Lefora Free Forum
Join now
Hier gesels ons in Afrikaans oor skrywers en boeke. So maklik en so lekker soos dit!
74 views

Serfontein herdink 'n ryk lewe

Page 1
posts 1–6 of 6
superstar - founder
993 posts

VRYPAS deur Dot Serfontein. Protea-boekhuis.

“Wanneer ’n mens ’n sekere ou antie met haar koffer by ’n vreemde huis sien ingaan en sy kom nie ná ’n paar uur weer uit nie en jy hoor van water wat kook, weet jy die verwagte baba kom aan nog voordat jy enige geboortekreet hoor.” En gedagtig aan die “mediese gruwels” van die Anglo-Boereoorlog is ook Susanna Jacoba Serfontein in haar ouerhuis gebore op 30 April 1925.

Aan die woord in die outobiografiese Vrypas is die meesterverteller Dot Serfontein. Op haar bekende en bekoorlik lakonieke beste begin sy die herinneringe by haar jubeljaar en neem die leser saam op ’n indrukwekkende lewensreis van nou reeds langer as agt dekade

Dot Serfontein en Kroonstad, en die familieplaas Middenspruit, is nie maar net Vrystaatse bekendes nie. Daarvoor is die reik-wydte wat die deurwinterde skrywer in die Afrikaanse verhaalskat bereik het, heeltemal te groot. Met sowat 13 publikasies tot haar krediet en hande vol ander verhale en joernalistieke werk daarmee saam, is daar min hoekies van die menslike gees waaroor sy nog nie besin het nie. En dít is ook die belangrikste bonus van die chronologiese 67 hoofstukke in Vrypas: Op geslypte wyse herdink sy ’n besonder ryk stuk lewe, een wat begin het op ’n plaas en noodwendig moet eindig in ’n finale blyplek waar bestekopname jou laaste groot taak word.
Van die gekoesterde lewe van die klein meisie tot die heel moeilikste finale stuk lewe: “Met ’n taak is ek ’n belangrike mens, maar wát is ek sonder die taak? Kan ek sinvol leef daarsonder? Ek het ’n ideaal gedien, maar kan ek nou net die Here dien? Ek glo die wyse waarop ’n mens die situasie hanteer, bepaal die uiteindelike som van jou menswees.”

Inderdaad, sou die leser wou beaam, want met dieselfde vreesloosheid waarmee Dot Serfontein dié laaste “opdrag” benader, het sy ’n lang leeftyd deurgesien: as kind wat die vryheid van die Vrystaatse vlaktes verken en immer op soek is na “waar die katte is”; as jong meisie en student, as “vrot” skooljuffrou aan die Hoërskool Sentraal, as joernalis by Volksblad, as Willem-se-vrou en vyf-kinders-se-ma.

Wat sy vertel, is uiteenlopend, met die self-ironiserende verteller as die intrigerende bindingselement. Ons leef saam met haar deur politieke, sosiale en kultureel belangrike momente, leer die Krog-en-Serfonteinfamilies en hul (on)hebbelikhede ken en word voorberei vir groter begrip van die skrywende persoonlikheid Dot Serfontein. Want as daar één stuk waarheid deur die vertellings en herinneringe in Vrypas loop, is dit dat die mens produk word van die vormende invloede wat rondom hom of haar bestaan.

En omdat Serfontein die kuns vervolmaak het om wyer as die persoonlike hoogtepunte, ellendes en prestasies te kyk word deur die intiem-persoonlike blik ook die verhale van geslagte Afrikaners vertel.

Geografies toer die leser saam met Dot Serfontein na ver plekke en fassinerende ervarings, een en almal van deurslaggewende belang vir die skrywer-oog wat namens ons na die gebeure van tye moet ínkyk.

Vir ’n bepaalde ouderdomsgroep (die oueres onder ons?) sal Vrypas bevestig wat hulle nog altyd geweet het: dat daar veelbewoë tye en gebeure agter die rug lê, maar dat niks eintlik ook so nuut is nie.

