PERSVERKLARING - ’n Nuwe webblad vir Afrikaanse digkuns
Onder die dekmantel van die Versindaba is daar pas ’n nuwe webblad vir Afrikaanse digkuns tot stand gebring. Die Versindaba, ’n jaarlikse naweekfees wat op Stellenbosch aangebied word, het reeds sedert 2005 aan 75 gevestigde, sowel as ontluikende digters, blootstelling gegee en word deurgaans as ’n welkome toevoeging tot die Afrikaanse kultuurkalender beskou. Vanjaar se fees vorm deel van die Oude Libertas Amfiteater se somerfees en sal op 27 en 28 November in Stellenbosch plaasvind. Volgens Marlise Joubert, webmeester van die nuwe webblad en mede-organiseerder van die Versindaba, is die oogmerk van die webtuiste presies dieselfde as met die fees: Om die dinamiese aard van die Afrikaanse digkuns ten opsigte van gehalte én verskeidenheid te reflekteer soos dit tans daaruit sien.
Net soos met die fees word slegs digters van wie daar in die onlangse verlede digbundels verskyn het, of binnekort gaan verskyn, by die projek betrek. Pasverskene bundels, tesame met kort biografiese sketse van die digters en ’n kort, oorkoepelende kommentaar is op dié webblad te vind; ook gedigte van die 95 digters wat reeds by die Verindaba betrokke was, gepaardgaande met foto’s en ander visuele materiaal. Digters wie op dié wyse by die webblad betrek is, word genooi om op deurlopende basis nuwe verse op hul voorbereide webspasie te plaas.
Ten einde die interaktiewe komponent van die webblad te verhoog, is agt digters genooi om op ’n gereelde basis te blog. Hieronder tel gevestigde digters soos Daniel Hugo, Johann Lodewyk Marais, Charl-Pierre Naudé en Louis Esterhuizen, sowel as ontluikende digters soos Bernard Odendaal, Carina Stander en Andries Bezuidenhout. ’n Besonder interessante toevoeging is die enigmatiese Babu Lefti, wat op sy beste as “reisende digter” beskryf kan word. Hy sal in hoofsaak daarop konsentreer om ’n meer internasionale blik op die Afrikaanse digkuns te lewer. Verdermeer sal daar gereeld onderhoude geplaas word, asook artikels wat direk met die Afrikaanse digkuns verband hou. ’n Onderhoud wat reeds geplaas is, is met Luuk Gruwez, die bekende Vlaamse digter wie se verse verlede jaar in Afrikaanse vertaling deur Hennie van Coller met die titel Bandelose gedigte verskyn het.
Kommentaar op al hierdie bydraes word verwelkom en dit sal hopelik tot sinvolle en inspirerende gesprekvoering rondom die digkuns aanleiding gee.
Hierdie welkome toevoeging tot die reikwydte van die digkuns is te vind by <http://versindaba.co.za/>. Gaan lees, raak opgewonde en neem deel …
Om op datum te bly met nuwe toevoegings tot die webblad kan u ook gaan inloer by <a href="http://twitter.com/versindaba">http://twitter.com/versindaba</a>
This Topic Is Locked To Guest Posts
It's been a while since this topic was active, if you'd like to get it going again, please post as a registered member