander skolier wat
vir die eerste maal jongmeisiedrome begin
koester .
Maria – die student. Sorgvrye dae van
studentepret en pIesier.
Maria – en Willem . ..een vakansie op
Schoongelegen.
Maria voor die kansel.
Maria -in Kaapstad as respektabele huis-
vrou.
Maria – die sorgsame moeder .
Maria – langs ‘n oop graf.
Maria – in die grysheid van haar jare.
Deur die oë van Maria leer die leser ook
vir Willem ken – intens en doelgerig, met
‘n byna onverskrokke eerlikheid; Johan,
die jong idealis “wat die wêreld wil ver-
ander” ; Elise, slim en teruggetrokke en
onversetlik in haar liefde vir die Engels-
man Charles Hopwood; die immer-Iojale
en arbeidsame Trui; Inge, prakties én
kunstig…
Marié Heese se karakters leef. Dit is die
lotgevalle van mense waarmee die leser
hom volkome kan vereenselwig. En waar
daar raakpunte met die hoofmomente in
die Suid-Afrikaanse geskiedenis aangesny
word – die Tweede Vryheidsoorlog, die
griepepidemie van 1918, die twee wêreld-
oorloë, die politieke stryd rondom ‘48 -
word dit met kundigheid en insig gedoen.
Dit is selde dat ‘n mens ‘n roman opneem
en weet: hier is ‘n werk, lewenswaar en
eg, groots van opset, maar tog onpreten-
sieus, met ‘n eenvoud wat dit ‘n genotvol-
le leeservaring maak.
Die Uurwerk Kantel is só ‘n boek.