Vir die jonger lesers sal die vertellings uit die ervare hand bekoorlik, interessant en uitdagend wees, want daar is min skrywers wat ’n saak so kan beredder dat alkant vir jou na die regte kant begin lyk.

Gebed oor ’n appelroomkoek en Kan ’n mens is twee van die heel mooiste stukke prosa wat ’n leser in Afrikaans as toegif kan kry: Dit is háár beurt om te bid en dit is al wat oorbly om te sê: “ ‘Liewe Jesus,’ sê ek kalm, ‘ek is so bly dat U oor die slegte paaie en ou sleephekke tog vanmôre hier by ons kan wees. Want Anna het nou ook hierdie wonderlike appelkoek spesiaal vir U gebak. Met rosyne en rum daarin, weet U? Eet asseblief ’n stukkie saam met ons voor u verder gaan. Amen’

Leana Lategan, hoof- vakkundige beampte by Nal, in Volksblad

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
regular - member
118 posts

Dis 'n lekker lusmaak-artikel hierdie, Maankind! Ek gaan beslis die boek koop. Ek het pas Digter Wordende van Antjie Krog in die pos ontvang en dit gaan dubbele leesgenot wees om hierna Vrypas te lees.

__________________
Annemari
superstar - founder
993 posts

Indien jy die boek van Kalahari af gaan bestel, gebruik tog asseblief hierdie skakel?

Ek kry mos so 'n klein kommissietjie op boeke wat van skakels van Boekemakranka af bestel word, wat help om die forum te onderhou. (Eintlik regverdig dit maar net al die ure wat ek insit en die geld wat ek op ekstra gigs spandeer).

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
regular - member
118 posts

Ek sal so maak. My enigste probleem om boeke van Kalahari af te bestel, is dat ons poskantoor buitengewoon besig en buitengewoon treurig is. Ek sien dikwels net nie kans om vir byna 'n uur in die ry te gaan staan nie, terwyl ek na Exclusive Books kan ry en binne 'n halfuur tuis is. En dit met die bonus dat ek sommer 'n klomp ander boeke ook te siene gekry het.

Of lewer hulle ook tuis af?


__________________
Annemari
superstar - founder
993 posts

Natuurlik lewer hulle tuis af, kies dit net as opsie wanneer jy betaal.

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
superstar - founder
993 posts

Dot Serfontein is omgekrap omdat die 'outjies' van die uitgewers 'n hoofstuk oor Hendrik Verwoerd en apartheid uit Vrypas gelos het. Dit gaan oor Verwoerd en Herman Charles Bosman, van die grootste invloede op haar as skrywer. "Dis mos jong outjies. Hulle het vrede, hulle weet nie eens waaroor dit gaan nie. Jy sê net 'apartheid', dan het jy genoeg gepraat. Dan is jy nou die stuk k*k wat verantwoordelik is vir al ons sondes."
'n Mens moet Dot Serfontein se fyn humor, 'n soort selfspot, beleef om dit te waardeer. Sy gee so 'n grinnik. Dit is die mengsel van vuur, drif, fyn waarneming en daardie eiesoortige humor wat haar 'n wonderlike gespreksgenoot maak.
Sy gee vir my 'n getikte hoofstuk oor watter invloede vir haar skryfwerk 'sinvol' was. Sy skryf toe sy in 1949 vroueredaktrise by Volksblad was, het sy naweke met die joernaliste van Afrikaanse Pers 'saamgewerk', ook met haar latere man, Willem Krog. Hy het by die Times in Kroonstad gewerk.
Willem het haar aan Herman Charles Bosman blootgestel - iets wat haar lewer verander het.
"Ek beskou hom as my mentor," sê sy en tel 'n stapel Bosman-boeke voor haar op.

