Ek wou wag totdat ek klaar is met hierdie boek van Koos voor ek my eiertjie lê, maar soos sake nou staan het hierdie hen waarskynlik lank voor die boek se einde al kekkelend die nes verlaat en die bosse ingevlug.
Verhale is ʼn samebundeling van sy kortverhale: Jonkmanskas, Die hemel help ons, Slagplaas, Weifeling. “Dis grensverskuiwend,” sê die lokteks. “Dit gaan oor die misbruik van mag, die eie familiegeskiedenis, Suid-Afrika aan die einde van apartheid en homoseksuele identiteit en begeerte.”
Die boek was ʼn geskenk. Aan die begin was dit vir my soos om ʼn baie interessante blog te lees. Jonkmanskas is opgedra aan Koos se pa en ma, Toors en Marie. Eendag was daar ... begin baie van die stories en jy weet die skrywer het die inhoud daarvan self beleef. Soms baie séér beleef. Tussenin is sy familiegeskiedenis verweef: sy grootouers en ouers se verblyf in Kenia, Snoopy Cartoons, gay ontmoetings en die skreiende verhaal, Jonkmanskas, aan die einde van hierdie deel.
Tussendeur is daar die grensoorlog, die land se politiek wat al hoe meer onheilspellend word.
Die hemel help ons hervat die verhale van sy pa, die grootwildjagter. Daar is afdrukke van foto’s, een van sy pa op die olifant. Dis die verwikkelde verhaal van ʼn pa wat sy gay seun moet aanvaar. Sy seun wat hom moet aanvaar en hoe hulle albei seerkry in die proses.
Algaande word dinge erger. Siekte, die situasie in die land met necklaces, martelings, grensverhale, die Publikasiewette.
Dis nie asof ek nie self daar was nie. Dis nie asof ek dit nie reeds een keer met magteloosheid, angs en beklemming beleef het en partykeer my doodgehuil het nie.
Ek weet nie of ek kans sien om verder te lees nie ...
Ek het Jonkmanskas destyds soort van geniet, maar Slagplaas was darem net té bloederig en rou. Ek weet darem nie, groot skrywer of te nie, lees is vir my net te genotvol, en tyd te kosbaar om dit op bloederige derms wat uitgeryg word te spandeer
Die hemel behoed my, Slagplaas volg op die deel wat ek nou lees. Dan is ek darem bly dat jy saamstem. Die Hemel behoed Ons gedeelte het my so ontstem dat ek nie kon slaap nie.
Maeve Binchy hier kom ek. Ek het hoeka nog 'n omnibus van haar waarvan ek een storie nie gelees het nie.
Het gewonder wanneer iemand op Boekemakranka by Koos Prinsloo sou uitkom. Het net twee van sy boeke, Weifeling en Slagplaas en Riana Scheepers se boek oor Prinsloo wat ek nog nie die moed gehad het om te lees nie.
Jonkmanskas het ek gelees en aanvaarbaar gevind (literêr gesproke) maar ek het 'n probleem met Slagplaas gehad. (Meer nog ek was by die bekendstelling van die boek in Exclusive in Sunnyside Pretoria toe Prinsloo die aand daar aangekom het met 'n stukkende gesig na oorle Johannes Kerkorrel hom gevoeter het nav die verhaal oor sy popstervriend. Het 'n getekende kopie).
Het my ongeveer 'n jaar gevat om die boek klaar te lees, maar het gesukkel - dis nie my tipe leesstof nie. Wyle Prof Elize Botha het eendag gesê toe ons oor die boek praat, sy het dit gevat as leesstof oppad oorsee - sy het haar gedwing om dit te lees. So as sy van alle mense daarmee gesukkel het, dink ek ons is darem nie te onnosel nie.
In Wiefeling, sy laaste boek het hy 'n paar dwarsklappe na Hennie Aucamp gegee en allerhande dinge geïnsinueer. Aucamp het, gentleman soos hy is, nooit daarop gereageer nie, maar dit het hom baie seergemaak. Hy het homself as Prinsloo se mentor beskou.
Prinsloo mag talent gehad het en 'n mens sal nooit weet watter hoogtes hy sou bereik het nie, maar 'n "nice" mens was hy nie en het oral teenstrydige kommentaar uitgelok soos laasjaar op Litnet. Jy het of van hom gehou of hom gehaat. Ek was meer in die middel - het sy talent as skrywer gerespekteer, maar sy bitsigheid en venyn veroordeel.
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member