In 1948, die jaar toe sy 'n verskriklike eerste en laaste jaar as onderwyseres aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein beleef het, het Willem vir haar Bosman se Mafikeng Road gegee.
Dit is 'n belangrike jaar vir haar, want dit is toe die Nasionale Party aan die bewind gekom het, iets wat sentraal staan in haar lewe.
Van 1951 tot 1960 was die Afrikaanse skrywers se tema Europa. Sy praat van die 'groot menere', maar sonder Etienne Leroux uit as iemand wat sy altyd geag het as 'n baie goeie skrywer. "Maar André P. Brink en daai mense het lekker gery op daai gety," verwys sy na die Sestigers.
"En hierdie ouens gaan en vertaal die ou Afrikaanse skrywers in Engels. En hulle is van Wits, man. Dit is die Afrikaanse Pers, met Verwoerd en Jannie Kruger. Jannie Kruger was getroud met familie van my, Nellie Serfontein.
"Via daai boek kom ek in aanraking met mense wat Engels skryf. Op grond daarvan het ek natuurlik al sy (Bosman) se boeke gelees."
Willem het ook vir haar Bosman se Sunflowers to the Sun and Jacaranda in the Night gegee, uitgegee deur "die Hertzogiete, van wie niemand iets gedink het nie". Verwoerd van Die Transvaler was hul man. En Willem se oom, Ockert Bekker, was die baas daar.
Het Bosman se uitkyk op kleindorpse stories en karakters 'n invloed op haar gehad?
"Ja, vir seker. Toe sy goed uitgekom het, was dit vreeslike nuus, want dit was van die 'verkeerde' Pers. My goed het in die Sarie Marais verskyn, deel van die Nasionale Pers. Almal het dáár begin - by die Sarie Marais.
"Ek het in Bloemfontein skoolgehou, by Sentraal. Ek het daai mense leer ken gelyktydig met die aanraking met Bosman se werk. Ek kon onmiddellik die kern van essay-skryf uitvoer. Dít het ek geleer uit Bosman se boeke. Dit het vir my natuurlik gekom.
"Dit was een van die redes, natuurlik - daar word vandag gesê ek is 'n onderontginde skrywer wat nooit my aandeel van roem gekry het nie. Maar dit was 'n vreemde aanhangsel wat ek gehad het. Bosman is daarna eers ontdek."
Die Afrikaners het Bosman se loketwaarde besef, soos Patrick Mynhardt wat Oom Schalk Lourens beroemd gemaak het. Sy voel egter Mynhardt het ?n karikatuur van Oom Schalk gemaak. Dit het die Afrikaners kwaad gemaak het, vertel sy.
Dis een ding wat sy toe nie gedoen het nie, om van karakters uit haar kleintyd karikature te maak?
"Ja, dit is een ding wat jy geleer het van Bosman. Dit is eers later dat ek die tragiek in sy eie lewe leer ken het, soos sy liefdeslewe. Weet jy hy het vier vroue gehad?"
Het sy toe die Schalk Lourense uit haar eie kleintyd begin raaksien?
"Nee, ek het dit eintlik in Bosman self gesien. Dis nie sy karakters nie, dis die Bosman-fenomeen, die Bosman-karakter en -tipe."
Sy lees uit die ongekeurde hoofstuk: "Ja, vir seker het Oom Schalk Lourens nie net vir Marico se onderwysertjie iets geleer van die patos wat skreinings moet aflag nie - en vir myself later my eie missie by die dood van die genie wat niemand verstaan het nie - Hendrik Verwoerd."
Sy vertel driftig: "Hendrik Verwoerd het vir my 'n missie vir die Afrikaner gestel. Ek het geleer om dit uit Herman Charles Bosman te kry. Nie sy karakters nie, maar sy essays. Sy manier van essay skryf.
"Ek is 'n essayis. Baie min Afrikaners was - dit is nie destyds beskou as letterkunde nie. Dit is latertyd dat mense dit probeer namaak en gesien het, maar my hel, dit is 'n verskriklik verfynde tipe kuns en jy kan dit eintlik nooit doen sonder dat jy ?n joernalistieke agtergrond het nie. Want dit is om die karigheid van jou bron so te omskep dat dit 'n groter waarheid vir jou daarstel.
"Dit lê orals versprei. Jy moet dit soek en jy moet in die lewe self ervaring gehad het, van die slae en die teenslae en die oorwinnings in die werklike lewe.?"
Sy het nie Verwoerd in die boek genoem nie, behalwe in die storie van die fotograaf Louw Pretorius (van Landbouweekblad) wat alles verloor het omdat die polisie hom geteister het oor sy foto's van Verwoerd se lyk waarvan die voete uitsteek.
Sy het nooit besef dat toe Verwoerd aan bewind gekom het, met die stryd tussen hom en die Sestigers, dat Verwoerd eintlik ook - 'n Bosman-mens - was nie.
"Hy wou die skrywer by die volk gehad het en die Sestigers het hom weer geïsoleer van die volk. Hulle het oor en oor gesê hulle skryf nie vir die volk nie en as jy 'n Hertzogprys kry, het jy dit afgewys. Verwoerd was net soos ek eintlik 'n verraaier van die Nasionale Pers en die Nasionale Party se beleid van apartheid."
Sy het 'n hele hoofstuk oor die Thomlinson-verslag geskryf, wat dit ook nie gemaak het in Vrypas nie. Sy sê dit was nooit 'n politieke verslag nie, maar 'n sosiologiese een. Verwoerd was 'n professor in sosiologie.
Sy sê die verslag het voorgestel dat die swartes maatskaplik opgehef word. "Toe Verwoerd die Tomlinson-verslag ?n politieke kwessie maak, is hy afgeskryf deur die wêreld en die meeste Afrikaners. Dit is net ons ouens wat met hierdie tipe goed gewerk het, wat geweet het: Maar hy's bleddie reg."

Sy was dus soos Bosman alles-in-een: skrywer, politieke aktivis, joernalis. Sy was nie bloot 'n buitestander nie?
"Nee, dit is waar. Dit is waar."
Sy is nou nog so, is dit nie waar nie? Op 80 sê sy nog haar sê.
"Gelukkig luister niemand meer na my nie, nie eens my eie kinders nie. Hulle is versprei oor die wêreld en hulle dink oor alles anders."
Het haar politieke sienings soms tot hewige rusies in Middenspruit se huis gelei?
"Hmm, man . . . Nee, weet jy, nooit eintlik nie. Ek skryf dit in die boek. Ons het van mekaar gedink as 'n bietjie strange, jy weet. En dit is dit, maar dit het nooit enige verhoudingsprobleme gebring nie.
"Ook nie met Antjie (Krog, haar dogter en digter) wat absoluut . . . Kyk, Antjie is destyds afgemaak as 'n amper monsteragtige aktivis en Engelsgesinde. Baie kinders het in daardie tydvak so gedink. Sy het op skool só geword. Baie kinders het soos sy gedink. Sy het dit bleddiewil net so goed geskryf dat almal geskrik het daarvoor."
Wat het sy as ma gedink toe sy Antjie se skryfwerk die eerste keer sien?
"Ek het nie gedink dit is snaaks nie. Sy het in standerd drie begin skryf. Sy was 'n baie sieklike kind. Sy het so (siek) geword deur die oorgebruik van antibiotika wat nie getoets was nie. Die dokter het vir my gesê hulle kom nooit daaroor nie en sy sal 'n beskutte lewe moet voer.
"Ek het vir myself gesê sy sál daaroor kom. Dit is my verantwoordelikheid, nie die dokters s'n nie. Al vier die ander kinders het in die tussentyd gekom en moes hierby inval.
"In standerd drie het sy al geskryf en daai gedigte wat haar so in die moeilikheid laat beland het, het sy in standerd agt geskryf. Dit was vir die jaarblad. Sy het dit aan my voorgelê."
Wat het sy daarvan gedink?
"Nee, niks! Ek het ?n paar uitgelaat. Ek het gesê daai een het (te veel) Ingrid Jonker in, moet dit nie gebruik nie. Ek het almal goedgekeur, dit was nie vir my snaaks nie. 'n Kind op daai ouderdom het helse snaakse idees. Dit is iets van die jeug."
As skrywer, het sy dadelik gesien Antjie het talent?
"Ja. Ja, dit het ek gesien. Ek het gesien dit is f*kken goed en dit moet jaarblad toe gaan. Ek het 'n paar uitgelos. Wat eintlik die groot probleem was, sy het 'n skets geskryf oor Adam en Eva in die Paradys. Nou, seks is darem nou waaragtag - as jy in standerd agt is en jy sê jy weet nie van seks nie, en jy is nie geïnteresseerd in seks nie . . . Blykbaar was dit die groot moeilikheid.
"Ek het dit gesê in die boek: die predikant was die groot aanstigter. Dís waar sy dit gesien het. Sy het musieklesse by die juffrou geneem en dan kom hy (die predikant) stilletjies in en verdwyn hulle in die kamer in solank Antjie toonlere oefen.
"Ek het nie geweet nie. My jirre, jy stuur jou kind mos musiekles toe. Maar toe bars hierdie storm los. Ek meen, ek sien net hierdie kind as 'n absolute victim.
"Sy is toe gegryp deur allerhande goeters wat ons al van weet. Ons het al van die ANC geweet. Ons het in Angola geveg. Wynand Breytenbach (destydse adjunk-minister van verdediging wat van Kroonstad was) was lankal Afrika deur, al daai kampe van hulle was hy met spioene deur. Ons het geweet daai Angola-oorlog moet ons keer. Ons het geweet die ANC is daarteen en ons het geweet die Engelse gebruik die ANC."
Maar Antjie se siening was van die begin af loodreg teen haar ma s'n?
"Ja, maar sy het 'n kinderlike siening. Ek meen, jinne, dit was glad nie vir ons so 'n groot ramp as toe Fyver (haar seun) in matriek gesê het hy wil 'n motorbicycle kry nie. Daar het oom Willem gestaan. Daai kind het amper weggeloop. Al my kinders moes spaar. Hy?t gesê hy wil vir hom 'n motorbike koop. Toe ek sê nooit nie, toe sê hy: 'Jy't niks te sê nie, dis m? geld.' Now that was something. Dit was iets vreeslik.
"Nou die dag, 'n maand of twee gelede, laat weet die ander kinders Fyver het weer vir hom 'n motorbike gekoop. En hy laat weer sy hare groei. Ek sê nee, dis reg - hy het uitgemis in 'n sekere stadium."

Sy keer terug na Antjie se politieke siening.
"Man, hulle is misbruik. Daar is baie kinders wat geval het daarvoor. Hierdie Johnny de Lange van die ANC, hy's al ou wat nou regtig (iets beteken). Daar's die een wat nou so ?n smart huis vir hom gebou het (Carl Niehaus) . . .
"Hulle het die kinders geteiken wat in skole uitblink. Antjie is beurse op beurse aangebied (wat oom Willem volgens die Boek agter die kraalmuur gaan verbrand het). Ja, toe die groot storm losbars, was hy (Willem) in Europa. H? het vir my gesê man, dit sal oorwaai. Maar dit het nie. Dit het nie," sê sy.
Sy skryf die appel val in Antjie se geval nie ver van die boom nie. Maar het sy Antjie se boeke soos 'n Ander Tongval gelees?
"Nee, ek het nie. Ek het die eerste klompie digbundels met haar deurgegaan. As jy vir die skool se jaarblad skryf en in die moeilikheid beland, is dit wat my betref niks snaaks nie. Maar as jy 'n boek uitgee, is dit (iets anders).
"Almal van hulle was natuurlik onder die invloed van Ingrid Jonker. Ingrid se dood en die aborsie van haar en André P. Brink, dít was die gesprekstema in die skool. Sy was nie 'n uitsondering nie.
"Ek het Ingrid Jonker baie goed gelees en waar ek sien sy gebruik ?n beeld uit Ingrid Jonker, het ek vir haar gesê: 'Dit is 'n Ingrid Jonker, gaan sit en dink en sê vir my wat dink jyself.' Sy is die enigste digter wat oorleef het."
Dit is seker omdat sy die ma se talent het, sê ek.
"Nee, sy het haar onderwerp aan my oordeel, want sy het vertroue daarin gehad. Toe sy die eerste lot gedigte bymekaargehad het, toe het ek vir haar die aanbod gemaak: 'Ons gaan uitgewers toe. As hulle dit aanvaar, dan gee ons die boek uit en jy gaan na die universiteit wat jou gehelp het. Of jy vat een van daardie beurse en gaan Rusland toe. As jy voel jy wil Rusland toe, sal ek jou kaartjie betaal.' "
Was sy ernstig?
"Ons was ernstig. Ons het geweet al daai kinders is in Rusland, man. Die publiek was meer politiek bewus as wat hy vandag is. Ons sou darem nooit al die k*k wat die ouens nou praat, aanvaar het nie. Nee, nee. Ja, ons was ingelig. Ons het 'n lang pad gekom."
Sy en Antjie is nou besonder na aan mekaar?
"Dit gaan oor skryfwerk ook, ja. Sy is nou 'n wêreldburger. Orals waar sy kom en sy kry 'n boek wat opspraakwekkend is, koop en stuur sy dit vir my. Dan praat ons daaroor. Sy praat nie met my oor my goed wat ek geskryf het nie. Ek praat nie met haar oor die goed wat sy geskryf het nie.
"Ek sit en wag, sy was nou in New York en daar het sy 'n boek oor Arabierperde gekry. Sy weet nou ek wil die boek hê.
"Sy bel my elke Sondagaand. Dan skinder ons oor die kinders en die hele wêreld. Sy het nou kinders in die stadium waar sy en ek was. Dan lag ek en sê: 'Haai, weet jy hoe baie laat dit my aan jou dink toe jy jonger was?' "

Wie het die naam "FW de Klerk" uitgelaat in die volgende sin in Vrypas:
"Verskoon daarom ons staatshoof van 1994 wat toe as goedgelowige Christen sy Weermaghoofde afdank om die teenparty gerus te stel oor die onderhandelings. Daarna vertrek hy op belangrike besigheid oorsee," vra ek oor die paragraaf op bladsy 326.
"Ek het homself uitgelaat. Ag jinne, die ou seun, vir wat sal ek met hom sukkel?"
As 'n Nasionalis vir meer as 40 jaar sê sy in 1994 hokaai en voel daar is drooggemaak by die onderhandelingstafel. Hoekom?
"Maar hulle hét drooggemaak! Hulle hét drooggemaak. Kan jy glo dat jy nie so 'n intensiewe ding vooraf beplan nie? Of ten minste nie gedink het 'n man soos Cyril Ramaphosa en dié manne het hul planne gehad nie? FW de Klerk en almal het gedink hulle, ons het nou die oorwinning gehad. Hulle kon nie sien daai mense se planne is al jare vooruit beplan nie."
Sy voel steeds vurig hieroor. As sy nou vir De Klerk en Roelf Meyer 'n boodskap kon gee, wat sal dit wees?
"Hou jou bek. Jy't jou kans gehad. Vir wie ek vreeslik graag 'n boodskap sou wou gee, is die mannetjie wat met sy Jeep in die onderhandelings ingejaag het."
Eugene Terre'Blanche?
"Ou Eugene. Ek wil vir hom sê: 'Daar was net een Suid-Afrikaner wat by jou gestaan het, en dit was ek.' "
Sy gee weer daai Dot Serfontein-grinnik. Niemand breek af waarvoor 'n Vrystaatse boervrou oor 50 jaar haar lewe gegee het nie. Sy't kaalvuis vir Afrikaans geveg. Op 84 kan sy nog houe uitdeel.
En nog vir haarself en hierdie snaakse blooming land lag.

(Charles Smith in die By)


Bestel Vrypas HIER van Kalahari.

__________________
The man who doesn't read good books has no advantage over the man who can't read them. (Mark Twain) Trisa Hugo - trisa@icon.co.za - 0282714874 - 083407027
Page 1
posts 1–6 of 6

This Topic Is Locked To Guest Posts

It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member

join now